Asof Suid-Afrika nie reeds tot oorlopens toe vol natuurskatte is nie, wys ons land ook graag hóé ‘oorlopend’ dit is in die vorm van pragtige watervalle wat oor verskeie van ons kranse druis en bruis. 

Suid-Afrika staan ook geensins by die res van die wêreld terug as dit by die beste, grootste en mooiste watervalle kom nie: Ons het een van die raserigste watervalle, een wat na oorlewering die grootste enkele fonds diamante bevat, ’n waterval wat deur ’n mitologiese waterslang beskerm word en een wat moontlik die hoogste ter wêreld is! Laat LekkeSlaap jou nou ’n bietjie van hierdie valle vertel en leer hoe jy by elkeen uitkom.

Lisbonwaterval

Naby Graskop, Mpumalanga

Mpumalanga spog met die meeste standhoudende watervalle van al die provinsies in ons land, en teen 94 meter is die hoogste hiervan die Lisbonwaterval noord van Graskop wat uit een van die Blyderivier se vertakkings stroom. Dié waterval is ook naby die Panoramaroete, so dit is naby verskeie pragtige besienswaardighede, maar die toue by die Lisbonwaterval is altyd so ’n bietjie korter as by ander trekpleisters soos God’s Window en die Blyderivierspoort.

lisbon falls
Foto: Wikimedia Commons

Hierdie waterval is na Portugal se hoofstad vernoem na aanleiding van die buitelandse gouddelwers wat jare gelede hul fortuin in dié geweste wou kom uitgrou. Dit is ’n pragtige, mistige affêre wat die meeste besoekers vanaf ’n uitkykdek aan die bopunt van die valle besigtig. As jy egter op soek is na nóg beter fotogeleenthede, neem die sowat veertig minute lange staptog langs die kant van die valle af tot by die swempoel. Hou langs die pad jou oë vir suikerbekkies en die Blyderivierproteas (protea laetans) oop ─ dit is een van die min proteas wat jy buite die Kaap sal gewaar!  

Hou langs die pad jou oë vir suikerbekkies en die Blyderivierproteas oop ─ dit is een van die min proteas wat jy buite die Kaap sal gewaar!  

Toegang: Sowat R15 per persoon

Accommodation in graskop

____________________

Tugelawaterval

Drakensberg, KwaZulu-Natal

Die Tugelawaterval val loodreg in vyf asemrowende tuimelstrome vanaf die Mont Aux Sources-piek in die Royal Natal Nasionale Park. Mont Aux Sources is die hoogste bergpiek van die massiewe Amfiteater-rotsfront, die indrukwekkende grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. Dit beteken dat die Tugelawaterval ’n duiselingwekkende 948 meter na benede tuimel en is amptelik die wêreld se tweede hoogste waterval. ’n Tseggiese ekspedisie het egter in 2016 nuwe opmetings geneem en bevind dat die valle 983 meter hoog is, wat dit eintlik hoër as Venezuela se Angel-waterval maak. Ongelukkig is dit nog nie amptelik bevestig nie.

Dit beteken dat die Tugelawaterval ’n duiselingwekkende 948 meter na benede tuimel en is amptelik die wêreld se tweede hoogste waterval.

tugela falls
Foto: Bigstock

Tugela of “thukela” beteken “skielik” in Zoeloe en hierdie waterval is tereg ’n skielike skoonheid wat by tye vanaf die ingang van die park gesien kan word, maar dit is ook ’n seisoenale waterval en die stroomsterkte mag deur die jaar baie verskil. Soms verdwyn die waterval heeltemal en in die winter kan die boonste deel vries en pragtige yspilare vorm! 

As jy die waterval van nader wil aanskou is Maart en April die beste tyd vir ’n uitstappie. Die 6,4 kilometer lange Sentinel-roete is uitdagend maar doenbaar, dan is daar die sewe kilometer-roete deur die Tugela Gorge wat ’n bietjie minder steil is en ’n derde, korter roete via kettinglere vir diegene wat nie hoogtevrees het nie.  

Toegang: R75 per persoon by die Sentinel-parkeerarea en R45 per persoon by die Royal Natal Nasionale Park se ingang 

accommodation near royal natal national park

____________________

Augrabieswaterval

Augrabies, Noord-Kaap

Hierdie waterval, wat deel vorm van die Oranjerivier sowat 125 kilometer wes van Upington, is tydens die somervloedseisoen by verre die grootste waterval in die land en bereik dan ’n watermassa van tot 7800 m³ per sekonde! Dit beteken dat die bekende Niagra-valle met sy rekordvloei van 6800 m³ per sekonde maar ’n baba teenoor ons stormende Augrabies is! Die Augrabieswaterval se Khoi-naam is dus uiters gepas: dit beteken “water wat donder”.

Augrabies waterval
Foto: SANParks Augrabies Rest Camp (LekkeSlaap)

Die bekende Niagra-valle, met sy rekordvloei van 6800 m³ per sekonde, is maar ’n baba teenoor ons stormende Augrabies!

Die Augrabies Nasionale Park waarin dié 56 meter hoë waterval geleë is, tref ekstra sorg om te verseker dat gaste die skouspel op ’n veilige afstand vanaf ses groot dekke en ’n netwerk paadjies kan besigtig. Dit is veral belangrik in die somerreënvaltyd wanneer besoekers na die park stroom en sopnat van die water se allemintige gebruis wegstap. Dekke het jare gelede in rekordvloede verspoel en sedert 1966 het twintig ongelukkige siele al die vloedwaters onderskat en is hulle na benede getrek. Die enorme waterdruk en die feit dat die graniet onder die waterval op plekke tot tien meter diep weggekalwe is, beteken dat slagoffers selde gevind word. Maar dit is ook weens die ongelooflike waterdruk, diep maalgate en die voorkoms van spoeldiamante al langs die Oranjerivier dat die legende van ’n enorme diamantversameling in die waterval se kolkgate al vir dekades die ronde doen. 

Toegang: R56 per persoon

Augrabies accommodation

____________________

Howick-waterval

Howick, KwaZulu-Natal

Hierdie 95 meter hoë waterval op die Umgenirivier naby Howick, sowat twintig kilometer noord van Pietermaritzburg, staan in Zoeloe as KwaNogqaza of “Die plek van die lang een” bekend. Volgens Zoeloe-legendes is die poel aan die onderpunt van die waterval die tuiste van Inkanyamba, ’n reuse, slangagtige gedierte met ’n perdekop wat slegs deur sangomas genader mag word. Baie mense het al die fout gemaak om die Umgenirivier aan die bopunt van die Howick-waterval te probeer oorsteek omdat die water hier vlak voorkom en dit is ten spyte van, of miskien te danke aan hierdie misterieuse, gevaarlike status dat dié waterval een van die Natalse Middellande se groot trekpleisters is.  

Volgens Zoeloe-legendes is die poel aan die onderpunt van die waterval die tuiste van Inkanyamba, ’n reuse, slangagtige gedierte met ’n perdekop wat slegs deur sangomas genader mag word.

howick falls
Foto: Wikimedia Commons

Die Howick-waterval kan via die Howick Falls Gorge Walk bereik word wat jou deur ’n pragtige woud, klein grotopenings en langs kabbellende stroompies al langs die rivier af neem. Die staproete begin by die Gorge Walk-teken aan die onderpunt van Harvard-straat in Howick en dit sal jou ’n bietjie meer as ’n uur neem om tot by die waterval te kom. Die roete is ook vir kinders doenbaar. 

Toegangsfooi: Tans geen toegangsfooi

howick accommodation

____________________

Bridal Veil-waterval

Sabie, Mpumalanga

Die Bridal Veil-waterval buite Sabie eindig sag en bekoorlik soos ’n bruid se sluier. Dit stort volstoom en dreunend vanaf ’n sewentig meter hoë krans, maar eindig dan as sagte watermis in ’n pragtige poel te danke aan die interessante rotsformasies wat die waterval se stroom opbreek. 

bridal veil falls south africa
Foto: Wikimedia Commons

Dit stort volstoom en dreunend vanaf ’n sewentig meter hoë krans, maar eindig dan as sagte watermis in ’n pragtige poel.

’n Voetpaadjie kronkel vir sowat een kilometer deur die bos en verby varings tot by die watervalpoel waar besoekers lekker kan afkoel. Hoewel dit ’n kort stappie is, is dit plek-plek ’n bietjie uitdagend en glibberig en is dus nie geskik vir ’n gesinsuitstappie nie. Ons stel voor jy word deur die mis gelawe en keer daarna na Sabie om een van die pannekoeke te geniet waarvoor dié slaperige dorpie so bekend is. 

Toegang: R17 per persoon

accommodation in sabie

____________________

Magwawaterval

Lusikisiki, Oos-Kaap

Die Magwawaterval is in die middel van ’n 1800 hektaar-teeplantasie naby Lusikisiki aan die Oos-Kaap se Wildekus geleë. Hierdie 114 meter hoë waterval stroom tot in ’n nou kloof wat deur ’n aardbewing of -verskuiwing gevorm is. Dit haal ons lysie omdat dit een van die min watervalle aan die pragtige, ongerepte Wildekus is wat relatief toeganklik is. Die Magwawaterval herinner ook aan ’n kleinskaalse weergawe van die Victoria-valle in Zimbabwe. 

Die Magwawaterval herinner ook aan ’n kleinskaalse weergawe van die Victoria-valle in Zimbabwe. 

Foto: Wikimedia Commons

Neem die agt kilometer lange ompad om te sien hoe hierdie vertakking van die Mzizangwa-rivier oor die krans stroom — onthou net dat ’n 4×4-voertuig aanbeveel word omdat die paaie aan die Wildekus dikwels, en veral na ’n reënbui, onbegaanbaar in ’n gewone voertuig is. Omdat die Wildekus so ongerep is, is die Magwawaterval ook een van die min watervalle in die land waar jy selde deur ander besoekers gesteur sal word. Maak seker dat jy ’n amptelike toergids saamneem en vermy dit om hulp van loslopers te aanvaar.

Toegang: Tans geen toegangsfooi

accommodation lusikisiki

____________________

Meiringspoortwaterval

Buite De Rust, Wes-Kaap

Meiringspoort se waterval is ’n geliefde, veilige stopplek vir enigeen wat tussen Prins Albert, De Rust en Oudtshoorn reis en vinnig bene wil rek. Die poort vorm deel van die Swartberg Natuurreservaat en kronkel al langs asemrowende rooi-oranje kranse en oor talle driffies. Verwonder jy jou nog so aan die kranse sal jy skielik die twee grasdakgeboutjies en pynlik netjiese parkeerplek langs die pad gewaar. Van hier af lei trappies jou tot by twee lieflike swempoele en ’n waterval — een wat volgens legende die tuiste van ’n wispelturige meermin is. 

Meiringspoort
Foto’s: Adriëtte le Roux

Trappies lei jou tot by twee lieflike swempoele en ’n waterval — een wat volgens legende die tuiste van ’n wispelturige meermin is. 

Hierdie waterval haal nie net ons lys omdat dit in so ’n mooi poort is of opsigself fantasties groot of hoog is nie — eintlik loop die waterval nie eens as dit vir ’n tyd lank nie gereën het nie. Die Meiringspoortwaterval is op ons lys, omdat ons van ’n goeie storie hou! Sedert die pas in 1858 geopen is, het dit al verskeie kere verspoel en daar word gefluister dat die poortvloede deur ’n meermin in die boonste poel veroorsaak word. In 1996, ná ’n erge vloed, het die storie ’n bietjie te veel stertjies bygekry: Daar is gesê dat die meermin in haar woedebui tot by Mosselbaai verspoel het waar vissermanne haar gevang het. ’n Volgende stertjie het gelui dat sy toe na die C.P. Nel Museum in Oudtshoorn geneem is en die museumkurator het later só met nuuskierige museumbesoekers gesukkel, dat polisie ontbied is om die “meermin” (’n pop met ’n stert) seremonieel na die poort terug te neem. 

Toegang: Tans geen toegangsfooi

De rust accommodation

____________________

So, of jy stroomaf of stroomop reis, maak seker dat jy tyd inruim om af te trek by hierdie pragtige watervalle. Het ons jou gunstelingwaterval gemis? Vertel dan vir ons daarvan in die kommentaar hieronder!

Hooffoto: SANParks Augrabies Rest Camp op LekkeSlaap