Hierdie artikel het op Maroela Media verskyn.

Jy kan ’n paar rare verhale en wonderbaarlike wolhaarstories in die meeste kroeë te hore kom ─ soveel te meer as jy langs iemand wat al ’n tydjie daar is opeindig … Maar Suid-Afrika het ook eklektiese kroeë wat só vreemd is dat hulle in eie reg op jou emmerskoplysie hoort, al eindig jy nou nie langs die distrik se topstorieverteller op nie. LekkeSlaap.co.za het sewe van dié vreemde watergate gaan uitsnuffel. So, Coke, bier of brandewyn, as die dors jou op jou volgende reis beetpak, saal hiér af! 

____________________________________________

Die Pantiekroeg

Paternoster, Wes-Kaap

Die versameling panties groei onverpoosd ─ maak gerus ’n draai en voeg joune by.

Die Weskusdorpie, Paternoster, wat as Suid-Afrika se stukkie Griekeland bekendstaan, is al jare lank gewild onder wittebroodpaartjies. Dit beteken natuurlik dat daar op enige gegewe tydstip ’n oorvloed mooi, kanterige panties in die omtrek is. In 1974 kry Johan Carosini die blink plan om hierop te kapitaliseer en begin wittebrood-panties by die Paternoster Hotel se kroeg versamel en van die dakbalke laat afhang. Só gewild én wild was Johan se idee dat ’n predikant in 1983 geëis het dat die panties verwyder word. Die polisieman wat die aardige pantie-konfiskeringstaak opgelê is, sou voortaan as Pantie Basson bekendstaan. In die negentigerjare besluit Giorello Carosini niemand sal hulle pantie-partytjie halt roep nie en sit bloot die versameling voort. Tot vandag het geen predikant al gekla nie en, as hy het, het niemand hulle aan hom gesteur nie. Die versameling panties groei onverpoosd ─ maak gerus ’n draai en voeg joune by.

Oornag in Paternoster se geweste.

__________________________________________

Ronnie’s Sex Shop

Buite Barrydale, Kaapse Roete 62, Wes-Kaap

Ronnie's Rex Shop | Foto: Dreamstine

Ronnie was nog besig om sy ou geboutjie, wat ’n gewone padstal langs die R62 sou wees, op te knap, toe sy vriende sy beskeie “Ronnie’s Shop”-teken vandaliseer en (durf ons dit sê?) “sex” gaan byverf. Sulke vriende darem! Ronnie het toe maar die idee van ’n padstal prysgegee, die naam so gelos en ’n kroeg oopgemaak ─ en dit was ’n oombliklike treffer, want niemand ry verby die skelrooi naam wat skaamteloos oor die vlakte skree sonder om ’n foto te neem nie. Trek gerus hier af en geniet goue treffers deur Rodriquez of Deep Purple, ’n kroegmiddagete, ’n melkskommel (vir volwassenes as jy ’n knertsie van dié of daai wil bysit) en gesels met Ronnie met sy gevlegte hare en baard wat die kroeg beman. Bring ook ’n pen om jou merk op die bekrapte muur te maak en ’n bra as jy dié in die kroeg wil ophang. 

Oornag op Kaapse Roete 62.

____________________________________________

Tjol se Gat

Buite Sutherland, Noord-Kaap

Tjol by sy kroeg | Foto: Schalk Schreuder

Maar, as jy eers daar is, wat maak jy met jouself en jou vrou op die vlak tussen Matjiesfontein en Sutherland? Jy maak ’n kroeg oop, natuurlik!

’n Paar jaar gelede, met sy asmatoestand aan’t vererger, neem Tjol Herbst sy dokter se raad ernstig op en verruil om gesondheidsonthalwe Stellenbosch vir die Karoo se droë lug. Maar, as jy eers daar is, wat maak jy met jouself en jou vrou op die vlak tussen Matjiesfontein en Sutherland? Jy maak ’n kroeg oop, natuurlik! Aanvanklik het die klein, wit geboutjie, wat as Tjol se Gat bekendstaan, nie  ’n dranklisensie gehad nie, maar hierdie “probleempie” is vinnig omseil deurdat besoekers “aandele” in die kroeg sou koop en dan hierdie aandele kon uitdrink. Tjol het op dié manier soveel “vennote” gekry dat die Karoo-stilte geensins ’n probleem was nie en vandag het die kroeg ’n dranklisensie, maar ook ’n oulike, inwonende geheelonthouer ─ die Duitse herdershond genaamd Koffie ─ wat graag saam met jou en Tjol die middag sal omkuier. Tjol verkoop ook braaiwors en ’n middagkuier kan vinnig in ’n gesellige braaisessie omskep word.

Oornag in Sutherland se geweste.

____________________________________________

Die Werkswinkel-kroeg, Tankwa Padstal

R355, op pad na Calvinia, Wes-Kaap

Die Werkswinkel-kroeg by die Tankwa Padstal | Foto: Michael Hammond van Bikeroutes.co.za

Die land se langste grondpad sonder dorp of vulstasie is die asvaal R355 tussen Ceres en Calvinia. Meer afgeleë kan jy nie kry nie. Maar al dink jy jy ry alleen deur die wêreld, sal jy tagtig kilometer noord van Ceres of 160 kilometer suid van Calvinia uit jou Karoo-newels geruk word wanneer die helder-turkoois Tankwa Padstal voor jou opdoem. As die enigste teken van lewe vir kilometers, sou dié padstal altyd ’n gewilde aftrekplek wees, maar Tankwa maak nie net staat op sy ligging nie. Dit bied ook kreatiewe en rare versierings soos die Barbie-Q, ’n braairooster vol Barbies, wat in die Werkswinkel-kroeg hang. Plaaswerkers trek ook jaarliks met helderkleurige donkiekarre hier saam vir die Donkiekardag en tydens Afrika Burn is die padstal tóé onder die “burners”. Só geliefd is die Tankwa Padstal dat, toe dit in 2014 afgebrand het, vrywilligers van heinde en verre van bakstene tot verf geskenk het sodat dit betyds vir Kersfees kon herbou word. So, draai hier in en gesels ’n bietjie met dié Karoo-oase se swetterjoel interessante klante en die eksentrieke bestuur.  

Oornag in die Tankwa Karoo

____________________________________________

Blikkies Bar

Carnarvon, Noord-Kaap

Die Blikkies Bar | Foto: Facebook

Soos mense van die versameling te hore gekom het, is hy bierblikkies van heinde en verre gestuur ─ tot ’n kamoefleer Budweiser-blikkie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan soldate uitgereik is.

Die Blikkies Bar op Carvavon het die afgelope vyf jaar hande verwissel, maar die blikkies wat dié Karoo-kroeg sy naam gee, is steeds daar ─ meer as 7000 van hulle! Toe Nicholas Panos 110 jaar gelede van Griekeland Suid-Afrika toe gekom het, het hy die hotel op Carvarnon begin en sy kleinseun, ook Nicholas Panos, het in die 1960’s ’n bierblikkie-versameling in die hotel se kroeg begin. Soos mense van die versameling te hore gekom het, is hy bierblikkies van heinde en verre gestuur ─ tot ’n kamoefleer Budweiser-blikkie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan soldate uitgereik is. Van sy vriende het ook in Kaapstad se hawe gewerk en so het hy nog meer vreemde blikkies in die hande gekry. Hierdie nederige hotelkroeg is vandag ’n internasionale vertoonstuk vir bierliefhebbers en as jy in of verby Carnavon ry, skuif nader vir ’n bier en ’n liedjie op die blêrkas.  

Oornag in Carnarvon se geweste.
____________________________________________

Doppies Bar

Williston, Noord-Kaap

Die Doppies Bar | Foto: LekkeSlaap

Uit ’n versameling ou motors, tekens en sêgoed in Pieter en Elmarie Naudé se agtertuin, ontpop ’n eksentrieke, rustieke Karoo-bestemming ─ die Williston Mall. Hier kan jy die plattelandse weergawes van Exclusive Books (X-Klusiv Books), Sterns (Stirns) en Boardmans (Bord Mans) kry en alles van ’n vetplant tot ’n snaakse onderbroek koop. Dié informele inkopiesentrum spog ook met een van die besigste kroeë in die Karoo, die Doppies Bar, waar ’n paar tonele in die 2018 Afrikaanse komedie-drama, Drie Susters, verfilm is. Die Williston Mall het ook ’n verhoog en, as die konsert en die kuier té lekker was, kan jy by die Naudés se Ark Gastehuis en B&B inklok. Die Williston Winterfees, wat die eerste week van September deur die mall aangebied word, is nou al ’n hoogtepunt in die Bo-Karoo. Hier kan jy sien hoe die Nama Rieldans uitgekap word en na Afrikaanse rock-musiek, boeremusiek en “Bluegrass” luister. 

Oornag in Williston se geweste.

____________________________________________

Highest Pub in Africa

Sanipas, Drakensberg, KwaZulu-Natal

Highest Pub in Africa | Foto: LekkeSlaap

Teen 2874 meter bo seespieël, is die Sani Valley Mountain Lodge se kroeg, met sy gepaste naam, The Highest Pub in Africa, ’n besoek werd.

Hulle sê alkohol het ’n groter uitwerking op ’n mens hoe hoër jy bo seespieël is. As jy dié teorie wil beproef kan jy eenvoudig nie die gewilde Sanipas, die poort tussen Suid-Afrika en Lesotho, aanpak sonder om by die hoogste kroeg in Afrika besoek af te lê nie! Teen 2874 meter bo seespieël, is die Sani Valley Mountain Lodge se kroeg, met sy gepaste naam, The Highest Pub in Africa, ’n besoek werd. Hier is die mense vriendelik, die uitsig skouspelagtig en die kos heerlik. Ontbyt, middag- en aandete word met vars, plaaslike bestanddele voorberei sodat die gemeenskap rondom die lodge ook voordeel trek. Laat jou Drakenbergse kronkelpad jou na dié kroeg vat!

Oornag in die Sanipas se geweste.

Let asb. dat hierdie kroeg eers binnekort weer oopmaak weens Covid-19-verwante implikasies.

____________________________________________

Moenie verby hierdie kroeë ry as jy op pad is na jou volgende avontuur nie. As jy boonop langs die pad nóg ’n vreemde watergat ontdek, laat weet ons gerus sodat ons ook daar kan indraai en benerek.

Hooffoto: Schalk Schreuder
Pantiekroeg: Paternoster Hotel, LekkeSlaap.co.za
Ronnie’s Sex Shop: Dreamstine
Tjol se Gat: Schalk Schreuder
Die Werkswinkel-kroeg: Michael Hammond van Bikeroutes.co.za
Blikkies Bar: Facebook
Doppies Bar: Ark Gastehuis en B&B, LekkeSlaap.co.za
Highest Pub in Africa: Sani Valley Mountain Lodge, LekkeSlaap.co.za