Hetsy jy na ’n bederfnaweek saam met jou geliefde smag of na ’n pamperlangsessie saam met jou vriendinne uitsien ─ daar is ’n spa-wegbreek in elke provinsie nét vir jou! LekkeSlaap het by ’n paar van ons land se beste spa’s gaan inloer, sodat jy net agteroor kan sit en die bederf geniet! 

Lanzerac Hotel & Spa, Wes-Kaap

Die historiese Lanzerac Wynlandgoed in die Jonkershoekvallei in Stellenbosch dateer uit 1692. Dié plaas bied ’n onvergeetlike uitsig op die berge en oor die wingerd en tuine, en is die ideale wegbreekplek as jy behoorlik wil ontspan en van die stad wil afskud. Die vyfsterhotel kombineer ouwêreldse sjarme met moderne geriewe en elegante afwerkings wat gaste se gemak verseker. Die landgoed is die tuiste van verskeie restaurante, naamlik die Lanzerac Deli, Manor Kitchen, Taphuis en die Craven Lounge. Alle geriewe is beskikbaar en gaste hoef nie ’n voet te versit vir ’n behoorlike wegbreeknaweek in die Boland nie!  

Lanzerac Hotel & Spa

Die gesogte spa op die perseel bied ’n groot verskeidenheid behandelings wat ’n nuwe mens van elke gas maak. Die spa bied ook ’n uitsig oor die welige wingerd en op die berge, wat ’n ontspanne atmosfeer skep. Daar is ’n verhitte, binnenshuise swembad, Jacuzzi, sauna, stoomkamer, miskamer en ’n gimnasium waarvan gaste gebruik kan maak. Die gekwalifiseerde terapeute maak van internasionale en plaaslike produkte gebruik wat in al gaste se ontspanningsbehoeftes voorsien. 


Drostdy Hotel, Oos-Kaap

Drostdy Hotel is die Karoo se skatkis van ontspanning en skuil in die historiese dorp Graaff-Reinet. Dié hotel is in die 1800’s gebou en spog steeds met antiekeware en afwerkings wat op sy erfenis dui. Vandag heers daar ’n kontemporêre atmosfeer by die luukse hotel en dis ’n gewilde toevlugsoord in die Groot-Karoo. Die twee restaurante op die perseel is De Camdeboo Restaurant en Coldstream Restaurant, waar gaste hul lippe in styl kan aflek. 

Drostdy Hotel

Die Africology Spa bied ’n unieke Karoo-ervaring aan gaste en maak van natuurlike, ekovriendelike produkte wat genesende kenmerke het gebruik. Gaste kan selfs rou plantbestanddele uit die hotel se tuin kies wat dan in hulle behandelings gebruik word! Die spa se spyskaart bestaan uit ’n groot verskeidenheid gesigbehandelings, masserings en lyfbehandelings. Daar is selfs behandelings vir die kleinspan, ’n Himalaja-soutsauna en ’n haarsalon. 


The Cygnature Boutique Hotel, Noord-Kaap

The Cygnature Boutique Hotel is op die Magersfontein Memorial Gholflandgoed naby Modderrivier geleë en lyk byna soos ’n oase in die dorre Noord-Kaap. Dié luukse verblyf is ideaal vir gaste wat vir ’n naweek van die stad se geraas wil ontsnap, avonturiers of gholfentoesiaste. Die Cygnature Restaurant op die perseel bied heerlike maaltye en ’n maandelikse Sondag-buffet.  

The Cygnature Boutique Hotel

Die mini-spa op die landgoed bied ’n verskeidenheid behandelings en gaste kan kies om van dié diens in die gemak van hulle kamers gebruik te maak!


Fairway Hotel, Spa and Golf Resort, Gauteng

Dié luukse hotel op die Randpark Gholfbaan bied uitstekende geriewe vir enige wegbreek! Paartjies kan behoorlik in die hotelkamers of villas afskakel, en terwyl manlief ’n paar balle op die gholfbaan rondslaan kan jy alte lekker by die spa ontspan. Die kamers het pragtige uitsigte oor die gholfbaan, tuin en swembad en daar is drie kroeë en ’n restaurant op die perseel. 

Fairway Hotel, Spa and Golf Resort

Die Fairway Spa skakel soomloos met die rustige omgewing, wat deur die grasgroen gholfbaan en fonteine geskep word, ineen en is die ideale plek om van jou sorge te vergeet. Die behandelings vind in elf privaat behandelingskamers plaas en besoekers kan ook die hidroterapiegeriewe, soos ’n Rasul Chamber en ’n Flotation Tank, benut. Die spa bied verskeie pakkette wat volgens besoekers se behoeftes aangepas kan word. 


Qwantani, Vrystaat

Dié oord skuil tussen die Drakensberge aan die oewer van die Sterkfonteindam naby Harrismith. Die luukse selfsorg-chalets is die ideale blyplek as jy na rus en vrede op soek is. As jy klaar gerus het is daar hope doendinge en ’n daaglikse vermaakprogram vir die hele gesin. Martial Eagle Restaurant op die perseel het ’n a la carte-spyskaart en ’n kroeg.

Qwantani

La Vita Spa op die oord bied topklas-behandelings aan mans, vroue en kinders. Hulle het ’n groot verskeidenheid kalmerende masserings, naelversorging, gesigsbehandelings en gespesialiseerde behandelings om van te kies. Gaste kan ook hul siele in die Jacuzzi of by die ontspanningsarea verkwik. 


The Oyster Box, KwaZulu-Natal

The Oyster Box is een van Suid-Afrika se mees ikoniese hotelle aan Durban se kus en uiterse gemak wag hiér op jou! Dié vyfsterhotel is bekend vir sy weelderige kamers, geriewe en ’n onbelemmerde see-uitsig, en boonop is troeteldiere ook welkom. Gaste word met verskeie eetplekke en kroeë in die hotel bederf en jy kan selfs ’n smaaklike middagtee geniet. 

The Oyster Box

The Spa is net so luuks en uniek soos die hotel en skuil in tropiese tuine met apies, eksotiese voëls en blomme oral om jou. Die ervare terapeute pas elke behandeling by die gas aan en fokus op holistiese beginsels om die beste ervaring te bied. Die spa maak van ’n eksklusiewe reeks produkte, naamlik B | Africa, gebruik en dit bevat inheemse plantekstrakte en ander natuurlike bestanddele. Die geriewe sluit ’n Hammam- en sensasiestort, Tourmaline-salon, plonspoel, reënstorte en ’n gimnasium in. 


Bona Bona Game Lodge, Noordwes

Dié vierster-lodge tussen Klerksdorp en Wolmaransstad bied lieflike bosveldverblyf ver van die stad se gejaag. Hiér kry gaste ’n egte Afrika-ervaring met wildritte, smullekker maaltye by Jakkals Restaurant, bospieknieks en doendinge in die natuur! Gaste kan van ’n verskeidenheid verblyf-opsies, wat vir ’n onvergeetlike wegbreek ingerig is, kies. 

Bona Bona Game Lodge

Die Safari Spa neem gaste se Afrika-ervaring verder met behandelings wat met die plaaslike Ruah-reeks gedoen word. Dié reeks is van die aangrensende laventelplaas afkomstig en beloof om elke behandeling onvergeetlik te maak. Die lieflike geure word deur laventel, roosmaryn en roosmalva se olies geskep. Dié olies het voordelige effekte en sal gaste sommer gou ontspanne laat voel. Die spa kan slegs twee besoekers op ’n slag hanteer, so dit verseker gaste se privaatheid. 


Itaga Luxury Private Game Lodge, Limpopo

Limpopo is bekend vir sy ongerepte natuurskoon en dié luukse lodge in die Mabalingwe Natuurreservaat bied die ideale verblyf vir natuurliefhebbers. Verblyf word in chalets met ’n Afrika-styl gebied en gaste kan van die hooflodge se geriewe, soos ’n romantiese eetarea, kroeg, uitkykdek en bosboma, gebruik maak. Die lodge kyk oor ’n watergat wat gereeld deur die Groot Vyf besoek word. 

Itaga Luxury Private Game Lodge

Wat is beter as om in die Bosveld by ’n spa te ontspan? Die Itaga Spa is mobiel en gaste kan lekker langs die swembad, met ’n uitsig oor die veld, of in die gemak van hulle eie kamer van dié geriewe gebruik maak. Die masserings, warmklipbehandelings en naelversorging word met ThereNaka-produkte gedoen en beloof om gaste heeltemal verfris te laat. 


Leaves Lodge & SPA, Mpumalanga

Dié vyfstergastehuis in Nelspruit is op ’n granietklip gebou en bied ’n asemrowende uitsig oor die inheemse woud wat dit laat voel asof jy diep in die bos is. Leaves Lodge is die ideale toevlug wat jou van die besige stad sal laat vergeet. Die kamers bied selfsorg- of B&B-opsies met luukse geriewe en moderne afwerkings. 

Leaves Lodge & SPA

Leaves Spa het ’n unieke behandelingsdek buite, behandelingskamers vir twee en twee swembaddens met ’n uitsig oor die natuurreservaat. Die gekwalifiseerde terapeute doen gevorderde vel- en liggaambehandelings en daar is verskeie pakkette waarvan gaste kan kies. 


Voel dit of jy onmiddellik ’n spa-wegbreek nodig het? Bespreek dan so gou as moontlik jou welverdiende bederfnaweek by een van dié topkeuses sodat jy van al jou sorge kan vergeet! 

Hooffoto: Bigstock