Soos gesien op Maroela Media.

Talle Suid-Afrikaners se vakansieplanne is die afgelope paar maande in die wiele gery, maar gelukkig is daar vyftien vakansiedae in 2021 om na uit te sien. Met hierdie lekker gids kan jy solank jou langnaweke vir die volgende jaar beplan en daar is ook ’n hele rits voorstelle van waarheen jy en jou geliefdes kan mik. Indien dit veilig is om te reis, stel ons voor julle verken hierdie jaar ’n bietjie ons land se kleindorpies. Elke kleindorpie, hetsy in die platteland of aan die kus, het tonne bekoring, interessante doendinge en vriendelike mense wat jou wegbreek onvergeetlik sal maak.

Sugar Shack in Paternoster.

Die eerste langnaweek waarna julle kan uitsien is sommer om die draai. Menseregtedag (21 Maart) val hierdie jaar op ’n Sondag en die Maandag is ’n openbare vakansiedag. Indien jy in die eerste kwartaal ’n langer vakansie nodig het kan jy vier ekstra verlofdae insit om vir nege dae lank te rus. Die matige klimaat gedurende herfs maak dit die ideale tyd om die pragtige Karoo en al sy skatte te besoek. Die dagtemperatuur is nie meer so hoog nie en die aande is nog nie te koud nie. 

Kort daarna is dit Paasnaweek met Goeie Vrydag (2 April) en Gesinsdag op die daaropvolgende Maandag (5 April) wat vir ’n lieflike vierdag-naweek sorg. Paasnaweek is ’n gewilde wegbreeknaweek vir talle Suid-Afrikaners wat graag tyd saam met geliefdes wil deurbring, so ons stel voor jy bespreek sommer nou al jou verblyf. Gaan kuier ’n bietjie langs ’n rivier in Gauteng of geniet ’n Mediterreense wegbreek aan die Weskus ─ die weer is ideaal vir ’n waterwegbreek! 

Later in April word ons met nóg ’n vakansiedag bederf en hierdie keer vier ons Vryheidsdag (27 April) op ’n Dinsdag. Jy kan die Maandag verlof insit om ’n welverdiende ruskans van vier dae te geniet. Die Saterdag daarna is dit Werkersdag (1 Mei). Beplan sommer nou al daardie Roete 62-roadtrip waaroor julle al so lank droom en verken die talle opwindende dorpies langs die pad. 

En dan is ons amper in die middel van die jaar! Jeugdag (16 Junie) val hierdie jaar op ’n Woensdag en jy kan of die Maandag en Dinsdag, of die Donderdag en Vrydag afvat vir ’n behoorlike langnaweek. Die winter is die beste tyd vir wildkyk in Suid-Afrika en ons is bederf met talle geleenthede om merkwaardige wildspesies van nader te aanskou. Kies koers na die Wildtuin of gaan draai in die Bosveld vir ’n onvergeetlike wildkykvakansie.

Vroeg in Augustus kan julle na Namakwaland mik om een van ons land se mees skouspelagtige natuurverskynsels te beleef ─ die jaarlikse veldblomme! Vrouedag (9 Augustus) val hierdie jaar op ’n Maandag en sorg vir ’n driedagnaweek. Sit sommer nóg verlof in as jy ’n bietjie langer wil kuier en die meeste van die wegkomkans wil maak. Indien julle lus is vir iets meer avontuurlustig is dit dan ook die ideale tyd om die Wildekus te besoek aangesien die reënseisoen dan tot ’n einde kom. 

’n Vakansiedag waarna die meeste Suid-Afrikaners elke jaar uitsien is Erfenisdag (24 September), oftewel Braaidag, en hierdie jaar val hy op ’n Vrydag. Julle kan dus heel naweek lank lekker braai en ’n gesellige tyd saam met vriende of familie geniet. Kom vier ons land se ryk erfenis in een van die mees diverse provinsies ─ die Noord-Kaap! Daar is van die mooiste natuurtonele en julle mag dalk net nog ’n veldblom of twee raaksien. 

Kort voor Kersfees het ons ’n ruskansie op ’n Donderdag wanneer ons Versoeningsdag (16 Desember) vier. Talle werkers vertrek sommer dan al met hul langverwagte Desembervakansie, of jy kan sommer net daardie Vrydag verlof insit om ’n vierdag-naweek net voor die besige Kerstyd te geniet. Mik na die Tuinroete voor die skares toesak en geniet ’n langnaweek in Knysna met sy talle doendinge of die pragtige Plettenbergbaai met sy ongeëwenaarde natuurskoon.

Kersfees (25 Desember) val hierdie jaar op ’n Saterdag en Welwillendheidsdag (26 Desember) op ’n Sondag, so ons kry ’n ekstra vakansiedag op die Maandag (27 Desember) ─ ’n lekker langnaweek vol Kersvieringe! 

Jock Safari Lodge in die Krugerwildtuin.

So, trek solank jou dagboek nader en beplan daardie wegbreek voor die opsies min raak en jy op ’n welverdiende blaaskans uitmis!

Hooffoto: Bobbejaankrans (LekkeSlaap)