Die Noordwes in Suid-Afrika bied ’n skatkis van dinge om te verken. In hierdie provinsie kan jy die Groot Vyf sien, by luukse lodges uitspan, grotte verken en aan watersport deelneem. Dit is boonop naby Johannesburg, so dit is maklik om sommer vinnig-vinnig in die kar te spring vir ’n naweekwegbreek as die swerflus jou op die nippertjie beetkry. LekkeSlaap het ’n lys van ons gunstelingblyplekke rondom dié streek se gewildste besienswaardighede saamgestel.

Pilanesberg Nasionale Park

Die Pilansberg Nasionale Park is net twee ure se ry vanaf Johannesburg, en hiér kan jy in ’n malariavry-area Groot Vyf-wildkyk! Daar is meer as 7000 wildspesies en 360 voëlspesies hier te sien. Ons stel voor jy besoek die park tydens die droogseisoen tussen Julie en Oktober, wanneer die wild langer wei en daar ’n groter kans vir jou is om hulle raak te sien. Het jy geweet ’n mens kan selfs in ’n lugballon deur die Pilanesberg Nasionale Park sweef? Dit is ’n besonderse manier om wild te kyk!

Pilanesberg Private Lodge

Hierdie lodge aan die voet van die Pilanesberge is so ontwerp dat jy steeds wild kan sien, selfs wanneer jy nie op ’n wildrit is nie! Olifante, swart- en witrenosters, leeus, luiperds, buffels, elande en wildehonde kan vanaf die lodge gesien word. Saans kan jy in die boma langs die vuur sit en sterrekyk en bedags in die swembad afkoel as die bosveld-hitte te veel raak. Verblyf is in vyf chalets wat elk slaapplek vir twee gaste het beskikbaar.

Bakubung Bush Lodge

Hierdie lodge is in die hartjie van die Pilanesberg Nasionale Park en bied verskeie aktiwiteite vir oud en jonk om te geniet, insluitend ’n swembad, vlugbalbaan, tennisbaan en ’n kroeg. Daar is ook ’n spa waar jy uit ’n hele rits behandelinge kan kies en behóórlik kan ontspan. Of jy nou ’n standaardkamer, luukse kamer of Executive-suite bespreek, elkeen van die verblyfopsies sluit ontbyt, aandete en 1 wildrit per persoon per aand in.

Nkala Safari Lodge – Black Rhino Game Reserve

Hierdie selfsorg-lodge is in die Black Rhino Wildreservaat geleë, wat deel van die Pilanesberg Nasionale Park vorm. Hier sluit die tarief Groot Vyf-wildritte in die lodge se privaat wildvoertuig in. Dié wildrit word deur ’n gekwalifiseerde wildwagter wat by die lodge woon gelei en duur sowat twee en ’n half uur, soggens en laatmiddag. Daar is vyf privaat chalets wat elk slaapplek vir twee gaste het en daar is ook ’n boma, swembad en ’n uitkykpunt met ’n uitsig oor die watergat.


Hartbeespoortdam

Die Hartbeespoortdam is ’n gunstelingbestemming vir diegene wat ’n bietjie uit die stad wil ontsnap en in die water wil baljaar. Die reusedam vorm die poort na die Magaliesberge en hiér kan jy met ’n kajak, boot of seiljag vaar, en jetski! Wanneer jy klaar in die water baljaar het, kan jy met die kabelkarretjie na die bopunt van die Magaliesberg ry, een van die rits voetslaanroetes aanpak, of winkels en restaurante in die dorpies rondom die dam verken. 

Stillwaters Waterfront Apartments

By hierdie selfsorgwoonstelle met die Magaliesberge as agtergrond is jy net ’n paar treë vanaf die waterfront. Die luukse slaapkamers spog met perkallinne en daar is boonop ’n privaat Jacuzzi en ingeboude braai. Indien jy die Swembad-eenheid bespreek, kan jy die eksklusiewe gebruik van die swembad geniet.

Amber Moon

Hiér kan jy in die Magaliesberg-dorp, Kosmos, uitspan en ’n uitsig oor die Hartbeespoortdam geniet. Hierdie selfsorghuis het ’n groot terras, braaigeriewe en ’n uitsig oor die seiljagklub. Daar is ook natuurroetes al langs die Kosmos-waterfront wat jy kan verken!

Mister C

Verblyf by hierdie luukse instansie in Schoemansville word in twee ruim suites gebied. Daar is twee kuierareas, waarvan een ’n onderdakstoep met ingeboude sitplek en braaigeriewe is, en die ander ’n houtdek met twee swembaddens, sonstoele en ’n pragtige uitsig oor die dam en op die berge is. 


Sun City

Sun City is een van die gewildste vakansieoorde in Suid-Afrika. Hiér is daar iets vir almal, van oud tot jonk. Baljaar in die bekende Valley of the Waves waar kunsmatige golwe ure se vermaak verskaf, of verken die ander geriewe in die oord, soos die gholfbaan, verskeie restaurante, ’n doolhof met ’n biertent by die uitgang, vierwielmotorfietsry, ’n waterpark, putt-putt en nog meer! 

The Kingdom Resort

Sun City se hoofhek is minder as vyf minute se ry vanaf hierdie oord. Hiér word verblyf in klein “dorpies” gebied, wat elkeen ontwerp is om met die omgewing saam te smelt. Elke dorpie het ’n aantal chalets en villas wat uitsigte oor die bosveld bied. Die oord spog met geriewe en aktiwiteite soos ’n spa, vierwielmotorfietstoere, boogskiet, verfbal en ’n rotsklimmuur, en daar is boonop ’n komplimentêre pendeldiens wat vervoer na Sun City bied!

Otto Relaxing Farmhouse

Hierdie wegbreekplek op ’n plaas bied maklike toegang tot Sun City en het slaapplek vir vier. Daar is ’n swembad om in af te koel en braaigeriewe buite waar julle ná ’n dag vol aktiwiteite lekker kan ontspan. En wanneer julle nie rondrits nie, kan julle sommer op die plaas voetslaan, wildkyk en fietsry. 


Wieg van die Mensdom

Die Wieg van die Mensdom, wat sowat 50 kilometer vanaf Johannesburg is, is ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied en het van die belangrikste fossiele in ons geskeidenis opgelewer. Die wêreldbekende fossiel, Mevrou Ples, is hier in die Sterkfonteingrotte gevind. Die Maropeng-besoekerssentrum van die Wieg van die Mensdom bied interaktiewe toere waar jy meer oor die geskiedenis van die mensdom kan leer.

Cradle Valley Boutique Guesthouse

Hierdie gastehuis is op ’n kleinhoewe op die rand van die Wieg van die Mensdom. Dit het stylvolle kamers, pragtige tuine en ’n swembad, en daar is meer as 20 suites om van te kies. Hiér hoef jy nie oor ontbyt bekommerd te wees nie, aangesien dit by die tariewe ingesluit is. Daar is ook ’n kroeg op die perseel waar jy ’n verfrissende skemerkelkie kan geniet.

Sibani Luxury Tents

Hiér kan jy ’n bosveldwegbreek op ’n privaat reservaat net 8,6 kilometer vanaf die Wieg van die Mensdom geniet. Daar is vier luukse tente met privaat badkamers en ’n gemeenskaplike kuierarea, en jy kan ook wildritte en wynproe op die perseel geniet! 

Mount Savannah Game Reserve

As jy lus is vir ’n wegbreek saam met jou gesin of groep vriende is hierdie chalets op 2000 hektaar van ongerepte grasveld die ideale bestemming. Verblyf by die lodge sluit ontbyt, een wildrit en toegang tot die boma, plonspoel, gemeenskaplike kombuis en sit- en eetarea in. Wanneer julle nie by die lodge ontspan nie, kan julle een van die voetslaanroetes op die perseel verken!


Meer aktiwiteite om in Noordwes te verken:

As jy ooit weer wonder waarmee jy jou kan besig hou wanneer die naweek naderkom, kies koers Noordwes toe!

Hooffoto: BigStock