Wat klink lekkerder as ’n wonderlike wegbreek wat jou ook nie ’n arm en ’n been gaan kos nie? Ons het ’n paar sakpasplekke in die Wes-Kaap uitgesoek wat almal minder as R350 per nag per persoon is! 

Sunflower Cottage

McGregor

Sakpaswegbreke McGregor

Sunflower Cottage is ’n selfsorgkothuis in die hartjie van McGregor. Dié knus kothuis is een van die oudste geboue in die dorp en is in die 1880’s gebou. Draai die horlosie terug en ontspan langs die kaggel of op die hangmat met jou neus in ’n boek. Laat die gejaagde stadslewe en tegnologie agter en kom rus. Bring ook jou hondekinders saam en ontspan in hierdie salige Karoo-dorpie. 

Seehuisie

Witsand

Witsand Sakpaswegbreke

Wat klink nou lekkerder as ’n huisie net 50 meter vanaf die see? Seehuisie is ’n dubbelverdieping-vakansiehuis in die kusdorpie Witsand. Die huis het ’n houtdek waar gaste die gedeeltelike see-uitsig kan bewonder. Ouers kan gerus wees, want die huis is in ’n veilige omgewing en kinders kan rondhardloop en speel. Julle kan in die getypoel of see swem en selfs tydens seisoen walvisse gewaar. Hier is ook ’n skottelgoedwasser en wasmasjien wat jou vakansie nóg meer gerieflik gaan maak.

Kliphuis on Kleinfontein Farm

Tulbagh

Tulbagh Sakpaswegbreke

Kliphuis on Kleinfontein Farm is ’n ouwêreldse en ongekunstelde kothuis ’n paar kilometer buite Tulbagh. Geniet die pragtige uitsig op die Witzenberge en oor die wingerde en dam terwyl jy op die stoep ontspan. Hier kan jy ook met ’n boek voor die kaggel opkrul as dit kouer word. Hier is slaapplek vir ses gaste in drie slaapkamers. Julle kan heerlik voëlkyk, voetslaan of ’n rits wynplase in die area besoek. 

Holiday on Harrier

St. Helenabaai

St. Helenabaai Sakpaswegbreke

Holiday on Harrier bied drie privaat eenhede in die oulike Weskusdorpie St. Helenabaai net 200 meter vanaf die strand. Elke eenheid het ’n heerlike, beskutte braai-area waar julle lekker kan kuier en daar is ook WiFi. Julle kan lekker langs die Goue Myl-strand stap, hengel, fietsry, swem en gholf speel in die omgewing. 

Bertus se Huisie

Tesselaarsdal

Tesselaarsdal Sakpaswegbreke

As jy op soek is na ’n huisie weg van alles en almal, is Bertus se Huisie die perfekte keuse. Hierdie klein stukkie paradys is op ’n kleinhoewe tussen Caledon en Tesselaarsdal en jy kan ook jou hondekinders saambring aangesien daar ’n groot omheinde grasperk is. Daar is selfs ’n onderdakbraai waar gaste ’n vleisie oor die kole kan gooi en heerlik kan kuier. Verder kan julle die bergstaproetes volg, die plaaspaaie verken, in die dam swem en selfs visvang. Die huis is ook naby die bekende Hemel-en-Aarde-vallei waar julle tussen wêreldbekende wynplase kan kies en keur. 

B’s Cabin

Bettysbaai

Bettysbaai Sakpaswegbreke

Maak ’n draai in Bettysbaai by B’s Cabin. Hierdie ruim houthuis het stoepe wat reg rondom die huis strek en jy sal deur die prentjiemooi uitsig oor die see en op die berge betower word. Die huis is net 400 meter van die bekende pikkewynkolonie en die strand af. Troeteldiere is welkom en gaste kan voor die TV uitspan of in die leeshoekie opkrul. Hier is ook ’n heerlike bad met groot glasvensters wat met ’n uitsig op die berg aan die een kant, en die see aan die ander kant, spog. Gaste kan in die see afkoel, branderplankry en ook sandplankry op die duine. Pak ’n piekniekmandjie en verken die asemrowende Harold Porter Botaniese Tuin – hiér is verskeie watervalle en voetslaanroetes. 

Klondyke Cherry Farm

Ceres

Ceres Sakpaswegbreke

Hiér kan jy kies tussen kampeerplekke of kothuise op ’n werkende vrugteplaas met appels, pere en kersies. Verloor tred van tyd in die natuurskoon, luister na die voëlgesang of bewonder die sterre. Hierdie plaas is bekend vir sy kersies en gaste kan tydens seisoen kersies pluk. Elke kothuis het ’n braaiplek buite en ’n kaggel binne. Dis onmoontlik om verveeld te wees aangesien die area opwindende aktiwiteite bied, insluitend die Ceres Zipline wat bekend is as die langste Zipline in die Wes-Kaap. Daar is ook talle staproetes, 4×4-roetes en bergfietsroetes om te verken.

Shoreline Cottage

Struisbaai

Struisbaai Sakpaswegbreke

Shoreline Cottage is ’n bekoorlike sandsteenhuis in Struisbaai wat net ’n vyf minute-stappie vanaf die see is. Hierdie vakansiehuis is perfek vir ’n gesinswegbreek of ’n groep vriende en het slaapplek vir ses gaste in drie slaapkamers. Daar is ’n heerlike onderdakbraai-area met ’n groot tafel waar julle lekker kan kuier, kaartspeel en ’n skemerkelkie drink. Net langs die braai-area is daar ’n Jacuzzi waarin julle kan ontspan en die vars seelug kan geniet. Jy kan ook jou hondekinders saambring aangesien die erf toegebou is. 

Hermanuspietersfontein Cottages

Stanford

Standford Sakpaswegbreke

Moet jy ’n bietjie jou batterye herlaai? Hermanuspietersfontein Cottages bied gerieflike verblyf op ’n plaas buite Stanford. Hiér kan jy werklik afskakel en die skilderagtige berge, ongerepte fynbos en prentjiemooi wingerd inneem. As jy lus is om die area te verken, is Stanford en Hermanus net ’n hanetreetjie ver. Voëlkyk-entoesiaste sal hier in hulle element wees en daar is ook ’n rits opwindende aktiwiteite in die omgewing, insluitend voetslaan, bergfietsry, forel- en kunsvlieghengel, haaihokduik en walviskyk.

Amazing Modern Cube House

Jongensfontein

Jongensfontein Sakpaswegbreke

Amazing Modern Cube House is ’n ultra-moderne, minimalistiese vakansiehuis in die rustige kusdorpie Jongensfontein. Gaste kan op die voorstoep ontspan en oor die turkoois see tuur. Daar is ook ’n toegeboude agterstoep met ’n gasbraai waar gaste lekker kan kuier. Elke vertrek het ’n see-uitsig en die huis is stapafstand vanaf die see. Hier is ook ’n TV met die volle DStv-pakket in die pragtige leefarea.

Kies en keur tussen hierdie 10 sakpas-plekke wat jou sak gaan pas. Bespreek sommer nóú!

Hooffoto: Hermanuspietersfontein Cottages (LekkeSlaap)