Het jy al ooit van die Oos-Kaapse Hooglande gehoor? Hierdie hoë streek op Lesotho se voorstoep met dorpies soos Lady Grey, Barkly-Oos, Ugie, Elliot, Maclear en Mount Fletcher word maklik op ’n kaart misgekyk. ’n Bietjie naslaanwerk oor hierdie onontdekte sprokiesland in die Suidelike Drakensberge sal jou dadelik op ’n paar interessanthede laat afkom, soos die enigste ski-oord in die land, bes bewaarde Boesmantekeninge, passe bo 2000 meter, ’n afgeleë dorpie wat tot ’n gedenkwaardigheid verklaar is, en sneeu regdeur die jaar. LekkeSlaap het ’n bietjie gaan verken …

Rhodes, vergete Victoriaanse dorpie

Dié dorpie staan voorwaar stil in tyd. Rhodes het nie ’n enkele teerstraat of vulstasie nie en maar net ‘n handjievol inwoners. Daar gaan nie veel aan buiten toerisme en boerdery nie, en die hoofrede waarom reisigers hier deurry is om by die Tiffindell ski-oord uit te kom.

Rhodes is in 1891 gestig en het gedurende die eeuwisseling selfs ’n skool, kerk en poskantoor gehad. Cecil John Rhodes, ’n eertydse mynmagnaat en eerste minister van die Kaap, het in daardie jare ’n betekenisvolle invloed gehad en die stigters wou die dorp graag na hom vernoem met die hoop dat hulle eendag ’n besoek van hom sou ontvang. Dit het egter nooit gebeur nie. Later jare het Rhodes ontvolk, en daarmee saam het die ondernemings, skole en kerk gekwyn.

In die laat 1970’s, die hippie-era, is Rhodes as’t ware herontdek toe ’n klompie vrygeeste hulle kom vestig het as deel van die tendens om eenvoudig en natuurlik te leef. Sedertdien het Rhodes bekendheid begin verwerf as ’n toerismebestemming en in 1997 is die dorp tot ’n gedenkwaardigheid verklaar.

Die ouwêreldse Victoriaanse karakter het in die huisies se boustyl behoue gebly. Daar is min genoeg geboue dat jy sommer die hele dorpie in ’n japtrap te voet via ’n handjievol stofstrate kan verken. As die huisies nie so mooi gerestoureer was nie, sou dit dalk selfs soos ’n spookdorp gevoel het.

Doen maar jou huiswerk vooraf, anders ontdek jy dalk met ’n skok dat die enigste pad na Rhodes ’n 60 kilometer lange grondpad is! Om in die donkernag ná 12 ure op die pad met ’n volgelaaide karretjie stamp-stamp jou weg in ’n onbekende geweste te moet vind, is beslis nie pret nie. Gelukkig het ’n vriendelike gasheer, knus kaggelvuurtjie en dik komberse by Kinmel Guest Farm op ons gewag ─ dit was so heerlik dat ons skaars agtergekom het die kwik het daai nag tot -10 grade Celcius gedaal.

’n Oggend op Kinmel Guest Farm is pure plaas en die ooie en lammertjies kom groet jou op jou drumpel. Die fris bergluggie en berge wat jou omring, herinner jou dat Rhodes 1821 meter bo seespieël is. Die skape laat hulle egter nie afsit nie en klouter selfs teen die hoogste steiltes uit.

Daar is legio voetslaanpaaie hier rond wat oor berge, dale en al langs die Bellrivier af lei. As jy egter tydens jou kort wegbreek nie tyd het om lang ente te stap nie, gaan klim gerus die koppie agter Kinmel Guest Farm vir ’n panoramiese uitsig oor die dorpie en berge. Dán sal jy behoorlik besef hoe afgeleë jy is.

Die pad na Rhodes is lank en skraal, maar die bestemming is oor en oor die moeite werd ─ g’n wonder dis deur Getaway-tydskrif as een van die top-20-geheime-bestemmings aangewys nie. Inwoners weet dus goed dat ’n teerpad die geheim vir almal sal bederf.

Tiffindell, die Alpe in Afrika

Tiffindell, die enigste ski-oord in Suid-Afrika, is sowat 2720 meter bo seespieël teen die hange van Ben Macdhui-piek geleë. Die pad daarheen vanaf Rhodes via die Carlisle-pas is beslis nie vir sissies nie. Die oord is in 1993 gestig en in 2014 as een van die top-19-ski-oorde ter wêreld aangewys. Daar is ski-hysers, ’n restaurant, ski-winkel en selfs ’n ski-skool om beginners touwys te maak. Die ski-seisoen is van Junie tot Augustus en enige gebrek aan sneeu in dié tyd word sommer blitsig met kunssneeu aangevul ─ genoeg vir ’n sneeuman en sneeugevegte óók.

Die opwinding taan nie buite die ski-seisoen nie. Voetslaan, bergfietsry, rotstekeninge, kunsvlieghengel in Loch Ness of Bellrivier, en 4×4-roetes deur die land se hoogste passe, is maar enkele hoogtepunte. Ben Macdhui, een van die hoogste pieke in die Drakensberge, is wel 3001 meter bo seespieël, maar jy kan dit sommer in ’n paar uur kafdraf omdat die roete se beginpunt al klaar so hoog is. Op die kruin word jy met ’n pragtige uitsig oor die oord beloon.

Jy kan in die somer ook by Tiffindell ski, net nie op sneeu nie. Gras-ski was aanvanklik net ’n manier om te oefen en mense vir sneeu-ski op te lei voordat die sneeuseisoen aanbreek, maar deesdae is dit ’n sport in eie reg.

Verblyf by Tiffindell is beskikbaar in chalets met slaapplek vir ses, ag of twaalf mense en al die chalets het sentrale verhitting. In die winter sluit ’n verblyfpakket ’n ski-permit en -toerusting, asook ontbyt en aandete in.

Sit voet in die hoek op dié gevaarlike bergpasse

Die meeste steil passe wat deur hierdie gedeelte van die Drakensberge kronkel is nie vir gewone voertuie begaanbaar nie, en ten minste ses van dié roetes pryk onder die top-10-hoogste-bergpasse in Suid-Afrika. Die Ben Macdhui-pas is die hoogste, selfs hoër as die Sanipas.

Die Naudesnekpas, wat 2590 meter hoog is, is nou wel nie so hoog soos Ben Macdhui nie, maar tog bekender en meer begaanbaar vir ’n normale voertuig (wel, soortvan). Maar jy sou jou maklik kon misgis ─ op ’n kaart lyk Naudesnek na die kortste pad wat Rhodes met Maclear verbind, maar selfs met ’n geskikte voertuig sal dié 100 kilometer lange roete jou steeds sowat vier uur neem. Dit bring jou van punt A tot B, maar dit gaan meer oor die uitsig.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Craig Muller (@backyard_adventures_sa) on

Jy kan ompaaie tussen die dorpies Lady Grey, Barkly-Oos, Elliot en Ugie ry via passe soos Joubertspas (2234 meter), Otto du Plessis-pas (2115 meter), of die mees uitdagende van almal, die Bastervoetslaanpadpas (2240 meter). Jy kan ook voor Rhodes links afdraai na ’n geheime vallei via die Lundeanspas (2126 meter), of ’n alternatiewe roete na Tiffindell aandurf via die Volunteersnekpas (2381 meter). Die Barkley-pas is ’n lekker gemaklike teerpad en val nie juis onder dieselfde kategorie as die bogenoemdes nie. Dit lei jou deur aardige rotsformasies wat soos kasteeltorings in ’n donker fantasiewêreld bo jou verrys.

Naby die Naudesnekpas is die hoogste vyfster-gastehuis in Suid-Afrika ─ Tenahead Mountain Lodge. Die luukse kamers het reuse-vensters met pragtige uitsigte oor die berge en valleie, en die knus kaggels is uiters noodsaaklik om die yskoue sneeuseisoen 2500 meter bo seespieël te oorleef. Boonop word die bederf nog verder deur ’n spa afgerond.

Maak lyn nat in die bergstrome

Die Oos-Kaapse Hooglande word deur sommige kenners as die top-kunsvlieghengelbestemming in Suid-Afrika bestempel met 700 kilometer tot hengelaars se beskikking. Vir inligting, raad, hengelpermitte en toegang tot die waters kan jy by Walkerbouts Inn in Rhodes, waar die Wild Trout Association gesetel is, kom aanklop. Dié organisasie bevorder volhoubare kunsvlieghengel en het selfs ’n omvattende gids saamgestel wat hengelaars kan aanskaf.

Buiten kunsvlieghengel bied Walkerbouts Inn ook gerieflike gasteverblyf, toere na Tiffindell Ski Resort, en ’n gesellige restaurant en kroeg.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Andre 🇿🇦 (@rockinpta) on

Hier is ’n paar ander hoogtepunte waarna jy in die Hooglande kan uitsien:

    • Voëlkyk: Die hoë ligging vergroot jou kans om die skaars baardaasvoël te sien waarvan daar maar sowat ’n skamele 100 broeipare in die wêreld oor is.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Jörg Ungerer (@jungerer313) on

  • Boesmantekeninge: Van die bes bewaarde San-rotskuns in Suid-Afrika kom in die omgewing voor. Dis meestal op privaat plase geleë, so besoekers kan vooraf toegang reël en ’n fooi betaal.

  • Sneeu: Weens die hoë ligging is sneeu ’n algemene verskynsel. Wintertemperature kan tot -18 grade Celsius daal en sneeu val veral tussen Maart en September. Dis egter nie ongewoon om sneeu selfs in die somer teë te kom nie.

Hier is nog pragtige blyplekke waar jy knus in die Hooglande kan kom slaap:

Kloksgewys vanaf bo links:

Amanzi Empilo Bungalow | Rhodes Cottages – Welgemoed Trout Lodge | Woodcliffe | The Guardians Lodge

Ná ’n besoek aan die Oos-Kaapse Hooglande sal jy soveel hê om te vertel. Selfs al sou jy nie sneeu sien, ski, hengel, voetslaan of die hemelhoë bergpasse verken nie, sal net die bekoring van die snerpende koue berglandskap ’n groot genoeg indruk laat om ander ook te oortuig om hierheen te kom. Het ons iets uitgelos? Laat weet gerus in die kommentaarblokkie hieronder …

Hooffoto: Woodcliffe (LekkeSlaap)

Foto’s deur LekkeSlaap en Jana Barnard