Die Noord-Kaap ─ dis hiér waarheen jy reis wanneer jy op soek is na stilte en oop vlaktes so ver soos ’n mens kan sien. Omdat dit die grootste en mees ylbevolkte provinsie in Suid-Afrika is, voel die afstand tussen sy dorpe ekstra lank, maar gelukkig spog dit met die pragtigste natuurtonele waarna jy beslis kan uitsien wanneer jy die langpad aandurf.

Wat sien jy in jou geestesoog wanneer jy aan dié provinsie dink? Is dit die plat, oop vlaktes en son wat fel op ’n hittige dag skyn, die fraai veldblomme wat in die lente gesigwys en die dorre omgewing met ’n blomkombers bedek, of die Oranjerivier wat soos ’n oase in die woestyn deur die bo-punt van die provinsie kronkel? Alhoewel die provinsie beslis op hierdie natuurtonele trots is, is dit definitief nie al nie en daarom wys LekkeSlaap jou top-klasverblyf waar jy jou kop kan neerlê én al die Noord-Kaap se mooiste natuurstonele terselfdertyd kan ervaar!

Augrabies Nasionale Park

Dié park is sowat 28 000 hektaar groot en lê noord én suid van die Oranjerivier. Die bekendste besienswaardigheid is natuurlik die Augrabieswaterval, maar daar is ook interessante rotsformasies en granietkoepels, ’n verskeidenheid plant- en dierspesies, en ’n rits staproetes. Die area is rotsagtig en word deur die Oranjerivierkloof, rotsriwwe en vlaktes waar enkele struike soms kop uitsteek gekenmerk. Die Augrabieswaterval is omtrent sestig meter hoog en die dondergeluid van die bruisende water wanneer die rivier in vloed is, is rede alleen om dié park te besoek. Daar is egter ook meer as 46 soogdierspesies en 186 voëlspesies in die park, en dit sluit dassies, bobbejane, springbokke, klipspringers, swartooievaars en dwergvalke in.

Foto: SANParks Augrabies Rest Camp

Kom kuier by SANParks Augrabies Rest Camp waar jy stapafstand van die waterval af kan bly. Die ruskamp bied verblyf in chalets en ’n kampeerplek, en spog met ’n uitstekende restaurant op die perseel, ’n winkeltjie en drie swembaddens.

Kgalagadi Oorgrenspark

Dis hiér waar die rooi duine en vaalgeel grasse tot op die horison strek, waar wewervoëls enorme neste in die kameeldoringbome bou en waar die Kalahari-leeu met sy swart maanhare namiddag in ’n skadukol tussen die lang gras skuinslê. Dié park is ’n groot bewarea van sowat 38 000 vierkante kilometer wat in die noorde van Suid-Afrika oor die grens tot in Botswana strek. Dit spog met volop wildspesies, soos die Kalahari-leeu, jagluiperds, luiperds en hiënas, sowel as blouwildebeeste, gemsbokke, springbokke, elande en rooihartbeeste wat in die park rond trek op soek na beter weiplek. Daar is ook meer as tweehonderd verskillende voëlspesies, insluitend aasvoëls, arende en sekretarisvoëls.

Foto: SANParks Kieliekrankie Wilderness Camp

SANParks Kalahari Tented Camp is ’n onomheinde ruskamp op ’n duin en die ideale plek om so na moontlik aan die wild te ontspan. Daar is vyftien woestyntente met uitsigte oor ’n watergat en die Auobrivier, en ’n swembad met ’n houtdek vanwaar jy jou oë vir wild kan oophou.

Namakwa Nasionale Park

Die plant- en dierspesies in dié area is uitstekend by die strawwe klimaat van die area aangepas. Veldblomme, sterbelaaide nagte, kokerbome, enorme granietriwwe en die ysige Atlantiese Oseaan is ’n paar wonderwerke wat hiér op jou wag. Die park is deel van die semi-woestynagtige Sukkulente Karoo-bioom ─ een van die mees ongewone biome in die wêreld. Daar is sowat vyf duisend plantspesies in hierdie bioom, insluitend meer as ’n derde van al die vetplantspesies in die wêreld! Vir die grootste deel van die jaar is daar struike net waar jy kyk, maar gedurende Augustus en September, ná goeie reën, word die area met ’n fraai blomkombers bedek. Dan kom besoekers van oral oor om die madeliefies, lelies, aalwyne en meerjarige kruie in al hulle glorie te sien. Pretfeit: Die kleinste skilpad in die wêreld, die padlopertjie, woon ook hier!

Foto: Kallabaskop Lodge

Kallabaskop Lodge is perfek vir dié wat die pragtige, unieke landskap eerstehands wil ervaar. Daar is blyplek in kamers en kampeerplekke, gemeenskaplike kombuisgeriewe, en sonkrag vir die nodigste toestelle. ’n Grondpad lei na die lodge, die selfoonsein is maar skraps en daar is nie ’n winkel nie ─ perfek vir ’n afgeleë wegbreek in die natuur.

Richtersveld

Dié woestynlandskap verander gedurig van plat, sanderige vlaktes en skerp bergpieke van vulkaniese klip tot welige plantegroei langs die Oranjerivier. Die grootste deel van die Richtersveld is ’n Wêrelderfenisgebied omdat dit die laaste plek is waar die tradisionele lewenswyse van die Khoikhoi nog plaasvind. Die plaaslike Nama-inwoners (afstammelinge van die Khoikhoi) besit die hele gebied, bestuur die nasionale park saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke en is vir die bestuur van die Wêrelderfenisgebied verantwoordelik. Die plaaslike inwoners gebruik steeds die hele gebied om hul antieke lewenstyl en kultuur te beoefen, en trek van seisoen tot seisoen saam met hulle vee op soek na beter weiplek. 

Foto: SANParks Tatasberg Wilderness Camp

SANParks Gannakouriep Wilderness Camp is in die Richtersveld in ’n klipperige vallei geleë. Daar is vier seilhutte met kombuise wat ten volle toegerus is, sonkrag en stoepe met braaigeriewe. Let asseblief op dat dié park slegs met ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte bereik kan word.

Sutherland se sterre

Dié koudste dorpie in Suid-Afrika se yskoue klimaat en afgeleë ligging beteken dat sy hemelruim een van die helderste en donkerste in die wêreld is, en dis daarom dat die grootste optiese teleskoop in die suidelike halfrond, die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop, of SALT, hiér geleë is. Dit speel ’n groot rol in die dorp se toerisme en daarom is daar ’n rits verblyfopsies, kroeë, restaurante en ’n sterrewag as jy meer oor die sterre wil leer. Kliek hiér as jy graag wil begin sterrekyk.

Foto: Blesfontein Guest Farm

Sterland Baroe is ’n tweeslaapkamergastehuis naby die middedorp en perfek vir ’n gesin of groep vriende wat die area verken en graag meer oor sterre wil leer. Die eienaar, Jurg, bied saans ’n sterrekykgeleentheid wat ’n kort lesing en ’n sterrekyk-sessie met ’n teleskoop insluit.

Diamantkus

Dié kusgebied wat vanaf Lutzville tot Alexanderbaai strek, is veral as ’n diamantmyn-area bekend en lok al jare lank geoloë, avontuurlustiges en fortuinsoekers. Dit vorm deel van die semi-woestyngebied van die Weskus en spog met pragtige, ongerepte strande, tradisionele kleindorpies met vriendelike locals en relatief min toeriste. Daar is selfs ’n paar skeepswrakke met ’n interessante geskiedenis op dié strande te sien ─ hou jou oë oop vir die een naby die pad net buite Hondeklipbaai. As jy nuuskierig is en meer wil sien, kan jy vooraf ’n permit by die toerismekantoor op Kleinsee koop en die 4×4-skeepswrakroete al langs die kus aandurf.

Foto: SANParks Skuinsbaai Noord Coastal Camp Site

Die dorpies aan die kus sluit Hondeklipbaai, Koingnaas, Kleinsee, McDougallsbaai, Port Nolloth en Alexanderbaai in. Elkeen van dié dorpies het hulle eie bekoring en meer as genoeg verblyfopsies vir jou om van te kies. ’n Paar van ons gunstelinge vir ’n selfsorgwegbreek by die see sluit Fisherman’s Cottage, The Beach Cottage Kleinzee, Voetbaai Chalets en The Beach House and Cottage in.

Foto’s vanaf links: Fisherman’s Cottage, Voetbaai Chalets en The Beach House and Cottage

Tankwa-Karoo

Daardie groot oop deel op die kaart, iewers tussen Ceres, Calvinia en Sutherland, is die Tankwa-Karoo. Dit is een van die streke in Suid-Afrika wat die minste reën kry omdat die reënwolke wat van die Atlantiese Oseaan se kant af kom, deur die Sederberge gekeer word. Die plantegroei vorm ook deel van die Sukkulente Karoo-bioom en jy sal tydens die grootste deel van die jaar net vaal struike sien ─ behalwe wanneer die veldblomme ook in dié deel in die lente kom gesigwys. Die Tankwa-Karoo Nasionale Park is ook die tuiste van ’n hele rits voëlspesies, soos die swartkopkanarie, Ludwigse pou en die swartoorlewerik, so onthou om jou plant- en voëlspesiegids saam te bring ─ die Tankwa-Karoo is ’n paradys vir voëlkykers en plantkundiges.

Foto: SANParks Elandsberg Wilderness Camp

SANParks Elandsberg Wilderness Camp in die Tankwa-Karoo Nasionale Park bied ongekunstelde, privaat kothuise met uitstekende uitsigte oor die Karoo-vlaktes en Roggeveld-platorand ─ perfek vir skemerkelkies terwyl die son in die verte verdwyn.

Groen-Kalahari

Die groot dele semi-woestyn kontrasteer uitstekend met die lowergroen wingerd op die vrugbare Oranjerivieroewer. Die rivier kronkel deur ’n reuse-vallei wat in 1884 deur kolonialiste ontwikkel is en toe besproeiing aangelê het. Vandag is dit nie net bekend vir die skaars plant- en dierspesies wat daar voorkom nie, maar jy kan ook ’n rits wynkelders en lodges besoek, en die buitelug-aktiwiteite in die area aandurf. Daar is staproetes, kanovaart, bergfietsry, voëlkyk, wildritte, kampeerplek en nog baie meer.

Foto: Khamkirri

Khamkirri bied lieflike verblyf in selfsorg-houthuisies, riviertente met semi-selfsorggeriewe en kampeerplek met braaigeriewe en kragpunte langs die Oranjerivier. Behalwe vir al die watersport en -aktiwiteite wat julle op die perseel kan geniet, is daar ook ’n restaurant, én dis troeteldiervriendelik!

Watter van hierdie pragtige, unieke landskappe is jou gunsteling en watter een sal jy graag volgende wil verken? Laat ons weet in die kommentaar-blokkie hieronder.

Hooffoto: Orange River Rafting Lodge (LekkeSlaap.co.za)