Soos gesien op Maroela Media.

Die windpomp gaan soek miskien nie die wind nie, maar LekkeSlaap het vir seker die windpomp gevind! Maak jou gereed vir ’n fotovoetpad kruis en dwars oor die Karoovlaktes, want in dié blog spog ons met die sewe mooiste windpompe, elkeen uit die boeke, dwarsdeur Suid-Afrika tot in Namibië se uithoeke.

1. OUKLIP GAME LODGE

Eerste wakker, eerste aan die gang, ’n windpomp op ’n plaas laat selfs ’n stadskind se hart na die platteland verlang – Hesté Nortier

Hierdie privaat eko-lodge lê net 50 kilometer buite Pretoria en vorm deel van die Dinokeng Wildreservaat. Elke luukse selfsorg-tent het sy eie kombuis, privaat boma en ’n en suite-badkamer. Hiér sal jy die Bosveld op sy beste ervaar!


Prys: Vanaf R1300 vir 2 mense
Waar: Dinokeng, Gauteng
Gaste: 56

2. WHITE HOUSE GUEST FARM

Koffie en beskuit, grondbootjiebotter en stroop, só is ’n windpomp vir die Karoo en enige plek met droogte-nood – Hesté Nortier

Hiér het jy die geleentheid om die ongerepte Karas-streek in Namibië van hoek tot kant te verken. Gaan op ’n vetplant-uitstappie of neem ’n toer na die rooskwartsmyn.

Prys: Vanaf R240 vir 2 mense
Waar: Karas, Namibië
Gaste: 57

3. BARTHOLOMEUS KLIP FARMHOUSE

Om en om draai hy en net daar sal hy vir ewig bly. Die water mag dalk opraak, maar ’n windpomp sal jy altyd op sy plaas kry – Hesté Nortier

Dié plaashuis in die Riebeekvallei is lekker naby die Kaap en is dus perfek vir ’n welverdiende naweekwegbreek. Die ligging maak dit die perfekte plek vanwaar jy die Kaapse Wynlande en die Weskus kan verken!

Prys: Vanaf R3200 vir 2 mense
Waar: Hermon, Wes-Kaap
Gaste: 16

4. DESERT DEW GUEST HOUSE

Diep in die bosveld, daar doer ver, staan ’n windpomp dag vir dag. Die gras is droog en die son brand neer, en die beeste staan en wag – Carike Keuzenkamp, Windpomp

Vir diegene wat tussen Kaapstad en Johannesburg reis, is Drie Susters die perfekte halfpad-oornagbestemming. By Desert Dew is egte Karoo-disse in oorvloed beskikbaar en saam met ’n goeie nagrus is dit al wat jy nodig het voor jy weer die langpad aandurf.

Prys: Vanaf R690 vir 2 mense
Waar: Victoria-Wes, Noord-Kaap
Gaste: 28

5. DIE SKOOLTJIE

Windpomp wat vêr oor Karoo-vlak staar

jy suig aan lewensbloed uit aardse aar.

Ten tye van droogte of storms wat woed

jou doel om plant, dier & mens te voed. – Jo Smith, Windpomp

Dié kothuis skuil op ’n plaas in die oudste en grootste dorp in die Groot-Karoo, Beaufort-Wes. Die Karoo Nasionale Park is sommer net om die draai en spog met ’n rits Steentydperk-besienswaardighede, rotskuns, dinosourusfossiele en argitektoniese invloede.

Prys: Vanaf R880 vir 4 mense
Waar: Beaufort-Wes, Karoo
Gaste: 4

6. BRINKSFONTEIN GUEST HOUSE

Jare lank was sy geteem, ’n stem in die woestyn, maar toe skielik sluk hy wind oor die werfdans en krulle van ’n kindLeon Strydom, Windpomp

’n Huisie aan die hange van die Moordenaarskaroo se kliprandjies en op die drumpel van Suid-Afrika se sterrekyk-mekka, Sutherland! Hiér kan jy heeltemal afskakel aangesien die huisie geen elektrisiteit of selfoonsein het nie.

Prys: Vanaf R1360 vir 8 mense
Waar: Laingsburg, Wes-Kaap
Gaste: 8

7. AKKEDISBULT COTTAGE

Die windpomp staan met sy rug teen die muur, die wind het ophou waai en water kos duur – Sandstewel, Karavaankrans

’n Troeteldiervriendelike plekkie in die hartjie van die Noord-Kaap. Bring vir Ore en die kinders saam en kuier saans om die braaivleisvuur, terwyl julle na die stilte van die Karoo luister.

Prys: Vanaf R1000 vir 4 mense
Waar: Bo-Karoo, Noord-Kaap
Gaste: 4

Plaasjapie of stadskind, op die ou einde is ons almal maar net kinders van die wind(pomp)!