By die aanhoor van die naam skrik die Wildekus sekerlik heelparty mense af, maar dit sal daardie mense op ’n stukkie Suid-Afrikaanse paradys laat uitmis.

Ja, jy kan gerus maar ’n bietjie oplees vóór jy die pad na die eertydse Transkei vat, maar die Wildekus se wilde kant moet beslis niemand van ’n reis na dié deel van die Oos-Kaap laat afsien nie. Hierdie kusstreek bied ongerepte natuur en avontuur wat geen ander kusgebied in die land kan klop nie. Golwende heuwels word hier met helder grasdakrondawels verfraai, grondpaaie kronkel deur tropiese plantegroei tot by ongerepte strande waar ’n koei of ses heel moontlik lê en sonbaai, pers en turkoois seelewe wink jou vanuit warm rotspoele nader en plek-plek tuimel ’n waterval met oorgawe die see in ─ dis net ván die Wildekus se wonders sodra jy weer strande mag betree.   

So, as jy ’n buitelugliefhebber, ’n avontuurlustige of ’n vrygeestige is, iemand wat liefs die ergste skares vermy of daarvan hou om jouself in die kultuur van ’n area te verdiep, lees verder om meer van die Wildekus, jou volgende vakansiebestemming, te leer.

Vinnige feite

Waar: Vanaf die N2-Gonubie-wisselaar buite Oos-Londen tot by die Mtamvuna-rivierbrug by Port St. Johns wat die grens na KwaZulu-Natal aandui

Lengte: Ongeveer 250 kilometer se kuslyn en 315 kilometer via die hoofpaaie

Dorpe: Keimond, Cintsa, Haga-Haga, Morganbaai, Mthatha, Mazeppa Bay, Koffiebaai, Port St. Johns en ’n handjievol ander kleindorpies

Naaste lughawes: Oos-Londen en Mthatha Lughawe

Die Keiriviermonding word deur baie mense as die poort na die Wildekus beskou. Hier kan jy vir redelik goedkoop op ’n pont die rivier oorsteek as jy eerder die agterpaaie wil ry.

Wat om aan die Wildekus te doen 

Avontuur

Hoewel die lewe aan die Wildekus ’n vakansiepas volg, is daar geen rede om verveeld te wees nie. Doen ’n dagstap van die Ocean View Hotel in Koffiebaai, oor heuwels en strande tot by die skouspelagtige Hole in the Wall, of volg bokpaadjies deur die woud en verby geheime rotspoele tot by die Mapuzi-grotte en -seekranse waar jy van die krans af in die see kan spring. Roei jy op die Umtatarivier, spring vlieënde visse sommer in jou kajak en top-branderplankgeleenthede en perdritte is ook op die kaarte aan hierdie kus. 

Ons het op aanbeveling van die Ocean View Hotel die Umtatarivier saam met Coffee Bay Kayaking aangepak en ’n plesierige oggend op die rivier deurgebring.

Hoewel jy al hierdie avonture sonder ’n toergids sal kan aanpak, is dit glad nie aan te beveel nie. Dit is raadsaam om eerder op aanbeveling van die toerismetoonbank by jou verblyf ’n plaaslike toergids te gebruik om maksimaal uit die ervaring te put én veilig te wees. 

Ons het ook die dagstap na die Hole in the Wall saam met Nhaza’s Tours aangepak en op pad oor seekranse, strande en verby koeie gestap.

Besienswaardighede

Die Wildekus se natuurskoon is onvergelykbaar, maar daar is spesifieke besienswaardighede wat op jou reislys hoort. Die Hole in the Wall is ’n enorme, vrystaande krans met ’n opening in die middel waardeur die Mpakorivier die see invloei en is sekerlik die Wildekus se mees ikoniese besienswaardigheid. 

Die Hole in the Wall is sekerlik die Wildekus se mees ikoniese besienswaardigheid.

Wat watervalle betref is daar die Magwa-waterval op ’n teeplantasie buite Lusikisiki, wat aan die Victoriavalle herinner en maklik bereikbaar is. Waterfall Bluff naby Port St. Johns in die Mkambathi Natuurreservaat is een van net negentien watervalle ter wêreld wat direk die see intuimel, maar is weer moeiliker om te bereik: Jy sal óf op die reservaat moet bly óf ’n 28 kilometer staptog saam met ’n gids moet aanpak om dit te sien. 

Die Magwa-waterval. | Foto: Wikimedia Commons

Die Wildekus is ook deurspek met pragtige seekranse soos dié by Morganbaai. Dit bied die unieke geleentheid om die jaarlikse Sardienloop van bo te aanskou soos walvisse, dolfyne, robbe en malgasse die enorme skool visse kuslangs volg. 

Die seekranse by Morganbaai is die ideale uitkykpunt om die Sardienloop van bo te aanskou. | Foto: Morgan Bay Hotel

Vratsbranders en ’n rotsagtige kuslyn beteken dat heelwat skepe al spoorloos langs dié kus verdwyn het, maar ander skeepswrakke soos die Jacaranda en die Idomene is nog onderskeidelik by Qolora- en Qora-riviermondings te sien. 

As jy binneland toe reis, is daar sowat 50 000 hektaar se inheemse woud om te verken, en langs die Umtatarivier en die Mngazana- en Ntafufu-strandmere is daar fassinerende swart-, wit- en rooiwortelbome wat as veilige teelaarde vir skaaldiertjies dien ─ dit is ’n paradys vir enige natuurliefhebber. 

Leer oor die Xhosa-kultuur 

Die Wildekus is die setel van die Xhosa-stam, dus sal jy oor dié kultuur in sy suiwerste vorm kan leer, veral as jy van plaaslike toergidse gebruik maak. Die Wildekus word geken aan die talle helder rondawels, dikwels met ’n motorband en ’n mielieplant as weerligafleier bo-op die dak, wat die heuwels verfraai. Hierdie huisies is die tuiste van Xhosa-bestaansboere wat hoofsaaklik mielies en koring verbou en moontlik ’n handjievol beeste, skape en hoenders besit. Dit is interessant om te leer van hulle daaglikse lewens en die gesag van die stamhoofde wat vandag nog aan die stuur van die gemeenskappe staan.  

Grasgroen, golwende heuwels spog met die helder rondawels en bestaansboerderye van tradisionele Xhosa-gesinne.

Oudpresident Nelson Mandela en Thabo Mbeki kom albei uit hierdie deel van die wêreld en as jy meer oor hul erfenis wil leer kan jy die Nelson Mandela Museum en -Erfenisroete by Qunu besoek. 

Strande soos min 

Die Wildekus bied van die beste strande vir branderplankryers, visvangers en diegene wat ’n strand vir hulself soek. Morganbaai het ’n gesinsvriendelike strand reg voor die hotel en ’n strandmeer waarin selfs die jongspan veilig kan speel. Koffiebaai se strand het rotspoele en is ook gesinsvriendelik. Dit word met ’n paar rustige koeie en perde gedeel. Cintsa en Yellow Sands is veral gewild onder branderplankryers en Mazeppa Bay se strande is top-hengelbestemmings wat baie plaaslike vissermanne lok. Mdumbi is skoon en bykans altyd verlate met groot branders en ’n strandmeer, en as jy op soek is na ’n avontuur kan jy na die Hole in the Wall voetslaan en hier in die Mpako-riviermonding wat deur die seekrans se gat vloei afkoel.   

Koffiebaai se strand het gewoonlik koeie en perde op, maar hierdie oggend het dit net ’n verliefde paartjie en ’n mooi sonsopkoms gehad.

Hengel soos ’n wenner

Die Wildekus bied verskeie visvanggeleenthede teen die kus én by strandmere. Die groot prys is ná Meimaand en deur die winter wanneer die Sardienloop ’n groot klomp roofvisse na die streek lok en sportvis gevang kan word. Galjoen, bruinhottentot, koninginvis, makriel en mosselkraker is ook volop in die area. Mazeppa Bay bied die unieke geleentheid om vis te vang vanaf ’n eiland wat met ’n hangbrug aan die land verbind word. Van die beste visvangplekke is egter redelik afgeleë en jy sou ’n 4×4 benodig om die modderige grondpaaie tot daar aan te durf. As jy ’n avonturier en ’n hengelaar is, is die Wildekus dus ’n opwindende plek om jou gunstelingsport te beoefen. 

Baie van die beste hengelplekke is afgeleë en sal ’n bietjie stap of ry verg. Hierdie stappers op pad na Waterfall Bluff is reg om enige plek vis te vang. | Foto: Arthur Hickman op Unsplash

Verblyf vir elke smaak

Die Wildekus is bekend vir sy informele verblyf soos Mbotyi Mountain Bush Camp en Freedom O’Clock Backpackers Retreat wat ideaal is as jy die plaaslike leefwyse beter wil leer ken. Daar is egter ook baie ander tipes verblyf. Jy het die opsie om by ’n selfsorgstrandhuis soos MyKei, ’n strand-oord soos Hole in the Wall Resort, ’n strand-lodge soos Crawford’s Beach Lodge of selfs ’n hotel soos die Ocean View Hotel te bespreek. 

Daar is alle tipes verblyf, van rugsakreisigerslosies soos Mbotyi Mountain Bush Camp (links) tot lodges soos Crawford’s Beach Lodge (regs) | Foto’s: LekkeSlaap.co.za

Omdat die Wildekus ’n onderontwikkelde toerismestreek is, vat lodge- en hotelbestuurders dikwels voor, bied wenke oor hoe om bepaalde avonture aan te pak en maak aanbevelings van vertroude toergidse, so maak gebruik van hulle raad. 

Ons het self by die Ocean View Hotel in Koffiebaai gebly.

Wenke vir die Wildekus

Selfoonsein

Sein is wisselvallig, veral op meer afgeleë dorpe en paaie. Laat dus jou naastes vooraf weet waarheen jy op pad is en beplan jou roete of koop ’n deeglike, opgedateerde kaart soos ’n Slingsby-kaart sodat jy weet waarheen jy op pad is.

Paaie en vervoer

Die hoofroetes, die N2 en die R61, is redelik breed en maklik begaanbaar en groter of meer gevestigde dorpe soos Morganbaai of Port St. Johns kan met ’n gewone sedanvoertuig bereik word. Die sekondêre paaie het egter dikwels groot slaggate en hoë spoedhobbels, so ry maar oop-oë en moenie ná  donker of in erge reën rondry nie. 

In die meeste gevalle sal jy na die hoofroetes toe moet terugry om van een kusdorp na die volgende te reis aangesien daar nie ’n aaneenlopende kuspad is nie. Let net dat paaie wat na die kus of na riviere toe afdraai dikwels grondpaaie is wat na reënerige weer kan verspoel. 

Mdumbi is een van die ongerepte strande wat slegs met ’n 4×4 of hoë voertuig bereik kan word.

As jy maksimaal uit jou ervaring wil put en die kleiner dorpies of meer afgeleë strande wil besoek, is ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte of ’n 4×4 essensieel (alhoewel ons op die mees afgeleë plekke wel CiTi Gholfs gesien het …). Wees ook op die uitkyk vir roekelose bestuurders en, nog meer algemeen, vee in die pad. Tuisboerderye is dikwels nie omhein nie en daar is dus baie skape, perde en beeste op die paaie wat té gewoond is aan verkeer om vanself te skuif as jy sou naderkom. 

Jy sal altyd op die uitkyk moet wees vir vee in die pad.

Die weer en wat om te pak 

Die Wildekus het reg deur die jaar matige dag- en nagtemperature en redelike hoë humiditeit, veral hoe nader jy aan KwaZulu-Natal beweeg. Die enigste verskil tussen die seisoene is die reënval: Dis ’n somerreënvalstreek met die eerste reën wat in Oktober opdaag, so as jy die donderstorms en bewolkte dae wil mis, gaan in die winter tussen Julie en September. 

Weens die matige temperature en humiditeit is een stel warm klere voldoende. Verder sal jy regkom met stranddrag, somerklere en sandale. Goeie stapskoene wat maar kan nat raak is ’n vereiste as jy wil gaan stap, want daar is baie modder in die somermaande. Verder hoort ’n hoed, sonbrandroom en insekweerder op jou reislys.

Die diere 

Soos reeds genoem is daar baie vee op die paaie, maar hulle is ook besonders lief vir die see! Moet dus nie verbaas wees as jy jou stranduitstappie met ’n paar koeie wat rustig lê en herkou deel nie. Hulle is baie gewoond aan mense en is selde aggressief, so neem die geleentheid om ’n foto of twee saam met hulle te neem. 

’n Tipiese Wildekus-verskynsel: koeie wat sonbaai op die strand.

Terminologie 

Drie begrippe wat ons sommer vinnig moes leer is ‘lalis’, ’ngini’, en ‘robots’. Lalis verwys na enige golwende, grasbedekte heuwel waar bestaansboere hulle huisies oprig. Ngini beteken ‘klein’ en sal sommer maklik deur plaaslike inwoners in ’n Engelse sin ingewerk word. As die plaaslike inwoners van robots praat, verwys hulle na vee in die pad en nie na regte verkeersligte nie ─ daarvan is daar bitter min aan die Wildekus.

Ondersteun waar jy kan 

Ongelukkig is werkloosheid en armoede ’n kommerwekkende verskynsel aan die Wildekus. Baie inwoners maak kunsvlyt-items soos kralebandjies en grasmatte waardeur jy hulle kan ondersteun, maar kies waar jy wil of kan ondersteun en hou ’n bietjie kontant (in kleingeldvorm) byderhand hiervoor.  

Kunsvlyt-kunstenaars is volop soos plaaslike inwoners vir hulself ’n bestaan probeer maak. Ondersteun waar jy kan.

*Die regte gids

Soos reeds genoem is dit belangrik dat jy ’n gids saamvat as jy ’n obskure avontuur of roete wil aanpak en daar niemand in jou groep is wat vertroud is met die area nie. Daar is beperkte sein en baie roetes is nie duidelik gemerk nie, maar jy sal ook meer uit ’n avontuur put met ’n gids wat vir jou van die waarde van sekere plante of verskynsels langs die pad kan leer. Moet egter nie net enige plaaslike inwoner of vreemdeling se hulp aanvaar nie ─ maak gebruik van die netwerk gidse wat jou hotel, lodge of rugsakreisigerslosies voorstel. 

____________________________________________

Die Wildekus is ’n geheime paradys ─ een wat op jou emmerskoplysie vir 2021 hoort. Sit ons wenke in jou gatsak en gaan verken hierdie streek so gou as moontlik, terwyl dit nog ongetem en ongerep is!

Avontuur wag aan die Wildekus! | Foto: Mbotyi Mountain Beach Camp

Hooffoto: Ocean View Hotel op LekkeSlaap.co.za

Ander foto’s deur Adriëtte le Roux tensy anders vermeld.