George: Topverblyf in die hartjie van die Tuinroete
Bea Punt, 25 Junie 2026
Leestyd: 8 minute
George word as die spilpunt van die Tuinroete gesien. Hiér kan jy binne ’n kwartier van ’n kronkelende bergpaadjie na ’n trendy koffiewinkel na ’n sanderige strand beweeg. Dit is daarom ’n fantastiese bestemming vir gesinne, gholfspelers, avonturiers en sakereisigers wat ’n sentrale basis soek. Met die majestueuse Outeniekwaberge as agtergrond bied verblyf in George ’n mengsel van luukse landgoedere, historiese gastehuise en versteekte juwele aan die kus.
Waarom is George so gewild?
George bly reg deur die hele jaar ’n gewilde dorp op die Tuinroete omdat dit met al die vereistes van ’n besige stad spog, maar eintlik die siel van ’n rustige bergdorpie behou. Hier is ’n paar redes hoekom dit ’n topkeuse vir jou volgende wegbreek is:
– George bied maklike toegang tot ’n verskeidenheid geriewe, soos restaurante, kroeë en winkels, alles bymekaar. Jy word deur die pragtige Outeniekwaberge omring en ’n paar minute later kan jy in die branders by Victoriabaai baljaar.
– Dit is gerieflik naby die res van die Tuinroete se dorpe geleë. Kies vir die dag koers na na Oudtshoorn se volstruisplase, of Knysna en Wildernis se strandmere, en keer saans terug na dieselfde gemaklike bed.
– George is ’n baie gewilde gholfbestemming en die tuiste van ’n paar van die wêreld se bekendste bane. Met die 3 Gary Player-gholfbane by Fancourt en die Oubaai- en Kingswood-gholflandgoedere albei om die draai, is dit ’n bestemming wat gholfspelers op hul wenslys móét hê.
– Die natuur is oral so te sê op jou voorstoep. Vir diegene wat stapstokke bo gholfstokke verkies, is daar meer as 2 000 km se staproetes in die omliggende area om te verken.
– George se verskillende woonbuurte maak vir almal voorsiening. Branderplankryers verkies die wêreldklasgolwe in Victoriabaai, gholfspelers kies dikwels Blanco waar die Fancourt-baan geleë is, en Heather Park sal gesinne se aandag trek omdat dit aktiwiteite soos bergfietsry en aarbeipluk by die Redberry Farm bied.
Topdoendinge in George
– Outeniqua Powervan: Dié gemotoriseerde treinrit duur 2,5 uur en neem jou by ’n berg op sodat jy die panoramiese uitsig oor die kuslyn en fynbos kan bewonder.
– Redberry Farm: ’n Gunsteling onder gesinne. Pluk jou eie aarbeie, smul aan heerlike aarbei-happies of vind jou pad uit die grootste doolhof in die Suidelike Halfrond!
– Victoriabaai: Dit is een van Suid-Afrika se bekendste branderplankrybaaie slegs 15 minute se ry vanaf die middedorp. Selfs al het jy nie ’n branderplank byderhand nie, kan jy steeds rustig op die strand wandel en ’n heerlike draairoomys geniet.
– Tuinroete Botaniese Tuin: Hierdie tuin van sewe hektaar aan die bopunt van Caledonstraat staan ook as George se “groen long” bekend. Dit is die beginpunt van verskeie bergfiets- en staproetes.
– Outeniqua Family Market (Saterdae): Meer as 150 stalletjies staan elke Saterdag gereed vir plaaslike inwoners en besoekers. Hiér sal jy ’n klomp lekker goed raakloop – van vars plaasprodukte tot die beste roosterkoek wat jy ooit sal proe.

Waar om in George te bly
Be at Rest Accommodation, George-sentraal

Be at Rest Accommodation is die logistieke wenner vir reisigers wat verkies om in die hartjie van George te bly. Hierdie vier selfsorgkamers bied slaapplek aan twee tot drie gaste en is slegs 8,5 km vanaf George se lughawe. Alhoewel elke kamer sy eie en suite-badkamer, studeerhoekie en slim-TV het, het gaste ook toegang tot ’n gemeenskaplike sitkamer en ’n toegeruste kombuis. Vir diegene wat meer onafhanklikheid wil hê, het die selfsorgeenheid sy eie ten volle toegeruste kombuisie.
Waves Of Grace Seafront Villa, Heroldsbaai

Word wakker op die maat van die golwe by Waves Of Grace Seafront Villa – die perfekte wegbreek by die see in die gewilde Heroldsbaai. Hierdie bekoorlike B&B is slegs ’n paar treë vanaf die strand en is perfek vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese toevlugsoord of sakereisigers wat net ’n bietjie afsondering ná ’n lang dag nodig het. Elke suite sluit ’n fynproewersontbyt in en spog met ’n privaat balkon vanwaar jy dolfyne of walvisse kan dophou.
Botanica Guest House, Heatherlands

Hierdie toevlugsoord voel soos ’n wegbreek in ’n woud so reg in die hartjie van die dorp. ’n Bonus is dat dit ook slegs 1,3 km van die Tuinroete Botaniese Tuin af is! Jy kan vanuit ses pragtige en suite-kamers met sagte japonne kies en jou dae by die swembad deurbring, in die tuin wandel of die nabygeleë Outeniekwa Natuurreservaat en -staproete verken.
Wenk: As jy ’n oggendmens is, stap gerus na die Botaniese Tuin waar jy aan ’n koffie kan teug terwyl jy deur inheemse fynbos en ’n berguitsig omring word.
Oubaai Villa, Oubaai Gholflandgoed

Wil jy sweef (soos ’n arend) bo die wildernis? Oubaai Villa is ’n skouspelagtige dubbelverdiepinghuis op die gesogte Oubaai Gholflandgoed. In plaas van stadsverkeer is jou klankbaan die roep van visarende en die wind wat deur blare ritsel. Die villa se unieke ontwerp is veral duidelik in die randvloeiswembad en ’n groot houtdek met ’n asemrowende uitsig oor die Gwaiingrivierkloof en op die Outeniekwaberge. As jy hiér bespreek, het jy volle toegang tot Oubaai se geriewe wat die Ernie Els-gholfbaan en nabygeleë staproetes insluit.
Kingswood Oppi-dam, Kingswood Gholflandgoed

Dié huis is op nog ’n gholflandgoed in George geleë en ’n uitstekende opsie vir gesinne, paartjies of sakereisigers wat die sekuriteit van ’n omheinde landgoed, maar sonder die gewoel van vol oord wil hê. Die ateljeewoonstel en die ruim Oppi-Dam Huis met drie slaapkamers spog met uitsigte op die berg en oor die dam en die omliggende natuur. Die gazebo-area en pizza-oond is uitstekend vir wanneer julle wil saam kuier onder die sterre en gholfspelers kan selfs hulle sethou op die perseel by die oefenarea oefen voordat hulle die baan aandurf.
Silver Spray, Victoriabaai

Bly, letterlik, net ’n paar treë van die sand af! Silver Spray is ’n kusjuweel in Victoriabaai waar branderplankryers, gesinne en seeliefhebbers bymekaarkom. Daar is drie selfsorgopsies, naamlik die Seafront Beach House met slaapplek vir agt en die Seaview Studio en die Budget Studio wat elk slaapplek aan tot twee gaste bied. Danksy die ligging kan jy dolfyne vanaf jou stoep bewonder en die vuur op jou privaat dek aansteek soos die son ondergaan.
Wenk: Victoriabaai is die tuiste van een van die bekendste branderplankryplekke in die land. Selfs al wil jy nie self in die golwe baljaar nie, raai ons jou aan om met sonsopkoms jou koffie by die jetty te gaan drink terwyl jy die locals se truuks op die golwe dophou.
Victoria Bay Lookout Villa, Victoriabaai

As jy hiér bespreek, sal jy soos daardie Imagine Dragons-liedjie “I’m on top of the world” voel, want Victoria Bay Lookout Villa is ’n absolute skouspel! As jy op soek is na daardie “wow”-faktor waar die woud en die see ontmoet, hoef jy nie verder te soek nie – hierdie villa is hoog teen die berg geleë en spog met ’n ongeëwenaarde panoramiese uitsig oor die baai. Dit is perfek vir ’n groter groep van tot 10 gaste en bestaan uit ’n luukse hoofhuis met drie slaapkamers en ’n woonstel met twee slaapkamers. Die buitekuierarea bestaan uit ’n natuurlike rotspoel, warmbad, braai-area en sonstoele met ’n uitsig. Daar is ook ’n privaat paadjie wat deur die inheemse woud kronkel en na twee versteekte uitkykdekke lei – beslis iets om te sien!
Prospect Farm Cottages, Geelhoutboom

Prospect Farm Cottages is ’n stukkie plaashemel op aarde aan die voet van die Outeniekwaberge. Dié plaas net buite die dorp is ideaal vir gesinne en natuurliefhebbers wat na daardie tussen-niks-en-nêrens-gevoel verlang, maar nie sommer moderne geriewe soos WiFi en DStv prys wil gee nie. Elke bekoorlike kothuis bied slaapplek aan twee volwassenes en twee kinders, en aangesien die kothuise troeteldiervriendelik is, kan jou viervoetvriende ook die welige grasperke en privaat bospaadjies saam met jou kom geniet. Die dubbelverdiepingkothuise spog ook met hulle eie ingeboude pizza-oonde wat ’n opwindende dag van roei, visvang of bergfietsry op die plaas perfek sal afsluit.
Wenk: Aangesien die plaas net 12 km vanaf Fancourt geleë is, kan gholfspelers hiér bespreek om die plaaslewe te ervaar én steeds naby genoeg wees vir ’n potjie wanneer dit hulle pas!
Reiswenke
– Die versteekte pas: Die meeste mense neem die Outeniekwapas, maar as jy ’n bietjie ekstra tyd het, probeer gerus die Montagupas – dit is ’n grondpad uit die 1840’s wat deur die berge kronkel.
– ’n Wonder in die winter: So gewild soos George in die somer is, is dié bestemming net so lekke in die winter. Stook ’n gesellige kaggel of besoek die plaaslike museums en koffiewinkels in die dorp.
– Wanneer is die beste tyd om George te besoek? Vir buitelugliefhebbers is Februarie tot April die ideale tyd, want die somerhitte bedaar en die wind gaan lê en dit skep die perfekte omstandighede vir voetslaan en fietsry.
George bied ruimte, moderne geriewe én natuurskoon, alles in een dorp en daarom is dit so ’n gewilde bestemming op die Tuinroete. Van die gastehuise se historiese bekoring tot die luukse landgoedverblyf, daar is meer as 400 lekke plekke wat vir almal geskik is.
Hooffoto: Kingswood Oppi-dam
Lees ook:
Top-10-blyplekke wat op jou wenslysie hoort
Blyplekke langs riviere en damme in die Wes-Kaap
Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete





