Met meer as 27 000 eiendomme wat op LekkeSlaap.co.za pronk, wemel ons sosialemedia-platforms met spoggerige plekke reg oor die land! Maar daar is elke jaar ’n paar sosialemedia-lieflinge wat lesers se “like”-knoppie harder laat werk. Of dit ’n Weskus-huis of ’n berg-chalet teen Mpumalanga se heuwels is, hierdie besonderse plekkies sal jou oog keer-op-keer vang. 

The Dome

Stormsrivier

Ons begin groot met ’n koepel-glanskamptent wat jou en die hemelruim slegs met ’n deursigtige lagie skei. The Dome is een van drie spoggerige eenhede wat deel van die Misty Mountain-reservaat in Tsitsikamma is. Hierdie unieke tent bied slaapplek aan twee gaste wat die stad se gedruis met natuurklanke wil verruil, sonder om luuksheid en gemak prys te gee. Daar is ’n toegeruste kombuisie en gordyne wat vir privaatheid sorg. Buite is daar ’n houtdek met stoele en ’n hangmat en nabygeleë roetes wat verken kan word. 

Loer gerus ook na die ander luukse eenhede, naamlik The Stargazing Cube en The Pyramid, wat in die reservaat wegkruip.

Klein-Hangklip

Rooi-Els 

Net buite Rooi-Els pronk daar ’n eko-vriendelike huisie met ’n Boheemse aanslag. Klein-Hangklip is ’n sosialemedia-meesterstuk wat nes ’n Pinterest-bord lyk. Stel jou voor jy ontspan met ’n skemerkelkie in die houtvuurwarmbad terwyl die berge en see om jou kontoer. Hierdie eenheid is vir ’n klein gesin of vriende geskik en bied slaapplek aan vier gaste. Daar is ’n etenstafel, ’n kaggel en ’n boma waarom julle lekker kan kuier en die houtdek bied die beste sitplek vir wanneer die sonsondergang die lug met pragtige kleure inkleur. Die huisie maak van sonkrag en rugsteunbatterye gebruik, so julle hoef nie oor beurtkrag te bekommer nie.

Rocklands Eco Retreat

Cederberg

Sal ’n toevlugsoord tussen die Cederberge wat soomloos met die natuur saamsmelt jou ook laat ophou “scroll”? Rocklands Eco Retreat sal beslis! Hierdie privaat chalet is perfek vir ’n romantiese wegbreek en spog met ’n buitebad, asook ‘n unieke oopplan-ontwerp wat die prag van die Cederberge na binne nooi. Daar is slaapplek vir twee gaste, ’n badkamer, kombuisie en ’n braai-area, en hoewel gratis WiFi beskikbaar is, word ’n mens só met al die natuur-elemente meegevoer dat jy skoon van realiteit sal vergeet! Die dek is ook die perfekte verhoog om saans sterre te kyk.

The Barn

Yzerfontein

The Barn is ’n pragtige plaasstylhuis wat al jou Weskus-wegbreekdrome sal laat waar word. Hierdie juweel in Yzerfontein bied rustige verblyf aan ’n gesin of ’n groep vriende van vier, maar die etenstafel wat beslis ’n fokuspunt is, laat tot twaalf gaste toe om saam te sit en kuier. Elke slaapkamer het ’n unieke hoekie waar jy kan sit en die see-uitsig bewonder of met ’n boek ontspan. Die ruim leefarea lei na ’n lieflike dek wat na noord front en met ’n see-uitsig spog en gedurende die winter kan julle voor die kaggel opkrul. 

The Pods @ Thaba eNtle

Thabazimbi 

Bespreek The Pods vir ’n unieke wegbreek waar natuur en weelde ontmoet. Pod-eenhede het die afgelope tyd teen ’n snellende spoed toegeneem en spog deesdae met ’n verskeidenheid style en kenmerke. Hierdie stylvolle houthuisies, waar rustigheid gedy, kan elk twee gaste huisves en kombineer ’n bosveld-ervaring met luukse verblyf. Daar is geen TV of WiFi nie, net ’n rustige atmosfeer sodat julle behoorlik kan ontspan. Die huisies maak van sonkrag gebruik en die oopplan-ontwerp word met ’n onderdakstoep, braai-area en houtvuurwarmbad afgerond. 

Cederberg Ridge Wilderness Lodge

Clainwilliam

Maak gereed om jou reislysie aan te pas deur Cederberg Ridge Wilderness Lodge na bo te skuif! Hierdie lodge se romantiese kamers spog met uitsigte op die Cederberge en is slegs nege kilometer vanaf Clanwilliam geleë. Daar is verskeie kamers wat elk verskillende slaap-opsies aan twee gaste bied en hulle met ondervloerse verhitting, gratis WiFi en kaggels bederf. Boonop is hierdie lodge ’n poort na avontuur-aktiwiteite met begeleide staptogte, rotskuns-verkennings, bergfietsry en skemerkelkie-bootvaarte. Moenie net “scroll” en hierdie beeldskone bergwegbreek deur jou vingers laat glip nie — knap ’n bietjie jou sosialemedia-profiel op en bespreek ’n welverdiende blaaskans hier! 

Ietsiemeer Beach House

Hentiesbaai

Ietsiemeer Beach House bied jou, wel, ’n ietsietjie meer as nét verblyf. Hierdie bekroonde strandhuis speel middelman waar die Namibiese see en sand ontmoet. Ontsnap die alledaagse gewoel en kom ervaar rustigheid met ’n panoramiese see-uitsig en golwende sandduine wat jou omring. Dis ideaal vir ’n groot groep van tot 24 en beskik oor ses en suite-slaapkamers. Bring gerus ook jou troeteldier saam! Binne is daar kaggels vir wanneer die koeler luggie opsteek, en buite spog die huis met ’n braai en ’n houtdek waar julle skemerkelkies, of ’n koppie môrekoffie vir diegene wat vroeg uit die vere is, kan geniet.      

Bygracealone Manor

George

In die hartjie van die Tuinroete, waar natuurskoon en ouwêreldse bekoring bymekaarkom, pronk ​​Bygracealone Manor, ’n gastehuis wat ’n ongeëwenaarde ervaring beloof. Die kommentaar-afdeling van hierdie Facebook-post is met ongeloof van gaste wat nie kon glo dat hierdie kasteel in ons eie land is nie, oorval! Elke kamer bied slaapplek aan twee en die gemeenskaplike leefareas bied gaste die geleentheid om te lees of ’n potjie skaak te geniet. Die gastehuis neem jou terug in tyd met sy kenmerkende interieur en deur kaggels in elkeen van die vier sitkamers te laat brand — nes iets uit ’n Game of Thrones-episode! 

Wolwekrans Eco Lodge

Schoemanskloof

Klop aan die avontuurlustige kamers van jou hart en bespreek ’n wegbreek op die naat van die Schoemanskloof-platorand. “Ek is verlief!” is wat jy sal uitroep wanneer jy die uitsig vanaf hierdie ongelooflike stoep sien! Dié natuurjuweel in Mpumalanga spog met die mooiste uitsig oor die Laeveldvallei wat eindeloos voor jou uitstrek. Die verskeie eenhede bied slaapplek aan vier, ses of agt gaste en sluit geriewe soos braai-areas, ’n bosveldswembad, hangmatte en piekniekplekke in. Daar is talle staproetes met wild wat vrylik rondloop vir diegene wie se voete juk om die omgewing te verken. Voëlkykers kan ook verwag om arende, valke en kleiner eksotiese voëls te besigtig. 

Aloeron @ Patatsfontein Stay

Montagu

Aloeron @ Patatsfontein Stay bied luukse, troeteldiervriendelike tentverblyf aan die voet van die pragtige Waboomsberg. Die versteekte eenheid is op ’n plaas in die skilderagtige Patatsfonteinvallei geleë en het slaapplek vir twee. Kom ontspan op die stoep, geniet die houtvuurwarmbad of laat die vuurtjie knetter by die ingeboude braai. Saans kan julle van realiteit ontsnap met die sterre wat soos verfspatsels die hemelruim versier. 

Is jy ook nog in droomland met al hierdie besonderse plekke? Al wat nou oorbly is om een van hulle jou volgende wegbreek te maak sodat daardie droom jou realiteit raak! Volg ons op Facebook, Instagram en TikTok om die gewilde blyplekke in 2024 eerste te sien!

Hooffoto: Wolwekrans Eco Lodge


Lees ook:

Instagram-plekke wat jy móét bespreek

Nóg vreemde (maar fantastiese) verblyf

Eksotiese bestemmings in Suid-Afrika