Een ding waarna ek baie uitsien ná die inperking is om te gaan kamp en absolute vryheid in die natuur te ervaar! Aande onder die sterrehemel met die kampvuur wat in die agtergrond knetter klink soos ’n droom, en wat is dan nou beter as om dít saam met jou hondekind te geniet? Die Wes-Kaap spog met fantastiese kampplekke, van die prentjiemooi kus tot in die droë Karoo, en ek het na ’n paar troeteldiervriendelike kampplekke in dié provinsie gaan loer.

Rivierzicht River Resort, Robertson

Daar is niks so lekker soos ’n kampplek langs ’n rivier nie, want dit verskaf eindelose pret in en om die water! Rivierzicht River Resort se netjiese staanplekke is op lowergroen gras langs die rivieroewer en bied elkeen ’n afdakkie waar jy jou kombuisie kan opstel en jou kuierplek kan skep. Die staanplekke het ook elkeen ’n braaiplek, wasbak en ’n kraan. Die meeste van die staanplekke is onder skadubome. Wagter kan oral op die groot kampeerterrein rondhardloop en selfs in die water baljaar wanneer dit te warm word. Jy kan heeldag lank van jou staanplek af lyn natmaak, in die rivier swem, roei en op die plaas gaan wandel. 

Die grasstaanplek en rivier waarin jy kan swem. Foto’s: LekkeSlaap en Daniëlle Terblanche

Tarief: R280 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Ja
Geriewe: Braaigeriewe. Ys en hout is te koop.


Midwest Karavaanpark, St. Helenabaai

Dié netjiese kampplek skuil op St. Helenabaai se strandfront aan die Weskus. Die staanplekke is ideaal vir karavane, maar tente is ook welkom en elke staanplek het ’n waterpunt en braai-area. Van die staanplekke is onder skadubome vir ekstra koelte en privaatheid en die gemeenskaplike ablusiegeriewe is baie netjies en skoon. Die kampeerterrein is omhein, so dis veilig vir Flaffie om rond te beweeg soos hy wil. Kom geniet die vars seebriesie soos jy voor jou tent aan jou oggendkoffie teug en ervaar die alombekende Weskusgasvryheid van dié omgewing! 

Die netjiese staanplekke en braaigeriewe. Foto’s: LekkeSlaap

Tarief: R230 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Ja
Geriewe: Braaigeriewe


Tsitsikamma Sunrise Caravan Park & Self-catering Units, Nature’s Valley

Die beste manier om die prentjiemooi Tuinroete te ervaar is om in sy skoonheid kamp op te slaan en dit is presies wat Tsitsikamma Sunrise Caravan Park bied. Dié kampplek skuil aan die voet van die Tsitsikammaberge naby die Groot Rivier-strandmeer in Nature’s Valley. Jy kan tussen ’n staanplek met óf sonder elektrisiteit kies en al die staanplekke is op ’n netjiese grasperk langs die rivier geleë. Daar is gemeenskaplike ablusiegeriewe en gesinsbadkamers. Jy en Ore kan verskeie doendinge in die natuuur geniet en daar is selfs geleentheid vir perdry op die perseel. 

Die grasstaanplekke langs die rivier en speelplek vir die kinders. Foto’s: LekkeSlaap

Tarief: R650 vir 5 persone*
Elektrisiteit: Daar is staanplekke met en sonder elektrisiteit.
Geriewe: Braaigeriewe en ’n wasgoeddiens


Enjo Nature Farm, Clanwilliam

Die rustigheid van die Biedouwvallei naby Clanwilliam omvou jou by Enjo Nature Farm! Dié plaas bied lieflike kampplekke langs die rivier onder skadubome en jy kan ’n onvergeetlike naweek hier geniet. Daar is gemeenskaplike opwasgeriewe en ’n ablusieblok vir gaste se gerief. Dis die ideale wegbreekplek as jy van die besige stad wil ontsnap en die natuurskoon geniet. Gaan op lang plaaswandelings saam met Kolle of koel in die swembad af terwyl jy ’n uitsig op Paardeberg geniet. 

Die staanplek op die plaas en diere vir die kinders. Foto’s: LekkeSlaap

Tarief: R200 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Ja
Geriewe: Geen selfoonopvangs, maar daar is WiFi by ontvangs.


Gourits River Eco-Camping, Albertinia

Dié kampplek op die Gouritsrivieroewer naby Albertinia is die ideale buitelug-wegbreekplek as jy jou batterye wil herlaai! Daar is net drie staanplekke, so dis lekker stil en privaat en julle kan saans die sterreprag aanskou! Die staanplekke is geskik vir karavane, kampeerwaens en tente. Party van die staanplekke het kragpunte en gaste maak van gemeenskaplike braaigeriewe en badkamers gebruik. Kom geniet die natuur saam met Toffie ─ julle kan gaan visvang, in die veld wandel, swem en vierwielmotorfietsry! 

Die netjiese staanplekke langs die rivier. Foto’s: LekkeSlaap

Tarief: R240 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Die ablusiegeriewe en van die staanplekke het kragpunte.
Geriewe: Die water is nie drinkbaar nie, so bring jou eie drinkwater saam.


Seweweekspoort Op-Die-Plaas Kamp, Laingsburg

’n Kampnaweek op ’n werkende plaas klink fantasties en dit is presies wat Seweweekspoort Op-Die-Plaas Kamp jou bied. Dié pragtige plaas word omring deur die Klein Swartberg en die Elandsberg wat ’n onvergeetlike agtergrond skep. Die staanplekke is onder bloekombome naby ’n dam en daar is gemeenskaplike ablusiegeriewe. Dié plaas is die ideale plek vir gesinne en troeteldiere en bied ’n hele rits doendinge ─ julle kan selfs die boer help om koeie te melk en die beeste en skape te versorg! Onthou om jou visstokke saam te bring ─ daar is swartbaars in die dam ─ en bergfietse en 4×4-voertuie is ook welkom as jy die plaas wil verken. 

Die staanplekke langs die dam en perdritte op die plaas. Foto’s: LekkeSlaap

Tarief: R250 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Nee, maar warm water word deur ’n gaswarmwatersilinder gegenereer.
Geriewe: Hout en ys is beskikbaar en braaipakke en vars plaasbrood is op versoek beskikbaar.


Fleckvieh Guestfarm @ Grootvadersbosch Landgoed, Swellendam

’n Wegbreek in Swellendam is altyd goed vir die siel en dié kampplek by Fleckvieh aan die voorheuwels van die Langeberge is geen uitsondering nie! Dié gasteplaas bied verskeie verblyfopsies, insluitend drie staanplekke langs die rivier. Die staanplekke maak van netjiese, gemeenskaplike ablusiegeriewe gebruik en elke staanplek het ’n braaiplek en ’n kragpunt. Jy kan vir ure op die jetty staan en visvang of in die plaasdam swem. Gaan wandel saam met Flappie op die perseel en geniet saans die prentjiemooi sonsondergang agter die berge terwyl jy langs die kampvuur sit.  

Die staanplekke op die gras langs die dam. Foto’s: Daniëlle Terblanche

Tarief: R260 vir 2 persone*
Elektrisiteit: Ja
Geriewe: ’n Gemeenskaplike swembad en doendinge, soos wildritte, perde vir ervare ruiters en bergfietsry, teen ’n ekstra koste


Kry solank jou kampeertoerusting gereed vir wanneer ons weer mag reis sodat jy net vir Buks in die voertuig kan laai die pad kan vat! 

*Die tarief is korrek ten tyde van publikasie.

Hooffoto: Bigstock