Die stad is ʼn rowwe plek wat nooit slaap nie, ʼn plek waar jy nooit tot verhaal kom nie. Hoekom verruil jy nie die geraas van toeters wat blaas vir ʼn haan se gekraai nie? Leer jou kinders om boom te klim en ʼn hanslammertjie met die bottel te voed, om die modder tussen hulle tone te voel, en in ʼn plaasdam te swem. Breek weg na ʼn plek waar jy sielsrus kan vind sonder om ʼn plaas se geld te betaal. Doen dit vir jóú.

LekkeSlaap het ʼn paar plase gaan soek waar jy nie net ʼn goeie nagrus kan kry nie, maar ook “boer” kan speel.

Longview Ranch is op ʼn 2000 hektaar-beesplaas in Mpumalanga en dié plek is propvol avontuur. Gaste kan forelhengel in die plaasdamme, bergfietsry, voetslaan en die plaas met ʼn 4×4 verken. Klein wild soos rietbokke, oribies, ystervarke en blouape noem ook die plaas hul tuiste. Die geriewe is ideaal vir gesinne en daar is oorgenoeg doendinge vir die jongspan. Hier kan jy die lewe op ʼn regte plaas ervaar, maar as jy ʼn bietjie na die beskawing begin verlang, is Dullstroom net 30 minute se ry van jou af.

STORIES

Cadeau Rus ‘n Vree is ʼn familieplaas in die Vrystaat wat net 21 km buite Philippolis geleë is. Dié plaas se verblyf is gerig op gesinne, so bring jou kleingoed saam om die plaas en al sy diertjies te verken. Die enigste verkeer wat jy hiér sal teëkom, is die volstruise, bokke, koeie en honde op die plaaswerf. Snags kan jy verstom onder die sterrehemel staan en bedags kan jy bergfietsry en voetslaan onder die helderblou lugruim.

Meijer’s Rust is in Meiringspoort naby De Rust in die Wes-Kaap geleë. Hierdie werkende plaas is waarlik ʼn lushof vir natuurliefhebbers met verskeie staproetes wat oor die plaas tot hoog in die Swartberge in kronkel. As jy Meijer’s Rust wil besoek, kan jy jou maar regmaak vir luisterryke uitsigte oor die Kamanassie- en die Outeniekwaberge … Tog is uitsigte nie ál ding waarmee die plaas spog nie – daar is ook heelwat beeste!

STORIES

Lydenrust Gasteplaas lê aan die voet van die Steenkampsberge, net 30 km van Lydenburg af. Die plaas is 160 hektaar groot en kyk uit oor die Kwena-dam. Jy kan dié skilderagtige plaas op ʼn perd se rug, met jou bergfiets of met jou stapskoene gaan verken. As jy ʼn diereliefhebber is, sal jy bly wees om te hoor dat Lydenrust ʼn fantastiese, interaktiewe plaas-ervaring soos min bied ─ gaste word aangemoedig om vriende te maak met al die diere op die plaas en kan selfs help om die kleintjies met ʼn bottel te voed. Beter medisyne vir die siel sal jy nie sommer kry nie.

STORIES

De Denne Country Guest House is so 10 minute se ry van Oudtshoorn af op die welbekende Roete 62. Dink net, as die KKNK se skares te veel  vir jou word, kan jy saans hiér kom afsaal. Buiten die ongelooflike rustigheid en uitsigte, is daar ook heelwat bedrywighede op die plaas. Gaste kan selfs kyk hoe volstruiskuikens uitbroei ─ dis nie iets wat jy sómmer in die stad sal sien nie!

STORIES

Hierdie plaas is in die Noord-Kaap naby aan die Sakrivier geleë. Die Karoo is ʼn plek van oop ruimtes en oop gemoedere en daar is nie ʼn beter manier om hierdie sonderlinge streek te ervaar as op ʼn regte Karooplaas nie. Op Sakrivierspoort word daar geboer met skaap, knoffel, turksvye en lusern, en jy kan al die plaasbedrywighede aanskou. Die plaas is in ʼn bewarea geleë, so buiten die mak diere op die werf, kan jy miskien ook die bedreigde oewerkonyn sien.

STORIES

Kweekkraal is so 8 km van Riversdal af en dis ideaal geleë as jy jou Tuinroete-toer met ʼn stukkie plaas wil afskop of afsluit. Met die Langeberge as agtergrond sal jy nooit ʼn tekort aan wonderskone uitsigte hê nie. Op dié plaas word daar geboer met skaap, bees, hawermout, lusern, kanola, graan en gars, so die akkommodasie is ideaal vir stadsjapies wat plaasjapies se skoene wil aanpas.

STORIES

Hierdie 220 hektaar-plaas is in die platteland in Gauteng geleë. Dis stapafstand van die Pienaarsrivier af, so jy kan lekker gaan piekniek hou met sonsondergang na ʼn dag van verkenning op die plaas. By Stoneybrooke Gasteplaas sal die koeie, ganse, hoenders, eende en skape jou geselskap hou. In stede van die stad se kakofonie, is die enigste klanke in dié omgewing die voëltjies wat sing, die hane wat kraai en die ganse wat snater.

STORIES

Libertas Gasteplaas is in die hartjie van die Tuinroete geleë, maar dit bied soveel meer as ʼn deursnee-ervaring van dié omgewing. Dié 4-ster-selfsorgverblyf is op ʼn melkplaas, so gaste kan ʼn blik agter die skerms van dié bedryf kry. Die plaas is veral ʼn groot bederf vir die jongspan. Daar is klimrame, swaaie aan die bloekombome en groot grasperke waar kinders kan kennis maak met die oulike kalwers en koeie.

STORIES

Hierdie werkende plaas aan die voet van die Swartberge bied akkommodasie in ʼn bekoorlike opstal wat in 1870 gebou is. Die pragtige huis word gekomplementeer deur die mooi omgewing ─ dis sowaar ʼn plek waar jy rus vir jou siel kan vind. Op Waterkloof Gasteplaas word daar geboer met volstruise, beeste, skape, Angorabokke en groentesaad. Kom saal hier af en kry die tipe nagrus wat jy nie in die stad sal vind nie.

STORIES

Dis mos lekke op die plaas! Bespreek sommer NOU vir jou ʼn lêplekkie by een van die plase hierbo as jy ook vir jou “boer” wil hou.