Die staat van inperking trek nou al verby sy halfpadmerk en een ding is teen dié tyd seker: Hierná is dit tyd om jou brandstoftenk vol te maak, jou tuistronkie vir ’n wyle vaarwel te roep en die pad na ’n behoorlike wegbreekbederf te vat. Daarom het ons dit goedgedink om jou met ’n bietjie reisinspirasie te belaai, sodat jy solank jou lekke vir later kan beplan. Dié lekke plekke hoort beslis op jou lys van bestemmings om ná die inperking te besoek!

1. Kaaimans River Cottage, Wes-Kaap

Dié selfsorgkothuis bied dae se genot op die Kaaimansrivieroewer.

By Kaaimans River Cottage is die rivier op jou voorstoep, die berg op jou agterstoep en die natuurskoon alomteenwoordig. ’n Paar dae saam met jou naastes in dié drieslaapkamerkothuis duskant Wildernis is waarlik die verandering wat enige siel sal goed doen.

Elke uitsig bied ’n unieke blik op dié mooi area.

2. Naries Namakwa Retreat, Noord-Kaap

Die Namakwalandse fynbosvlaktes bied ’n ware tuiste weg van die huis af.

Dié toevlugsoord bied ’n unieke ervaring op die rand van die Spektakelberg tussen Springbok en Kleinzee en word deur die mooiste natuurskoon omring. Naries bied verskeie verblyf-opsies wat ideaal is vir paartjies op soek na ’n romantiese wegbreek, en gesinne wat die Noord-Kaap se prag wil verken. 

Naries Namakwa Retreat se verskeidenheid verblyfopsies bied iets vir elke smaak en gier.

3. Tsitsikamma Village Inn, Oos-Kaap

Met dié natuurskoon wat die hotel omring, is dit g’n wonder dat dié hotel se gewildheid oor die jare heen behoue bly.

Stormsrivier is nie verniet een van Suid-Afrika se gewildste bestemmings vir natuurliefhebbers nie en by Tsitsikamma Village Inn kan jy dié area se prag in gemak ervaar. Die hotel is bekend vir sy goeie kos en ouwêreldse atmosfeer, en is vir jare lank al ’n gewilde opsie!

Die unieke verskeidenheid verblyf bied ’n toevlug vir ieder en elk.

4. The Farmers Cottage, Vrystaat

Dié plaaskothuis se eenvoud is nét wat jy nodig het vir ’n wegbreek ná die inperking.

Dié pragtige plaaskothuis is op ’n kleinhoewe aan die uithoeke van die historiese dorpie, Bethulie geleë. The Farmers Cottage is ten volle vir selfsorg ingerig en is dus ideaal vir ’n gesin van wat vir ’n paar dae uit die stad wil ontsnap. Boonop is Wagter ook welkom!

Geniet jou koppie boeretroos op dié groot stoep.

5. Sanctuary Life Guest Farm, Noordwes

Dié grasgroen vlaktes is presies wat jy ná die inperking nodig het!

Sanctuary Life Guest Farm is net twintig kilometer buite Magaliesburg geleë en is ideaal vir ’n naweekwegbreek uit die stad. Dié groen-bruin vlaktes wat die selfsorg-kothuise omring is die perfekte pasmaat vir jou oggendkoffie op die stoep. Die plaas is perd- en troeteldiervriendelik, so bring gerus jou perde saam en baljaar in die weikampe en arena, en verken die omgewing te perd met Sokkies wat agternadraf.

Dié plaashek is waarlik die poorte na ’n plattelandse hemel.

6. Whispering Pines Country Estate, Gauteng

’n Luukse lodge nét ’n hanetreetjie van die stad af.

Jy smag seker al na ’n wegbreek uit die stad, maar as jy nie té ver wil ry nie, is Whispering Pines Country Estate net die regte plek. Dié landgoed is in die pragtige Magaliesberge, net ’n uur se ry van Johannesburg en Pretoria af geleë en is ideaal vir ’n romantiese naweekwegbreek. Daar is veertien kothuise wat in die kalm, beboste vallei staan, elk met ’n kaggel en lugversorger. Ontspan lekker langs die swembad of in ’n hangmat onder die bome, en geniet ’n stylvolle wegbreek nét duskant die stad.

Dae se genot in die mooie Magaliesberge.

7. 3 Driftwood, KwaZulu-Natal

Jy kan die vars seelug van dié stoep af inasem.

Almal wil ’n huisie by die see hê, en by 3 Driftwood in Ballito is dit presies wat jy kry! Dié luukse selfsorgwoonstel is op die grondverdieping en het slaapplek vir ses gaste in ’n veilige en gewilde kompleks teen Ballito se strand. Die Clarke Bay-swemstrand is reg voor die kompleks met haainette, lewensredders en ’n getypoel. Daar is ook ’n tennisbaan en ’n swembad in die kompleks, en hope doendinge in die area om die hele gesin te vermaak. 

Met dié see-uitsig sal jy sommer dadelik tuis voel.

8. The Stables and Loft @ Glenogle Farm, Limpopo

Kom kruip ’n bietjie in die woud weg!

As daar nou een werklike toevlugsoord in Limpopo is, is dit hiér by The Stables and Loft @ Glenogle Farm. Dié plaas is tussen denneboom-plantasies in die pragtige bergagtige area van Magoebaskloof versteek en spog met ’n manjifieke privaat dam wat propvol forel is. Die plaas spog met twee luukse eenhede en is ’n puik wegbreekplek vir almal wat smag na ontspanning en sielsverkwikking. Kom raak ’n bietjie weg in die mooie Magoebaskloof.

’n Paar nagte in dié toevlugsoord is nét wat jy na weke se inkluistering nodig het.

9. Verlorenkloof, Mpumalanga

Kom skud jou inperking-stres in dié kloof af.

Verlorenkloof is ’n goed gevestigde vakansiebestemming op ’n landgoed in die hartjie van die forel-driehoek langs Mpumalanga se oostelike platorand en spog met voortreflike natuurskoon. Hiér kan jy jou in ’n skilderagtige steenhuis kom tuismaak wat uniek geleë is om die meeste waarde uit die natuurlike omgewing te put en die voortreflike berg-uitsig ten toon te stel. Verlorenkloof is voorwaar ’n toevlugsoord vir ’n moeë stadslyf!

Word weer een met dié natuur by een van Suid-Afrika se mooiste bestemmings.

Ten spyte van die onsekerheid waarin ons vandag gedompel is, is daar een feit wat steeds bly staan: Suid-Afrika het van die mooiste bestemmings in die wêreld! Al moet jy nou eers jou wegbreek laat wag, is daar niks fout met ’n bietjie droom oor die toekoms nie. Beplan solank die lekke vir later!

Hooffoto: The Stables and The Loft @ Glenogle Farm