Roete 62 begin wel al in die Kaap, maar dis gewoonlik so nés jy by die Hugenote Tonnel uitry dat die vakansiekoors jou tref! Roete 62 strek van Kaapstad tot in Port Elizabeth, maar ons het vir jou ʼn nuttige reisgids saamgestel van die doendinge, eet- en blyplekke in ʼn paar van die deurrydorpies op Roete 62. Kom kuier saam in die Klein Karoo en kom woeker in die wynlande ‒ op dié roete jaag niks jou aan nie!

Robertson

Robertson is die eerste groot uitspanplek van die Kaap se kant af. Nie net is dit die tuisdorp vir die gewilde Wacky Wine Weekend nie ‒ dié dorp spog ook met ʼn fynproewerskoffiewinkel, restaurante en ʼn hele paar avontuurdoendinge.

As jy beplan om net deur die dorp te ry, is daar wel ʼn paar wynplase waar jy gerus kan inloer. Rooiberg en Graham Beck is maar twee van dié wat sommer langs die pad is. Gaan sit op Rooiberg se groot rooi stoel en klink ʼn glasie Graham Beck-vonkelwyn op Roete 62.

As jy teen dié tyd ʼn koppie boeretroos nodig het, is Strictly Coffee in die hoofstraat nét die plek vir jou. Dié koffie sal aan die grootste koffiesnob se standaarde voldoen!

Die hele hoofstraat is bespikkel met oulike eetplekke waar jy maklik kan stilhou vir ʼn vinnige brekfis of middagete as die hongerpyne jou inhaal. Maar as jy beplan om ʼn rukkie in Robertson te vertoef, kan jy vooruit bespreek by die bekroonde Reuben’s of by die gesellige Saggy Stone Restaurant waar jy ook bier kan proe.

Adrenalienvrate kan valskermspring by die Robertson-valskermspringklub waag en natuurliefhebbers kan die 2 dae lange Dassieshoek-staproete tussen fynbos en waterpoele aandurf. Verder kan jy jou verlustig in die geure van Owl’s Rest Olive and Lavender Farm waar jy olyf- en laventelprodukte kan koop en kan sien hoe laventel gedistilleer word. Die Kolgans-rivierbootrit is ’n lekker gesinsuitstappie waar jy ook aan ʼn driegang-brunch, viergang-braai of driegang-middagete op Sondae kan smul.

Goedereede Guest Farm, 26 on Chardonnay en Hook Shot Lodge is maar drie van ʼn magdom oulike blyplekkies hier in Robertson. Kliek gerus hier vir meer opsies.

Montagu

Montagu se prentjiemooi hoofstraat is getooi met restaurante, museums en ou geboue en die dorpie self word omring deur asemrowende natuurskoon.

Montagu is nie net bekend vir sy ryk erfenis nie, maar ook vir sy warmwaterbron-oord met selfsorgkothuise, warm swembaddens, welige plantegroei, watervalle en piekniekplekke. Hier kan jy selfs in die winter ʼn swemvakansie hou! As jy nie te haastig is nie kan jy ʼn dagrit by die Sanbona Wildreservaat inpas waar jy op boot-safari’s, staproetes en wildritte kan gaan.

Soos dit ʼn bekoorlike dorpie betaam, het Montagu ʼn paar oulike padstalle en eetplekke waar jy jou proviand kan aanvul of ʼn rustige middag kan deurbring as jy van plan is om langer te bly. By The Rambling Rose kan jy Origin-koffie, Tea Merchant-tee en heerlike gebak te wagte wees. Die winkeltjie verkoop tuisgemaakte konfyt, beskuit, koekies, sjokolade, losblaartee, koue vleise, bevrore jogurt en oulike geskenkies.

Die Kloof Padstal is nét so ’n oulike opsie. Dié plaasstal verkoop alles van ingelegde produkte tot geskenkies en die restaurant bied heilsame etes, heerlike gebak en soms selfs live musiek. By Die Kloof is daar iets wat elke lid van die gesin moed vir die langpad sal gee!

Kogman & Keisie Guest Farm, Malherbe Gastehuis en Badensfontein is maar net drie van ʼn magdom oulike blyplekkies hier in Montagu. Kliek gerus hier vir meer opsies.

Barrydale

Barrydale bars uit sy nate van die karaktervolle koffiewinkels, kroeë, kunsgalerye en snuisterywinkeltjies. Maak seker jy beplan jou dag so dat jy darem by een van elk ʼn draai kan maak. Dit is uit en uit die moeite werd! Kyk veral uit vir die Magpie Art Collective Gallery en loer in by Inkaroo Jewellery.

As jy teen dié tyd smag na ʼn reuse melkskommel is die immer gewilde Diesel & Cremé soos ʼn oase in die woestyn. Probeer gerus een van hulle liplekker geure soos rooifluweel, Oreo-koekie en koffie. As ʼn burger en slaptjips eerder jou mond laat water, is Karoo be Volk met sy rustieke dekor die ideale rusplek langs die pad.

Maak ook seker jy proe van die plaaslike wyn by die Joubert-Tradauw Privaat Kelder as jy ʼn nag of twee hier oorslaap. Buiten die wyn is daar ook ʼn gesellige plaaskombuis, genaamd R62 Deli, wat die lekkerste Klein Karoo-tapas voorsit.

Bly gerus by Karoo Art Hotel, Whitsend Cottage of Sandy’s Place. Maar as dit nie heeltemal in jou smaak val nie is daar oorgenoeg ander akkommodasie-opsies hier.

Ladismith

Die lieflike dorpie Ladismith lê aan die voet van Towerkop en word omring deur vrugteboorde, wynplase en staproetes in verlate valleie.

Hier kan jy bergfietsry in die Seweweekspoort of Buffelspoort, perdry op die Anysberg-roete of bergklim tot by Oom Stanley se liggie en Towerkop se grot.

Kaasliefhebbers sal mal wees oor Parmalat se fabriekswinkel, en sy plaasvars vrugtemelkskommel is hemels. Karoo Vine is ʼn paradys vir wynliefhebbers: Wyne uit alle hoeke van die Klein Karoo kan hier gekoop word.

As jy ʼn bietjie langer wil vertoef of behoorlik middagete wil eet voor jy verder ry, is Kanna Kombuis gemáák vir jou. Dié gesellige, sentrale en gevestigde restaurant is veral bekend vir sy kenmerkende afvalpotjie en reuse pizzas. Net oorkant die straat is Andri’s Coffee Shop wat nét so gewilde kuierplekkie is, en veral lekker koffie en burgers bedien. As jy op soek is na ʼn drankie met skop, kan jy gerus stop by The Olive Garden Restaurant en Kroeg wat die lekkerste La Vodka Lattés met ʼn karamel- of sjokoladegeur maak.

The Place, Vyver’s Rus en Mymering Guest House is maar net drie van die oulike blyplekke in Ladismith. Kliek gerus hier vir meer verblyf-opsies.

Calitzdorp

Calitzdorp is hoofsaaklik bekend as die land se porthoofstad en is omring deur vrugteplase, volstruisboerderye en wynplase.

Dié juweeldorpie is nie net gewild vir sy port en warmwater-spa nie ‒ daar is ook talle bergfietsroetes, 4×4-roetes (soos die 15 km lange Bojaankop-roete) en ʼn interessante staproete om aan te durf. En ons praat nou nie sommer van enige ou staproetetjie nie. Dié een sal jou drie tot vier dae neem  ─ en dis met die hulp van donkies en ervare gidse!

In dié dorp kan jy ook behoorlike port én wyn proe! Calitzdorp Kelder, Boplaas en Die Krans bied almal lekker proe- en kuiergeleenthede. De Krans bied ook ʼn unieke ervaring vir die hele gesin – van 21 November tot 6 Desember 2015 kan gaste hulle eie appelkose kom pluk teen R5,50 per kg!

Karoo-koffiewinkels is volop in dié omgewing: Smitswinkel Coffee Shop Restaurant en Die Handelshuis is veral gewild. Smitswinkel met sy karaktervolle teetuin, plaaskombuis en bakkery met egte Karoo-dekor, is ʼn heerlike afsaalplekkie. Die spyskaart is sakpas en bied heelwat smaaklike opsies vir ontbyt en middagete.

Vir verblyf in Calitzdorp kan jy by Queen of Calitzdorp, Bella de Karoo of Welgevonden Gastehuis aandoen, maar hier is nog baie opsies!

Oudtshoorn

Dié grootvoëlparadys en tuisdorp van die jaarlikse KKNK het self ook ʼn paar versteekte skatte waarvan jy dalk nie eers bewus is nie.

Buiten die Kangogrotte, volstruisplase, Cango Wildlife Ranch en die Wilgewandel Vakansieplaas is die Meerkat Magic-toer net buite Oudtshoorn ʼn móét. Hier kan jy saam met Grant, “The Meerkat Man”, op ʼn staptoer gaan en meer leer oor dié oulike diertjies terwyl jy hulle in hul natuurlike habitat dophou.

Natuurlik sal smulpape en wynliefhebbers ook nie teleurgesteld wees nie. La Chocolaterie Rococo bied insiggewende sjokolade-en-wyn, -sjampanje of -brandewynparings en by Karusa Vineyard & Wines kan jy wyn en bier proe, en aan fynproewerskos smul.

As jy moeg is vir die gewone eetplekke om elke hoek en draai in die stad, sal jy mal wees oor Karoo Pot en Nostalgie. Albei is hoog op plaaslike inwoners se lysies van gunstelinge. Dié twee se eiesoortige dekor en uitvoerige spyskaarte sal jou en jou medereisigers bekoor en oortuig om nog ʼn rukkie langer in die volstruishoofstad te kuier.

Queen’s Hotel en Buffelsdrift Game Lodge, wat jy albei deur LekkeSlaap kan bespreek, het ook uitstekende restaurante as jy verkies om direk van die etenstafel af te gaan inkruip. Nou dít klink vir my na ʼn blink plan, of hoe?

Karoo Retreat, Byekorf en De Zeekoe Guest Farm is drie van ʼn magdom oulike blyplekkies hier in Oudtshoorn. Kliek gerus hier vir meer opsies.

Nou ja, dit was nou maar net ʼn druppel in die emmer van al die doendinge, eetplekke en blyplekke wat jy op Roete 62 sal teëkom! Gebruik dit gerus as ʼn riglyn as jy ʼn vakansie tussen die Kaap en Port Elizabeth beplan, maar wees verseker dat daar nog ʼn spul ander verrassings langs die pad vir jou wag. Nou toe, waarvoor wag jy? Roete 62 roep!

Hooffoto:

Links bo: Darren Combrink van DC Tours

Regs bo: Oudtshoorn Tourism

Links onder: simone_meyer1 (Instagram)

Regs onder: Deon Kitching vir Discover SA Travel Channel

Middel onder: Mymering Guest House se LekkeSlaap-profiel