Haal jou emmerskoplysie uit ─ dis tyd om die oorvloed juwele van die Breederivervallei te verken! Dié allermooiste vallei is minder as twee uur se ry van Kaapstad af en bied sóveel prag en plesier dat jy dalk net vir altyd hier sal wil bly.

Die Breederivervallei strek vanaf McGregor in die suide tot die Karoo in die noorde en van Gouda in die weste tot Montagu in die ooste en is beslis meer as net ’n vrugte- en wynvallei. Hiér skuil volop skatte: van dorpies soos Tulbagh, Robertson en Bonnievale met ontelbare doendinge en spoggerige wynplase, tot bergagtige landskappe wat elke avonturier se hart warm sal laat klop. LekkeSlaap het ’n lys saamgestel van wat jy nie in die vallei moet misloop nie en dis duidelik dat dit nét die begin van ’n lang ontdekkingsreis is! 

_____________________________

1. Oulike winkeltjies om elke hoek en draai

Die Breederiviervallei se uniekheid word behoorlik in sy tientalle winkeltjies uitgebeeld. As jy van tuisgemaakte produkte hou, is dié vallei jou nuwe uithangplek. 

Vrolikheid by die Blue Cow Koffiewinkel (Foto’s: The Blue Cow Barn – Boutique Farm Accommodation)


Die Montagu Villlage Mark is ’n oulike markie in die hartjie van die dorp wat elke Saterdagoggend tussen 08:30 en 12:30 plaasvind. Jy kan alles hier kry, van antieke meubels, olyfolie en biltong, tot juwele, varsgebakte brood en natuurlik ontbyt in ’n blikbord.

The Blue Cow Koffiewinkel op die Tradouwshoekplaas naby Barrydale is bekend vir sy uitsig op die Langeberge wat soos slapende groen-blou reuse voor die stoep uitstrek. Hiér sal jy ’n kombinasie van die Breederiviervallei en die Karoo se rustigheid ervaar en met tuisgemaakte beskuit, ontbyt, wafels en skons bederf word. Jy kan selfs jou eie glasbottel saambring en dit vol vars plaasmelk maak! The Blue Cow is Maandag tot Saterdag, 08:00 tot 17:00 oop. En, as jy meer tyd nodig het om die area te verken, kan jy by The Blue Cow Barn ─ Boutique Farm Accommodation bly!

Die koffiewinkel se pragtige uitsig op die Langeberge (Foto: The Blue Cow Barn ─ Boutique Farm Accommodation)


Die Pampoenstalletjie net buite Worcester op die R60 is weer bekend vir sy rustieke styl en pampoenversameling ─ van klein tot groot en alles tussenin! Jy kan vars vrugte, groente, uitstekende moerkoffie, tuisgemaakte gemmerbier en selfs kweperlekkers by dié sonderlinge stalletjie kry. Dit is Maandag tot Vrydag, 08:00 tot 17:00 oop en Saterdae en Sondae, 09:00 tot 17:00. 

______________________________

2. Wêreldklaswynproe en -feestelikhede

As jy ’n wynliefhebber is, sal jy nooit in die Breederiviervallei verveeld wees nie! Die vallei spog nie net met meer as 40% van Suid-Afrika se wingerde en oor die vyftig wynlandgoedere nie, maar die indrukwekkende berge wat die wynplase omring is beslis iets om oor huis toe te skryf. 

Daar is verskeie wynroetes om van te kies, onder meer ’n gedeelte van die lang en gewilde Roete 62, die Robertsonwynvallei en die Breedekloof-wynroete. Die Robertsonwynvallei bied meer as 48 wynlandgoedere en die Breedekloof-wynroete het 22! Die tientalle wynproe-geleenthede alleen sal sorg dat jy keer op keer sal wil terugkeer na dié vallei nét vir die oormaat wynproe-geleenthede! 

Die wonderskone Breedekloofroete (Foto’s links en regs onder: Hennely Nel, regs bo: Voorsien)

Die beste manier om die Robertsonwynvallei te verken is sonder twyfel met Wine Valley Safari ─ jy kan net jou skoene uitskop en ontspan, hulle sal die res doen! Dié oop safari-voertuig neem jou na verskeie wyn- en olyflandgoedere in die area en die toer bederf jou ook met, onder andere, boetiekbier, wyn, whiskey, gin, ’n laventelplaastoer, ondergrondse keldertoere, kunsuitstallings en wonderlike plekke om jou middagete te geniet. Daar is ’n hele paar toere om van te kies. 

Die Wine Valley Safari se Hop-on Hop-off-bussie (Foto’s: Voorsien)

In hierdie vallei van oorvloed kan jy selfs op ’n wynproe-bootrit by die Viljoensdrif Wynlandgoed gaan. Dié luukse boot vaar al langs die Breederivier en het ook ’n restaurant wat kos en wyn bedien.

Allerhande pret by Wine on the River (Foto’s: Voorsien)

______________________________

3. Wildkyk in die weste

As jy dink wildkyk is net beskore vir diegene wat gelukkig genoeg is om die Krugerwildtuin te besoek, dink weer! Die Groot Vyf is net minder as twee uur se ry van Kaapstad af by die Aquila Private Game Reserve & Spa te sien. Jy kan wildkyk te perd, vierwielmotorfietssafari’s, daguitstappies en 4×4-roetes hier geniet. Die reservaat bied ook opvoeding oor wild en asemrowende verblyf.

Dié geweste se wild. Fotos: Aquila Private Game Reserve & Spa


Die natuurreservaat strek oor 4500 hektaar uiteenlopende landskappe waaronder die suidelike Karoo se hooglande, riviere, majestueuse berge, dramatiese klowe, bergfynbos, sukkulente veld, natuurlike vleilande en drie valleie — ’n diverse natuurskoon wat enige iemand kan betower. Trek jou avonturierskoene aan en kom verken die wilde weste.

______________________________

4. Kersies, sneeu, wingerde en berge

As jy al enige dorp in die Breederiviervallei besoek het, sal jy saamstem dat dié streek se natuurskoon jou regtig sprakeloos laat. Met golwende berge wat oral duidelik teen die hemel afgeëts is, wingerde wat meters voor jou uitstrek, gevestigde wynplase met Kaaps-Hollandse huise en selfs ’n tikkie Karoo-tydloosheid in die noorde, sal jy voel asof jy ’n geheime deur na ’n sprokieswêreld gevind het! Of jy nou die spoggerige wynplase van die Breedekloof-wynroete besoek, of ’n draai maak by die sonderlinge museums in dorpies soos Tulbagh en Montagu, jy sal beslis op een of ander manier deur die vallei betower word. 

Wingerde en berge oral waar jy kyk! Foto’s: Bigstock


In die winter word dele van die vallei in ’n sneeubedekte landskap omskep ─ jy sal skoon vergeet dat jy in Suid-Afrika is. Die beste plek om ’n sneeuman in die area te bou is die Matroosberg Privaat Natuurreservaat naby Ceres, waar die berge elke jaar onder ’n donsige wit kombers toegegooi word. 

Kersies en ’n sneeu-sprokieswêreld by die Klondyke-kersieplaas. (Foto’s: Klondyke Cherry Farm)

Soms besoek duisende die area om in die sneeu te kom baljaar, so as die reservaat effens té besig na jou smaak is, is die Klondyke-kersieplaas dertig kilometer buite Ceres ’n uitstekende, rustiger alternatief vir sneeukyk. As jy nie so lief is vir die koue nie, is die plaas nét so ’n lushof in die somer en kan jy kersies saam met jou gesin en vierpotige vriende kom pluk. Ons raai aan dat jy sommer vir ’n rukkie hier bly, want die plaas bied die ideale geleentheid om ’n bietjie van die alledaagse gejaag te ontsnap. 

______________________________

5. Allerlei avonture vir almal

Die vallei is nie net vir rustige wegbreke uit die stad nie, dis ook ’n speelterrein vir avonturiers wat van uitdagings hou. As jy ’n kranige rotsklimmer is, moet Montagu beslis bo-aan jou rotsklimlys wees. Die berge wat dié dorpie omring spog met meer as 450 bergklimroetes wat dit een van Suid-Afrika se top-bergklimbestemmings maak.

Rotsklim buite Montagu. Foto’s: Michiel van Balen (Flickr)


Vir dié wat die wêreld graag te voet verken, is die voetslaanpaaie rondom McGregor ’n móét. Die area bied maklike voetslaanpaaie soos die twee uur lange Kleinbergvoetslaanpad, voetslaanopsies in die Krans- en die Vrolijkheid Natuurreservaat en meer uitdagende voetslaanpaaie soos die bergagtige Rooikat- en Boesmanskloofroetes

Die berge rondom Montagu. Foto’s: Montagu Climbing (Facebookblad)

Nog avonture sluit die Botterboom Voetslaanpad in wat buite Worcester deur die Hexriviervallei kronkel. Dié voetslaanpad neem ongeveer twee dae. Daar is ook die Bad Kloof Abseil deur Montagu Climbing wat die geleentheid bied om Montagu vanuit ’n ander oogpunt te verken. Terwyl jy dertig meter lank abseil, word jy met ’n wonderlike uitsig oor Avalon Springs bederf! As jy ’n perdry-entoesias is, kan jy gaan perdry in die Witzenbergvallei. Dié vallei bied uitstekende perdry-geleenthede vir dié wat hul perdry-vermoëns wil opskerp of bloot die area se natuurskoon op ’n unieke manier wil ervaar.

______________________________

6. Pret vir die hele gesin: Ceres Zipline Tours

As jy ’n naweek in Ceres deurbring, moet jy beslis Ceres Zipline Tours vir ’n prettige gesinsuitstappie besoek. Hier kan julle die ritsblits van ’n leeftyd oor die Koekedouwrivier geniet ─ dís nou vir jou ’n bederf en ’n half.

Enige avonturier se droom! Foto’s: LekkeSlaap

Die Skurwegberge se verstommende rotsformasies dien as agtergrond vir jou ritsblits-avontuur. Dié ritsblits is 1,4 kilometer lank en bestaan uit agt bane waarvan die kortste ’n honderd meter en die langste 291 meter lank is. Die hoogste punt is veertig meter bo die grond. ’n Toer duur gewoonlik sowat ’n uur tot negentig minute en ritsblitsers kan so jonk as drie jaar oud wees. Bring jou gesin en laat almal se knieë ’n bietjie bewe van opwinding!

_______________________________

7. Bobaas-bederf by Damas se Ficus Restaurant

Dié luukse restaurant is die ideale plek vir ’n romantiese uitstappie. Damas is sowat vyf minute se ry vanaf die Breederiviervallei se hoofdorp, Worcester, en word as een van die luuksste venues in die area beskou. Daar is ook ’n trou-venue, konferensiegeriewe en ’n gastehuis op die perseel. 

Foto’s: Damas


Die Ficus Restaurant is semi-formeel en jy kan aan verskeie watertandopsies soos bekroonde steaks en smaaklike seekos smul, terwyl jy die beste wyn in die vallei geniet. ’n Romantiese atmosfeer word met sagte agtergrondmusiek en kerslig geskep. Daar is ook ’n sonnige stoep vir die somer en ’n kaggel vir koue wintersaande. Vir die jongspan is daar ’n speelplek wat vanaf die stoep sigbaar is. 

Onthou om ’n bespreking te maak om teleurstelling te voorkom. Die restaurant is Maandag tot Vrydag oop vir ontbyt, middagete en aandete, en Sondae vir middagete. 

______________________________

8. Kleinplasie ─ ’n plaas vol geskiedenis

’n Vervloë era. Foto’s: Links: Chris Eason (Flickr) en regs: wikkicommons

Wou jy nog altyd weet hoe witblits in die ou dae gedistilleer is, of hoe tabak gerol en uitgedroog is? Dan is Kleinplasie die plek vir jou! Dié opelug-museum net buite Worcester op pad na Robertson bied die unieke geleentheid om die geskiedenis op ’n interaktiewe manier te ervaar. Die opelug-uitstallings en aktiwiteite reflekteer hoe mense meer as ’n eeu gelede hiér geleef het, met die fokus op boerdery en tuisnywerheid. Jy kan onder andere die hoenders voer, sien hoe waterkrag gebruik is en hoe brood in die buite-oond gebak is. Daar is iets om te leer vir almal.

______________________________

Waar om te bly in die Breederiviervallei

Kloksgewys: Kanyisa Mountain Lodge, The Tulbagh Boutique Heritage Hotel, Opstal Stay en Beausoleil

______________________________

Dié lys is net ’n handjievol van wat die Breederiviervallei bied. Dis ’n vallei van oorvloed ─ ’n oorvloed natuurskoon, goeie wyn, bekoorlike dorpies, opwindende doendinge en skitterende berderfwegbreke. Plaas die area heel bo-aan jou moet-sien-lys en bespreek jou volgende vakansie hiér  ─ die ander agt redes wag om ontdek te word!

Hooffoto: Bigstock