“Dis ’n land van kleure en klank
Dis ’n land van oorvloed en dank
Dis ’n land waar almal na strewe
Dis ’n land sonder horison en
Dis ’n land wat weet dat hy kan
ook ’n blyplek neerlê vir my”
Carike Keuzenkamp – Dis ’n land

Baie Suid-Afrikaners vier Erfenisdag om die braaivleisvuur waar klagtes en uitgerekte “ja-nees” maar so saam met die omdraai van die tjoppies gaan. Maar ons het dan soveel om oor Halala te sing in ons diverse sonskynland! Kom reis saam met ons na 11 plekke ─ een vir elke amptelike landstaal ─ en vier die klanke, kleure en kulture wat die helder weefwerk van ons land uitmaak!

Of jy nou van ’n droë wit of ’n geurige rooi hou, wyn is op een of ander manier deel van elke Suid-Afrikaner se erfenis. Kom skink ’n glasie wyn onder die heel oudste vrugdraende wingerdstok in die Suidelike Halfrond by die Cape Heritage Hotel in Heritage Square!

Dié wingerdstok, wat in 1771 in dié 4-ster-hotel se binnehof geplant is, is ’n Crouchen Blanc-variëteit afkomstig van die Westelike Pireneë in Frankryk. Dit is sowaar ’n wonderwerk dat hierdie enkele druiweprieël soveel gevare en bedreigings trotseer het om vandag nog jaarliks sowat 20 liter wyn te produseer.

Dit moes jare lank sien kom klaar sonder veel aandag of water buiten dít wat deur die Kaapse winters voorsien is, en in die 1960’s sou die straatblok waarvan die hotel deel is deur die Kaapse stadsraad gesloop word — die wingerstok daarmee saam! Gelukkig het Kaapstad se Erfenis Trust ingegryp en die blok opgeknap wat tot die totstandkoming van Heritage Square gelei het. Vandag is dié area ’n pragtige, gewilde besoekpunt vir Kapenaars, fynproewers en toeriste uit heinde en verre.

Dromers en delwers het jare gelede van heinde en verre na Kimberley se rooi aarde gestroom om ’n blink toekoms uit die grond te haal. Met die ontdekking van die gesogte blink klippies naby Hopetown in 1866 was die wêreld se oë vir die eerste keer werklik op ons klein, minder belangrike landjie, en die toekoms van Suid-Afrika is onherroeplik verander.

Foto: Bigstock

Kimberley Country House is ’n historiese gastehuis in die stad se Erfenisgebied, Belgravia. Die huise in dié buurt is destyds deur die here van die diamantbedryf bewoon en elkeen is ’n tydstuk van die jare waarin dit gebou is. Verwag pragtige groot stoepe, broekielace, brandskildervensters en, hier en daar, die ontblote rooi bakstene van Kimberley-kleigrond met De Beers Mining Ltd se stempel op.

Kimberley Country House se elegante Victoriaanse styl sal jou onmiddellik laat voel asof jy terugtree in tyd. Die eienaars het ook gesorg vir ’n hele paar versamelstukke en oorspronklike kunswerke — elkeen met ’n storie. So, as jy by die pragtige Birmaanse kiaathout-etenstafel aansit, moet jy weet dat jy deur heelparty belangrike spoke omring mag wees: Barney Barnato en Cecil John Rhodes het blykbaar al om dié tafel gesit.

Besoek gerus die Big Hole Centre en die McGregor Museum waar jy dan ook sommer ’n kopie van die Belgravia-roetekaart kan kry en dié geskiedkundige roete te voet kan aanpak. Dít klink vir ons na ’n blink idee!

Keer terug na toeka se dae en ervaar die wêreld van die 1820-setlaars soos jy aan jou glasie sjerrie by die statige Victoria Manor teug.

Toe dit aan die Kaapse owerhede duidelik raak dat die kolonie ooswaarts moes uitbrei, is Buffelskloofplaas langs die Groot Visrivier vir 3 500 rijksdaalders gekoop en Cradock het ontstaan as die nuwe oostelike grens van die Kaapkolonie. Elke handelaar, trekker, sendeling, soldaat, prospekteerder, skelm en avonturier wat hul weg na die binneland wou baan, moes deur hierdie dorpie trek en heelwat van hulle het dan aangedoen by die hotel.

Vandag is die hotel en die huisies in Markstraat pragtig opgeknap en liefderik versier om ’n vergane area te herroep. Die hotel het in sy hoogtyd heelparty bekende besoekers soos die outeur, Olive Schreiner, en die mynmagnaat, Cecil John Rhodes verwelkom en tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog is gevange Boeresoldate ook in die hotel gehou.

Een ding is verseker: hiér lê die geskiedenis so dik soos plaasbotter op varsgebakte hotelbrood!

As jy nou wil hoor hoe “die kranse antwoord gee”, moet jy die Drakensberge besoek. Dié ewige gebergtes jubel ons land se geskiedenis behoorlik uit! Hiér het die Basotho’s en die Zoeloes onder Shaka hul dominansie probeer bevestig; hiér het die Voortrekkers onder leiding van Piet Retief met bloedsweet en trane oorgetrek; en hiér het talle bloederige veldslae tydens die Anglo-Zoeloe Oorlog en die Suid-Afrikaanse Oorlog uitgespeel.

Rick McCharles flickr

Een van die bergreeks se bekendste koppies, Spioenkop, is die toneel waar die Boerekommando’s een van drie groot veldslae teen die Britse magte gewen het. Dit is ook hier waar die historiese SpionKop Lodge, destyds genaamd Woodlands Farm, geleë is. Vandag is dit ’n gasteplaas wat wildritte, asook historiese praatjies en toere aanbied.

Tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog het die lodge as Sir Redvers Buller, die opperbevelvoerder van die Britse Magte, se hoofkwartiere gedien. Winston Churchill, tóé nog ’n onbekende joernalis, het baie van sy tyd hier deurgebring en verslag gelewer oor die gruwels van die oorlog. En die bekende versetleier Gandhi was destyds deel van die Indiese Ambulanskorps wat beseerde Britse soldate in dié einste koppies te hulp gesnel het. As die Drakensberg se klippe kon praat, sou hulle darem maar ’n interessante ding of twee te sê gehad het!

Die Cederberge se Marsagtige landskap was vir jare die tuiste van die San-mense. Hierdie besonderse stam het ook hul afdruk op die omgewing gelaat met meer as 2500 rotsskilderye wat die Cederberge tooi — die grootste konsentrasie ter wêreld! Pak een van verskeie roetes aan met jou inligtingsboekie byderhand (te kry by Clanwilliam en Citrusdal se Toerismeburo’s) en bestudeer die okerkleurige tekeninge om te sien hoe hierdie mense geleef, gedans, gejag en geglo het.

Kunje Guest Farm naby Citrusdal spog met rotstekeninge op die plaas! Kom bly in een van hulle selfsorg-eenhede en stap die aarde plat agter natuurskatte en San-kuns aan.

Foto: Wikimedia Commons

Die erfenis van die Cederberg is egter meer uitgebreid as net rotskuns. Die pragtige historiese sendingstasie by Wupperthal, waarheen heelparty vry slawe ná 1834 gewend het, is beslis ’n besoek werd.

En wanneer die horlosie dan teetyd aankondig, kan jy by verskeie plekkies in die Cederberge gaan teug aan ’n heerlike koppie rooibostee — Suid-Afrika se nasionale warm drankie. Hierdie nasionale skat word slegs op grootskaal in die Cederberge verbou en meer trots Suid-Afrikaans kry jy nie!

Jy kan tot op ’n rooibosplaas bly as jy een van die moderne selfsorgkothuisies by Cederkloof Botanical Retreat bespreek. Lê luilekker agteroor in die hangmat en kyk na die suikerbekkies wat die fynbos kom besoek op dié omgewingsvriendelike plaas. 

Hierdie pragtige dorpie is die derde oudste een in Suid-Afrika, en dís hoekom sy geskiedenis al net so hoog gegroei het soos die reuse-bome wat sy strate versier!

Foto: Adriëtte le Roux

Om die atmosfeer van vervloë dae te ervaar, kom klop gerus aan by die Old Thatch Lodge, ’n Kaaps-Hollandse gastehuis wat aan F.W. Reitz, president van die Oranje-Vrystaat behoort het. Reitz en sy gesin het in hierdie meenthuis oorgebly wanneer hulle vir die kerkdiens dorp toe gekom het.

Daar is ook ’n ou slawehuisie, Bo-Kapie, wat een van die oudste geboue op die dorp is. Bo-Kapie is net ’n jaar voor die afskaffing van slawerny  gebou en vertoon nog die tipiese Kaaps-Georgiese platdakstyl wat só eie aan dié era is. Hierdie pragtige selfsorgkothuis het slaapplek vir 7 en beskik oor ’n oop vuurherd sodat gesellige etes langs die vuur geniet kan word.   

Kom bewonder die rituele en kultuur van die Venda-stam by die Fundudzi-kamp in Limpopo deur een van hulle grasdak-rondawels te bespreek. Dié rondawels is basies ingerig en nie gekoppel aan die kragnetwerk nie, so jy sal werklik die ongerepte, lowerryke landskap en sy mense kan geniet sonder die gebiep en geblêr van elektronika.

Fundudzi Camp is in die hartjie van die Venda-omgewing net bo die dorpie Mukumbani geleë. Dis die ideale plek om die tradisionele kuns en kunsvlyt van die gemeenskap te sien en die nedersettings te besoek. Die pad na die kamp is van so ’n aard dat jy ’n 4×4 sal benodig, maar as jy eers daar is, sal die skoonheid van die omgewing, die watervalle, plantasies en vriendelike gesigte die tog beslis die moeite werd maak.

Toe die eerste Franse Hugenote in 1671 aan wal gekom het, het hulle hul Europese kultuur op die skuitjies saam karwei. Só het wyn, kaas en l’amor dié vlugtelinge tot by die suidelike punt van Afrika gevolg soos hulle voor geloofsvervolging in hul tuisland uitgevlug het.

Franschhoek, waar die Hugenote heel eerste gevestig het, bly die polsende hart van Franse kultuur in Suid-Afrika en vier jaarliks Bastilledag rondom die 14de Julie met groot fanfare en flair.

Foto: Bigstock

Kom wandel verby bekoorlike straatkafees, eet dekadente tertjies, drink wyn en doen aan by die indrukwekkende Franse Hugenote Monument aan die einde van Hugenotestraat. En as jy dan wil rus, doen dit by die pragtige 4-ster-gastehuis, Centre-Ville, wat net 200 m van die Monument af geleë is. ’n Aand in dié Victoriaanse gastehuis sal jou laat onthou hoe rooskleurig die lewe is, want sowaar: La Vie en Rose!

Jy hoef nie vir baie lank deur Stellenbosch se boomryke strate te wandel om ’n historiese gebou raak te loop nie, en dan nie veel verder om op ’n wynplaas met ’n ryk geskiedenis af te kom nie. Alhoewel die studente op die dorp meestal met oorgawe in die hede lewe, is dit tog die moeite werd om soms terug te sit (met jou glasie wyn) en te bewonder hoe soomloos die verlede en die hede in hierdie immergroen Bolandse dorp vervloei.

Op die hoek van Dorp- en Andringastraat staan die Stellenbosch Hotel, die perfekte voorbeeld van hierdie samekoms. Die grond waarop die hotel gebou is, is in 1692 deur Goewerneur Simon van der Stell toegeken en is vandag die hartjie van die Eikestad. Nadat die gebou in 1987 gerestoureer en tot nasionale monument verklaar is, het dit van krag tot krag gegaan en spog vandag met luukse hotelkamers en die gewilde Stellenbosch Kitchen-restaurant op die perseel.

Meer lewendig en helder as Soweto kry ’n mens nie sommer nie! As jy by dié wêreldbekende township net langs Johannesburg wil oorbly en Soweto op sy beste wil ervaar is Lebo’s Backpackers jou beste keuse. 

Lebo’s bied tuk-tuk-, fiets- en staptoere deur die township aan, dus is daar geen rede om nié kniediep in kultuur te wees tydens jou besoek nie.

Besoek Orlando Stadion, die beginpunt van die Soweto-opstande of stap al langs Vilakazistraat waar 2 nobelpryswenners, Nelson Mandela en Desmond Tutu, gebly het. Maak ’n draai by die Hector Pieterson-gedenkteken, geniet ’n drankie by een van die sjebeens, leer ’n bietjie flaaitaal praat en speel sokker saam met die locals! Of, as jy adrenalien deur jou are wil voel bruis, kan jy ook rekspring van die helderkleurige Orlando Towers af!

As Soweto jou hart steel en jy ’n verskil in dié gemeenskap wil maak, is daar ook die geleentheid om vrywilligerwerk aan te pak in samewerking met Lebo’s.

Kom Halala saam met ons deur ons mooie land en vier sy ryk geskiedenis en diverse mense hierdie Erfenisdag!

__________________________

Hooffoto: Digital Assests South Africa
Alle ander foto’s van LekkeSlaap.co.za tensy anders vermeld.