Eko-vriendelike verblyf in Suid-Afrika word al hoe meer gewild, aangesien beide plaaslike inwoners en toeriste poog om hul impak op die omgewing te minimaliseer terwyl hulle die land se natuurskoon geniet. Baie eiendomme het al volhoubare praktyke aangeneem, soos die gebruik van hernubare energiebronne (wat ook help met beurtkrag), herwinning en waterbesparing. Sommige plekke is met interessante, volhoubare materiale gebou en sommige plekke bied plaaslike, organiese voedselopsies, wat gemeenskappe ondersteun en koolstofvrystellings van vervoer verminder. Met Suid-Afrika se uiteenlopende landskappe en ryk natuurlewe is dit die ideale bestemming vir eko-bewuste reisigers wat ’n volhoubare en verantwoordelike vakansie wil geniet, en in hierdie artikel wys LekkeSlaap vir jou presies waarheen om te gaan.

Die Kleihuis, Wildernis

Die Kleihuis is ’n bekoorlike en eko-vriendelike rondawel in Wildernis. Hierdie unieke rondawel is van klei en strooi gebou en maak van gas en sonkrag gebruik. Dit bied gerieflike verblyf aan vier gaste en julle kan na vars plaaseiers en groente en blomme uit die tuin uitsien. Die verblyf is met al die nodige geriewe vir gerieflike verblyf toegerus, insluitend ’n rustieke kombuis met ’n buiteluggevoel en ’n pizza-oond. Julle kan ook lekker om die vuurput kuier en die uitsig oor die rivier en see bewonder. Die Kleihuis word deur ’n pragtige tuin en inheemse fynbos omring, wat ’n rustige omgewing skep. 


Kingfisher Cottages, Langhoogte Farm, Montagu

Kingfisher Cottages op die Langhoogte Plaas naby Montagu bied ’n wonderlike eko-vriendelike wegbreek tussen die berge. Hierdie selfsorgkothuise is pragtig ontwerp en met natuurlike materiale gebou om ’n minimale impak op die omgewing te hê. Die kothuise is volledig toegerus en maak van gas en sonkrag gebruik. Hiér kan julle in ’n rustige omgewing agteroorsit en die aswemrowende uitsig op die Langeberge bewonder. Die plaas bied ook verskeie buitelug-aktiwiteite, insluitend voetslaan, bergfietsry, forelhengel en swem in die eko-swembad tussen die bome, én ’n paar van die kothuise het houtvuurwarmbaddens. 


Karoo Ridge Eco-lodge, Middelburg

Karoo Ridge Eco-lodge bied twee eko-vriendelike eenhede in die hartjie van die Groot-Karoo naby Middelburg. Die pragtige eenhede is op ’n 5000 hektaar-natuurreservaat geleë en is van herwinde materiale gebou. Elke eenheid is gerieflik ingerig en het gemaklike beddens, ’n toegeruste kombuis, kaggel, braaigeriewe en ’n swembad om in af te koel. Kom ervaar die Karoo se natuurskoon, verken die plaas te voet en kyk hoeveel wildspesies jy kan raaksien. Julle kan ook julle troeteldiere saambring, maar let wel dat die eenhede nie omhein is nie. 


Gecko Rock Private Nature Reserve, Touwsrivier

Gecko Rock Private Nature Reserve bied lieflike kampeerplekke en eko-vriendelike selfsorghutte sowat 30 kilometer vanaf Touwsrivier. Dit word as ’n eko-avontuurbestemming bestempel en bied opwindende aktiwiteite, soos staptogte, bergfietsroetes, rotsklim, 4×4-roetes en blomtoere in die pragtige omgewing. Die moderne verblyf is ontwerp om ’n minimale impak op die omgewing te hê en gebruik sonkrag. Van die eenhede het privaat houtvuurwarmbaddens en daar is ’n gemeenskaplike swembadjie vir die kampeerders.  


Underhill Farm, Villiersdorp

Underhill Farm in Villiersdorp is ’n eko-vriendelike gasteplaas wat ’n unieke en volhoubare vakansie-ervaring op die Botrivier se oewer bied. Hierdie plaas skuil in die skilderagtige Overberg-streek en bied julle ’n geleentheid om die plaaslewe te ervaar terwyl hulle hul impak op die omgewing tot ’n minimum beperk. Die plaas het vier kothuise met plek vir twee tot vier gaste elk en dit is van herwinde en hernubare materiaal gebou. Elke kothuis bied ’n uitsig oor die pragtige omgewing, so dis ideaal as julle op soek is na ’n rustige wegbreekplek naby die stad. 


Stoney Way Cottage and Eco Cabin, Underberg

Stoney Way Cottage and Eco Cabin is die ideale bestemming vir diegene wat ’n volhoubare en rustige toevlugsoord in Underberg soek. Die Eko-houthuis is eenkant geleë en bestaan uit herwinde materiale en ’n vragskiphouer as die basis. Dit is gerieflik vir twee gaste ingerig en het selfs ’n TV met DStv, WiFi en lugversorging. Die verblyf bied ’n asemrowende uitsig op die Drakensberge en daar is stap- en bergfietsroetes in die omgewing. 


Buff and Fellow Eco Cabins, George

Buff and Fellow Eco Cabins in George bied van die mooiste verblyf wat ons al ooit gesien het! Dié plaas op die Tuinroete spog met eko-vriendelike kothuise, pod-eenhede en unieke kokosneut-villas met slaapplek vir twee tot ses gaste. Die kokosneut-villas bestaan uit vragskiphouers en dis lieflik vir onvergeetlike verblyf ingerig. Daar is selfs ’n houtvuurwarmbad en braaigeriewe by elke eenheid. Julle kan die diere langs die dam voor die eenhede dophou, saam met die eienaars wynproe, fietsry en ’n toer van die buffels geniet, of net langs die vuur kuier en die natuurskoon bewonder. 


The Gaia Sanctuary, Swellendam

As julle op soek is na ’n ontspannende wegbreek, is The Gaia Sanctuary naby Swellendam net die plek vir julle! Hiér kan julle ’n glanskamptent bespreek of in die eko-vriendelike A-raam-hut bly. Die verblyf skuil langs die Breederivier en bied ’n pragtige uitsig op die Langeberge. Die eko-vriendelike hut het ’n oopplan-uitleg, slaapplek vir twee volwassenes en twee kinders, en ’n kompostoilet langs die hut, so dit sal amper voel asof ’n mens kamp. Julle kan die gemeenskaplike kombuisgeriewe gebruik en daar is ook ’n vuurput en braaigeriewe vir heerlike kuiers onder die sterre. 


Mount Camdeboo Pods, Graaff-Reinet

Mount Camdeboo Pods hoort op elkeen se reislysie! Dié luukse pod-eenhede is in ’n afgesonderde deel van die Kamdeboovlakte naby Graaff-Reinet en bied eko-vriendelike verblyf waar alle maaltye en twee wildritte daagliks ingesluit is. Elke pod-eenheid bied slaapplek aan twee gaste, so dis ideaal vir ’n romantiese en afgesonderde wegbreek! Die eenhede is gebou om met die natuurlike omgewing in te skakel en elkeen het ’n houtvuurwarmbad en ’n boma met ’n vuurput vanwaar julle die uitsig oor die landskap en op die berge kan inneem. 


Aardts Cabins, De Rust

Aardts Cabins is naby die skilderagtige dorpie De Rust in die Klein-Karoo geleë en bied ’n klipkothuis vol bekoring en karakter. Dis die ideale verblyf vir vier gaste wat van die stad se gedruis wil vergeet en behoorlik ontspan. Dié unieke kothuis is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk en bestaan uit klip, staal en hout wat soomloos met die pragtige omgewing saamsmelt en jou vanaf die eerste intrapslag sprakeloos laat. Julle word met ’n asemrowende uitsig bederf en kan in die houtvuurwarmbad ontspan of langs die vuurput kuier terwyl die son agter die berge sak. 


Oudrif Strawbale Cottages, Clanwilliam

Het jy al in ’n strooibaalkothuis gebly? Oudrif se knus kothuise is met strooibale en ander volhoubare materiale gebou en bied gerieflike en eko-vriendelike verblyf naby Clanwilliam. Die kothuise is op die Doringrivieroewer geleë en bied asemrowende uitsigte op die omliggende berge. Elke kothuis is vir twee gaste geskik en die tariewe sluit alle maaltye en drankies in, so julle kan net agteroorsit en ontspan. Julle kan bedags die natuurlike omgewing verken, aan begeleide oggendwandelings deelneem, roei, swem, visvang en sterrekyk. Kom geniet ’n unieke vakansie-ervaring terwyl julle omgewingsvriendelike toerisme ondersteun.


Eko-vriendelike toerisme ondersteun nie net die aarde nie, maar help ook om die pyne wat saam met beurtkrag gaan te verlig, so bespreek sommer vandag nog jou volgende wegbreek by een van hierdie innoverende plekke!

Hooffoto: Die Kleihuis (LekkeSlaap)