Hoewel dit tyd is om plakkies met stewels te vervang, die strandsambrele vir reënsambrele plek moet gee en die lugverkoeling in die voertuig na die verwarmer verstel word, beteken dit nie dat julle nie steeds ’n seevakansie kan geniet nie. LekkeSlaap wys jou waar jy aan die kus kan gaan bly om die meeste van die koeler temperature en swaar reënwolke te maak! 

Romansbaai Ocean Retreat

Gansbaai

Dié luukse vakansiehuis bied ’n onbelemmerde uitsig oor die see en dit sit lekker hoog teen ’n koppie bo Walkerbaai. Daar is slaapplek vir ses gaste in drie pragtige slaapkamers wat na die see front — julle kan dus in die bed lê en na die see staar as dit nog te koel is buite. Die binnebraai en kaggel sorg vir gesellige kuiers en julle kan in die verhitte plonspoel spring as die weer dit toelaat. Geniet ook die ongelooflike sonsondergang vanaf die vuurput of die hangmat op die stoep. 

Kanon Private Nature Reserve

Gouritz

Kanon Private Nature Reserve skuil in ’n natuurreservaat van 187 hektaar teen die kus naby Mosselbaai. Julle kan die ongerepte kuslyn, rotspoele en fynbos verken terwyl julle in die groot vakansiehuis, kothuise of strandlodge, wat uit vier tente bestaan, bly. Al die eenhede is toegerus vir selfsorg en het braaigeriewe, ’n TV en WiFi. 

Strandhuis

Stormsrivier

’n Beter ligging vir ’n strandhuis sal jy nie sommer kry nie. Dié lieflike vakansiehuis in die kusdorpie Kammabaai, Stormsrivier is ideaal vir ’n groep van agt wat op soek is na ’n rustige wegbreekplek by die see. Julle kan die seile op die stoep toemaak en knus braai, binne om die groot etenstafel kuier en op die strand of fynbospaadjies gaan stap as julle wil benerek. 

Waterfront

Agulhas

Hier bly julle téén die water in Agulhas! Waterfront is ’n luukse en ruim gesinshuis met slaapplek vir sewe gaste in dié kusdorp. Julle kan op die stoep met ’n see-uitsig braai, binne voor die kaggel opkrul of in die binnebraai-area met gemaklike sitplek en ’n etenstafel kuier. Daar is ook plonspoel vir as die son ’n bietjie warm bak. 

The Barn

Yzerfontein

The Barn is van die mooiste strandhuise wat ons al gesien het! Die plaasstylhuis in Yzerfontein bied ’n kuswegbreek aan vier gaste wat daarvan hou om te  ontspan, in ’n leeshoekie met ’n boek op te krul en kos te maak. Die kombuis spog met ’n pizza-oond, ’n lang etenstafel en alles wat julle nodig het om heerlike disse aanmekaar te slaan. Die kaggel in die sitarea sorg vir ekstra hitte as die weer nie saamspeel nie. 

78 Beach Road

Kleinmond

78 Beach Road is oorkant die see in die gewilde kusdorp Kleinmond en dis regdeur die jaar ’n lieflike vakansiehuis vir gesinne. Die huis is lekker ingerig en vir ses gaste geskik. Die voorstoepdeure lei na die dek met ’n pragtige uitsig en jul gesin kan van die binnebraai langs die kombuis gebruik maak of bordspeletjies om die etenstafel speel. Daar is ook ’n plonspoel in die agtertuin. 

Fig Tree Blue

Chintsa

Wat is dan nou lekkerder as ’n wegbreek aan die Wildekus? Fig Tree Blue in Chintsa is net 300 meter vanaf die strand en skuil in ’n tropiese tuin met ’n uitsig oor die strand en die strandmeer. Dié dubbelverdiepinghuis het slaapplek vir dertien gaste in vyf slaapkamers, so dis ideaal vir ’n groot groep. Daar is ingeboude braaigeriewe op die stoep en knus sitareas met TV’s. 

29 @ Kamma

Stormsrivier

Kom kyk hoe lyk die uitsig vanaf 29 @ Kamma in Eersterivier! Dié ruim huis het ’n balkon en ’n groot onderdakdek vanwaar julle die see-uitsig kan bewonder en dis net 500 meter vanaf die strand met rotspoele. Die huis is geskik vir agt volwassenes en vyf kinders, so bespreek hom sommer vandag nog vir julle volgende familievakansie in die Oos-Kaap

Seascape Cottage

Bettysbaai

As jy op soek is na ’n afgeleë wegbreekplek waar jy net die branders wat breek in die agtergrond sal hoor, is Seascape Cottage net die plek vir jou! Dié prentjiemooi kothuis vir vier is ’n paar meter vanaf die see op ’n kleinhoewe naby Bettysbaai en Kleinmond. Die kleinhoewe is oortrek met fynbos en dis al wat tussen jou en die see staan. Jy kan voor die kaggel in die sitarea met ’n boek opkrul en die sonsondergang vanaf die stoep aanskou — wat klink dan nou beter as dit? 

Kon-Tiki

Elandsbaai

Die Weskus is op sy mooiste tydens die winter- en lentemaande, veral wanneer die omgewing in helder veldblomme getooi is. Kon-Tiki bied twee moderne eenhede met slaapplek vir altesaam twaalf gaste in Elandsbaai. Dié eenhede is ideaal vir gesinne wat apart wil bly, maar saam ’n wegbreek wil geniet. Julle kan lekker saam op die stoep braai en die berguitsig aanskou terwyl julle die rustigheid van die Weskus geniet. 

Bêre nou maar jou baaikostuum en pak jou warm sokkies en serp in vir julle volgende wegbreek aan die kus! Julle kan lekker voor die kaggel en om die braaivleisvuur by dié huise kuier terwyl die see in die agtergrond druis.

Hooffoto: Kanon Private Nature Reserve (LekkeSlaap)