As jou siel na kaal vlaktes, vaal Karoo-bossies en vriendelike plattelandse mense smag, moet jy vir jou ’n Roete 62roadtrip bespreek. Kom verken dorpie vir dorpie dié besonderse toerismeroete saam met LekkeSlaap.co.za!

Roete 62 se majestueuse berge, skilderagtige passe, riviere, wingerde en boorde, én die rits toeriste-aantreklikhede bied besoekers ’n onvergeetlike reis vol avontuur. Die dorpies langs die pad bied iets vir elke lid van die gesin, van wynkelders en wildreservate, grotte met rotstekeninge en museums, tot stap- en 4×4-roetes, kanovaart, perdry en visvang ─ én uitstekende verblyfopsies wat wissel tussen selfsorgkothuise op  plase, B&B’s in die dorp en luukse lodges op wildsplase. Al die doendinge, besienswaardighede en verblyfopsies, saam met die pragtige landskappe op dié roete, maak dit die ideale roadtrip vir oud en jonk!

Montagu

Ons begin in Montagu in die Langebergreeks, tussen die Keisie- en Kingnarivier. Op pad na dié dorpie ry jy deur Kogmanskloof, wat Ashton in die Boland met Montagu in die Klein-Karoo verbind. Die dorp was daarom aanvanklik as Agter-Kogmanskloof bekend, maar is later na John Montagu, die Koloniale Sekretaris vir die Kaapkolonie, vernoem. Kogmanskloof was destyds onbegaanbaar totdat Thomas Bain die pas en die tonnel gebou het. Die eerste pas was maar net ’n ruwe waspoor wat die Kogmansrivier gevolg en verskeie kere gekruis het, totdat Bain en sy span die nuwe pas in 1887 voltooi het. Die klein tonnel deur Kalkoenkrans op dié pas is plaaslik as die poort na die Klein-Karoo bekend én spog nog met die bouval van ’n fort wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog bo-op die krans gebou is ─ hou tog jou oë oop wanneer jy deur dié outjie ry.

Links: ‘n Straat in Montagu | Regs: Kalkoenkrans met die ou fort bo-op

Montagu is ’n prentjiemooi dorpie wat veral bekend is vir die omliggende boorde, wingerde, rotsformasies en warmwaterbronne, én spog met 22 nasionale monumente waarvan veertien in Langstraat te sien is. Joubert House, wat in 1853 gebou is, is blykbaar die oudste gebou in Montagu en sy buitegebou was glo die eerste tronk op die dorp ─ jy kan sommer met die inryslag dié gebou bekyk.

Links en regs: Joubert House van buite en binne

Die hoof-trekpleister is natuurlik die warmwaterbronne wat heel moontlik duisende jare gelede reeds deur die inheemse bewoners vir genesing gebruik is. Toe ’n voortrekker egter destyds sy hand gedurende ’n ontdekkingsreis beseer het, het hy in dié helder water gebad en die hand het wonderbaarlik gesond geword. Kort daarna het die nuus soos ’n veldbrand versprei en die fonteine is toe, soos vandag nog, vir gesondheids- en ontspanningsredes besoek.

Barrydale

Daardie jare was boere op soek na vrugbare, bewerkbare grond en kom hulle toe op dié vallei af waar die klimaat byna perfek vir vrugte is. Nie lank daarna nie, in 1858, kom iemand met die idee vir ’n pas vorendag sodat die boere makliker hulle vrugte na Port Beaufort by die Breederiviermond, of vandag Witsand, kon vervoer. Weereens is Thomas Bain nader geroep en hy trek in ’n lieflike ou plaashuis van Joseph Barry, ’n welbekende handelaar in die negentiende eeu, in. (Dié ou plaashuis is vandag nog aan die voet van die Tradouwpas te sien en dit behoort steeds aan die Barry’s.) Die pas is amptelik in 1873 geopen en kort daarna het die boeregemeenskap ’n kerk naby die noordelike punt van die pas gebou en die dorp wat daar om uitgebrei het is na die Barry’s vernoem.

Links en middel regs: Diesel & Créme van buite (Foto: Bigstock) en ‘n lipleklekker melkskommel (Foto: Daniëlle Terblanche) | Regs bo: die kerk | Regs onder: The Karoo Moon Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Vandag is dié dorpie aan die voet van die Langeberge ’n gewilde stilhouplek vir reisigers wat ietsie wil hap voor hulle weer die langpad aandurf. En die gewildste keuse op die dorp is Diesel & Crème soos jy die dorp van die Kaap se kant af binnery. Die vintage-padkafee en -motel spog met die beste melkskommels in die geweste. Hiér kry jy allerhande snaakse melkskommel-opsies soos Blonde Bombshell, Lady in Red en Morning Glory, maar jy sal maar self ’n draai moet kom maak om te sien wat al dié name beteken. Die padkafee bedien ook heerlike ontbyt en middagetes, en wafels en koeke vir dié met ’n soettand. Maar behalwe vir dit, is die antieke, ongekunstelde dekor en atmosfeer rede alleen om hiér ’n draai te maak!

Links: Karoo Art Hotel van voor | Regs: Een van hulle interessante suites (Foto’s: LekkeSlaap)

Nog ’n besienswaardigheid in die dorp is die Karoo Art Hotel. Van buite af lyk dié hotel dalk nie na baie nie, maar as jy eers binne is sal die eienaardige mengsel van kleure, skilderye en interessante voorwerpe jou betower. Elke kamer is uniek versier en beslis iets om te sien, so maak seker jy kuier volgende keer ’n bietjie langer hiér en bespreek een van die interessante suites.

Ladismith

Ladismith skuil in die skadu van Towerkop en die Klein Swartbergreeks. Dié dorp het in 1851 ontstaan toe ’n groot deel van die Elandsvallei-plaas gekoop, onderverdeel en ontwikkel is. Dit is toe na Juana María de los Dolores de León Smith, of Lady Smith, die eggenoot van die destydse goewerneur van die Kaapprovinsie, Sir Harry Smith, vernoem. Twee dorpe in Suid-Afrika is na haar vernoem en om verwarring met die een in KwaZulu-Natal te vermy, is die een in die Kaap in 1879 na Ladismith verander.

Links: ‘n Uitsig op Towerkop | Regs: Juana María de los Dolores de León Smith

Die area het die ideale klimaat vir appelkose, perskes, pruime, nektariens en druiwe gehad, maar toe die negentiende eeuse volstruisveertydperk die land tref, is baie van die vrugte- en groentegewasse verwyder om plek vir die volstruise te maak. Die volstruisveermark stort toe uiteindelik ineen, en die ekonomie en welvaart van Ladismith is toe ook daarmee heen. Die Ladismith Wynkelder is in 1939 gevorm om in die behoeftes van omliggende plase met kwynende hulpbronne te voorsien en die ekonomiese probleme van die dorpie op te los. Die plaaslike boere keer toe na ’n tradisionele manier van dinge doen terug en plant weer pruime, appelkose, perskes en druiwe en begin wyn maak en brandewyn distilleer. Vandag staan die gebied as die belangrikste produsent van appelkose in die Suidelike Halfrond bekend en die distilleerdery lewer steeds die hoogste gehalte Kaapse brandewyn, sowel as Towerkop-wyne wat sedert 1971 ook hier vervaardig is.

Ladismith is ook die tuiste van die gewilde Ladismith Cheese wat ons in ons plaaslike supermarkte raakloop. Heerlike kaas is al sedert 1940 in Ladismith vervaardig!

Links: Ladismith-kaas by Uitsig Cottages (Foto: LekkeSlaap) | Regs: Vierwielmotorfietsry by Mymering Guest House ( Foto: LekkeSlaap)

Blou lug en skilderagtige berge wag op jou in dié magiese deel van die land. Of jy nou kom voetslaan, fietsry of 4×4 in die berg, of kom wyn- en kaasproe, een ding is seker ─ hiér sal jy moet kom oorbly.

Calitzdorp

Aan die begin van die 19de eeu het die eerste veeboere en jagters dié gebied ontdek en die plaas Buffelsvlei is in 1821 aan die broers JJ en MC Calitz toegeken. Teen die 1840’s was daar genoeg mense om dié dorp ’n dorp te noem. Calitzdorp is ook as Suid-Afrika se porthoofstad bekend ─ die portstylwyne wat in hierdie area geproduseer word, is baie gewild omdat die portdruiwe ’n warm, droë klimaat verkies soos dié van die dorp en van die wêreldbekende Dourovallei in Portugal waar port vandaan kom. Die top-gehaltewyn in hierdie area word hoofsaaklik deur Boplaas, De Krans, Axe Hill en Calitzdorp Wynkelder geproduseer. 

Links: ‘n Koue bottel Calitzdorp Sauvignon by Uitsig Cottages (Foto: LekkeSlaap) | Regs bo: Welkom in Calitzdorp! | Regs onder: Kom klink ’n glasie by Calitzdorp Country House (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer jy deur die dorp ry, moet jy beslis bene by Zamani Grill kom rek. Dié restaurantjie het sitplek vir 12 besoekers binne en is blykbaar die kleinste kroeg op Roete 62. Die kroeg is ten volle gelisensieerd en bedien burgers, biefstukke, hoendergeregte, pizzas én vis! Die kinders sal mal wees oor hulle fynproewers-melkskommels wat in regte volstruiseiers bedien word, so maak net seker jy bespreek sitplek voor die tyd.

Links: Die pad tot in Die Hel is sowat 50 km lank | Regs: Op pad na Die Hel en ’n huisie in die dorpie

Hiér naby, by Hans and Erika Calitz se familieplaas, Living Waters, begin die gewilde Donkey Trail-staproete. Die Hel in die Gamkaskloofvallei was slegs te voet bereikbaar tot 1963 toe ’n pad vanaf die Swartbergpas na hierdie afgeleë vallei gebou is. Voorheen was ’n “donkiespoor” oor die Swartberge vanaf Calitzdorp die enigste manier om Die Hel met die buitewêreld te verbind. Dié donkiespoor is nou ’n staproete van sowat 26 kilometer waartydens donkies jou geselskap hou én jou bagasie dra. Maar moenie bekommer nie, al die donkies is gered en word nou mooi versorg, en die vriendelike diere sal saam met die gidse, wat graag kennis deur staaltjies uit die verlede deel, dié staptog onvergeetlik maak.

Oudtshoorn

Die hoofdorp van die Klein-Karoo skuil tussen die majestueuse Swartberge en die Outeniekwaberge. Die dorp het op twee plase wat aan Cornelis Petrus Rademeyer behoort het ontstaan, en die eerste permanente gebou in die Klein-Karoo, ’n Nederduits-Gereformeerde kerk, is in 1839 naby die oewer van die Grobbelaarsrivier opgerig. Die dorp het rondom hierdie kerk begin groei en is na baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn vernoem, wat in 1772 as goewerneur van die Kaapkolonie aangestel is.

Links en regs: Ons kuier by Highgate Ostrich Farm in Oudtshoorn (Foto’s: Daniëlle Terblanche)

Oudtshoorn is egter meer bekend as die volstruishoofstad van die wêreld. In die laat 1800’s was volstruisvere hoogmode en koninklikes, keisers en kostuummakers reg oor die wêreld wou dié vere hê. ’n Paar volstruisvere het daardie tyd tot £1000 gekos! Maar, soos ons almal weet, verander die modes sommer gou en sommiges sê die koms van voertuie, waarvan die dakke te laag was om die vere te laat pronk, was die hoofrede. Die plaaslike ekonomie het in duie gestort, en die meeste boere het weer begin om graangewasse te verbou. Vandag word volstruise vir hul lae-cholesterolvleis, wat heerlik en gesond is, gebruik en volstruisvel is steeds gewild vir mode-items.

Links en Regs: Binne-in die wêreldbekende Kangogrotte

Maar die groot voël is maar net een van die dorp se moet-sien-besienswaardighede. Die area spog ook met die ongelooflike Kangogrotte. Dié kulturele en natuurlike landmerk is ’n 20 miljoen jaar oue grotstelsel, die grootste skougrotstelsel in Afrika, én die oudste toeriste-aantreklikheid in die land.

Lees meer oor wat om alles hier te sien, waar om te eet en waar om oor te slaap hiér.

Joubertina

Joubertina is ’n dorpie tussen die Tsitsikamma- en Kougaberge in die hartjie van die Langkloof ─ een van die bekendste streke vir die verbouing van appels, pere en ander sagtevrugte in Suid-Afrika. Die dorpie het hoofsaaklik as gevolg van die vrugteboerderygemeenskap ontstaan toe daar na heelwat samesprekings in 1907 van die Uniondale-gemeente afgestig is en die nuwe gemeente na ds. W.A. Joubert vernoem is. Die naam was egter eers “Joubertville”, waarna dit na Joubertina verander is omdat die spoorwegmaatskappye reeds ’n Joubertville-stopplek in die Karoo gehad het.

Links: Die kerk in Joubertina | Regs onder: Die Wallis-trekker was die eerste trekker in die Langkloof

Die Langkloofvallei was oorspronklik die tuiste van Boesmans en hul rotstekeninge en rotsskuilings is steeds volop in die Kougaberge. Hul rotstekeninge wys dat daar eeue gelede troppe wilde esels, hartebeeste en olifante hier gedwaal het, én die Kouga-mummie is hier opgegrawe ─ die enigste mummie wat nog in Suider-Afrika gevind is.

Die gebied word sedert 1760 vir landbou bewerk en is vandag die tweede grootste vrugte-produserende streek in Suid-Afrika wat in die verbouing van appels en pere spesialiseer. Gedurende die lente word die omgewing om Joubertina met ’n blomkombers bedek en bied die Langkloof ’n onvergeetlike geurige ervaring! Die Langkloof Bloeiselfees word ook dan gehou waartydens die land se grootste kunstenaars en vermaaklikheidsterre die feesgangers vermaak, en verskeie landbou-uitstallings, stalletjies en kindervermaak besoekers van ver lok. Maak seker jy loop nie die volgende Bloeiselfees mis nie!

Kareedouw

Die dorpie is in 1906 as ’n sendingstasie vir die NG Kerk gestig, en die naam is van die Khoi-woord !karegadaob! afgelei wat “pad met baie kareebome” beteken. Dis daarom geen verrassing dat Kareedouw, wat deur ’n bergagtige area omring word, met pragtige fauna en flora spog nie. Die ekonomie van Kareedouw is grootliks aan vrugteboerdery en bosbou te danke en daarom is daar ’n houtkapper-standbeeld ter nagedagtenis van die houtkappers in die dorp opgerig.

Links: Die Baviaanskloof en Kougarivier | Regs bo: Die NG Kerk in Kareedouw | Regs onder: Flora in die area

Die dorp se gewildheid het veral toegeneem as gevolg van sy ligging op Roete 62. Saam met ander klein dorpies soos Hankey, Patensie en Joubertina, het Kareedouw by die ingang na die Langkloof met die toenemende aantal besoekers heelwat gegroei. Vandag is die grootste trekpleister die feit dat dit by die mees suidelike ingang van die Baviaanskloof lê ─ ’n Wêrelderfenisgebied wat besoekers van heinde en verre lok om die uitstekende 4×4-roetes, voetslaanroetes en kampeerplekke te kom besoek.

***

Daar lê so baie van Suid-Afrika se geskiedenis op hierdie gewilde roete en daarom is elkeen van dié dorpies beslis ’n besoek werd. Bespreek ’n wegbreek in jou gunsteling-kleindorpie en kom gesels ’n bietjie met die plaaslike inwoners ─ dis al hoe ’n mens werklik die staaltjies en skatte van Klein-Karoo behoorlik sal ontdek.

Hooffoto: Klein Nektar Farm Cottage (LekkeSlaap)
Alle ander foto’s, tensy anders vermeld: Wikimedia Commons