Die winter het met ’n knal arriveer en nou is daar bittermin dinge so lekker as om saam met ’n spesiale iemand voor die kaggel te ontspan. As koue aande, bordspeletjies voor die vuur, warmsjokolade-drankies en luilekker oggende in die winterson vir jou idillies klink, is dit nou tyd om jou volgende romantiese winterwegbreek te bespreek. LekkeSlaap.co.za het romantiese verblyf regoor die land uitgesoek waar jy en jou geliefde heerlik kan hiberneer – ten minste vir ’n aand of twee!

The Rosendal Country Retreat

Rosendal, Vrystaat

Met sy ongerepte natuurskoon en ’n rits kunsgalerye en koffiewinkels kan ons sien hoekom Rosendal die Vrystaat se besbewaarde geheim is. The Rosendal Country Retreat is die perfekte plek om die stilte van dié plaasdorpie te ervaar. Verblyf is in gastekamers met koninggrootte-beddens beskikbaar, en as jy genoeg tyd op die lekker stoep of in die tuin deurgebring het, kan jy die kaggel in jou privaat sitarea stook of selfs in die houtvuurwarmbad klim. 

As julle ’n bietjie bene wil rek is die Mosamane-voetslaanroete die perfekte manier om die area te verken. 

Kliek hier vir die tariewe. 


Die Visserman by Die Beloofde Land

40 kilometer vanaf Uniondale, Wes-Kaap

Die Beloofde Land beloof meer as net ’n gewone naweekwegbreek. Dié plaas lê knus in die Langkloofvallei, veertig kilometer vanaf Uniondale, en beskik oor drie kothuise wat elk noukeurig ontwerp en versier is om totale gemak te verseker. Die Visserman is ideaal vir jou en jou geliefde en het ’n koningingrootte-bed, ’n lieflike bad om in te week, ’n kombuisie met al die nodige geriewe vir ’n sorgelose selfsorg-ervaring, ’n ingeboude braai en ’n groot stoep. Die area is ryk aan voëllewe en jy kan hulle vanaf die gemak van die privaat stoep of tydens ’n wandeling saam met liefie dophou ─ hand aan hand natuurlik.

Die enigste negatief is dat jy ongelukkig nie vir ewig kan bly nie!

Kliek hier vir die tariewe.  


Kruger Shalati – The Train on the Bridge

Krugerwildtuin, Mpumalanga

Wat klink meer romanties as verblyf in ’n treinkoets? Verblyf in ’n koets op ’n brug in die Krugerwildtuin, natuurlik! By Kruger Shalati voer die ikoniese treinkoetskamers jou terug na die 1920’s, ’n tyd toe besoekers aan die Krugerwildtuin op die Selatibrug bo die Sabierivier stilgehou en in die trein oornag het. Die nostalgie van die 1920’s word deur moderne, stylvolle opgraderings gekomplementeer, en paartjies kan die Krugerwildtuin soos nog nooit vantevore ervaar. Elke luukse koetskamer het lugversorging, ’n koninggrootte-bed, sitarea en ’n en suite-badkamer. Verder is alle maaltye, tee, koffie, gaskoeldranke, huiswyn, plaaslike alkoholiese drankies en biere, twee daaglikse wildritte in oop safari-voertuie, pendeldienste tussen Skukuza Lughawe en die lodge, en WiFi ingesluit ─ bring net jouself en iemand spesiaal!

Dis liefde met die eerste oogopslag wanneer jy die pragskoon van die Kruger vir die eerste keer só aanskou.

Kliek hier vir die tariewe. 


Berghouse and Cottages

36 kilometer vanaf Bergville, KwaZulu-Natal

Berghouse and Cottages skuil hoog in die Noordelike Drakensberge. Hiér kan paartjies  behoorlik asemskep met die Amfiteaterberg as die agtergrond waarteen ’n romantiese winterwegbreek afspeel. Kom skop jou skoene uit in ’n privaat kothuis en krul voor die kaggel op. As die avontuurgogga byt, kan julle die perdry-, 4×4- en bergfietsroetes gaan verken. As kosmaak nie julle idee van ontspan is nie, is daar ook heerlike etes op versoek beskikbaar. 

Bring die spesiale persoon in jou lewe en tiek die Drakensberge van julle emmerskoplysie af.

Kliek hier vir die tariewe. 


Sibuya Game Reserve & Lodge

Kenton-on-Sea, Oos-Kaap

Laat die liefde langs die lieflike Kariegariviermond afspeel en kom draai by Sibuya Game Reserve & Lodge. Dié Groot Vyf-wildreservaat is die enigste lodge in die land wat deur ’n boot bereik word en spog met luukse woud-, rivier- of boskampverblyf. Elke kampervaring beloof ’n gemaklike nagrus in ’n koninggrootte-bed, skemerkelkies met uitsigte en ’n romantiese aand voor die kaggel. Hiér kan jy en liefie rustig agteroor sit, want alle maaltye is ingesluit en word buffet-styl in een van die pragtige lapas bedien. 

Bespreek ’n masseerbehandeling in die privaatheid van jou tent, kyk na die meer as veertig wildspesies op ’n wildrit, of geniet net mekaar se geselskap op die stoep met die lieflike Kariegarivier as agtergrond. 

Kliek hier vir die tariewe. 


Eagle View

Dullstroom, Mpumalanga

accommodation dullstroom accommodation mpumalanga romantic getaway secluded getaway winter getaway

Dié afgeleë wegkruipplekkie bo-op ’n berg is net die wegbreek wat jy en jou geliefde verdien. Eagle View spog met panoramiese uitsigte op die skilderagtige Steenkampbergreeks en oor die vallei, en elke sonsopkoms en -ondergang is ’n romantiese ervaring soos min. Die kothuis se glasstapeldeure bied ’n uitsig vanaf elke hoek van die huisie. Krul in die koninggrootte-bed met ’n beker koffie op, steek ’n vuurtjie in die boma aan, of klim in die heerlike houtvuurwarmbad. 

Vergeet van die res van die wêreld en kom hiberneer tussen die berge. Eagle View kan slegs met ‘n 4×4-voertuig of helikopter bereik word so hiér word totale privaatheid gewaarborg. 

Kliek hier vir die tariewe. 


Klein Riviertjie

80 kilometer vanaf Beaufort-Wes, Wes-Kaap

Kom luister na die stilte se geraas by Klein Riviertjie, ’n bekoorlike, ongekunstelde kothuis tagtig kilometer vanaf Beaufort-Wes. Hiér kan paartjies behoorlik asemskep en die Karoo se pragtige landskappe en sterrehemel vanaf die onderdakstoep waardeer. Die slaapkamer het ’n dubbelbed en ’n AGA-stofie om die koue Karoo-nagte op te warm en die kombuis is met al die nodige geriewe vir ’n maklike, moeitelose selfsorg-ervaring toegerus. 

Die plaas se stofpaaie is gemaak om hand aan hand verken te word en na die tyd kan jy en liefie rustig op die stoep se hangstoele verkeer ─ dit alles teen ’n prentjiemooi Karoo-agtergrond. 

Kliek hier vir die tariewe. 


The Beach Cottage Kleinzee

Kleinzee, Noord-Kaap

’n Winterwegbreek by die see is dalk onkonvensioneel, maar The Beach Cottage Kleinzee is die tipe verblyf wat enige paartjie sal oortuig. Kleinzee is ’n dorpie aan die Weskus van die Noord-Kaap en is veral bekend vir diamantdelwery. Die kothuis spog met ononderbroke uitsigte oor die duine, see en Buffelsriviermond. Die koue seebries staan nie ’n kans teen die ingeboude braai se hitte nie en paartjies kan heerlik in die leefarea ontspan terwyl die koue buite woed. Slegs die basiese word deur die dorpie se winkel en bottelstoor verskaf, so wanneer jy kom, kom jy om te bly. 

Die uitsig wat The Beach Cottage Kleinzee bied sal sorg dat jy nie wil huiswaarts keer nie!

Kliek hier vir die tariewe. 


Heartwood Homestead

Gonubie, Oos-Kaap

Heartwood Homestead laat jou van voor af in liefde glo. Dié sinkplaat- en houthuisie skuil in ’n inheemse woud met ’n uitsig oor die Gonubieriviervallei en is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk. ’n Egte plaasromanse kan hier afspeel wanneer die hoenders en koeie julle in die oggend groet terwyl julle ’n oggendkoffie op die dek geniet en na die natuur se geluide luister. Die kothuis is intiem en met basiese geriewe vir ’n rustige, ongekompliseerde wegbreek toegerus. Deur die dag kan julle ’n inheemse kwekery en houtwerkwinkel besoek, waarná julle na die stilte van die vallei terugkeer. 

Gryp jou liefdesmaat, kies koers na die plaas en kom skep behoorlik asem. 

Kliek hier vir die tariewe. 


Die koue weer hoef nie ’n rede te wees om met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie. So, waarvoor wag jy? Laat die liefdespyl jou van voor af tref wanneer jy na dié winterwegbreke ontsnap. 

Hooffoto: Heartwood Homestead op Lekkeslaap.co.za.