Onopgesmukte mense en dramatiese landskappe waar jy môre sien aankom. Dís die Noord-Kaap in al sy glorie! Nie net is dit die grootste provinsie in Suid-Afrika nie, maar ook ’n area met groot natuurlike diversiteit. Dele van die provinsie is woestynagtig met plantegroei en diere wat oor die jare by die erge droogte moes aanpas en dan is daar watermassas soos die Augrabieswaterval en die Oranjerivier wat deur die provinsie vloei. Die ongerepte kuslyn is bespikkel met skeepswrakke en gedurende die lente word die veld met ’n helder blomkombers bedek! Dis ’n plek wat jy keer op keer kan besoek en elke keer iets anders ervaar. Dís waarom LekkeSlaap ’n lys saamgestel het van nege redes waarom jy die Noord-Kaap sommer binnekort moet besoek.

Tientalle skeepswrakke aan die Diamantkus

Die ongerepte Diamantkus is nog ’n redelik onbekende deel van die Weskus en strek vanaf Hondeklipbaai in Namakwaland tot by Alexanderbaai teen die grens. Dié area het vir baie jare diamantsoekers gelok en vandag is dit ’n stil kusstreek met skeepswrakke wat plek-plek uit die sand en water uittoring, natuurtonele wat jou soms aan die maanlandskap herinner, uitgestrekte strande sonder mense, vermaaklike inwoners wat lief is vir die omgewing en ’n bekoring wat jou nie gou sal verlaat nie. Net buite Hondeklipbaai lê daar sommer ’n skeepswrak naby die pad en as jy meer wil sien kan jy die skeepswrakroete al langs die kus af volg. Dié roete kan slegs met ’n 4×4 aangepak word en jy moet vooraf ’n permit by die toerismekantoor op Kleinsee daarvoor kry. 

’n Skeepswrak in die vlakwater in Hondeklipbaai.

Blommekyk in Namakwaland

Teen einde Julie, indien daar goeie reënval was, begin die Namakwalandse veld in skakerings van geel, oranje en pers ontpop. Die helder gesiggies strek so ver soos die oog kan sien en jy kan nie help om te wonder wie al dié blommetjies geplant het nie. Dit sorg vir fantastiese fotogeleenthede en die kans om ’n bietjie in die kar te spring en ’n paar grondpaaie te volg. Die veldblomme begin al by Langebaan aan die Weskus en strek ver noord tot bo in Namakwaland. Die beste plek om dié tapisserie te gewaar bly maar die Namakwa Nasionale Park net buite Kamieskroon en ons stel voor jy neem ’n paar dae om in dié omgewing rond te rits en die natuurskoon te bewonder.

Miljoene veldblomme in die Namakwa Nasionale Park. Foto: Daniëlle Terblanche

Sterrekyk in Sutherland

Vir die meeste van ons staan Sutherland as een van die koudste plekke in Suid-Afrika bekend, maar dit is ook een van die plekke waar jy die mooiste sterre in die wêreld kan sien. Dié Karoodorp is die tuiste van SALT ─ een van die grootste teleskope ter wêreld ─ te dankie aan die dorp se besoedelingvrye lug, tekort aan ligbesoedeling en hoogte bo seespieël. Jy kan gedurende die dag en nag die sterrewag besoek vir interessante toere wat vooraf bespreek moet word, en Jurg Wagener by Sterland is alombekend vir sy kennis van die sterre. Hy bied elke aand ’n twee uur lange toer aan waar besoekers meer oor konstellasies leer en die geleentheid kry om deur ’n teleskoop en met die blote oog na dié hemelliggame te kyk. Maar dis nie al wat jy op dié dorp kan doen nie: Lees gerus ons blog om te sien waarmee jy jouself nóg kan besig hou. 

Die enorme teleskoop in Sutherland.

Wildkyk in die Kgalagadi Oorgrenspark

Die Kgalagadi Oorgrenspark is ’n wêreldbekende wildpark wat oor Suid-Afrika en Botswana strek. Dit beslaan ’n massiewe 35 551 vierkante kilometer en is waarlik een van die mooiste plekke in ons land! Die park is bekend vir sy uitgestrekte, woestynagtige vlaktes, lekker kampplekke en wilderniskampe, en diere soos gemsbokke, kameelperde, blouwildebeeste, springbokke en natuurlik die Kalaharileeu wat vrylik rondbeweeg. Dis een van die beste plekke om wild in hul natuurlike habitat te sien en dis enige natuurfotograaf se droom! Die park se groot netwerk grondpaaie laat jou toe om baie rond te beweeg en die meeste van die kampe is naby watergate geleë sodat jy ’n goeie blik op die diere kan kry. Daar is ’n gesegde wat lui dat as jy eers die rooi Kalaharisand tussen jou tone gevoel het, jy keer op keer na dié pragplek terugkeer, en dis beslis waar! Kom geniet ’n Kalaharisonsondergang terwyl jy voor jou tent ’n vleisie oor die kole gooi ─ dít klink mos nou salig!

Die koning van die Kalahari.

Die kokerboomwoud naby Nieuwoudtville

Sowat 35 kilometer buite Nieuwoudtville in die Hantam-Karoo skuil die plaas Gannabos. Dié plaas is die tuiste van die grootste kokerboomwoud in die Suidelike Halfrond. ’n Kenmerkende kokerboom is inderwaarheid nie ’n boom nie, maar ’n vetplant, en dit word omtrent so hoog soos sommige bome. Hulle oorleef in geharde, droë toestande, soos die Karoo, en stoor water in hulle stamme. Die meeste kokerbome word sowat 250 jaar oud en dra hulle eerste blomme wanneer hulle tussen 15 en 25 jaar oud is. Hulle blom gewoonlik van Mei tot Julie en dit skep ’n baie mooi prentjie teen die vaal agtergrond. Dit is ongelooflik om soveel van hierdie unieke plante op een plek in die middel van nêrens tussen klippe te sien groei en dit skep fantastiese fotogeleenthede ─ veral tydens sonsondergang wanneer die bome net ’n silhoeët vorm.

Die kokerboomwoud buite Nieuwoudtville.

Kimberley se groot gat en museum

Jy kan nie aan Kimberley dink sonder om aan die groot gat te dink nie. Dié enorme gat in die middel van die dorp is gedurende die 1870’s gegrawe om diamante te ontgin en het sowat drie ton diamante oor die jare opgelewer. Die gat is sowat ’n kilometer diep en sewentien hektaar groot, alhoewel dit vroeër jare dieper was. Dit is vandag ’n opelugmuseum met ’n gewaagde uitkykpunt wat diegene met hoogtevrees se bene behoorlik sal laat bewe. Dit is merkwaardig om te sien wat die dwelwers sonder moderne tegnologie kon vermag en dit laat ’n mens sommer klein voel terwyl jy daar staan. Buiten die groot gat, is daar toere van die ondergrondse De Beers-myne waar diamante ook ontgin is. Jy kan ook deur die historiese dorp se strate wandel en die museums en monumente besoek om meer van die dorp se interessante diamantgeskiedenis te leer.

Kimberley se groot gat!

Roei op die Oranjerivier

Het jy al ooit onder die Noord-Kaapse sterre geslaap? Dis ’n onvergeetlike belewenis wat saam met ’n opwindende roei-ervaring op die Oranjerivier, Suid-Afrika se langste rivier, gepaardgaan. Mense wat al gelukkig genoeg was om hierdie avontuur aan te pak, sal vir jou sê dat dit van die beste dae van hulle lewens was. Jou groep roei bedags saam met ’n gids op die grens tussen Suid-Afrika en Namibië, eet middagete op die rivieroewer en saal saans op ’n droë stukkie aarde langs die rivier af! Daar kuier jy lekker om die kampvuur en geniet die sterreprag en asemrowende natuurskoon om jou. Daar is verskeie toermaatskappye teen die rivier saam met wie jy dié roei-ervaring kan aanpak en van hulle bied ook dag-uitstappies op die rivier. Die lente en somer is die beste tyd van die jaar om te gaan roei en jy kan dan sonder ’n tent gaan en onder die sterre slaap.

Sonsondergang oor die Oranjerivier. Foto: Daniëlle Terblanche

Die bruisende Augrabieswaterval

Dit is ongelooflik om voor só ’n massa water te staan in ’n provinsie wat meestal deur droogte gekenmerk word. Die Khoi-mense het na die Augrabieswaterval as ‘Aukoerebis’, wat ‘die plek van groot geraas’ beteken, verwys omdat die Oranjerivier hiér sowat sestig meter oor rotse na onder val. Die kloof is sowat 240 meter diep en die water vloei dan vir agtien kilometer deur die kloof. Die waterval is in die Augrabies Nasionale Park wat sowat 820 vierkante kilometer beslaan en al langs die Oranjerivier strek. Die omgewing rondom die waterval is bitter droog en daar is meestal kokerbome en vaal bosse te sien. Die kontras tussen die droë, rotsagtige omgewing en die bruisende water is ongelooflik en maak die park beslis die besoek werd. Daar is ook wilde diere, soos steenbokke, springbokke, gemsbokke, koedoes en elande in die park te sien. 

Die Augrabieswaterval tydens sonsondergang.

4×4 in die Richtersveld

Jy kan nie in die Noord-Kaap ry sonder om êrens op ’n grondpad te ry nie, en dit is meestal waar jy die mooiste en mees afgeleë plekke teëkom. Die Richtersveld is ’n bergagtige woestynstreek, wat dorpies soos Port Nolloth teen die kus, Steinkopf, Eksteensfontein en Sendelingsdrif insluit, en tot in Namibië strek. Dié omgewing is die tuiste van die grootste vetplantversameling in die wêreld, insluitend kokerbome en halfmensbome wat net hiér voorkom. Soos jy in die Richtersveld rondry voel jy baie ver verwyder van die samelewing en daar is fantastiese 4×4-geleenthede in dié ongerepte deel van ons land. Die Domrogpas en Akkedispas is net twee van die roetes wat jou hart sommer vinnig sal laat klop en die Helskloof-area sal jou 4×4-vermoëns behoorlik beproef.

‘n Bergtoneel in die Richtersveld.

Die mooi van die Noord-Kaap lê beslis in sy natuurskoon en daarom moét dié provinsie en sy hope doendinge heelbo aan jou emmerskopreislys wees as jy ’n natuurliefhebber of kranige reisiger is! 

Alle foto’s van Bigstock, tensy anders vermeld