Suid-Afrika is geseën met ’n diverse natuurlike landskap met lang, ongerepte strande, digte woude, majestueuse berge, unieke plantegroei en ongelooflike rotsformasies om net ’n paar te noem! Een van die beste maniere om hierdie landskappe te verken en sommer terselfdertyd aan jou fiksheid te werk, is velddrafroetes, oftewel trail runs. Velddrafroetes het oor die afgelope paar jaar al hoe meer gewild geraak en die Wes-Kaap is bespikkel met van die mooiste roetes. LekkeSlaap wys vir jou nege roetes in die Wes-Kaap wat enige iemand kan aanpak ─ kry net vir jou ’n paar tekkies gereed! 

Tafelberg Nasionale Park

Kaapstad

Die Tafelberg Nasionale Park strek vanaf Seinheuwel in die noorde, oor Tafelberg na Kaappunt in die suide. Die park sluit verskeie berge in en is dus die tuiste van talle velddrafroetes wat jy kan verken. Van die gewildste roetes is op en óm Tafelberg en sluit roetes soos Platteklip Gorge en die Pipe Track in. Platteklip Gorge neem jou op teen die berg na die immergewilde kabelkarretjie en is net 2,9 km lank. Die Pipe Track is ’n langer roete, volg die kontoer van die berg vanaf Kloofnek vir 9,5 km en bied van die mooiste uitsigte oor die see en op Leeukop, Seinheuwel en die Twaalf Apostels! 

Die Twaalf Apostels en Leeukop in die verte. Foto: LekkeSlaap

Kliek hier vir verblyf naby die Tafelberg Nasionale Park. 

Jonkershoek Natuurreservaat

Stellenbosch

Die Boland spog met ongelooflike bergreekse en die Jonkershoekberge in die Jonkershoekvallei net buite Stellenbosch sal jou sprakeloos laat. Die hoë berge in die natuurreservaat is die beginpunt van vier riviere en die diverse plantegroei met meer as 1100 plantspesies is indrukwekkend! Die natuurreservaat bied ’n verskeidenheid kort roetes waar julle kan velddraf en vier meer uitdagende voetslaanroetes wat ook geskik is vir velddraf. Die roetes sluit die Swartboskloof na Sosyskloof-roete van 6,9 km, die Swartboskloofroete van 18 km, die Panoramaroete van 17 km en die Tweede Waterval-roete van 6,4 km in. Van die roetes bied selfs die geleentheid vir ’n vinnige afkoelsessie in die riviere, so moenie jou swemklere vergeet nie. 

Die begin van die Jonkershoekvallei. Foto: Daniëlle Terblanche

Kliek hier vir verblyf in Stellenbosch. 

Boesmanskloof-voetslaanroete

Greyton

Die Boesmanskloof-roete is ’n unieke en uitdagende voetslaanroete wat twee dorpies met mekaar verbind. Die roete begin in die Overbergse dorpie Greyton en eindig in McGregor aan die ander kant van die Riversonderend-berge of julle kan in McGregor begin en in Greyton eindig. Die roete is 14 km lank en kan in ’n dag voltooi word of julle kan net ’n gedeelte daarvan draf en omdraai. Daar is talle watervalle en poele om in af te koel en die plantegroei is kenmerkend aan die Overberg. Velddrawwers benodig ’n permit vir die roete en dit moet vroegtydig bespreek word. 

McGregor in die verte. Foto: Daniëlle Terblanche

Kliek hier vir verblyf in Greyton en McGregor

Kogelberg Natuurreservaat

Bettysbaai

Die Kogelberg Natuurreservaat skuil in die hartjie van die Kaapse Blommeryk naby Bettysbaai en word deur baie mense as een van die mooiste natuurreservate in die Kaap beskou as gevolg van die asemrowende plantegroei en ongereptheid van die omgewing. Die roetes deur die fynbos sal jou in verwondering laat en daar is sommer ’n paar om van te kies. Die Palmietrivier-roete is ’n maklike 10,1 km lange roete langs die Palmietrivier en die Three Sisters-roete is ’n matige 8 km lange sirkelroete wat by die Kleinmond-gholfbaan begin. Verder is daar ook die Oudebosch na Harold Porter-roete van 6 km, die meer uitdagende Kogelberg-roete van 24 km en die Perdeberg-roete van 22 km wat by Iona Wine Estate begin. 

Kleinmond in die verte. Foto: Adriëtte le Roux

Kliek hier vir verblyf naby die Kogelberg Natuurreservaat. 

Mont Rochelle Natuurreservaat

Franschhoek

Mont Rochelle Natuurreservaat skuil in die berge bo Franschhoek en spog met talle velddrafroetes wat julle kan verken. Die bergagtige omgewing het meer uitdagende roetes en julle kan twee van die hoogste pieke, Perdekop en DuToitskop, bereik. Gedurende die winter is hierdie pieke bedek met sneeu en daar is heelwat watervalle en strome op die roetes. Daar is ook beeldskone plantegroei in die reservaat te sien. Die Uitkyk-roete is die kortste en maklikste van die lot en dek net 6,8 km, terwyl die Uitkyk via DuToitskop-roete 9,3 km, die Perdekop via Uitkyk-roete 13,4 km, die Perdekop via DuToitskop-roete 15,9 km en die Adolfskop via DuToitsrivier-roete 12,4 km lank is.

Franschhoek terwyl dit sneeu en reën. Foto: Jaco Terblanche

Kliek hier vir verblyf in Franschhoek. 

De Hoop Natuurreservaat

Witsand

Die De Hoop Natuurreservaat is een van die grootste beskermde gebiede en dek sowat 34 000 hektaar teen die kus in die Overberg. Die diverse natuurreservaat se unieke ligging teen die kus bied julle die geleentheid om alles van walvisse tot skaars plantegroei te sien. Die gewilde De Hoop Klipspringer-roete is ’n sirkelroete van sowat 6 km en strek oor die Potberge naby Bredasdorp. Die De Hoop Long-roete is ’n langer en meer uitdagende sirkelroete van 12,6 km op die oewer van die De Hoopvlei aan die ander kant van die natuurreservaat.

De Hoop Natuurreservaat aan die ander kant van die strandmeer. Foto: LekkeSlaap

Kliek hier vir verblyf naby die De Hoop Natuurreservaat. 

Robberg Natuurreservaat

Plettenbergbaai

Die Robberg-voetslaanroete is een van die gewildste roetes op die Tuinroete en ons kan verstaan waarom. Die 8,7 km lange sirkelroete is in die Robberg Natuurreservaat naby Plettenbergbaai en dié reservaat is ’n nasionale monument en wêrelderfenisgebied! Die merkwaardige rotse wat jy op die roete sal sien is waardevol vir argeologiese redes en dateer  uit die Steentydperk. Die beeldskone roete volg die Robberg-skiereiland en julle mag dalk net walvisse, dolfyne en robbe in die water sien. Daar is ook twee korter roetes wat effens makliker is as julle net vir die natuurtonele wil gaan. 

’n Unieke voetslaanpad. Foto: Yolandi Schreuder

Kliek hier vir verblyf naby die Robberg Natuurreservaat. 

Sederberge

Citrusdal

Die Sederberge staan as ’n wildernisarea bekend en alhoewel dit net ’n paar uur buite Kaapstad is, voel dit omtrent asof jy in ’n ander wêreld is tussen die unieke, oranje rotsformasies en ongelooflike natuurskoon. Die bergagtige gebied vorm ook deel van die Kaapse Blommeryk en is dus ’n fees vir die oog. Daar is verskeie roetes van verskillende lengtes om van te kies en drawwers benodig permitte wat julle by die reservaatkantoor kan koop. Die Wolfberg Arch-roete is ’n moeilike 11,9 km lange roete wat net vir ervare drawwers geskik is. Verder is daar ook die matige Maltese Cross-roete van 6,3 km en die Middelberg-sirkelroete van 6,4 km wat naby Algeria begin. 

Sneeu op die Sederberge. Foto: Daniëlle Terblanche

Kliek hier vir verblyf naby die Sederberge. 

Marloth Natuurreservaat

Swellendam

Marloth Natuurreservaat is in die hartjie van die Overberg tussen Swellendam, Ashton, Barrydale en Suurbraak en hierdie omgewing is enige natuurliefhebber se droom! Die majestueuse berge sorg vir ’n dramatiese landskap en die reservaat is selfs die tuiste van ’n inheemse woud met poele en watervalle. Die gewilde roetes is die Duiwelsbos Waterval-roete van 2 km deur die koel woud en die langer en meer uitdagende Appelbos-sirkelroete van 21 km. Verder is daar ook die Twaalfuurkoppiek-roete en die Plaat-sirkelroete om van te kies. Let wel dat drawwers permitte benodig vir hierdie roetes en dit kan by die reservaatkantoor of aanlyn gekoop word. 

Swellendam se mooiste berge. Foto: LekkeSlaap

Kliek hier vir verblyf naby die Marloth Natuurreservaat. 

Daar het jy dit! Warm solank op en kry jou tekkies gereed, want dis tyd vir ’n aktiewe naweek in die mooiste omgewing! 

*Let wel dat roetes weens weersomstandighede ontoeganklik kan wees, so besoek eers die webtuistes om uit te vind of dit oop is. 

Hooffoto: Daniëlle Terblanche