Die somer klop al aan die deur en Suid-Afrikaners regoor die land begin hul braairoosters en -tange afstof vir die eerste somerbraai, want daar’s darem niks só lekker soos ’n gesellige kuier om ’n reuse-braaivleisvuur, braaibroodjies en ’n smullekker skaaptjoppie nie! En met Erfenisdag wat wink, wys LekkeSlaap vir jou 10 kuierhuise met boma-braaiplekke waar jy na hartelus met jou braaitalent kan kom woeker! 

Mhondoro Lodge, Limpopo

'n Heerlike safari-kuier is jóú voorland | Foto: LekkeSlaap.

Mhondoro is ’n luukse, kindervriendelike wild-lodge in die malariavrye Welgevonden Groot Vyf-wildreservaat naby Vaalwater. Daar is 5 losstaande eenhede wat elkeen slaapplek vir 2 tot 6 gaste het, so dis perfek vir ’n weelderige bosveldwegbreek saam met die hele gesin! Kom sit gerus om die bosveldvuur en verluister jou aan die naggeluide!

Kom bewonder die Afrika-sonsondergang hier by Mhondoro Lodge | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, kroeg, gimnasium, sauna, masseer- en skoonheidsbehandelinge, trampolien en speelplek vir die jongspan, kinderoppasser op versoek en gratis WiFi.

Doendinge op die perseel: Begeleide wildritte en voetslaanroetes, voëlkyk en swem.

Endlovana Coastal Hideaway, Wes-Kaap se Tuinroete

Dié boma-braaiplek spog met asemrowende uitsigte | Foto: LekkeSlaap.

As jy nog altyd saam met jou geliefdes in ’n kuswoud wou gaan kuier, is Endlovana Coastal Hideaway perfek vir jou! Daar is slaapplek vir altesaam 21 gaste in 8 luukse tente op houtplatforms in die woud, so jy kan sommer ál jou vriende en familielede saambring! Dis boonop troeteldiervriendelik, so Wagter is ook welkom. Elke tent bied toegang tot ’n houtpaadjie wat deur die woud tot by die boma-braaiplek kronkel.

Kom slaap snoesig in die Knysna-kuswoud | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Buitebad by die hooftent, ruim kombuis met skottelgoedwasser, groot sitkamer en houtdek met onbelemmerde see-uitsigte.

Doendinge op die perseel: Voetslaan, voëlkyk, visvang en swem.

Bakubung Bush Lodge, Noordwes

Dié bobaas-boma nooi jou en al jou vriende | Foto: LekkeSlaap.

Bakubung Bush Lodge is ’n gesinsvriendelike wild-lodge net 2 uur se ry vanaf Johannesburg wat spog met 100 luukse kamers en selfsorghuisies waar jy vir ’n rukkie kan wegkom van die stadsgeraas. Kom gooi ’n vleisie oor die kole in die boma en gesels tot laataand rondom die vuur.

'n Bosveld-avontuur wag hier vir jou | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Kroeg, 2 tennisbane, konferensiegeriewe, ’n swembad met ’n swembadkroeg, spa, vlugbalbaan, speelplek vir die kinders en 1 rolstoelvriendelike kamer.

Doendinge op die perseel: Wildritte, begeleide voetslaanroetes, voëlkyk en swem.

Rooiberg Safaris, Kaapse Roete 62

Sit heeldag oor die Klein-Karoo en tuur | Foto: LekkeSlaap.

In die hartjie van die Klein-Karoo lê ’n plaashuis waar daar altyd ’n lekker kuier-atmosfeer heers. Rooiberg Safaris het slaapplek vir 6 en spog met ’n pragtige patio en ’n boma-braaiplek waar jy luilekker kan ontspan terwyl jy die berg-uitsigte bewonder.

Rooiberg Safaris spog met lieflike uitsigte | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, kroeg en privaat watergat.  

Doendinge op die perseel: Wildkyk, voëlkyk, voetslaan, fietsry, swem en wynproe.

Camp George, Mpumalanga

'n Gesellige kampvuur so rég uit 'n droom | Foto: LekkeSlaap.

Camp George is in die Klaserie Privaat Natuurreservaat langs die Krugerwildtuin geleë en bied heerlike bosveldverblyf aan 10 gaste. Die ruim lapa het ’n kroegarea en daar is sonstoele langs die swembad vir ’n ontspanne vakansie. Sit saans in die boma en luister na die gebrul van leeus terwyl julle aan braaivleis smul.

Kuier op die stoep, lê langs die swembad of ontspan in die keurige kamers | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, volledig toegeruste kombuis, wasgoeddienste en gratis WiFi.

Doendinge op die perseel: Begeleide wildritte, voetslaan, voëlkyk en swem.

Nyumbani Estate Safari Bush Lodge, KwaZulu-Natal

Hierdie boma is die ideale plek vir 'n bosveldkuier | Foto: LekkeSlaap.

Nyumbani Estate Safari Bush Lodge is ’n omgewingsvriendelike safari-lodge in ’n groot wildreservaat. Dié ongekunstelde boskamp het slaapplek vir 4, so dis ideaal vir 2 paartjies. Hiér sal jy heeltemal ontslae raak van jou werkspanning en tot laatnag toe rondom die kampvuur sit en stories vertel.

Gooi 'n vleisie oor die kole of ontspan in die hangmat | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, kroeg, buite-stort in die bos, spa-behandelings, wasgoedgeriewe en gratis WiFi.  

Doendinge op die perseel: Wild-werkswinkels, opvoedkundige bosuitstappies, begeleide voetslaanroetes, wildkyk, voëlkyk, safari-pieknieks en wynproe.

Tshukudu, Noordwes

Rus en vrede in die Afrika-bos | Foto: LekkeSlaap.

Tshukudu lê teen ’n heuwel en word omring deur die Pilanesberg Nasionale Park se pragtige berge. Daar is 4 luukse suites en 6 chalets wat ook saam bespreek kan word vir ’n groot groep. Die Groot Vyf word sommer op jou drumpel gewaar en die besonderse naggeluide sal jou behoorlik bekoor!

By Tshukudu sal jy in absolute rustigheid kan ontspan | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad en spa-behandelings.

Doendinge op die perseel: Begeleide wildritte saam met ervare gidse, voëlkyk, swem en wynproe.  

Kariega Game Reserve – River Lodge, Oos-Kaap

Dit lyk jolig hier by Kariega Game Reserve - River Lodge! | Foto: LekkeSlaap.

Kariega Game Reserve – River Lodge in Kenton-on-Sea spog met 10 grasdakhuise wat al langs die oewer van die Boesmansrivier gerangskik is. Elke huis het ’n privaat patio met pragtige uitsigte oor die rivier en die bos. Bespreek gerus al 10 kamers vir ’n onvergeetlike safari-ervaring saam met jou vriende en familie. Skink ’n glasie wyn en maak ’n lekker potjie, want die groot boma vrá vir ’n salige bosveldkuier!

Hiér sal jy lekker kan ontspan! | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, spa-behandelings, kroeg en gratis WiFi.

Doendinge op die perseel: Begeleide voetslaanroetes, visvang, wildkyk, swem, kano- en bootvaarte.

Kwa Maritane, Noordwes

'n Tradisionele braai onder Afrika se sterrehemel | Foto: LekkeSlaap.

Kom verruil die stadsgedruis vir die getjank van ’n hiëna hier by Kwa Maritane in Bojanala. Dié besonderse bos-lodge beskik oor keurige kamers en ’n uitkykdek met die allermooiste uitsigte oor die bos. Saans kan gaste smul aan lekker braaivleis in die boma-kuierplek terwyl hulle sterrekyk en heerlik ontspan.

Dít lyk darem luuks! | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Swembad, kroeg, konferensiegeriewe, spa-behandelings en ’n gaste-sitkamer.

Doendinge op die perseel: Begeleide voetslaanroetes, wildritte, voëlkyk, swem en tennis.

Sea Shack, Weskus

'n Strandbraai sal altyd koning kraai | Foto: LekkeSlaap

As jy lus is vir ’n strandvakansie enig in sy soort moet jy hier by Sea Shack aan die Weskus kom rus. Daar is 10 oulike huisies wat knus langs mekaar ingeryg staan in ’n prentjiemooi baai in die Cape Columbine Natuurreservaat. Bedags kan elkeen sy eie koers inslaan om die omgewing te verken en saans kan julle om die boma-vuur bymekaarkom om stories uit te ruil!

Sea Shack se bekoorlike huisies | Foto's: LekkeSlaap.

Geriewe: ’n Selfsorg-kombuis met ’n yskas, ’n waskamer en veilige parkeerplek.

Doendinge op die perseel: Visvang, fietsry, voetslaan en swem.

So, kom vier Erfenismaand met ’n eg Suid-Afrikaanse braai by een van dié bobaas-blyplekke in ons mooie land!

Hooffoto: Brinksfontein Guest House (LekkeSlaap)