Dié maand reis OPTOG! se kombi’s al die pad vanaf Oudtshoorn na Pretoria en sterre soos Laurika Rauch, Sandra Prinsloo en Koos Kombuis sluit by dié toer aan om gehore te vermaak. 

Drie van die Bestes vermaak al 21 jaar lank gehore reg oor die land met unieke en energieke vertonings. Mathys Roets, Kevin Leo en Danie Niehaus weet nét hoe om ’n vertoning van ’n leeftyd te lewer en hul OPTOG!-vertonings gaan geen uitsondering wees nie. Moenie die drie musketiers se laaste OPTOG!-optrede in November mis nie. Dié optrede vind plaas in Hartenbos se skoffelskuur.

Nie dat jy nóg meer rede kort om na dié trio te gaan luister nie, maar lees gerus LekkeSlaap se vrae aan die driemanskap en waarom jy nóú jou kaartjies en verblyf moet bespreek. 

Ons vrae aan Mathys Roets

LS: Waar het julle drie mekaar ontmoet en wat het julle laat besluit om saam op te tree? Het julle gedink dit sou so ’n groot sukses wees? 

MR: Ek en Kevin was deelnemers (teenstaanders) aan 1994 Crecendo. Vriende geword van daar af en dit was sy idee om Danie te vra en ons het so begin saamsing. Op daardie stadium was dit net lekker om saam te sing, maar die reaksie van die mense het ons onkant gevang. Nou ja, nou is dit al baie jare later. Ons is amptelik ’n kombinasie wat verreweg die langste saamsing en steeds vriende bly.

LS: Baie mense kies deesdae om op eksotiese eilande of iewers in Europa hul wittebrood te hou, maar jy en jou vrou het eerder gekies om deur Suid-Afrika te toer ─ hoe was hierdie ervaring en watter plek was die mooiste?

MR: Daar is soveel plekke in Suid-Afrika wat ons nog nooit gesien het nie. En een van die lekkerste dele van die wittebrood-toer was die mense van Suid-Afrika. By elke plek was die diens en vriendelikheid ongelooflik goed. Ek kan nie besluit oor die mooiste plek nie. Elke plek was ongelooflik mooi. Miskien was dit juis so mooi en lekker oor die variasie. Trou in Robertson, dan twee dae in Stormsrivier. Vandaar ver ry na die Transkei tot by Umngazi River Bungalows & Spa vir drie dae. Ongelooflike diens, views, kos en staff. En vandaar iets heeltemal anders ─ Drakensberge by Cathedral Peak hotel. Die Drakensberge is nog altyd een van my gunsteling-plekke in Suid-Afrika.

LS: Jy het vroeg in Januarie op jou Instagram-profiel aangekondig jy is besig met ’n nuwe album ─ is daar ’n spesifieke tema, waar kry jy jou inspirasie en wanneer kan ons die album verwag?

MR: My nuwe liedjies moet hulself kies. Ek beplan, versamel en kies liedjies wat ek wil sing. Net as jy dink die idee werk, kry jy iets nuuts wat ’n hele nuwe rigting ingaan. My tema gaan oor die gevoel as ek woorde lees en die deuntjie hoor. Ek laat my lei deur dit en nie deur vooropgestelde opinies te hê oor wat mense wil hoor en wat werk in Afrikaans nie. Hopelik weerspieël my liedjies en musiek die eerlikheid van die gevoel wat ek ervaar.

Ons het amptelik in Junie begin met opnames. Die versamel-, skryf- en musiek-deel is al langer as ’n jaar aan die gang. Matthys Maree is deel van die kreatiewe proses en dit maak my opgewonde. 

LS: Jy is nie bang vir ’n uitdaging nie, jy het al kilometers op grondpaaie afgelê, in Kanada geski, aan wedlope deelgeneem en soveel meer ─ wat is volgende op die lysie?

MR: Volgende is om nóg meer te doen en te ervaar van dit waarvan ek die meeste hou. Wil meer ski. Wil fikser word en vinniger hardloop, …hehe. Die lysie is moeilik om nou te besluit. Maar ek probeer om soveel na dinge te kyk en om nie daai oomblik vir iets spesiaal te mis nie.

LS: Jy is ’n groot inspirasie vir baie mense ─ wie is jou rolmodel?

MR: My pa. Hy het altyd met menswees gewys jy kan mense beïnvloed. Jy hoef nie dramatiese opinies te handhaaf nie. Dit polariseer net. 

LS: Wat was tot dusver die mees onvergeetlike oomblik van jou sangloopbaan?

MR: My heel eerste, amptelike konsert waar mense kaartjies gekoop het en na my gekyk het. Ek was só bang. En natuurlik daai selfde konsert ’n paar maande later by KKNK. Uitverkoop en baie terugvoer gekry. 

Ons vrae aan Danie Niehaus

LS: Jy was oorspronklik betrokke in die sportwêreld, jy het liggaamlike opvoedkunde studeer, WP-kleure in atletiek verwerf en jy was ook ’n sportskrywer. Wat het jou laat besluit om die sportwêreld vir musiek te verruil en verlang jy ooit terug na jou dae as ’n sportman?

DN: Sport was nog altyd ’n groot deel van ons familie. My pa, ma, twee susters en ek het almal provinsiale kleure in ons onderskeie sportsoorte verwerf. My ouers was altwee ook musikaal en ons huis was gereeld ’n bymekaarkomplek van musikante en akteurs waar musiek hoogty gevier het. Dít, asook die feit dat my pa as omroeper, akteur en seremoniemeester by die vermaaklikheidswêreld betrokke was, het gewis ’n invloed in my loopbaankeuse as sanger gehad. Op ’n stadium het ek werkloos in Johannesburg opgeëindig nadat ’n groot werksaanbod onverwags deur die mat geval het. Dit het my keuse versnel om my tot musiek te wend.

LS: Jy het aanhangers reg oor die wêreld, van Skotland tot Nieu-Seeland. In watter land geniet jy dit die meeste om op te tree en hoekom?

DN: Ek was al drie keer vir optredes in Nieu-Seeland en het dit elke keer geweldig geniet. As sportomroeper saam met die Springbokrugbyspan in 1956 na Nieu-Seeland het my pa baie foto’s en rolprente teruggebring. Dit het my belangstelling in dié land en sy mense mettertyd meer en meer geprikkel en ek moes dit ook net self beleef. Daar is uiteraard baie oud-Suid-Afrikaners en ek het ook ’n paar vriende wat soontoe geëmigreer het.

LS: Verkies jy om op te tree as ’n musikant of ’n komediant?

DN: Ek dink musiek beklee die eerste plek, hoewel humor deel van my persoonlikheid is. Ek glo mense moet meer lag, veral in dié land, maar mooi musiek is darem maar magies.

LS: Kan ons binnekort ’n nuwe album verwag?

DN: Dit raak al moeiliker om albums uit te reik omdat die hele formaat na ’n elektroniese medium oorgeskakel het. My ondersteunersgroep verkies nog steeds CD’s, so ek sal beslis binnekort ’n nuwe album moet opneem.

LS: As jy saam met enige kunstenaar (lewend of dood) kon optree, wie sou dit wees?

DN: Phil Collins.

Ons vrae aan Kevin Leo

LS: Jy staan bekend as Suid-Afrika se Pavarotti, sou jy graag saam met hom wou optree as jy die kans gehad het? 

KL: Dit sou vir my die ultimate gewees het om saam met hom op die verhoog te werk. Nou is my droom om met Botcelli en André Rieu op te tree!

LS: Jy het nie net ’n ongelooflike sangtalent nie, jy kan ook heerlike kos maak. Wat sou jy sê is jou spesialiteitsdis?

KL: Ek hou van eksperimenteer met verskillende kosse, maar as ek my gunsteling moet uitlig dan sou dit Italiaanse kos wees.

LS: Jy het al die voorreg gehad om saam met verskeie ikoniese sangers op te tree, watter optrede sal jou altyd bybly?

KL: Ek dink toe ek voor Nelson Mandela opgetree het en die keer toe ek saam met Johnny Clegg gesing het.

LS: Jy is ’n sanger, ’n kok en ’n akteur. Watter ander talente steek jy weg? 

KL: Ek is mal oor poker-aande saam met my vriende, geniet reis en gholf. Ek het pas begin skilderklasse neem.

LS: Jy is permanent besig met Duet-optredes saam met Jannie Moolman, The Singing Chef, Drie van die Bestes en dan neem jy nog aan kompetisies in Italië deel. Kry jy ooit tyd om te ontspan en wat doen jy dit as jy wel ’n tydjie kry?

KL: Ek geniet die see en, meer spesifiek, die Suid-Kaap (Tuinroete). Ek is in wese ’n introvert en dis my gunsteling-manier van ontspanning saam met my geliefdes of heeltemal op my eie.

Ons vrae aan Drie van die Bestes

LS: Julle reis graag en toer gereeld ─ wat is vir jou die belangrikste ding wat in ’n hotel of slaapplek moet wees?

Mathys: ’n Badkamer waarin ek pas. Tegnies bly dit die moeilikste deel van reis. Maar hoe koffie en ontbyt proe, maak vir my net so baie saak.

Danie: ’n Bad, hoewel die meeste slaapplekke oorsee net storte het. Ek geniet dit, veral voor konserte, om in ’n bad te ontspan en in die sone te kom vir dit wat voorlê

Kevin: Ek beleef baie gastehuise en hotelle. Ek moet erken ek verkies hotelle, veral met ’n see-uitsig, maar in die kamer moet ek ’n groot bed hê met vars, skoon beddegoed en handdoeke, ’n TV, WiFi en ’n skoon badkamer.

LS: Julle sing musiek van verskillende genres en tale, maar waarna luister jy graag?

Mathys: Ek luister baie wyd. Van classics tot rock. Sukkel met techno en sekere pop-liedjies, hehe. En dan tipiese luistermusiek is my gunsteling. Cohens en Neil Diamond, ens.

Danie: Ballades is my gunsteling, maar klassieke barokmusiek is vir my baie ontspannend.

Kevin: Ek geniet Latino en klassieke musiek en power ballads.

LS: Het jy enige bygelowe voor ’n vertoning?

Mathys: Absoluut niks nie. Solank ek net my woorde ken of voorbereid is, geniet ek elke oomblik.

Danie: Nee, nie rêrig nie, maar ek hou daarvan om iewers agter die verhoog of buite die venue, rustig alleen te sit en in my kop deur die vertoning te gaan.

Kevin: Nie noodwendig bygelowe nie, maar ek wil voor en na ’n vertoning ’n bietjie alleen wees.

LS: Julle drie bring nou baie tyd saam op die pad deur. Wat is die snaaksste ding wat al met julle gebeur het?

Mathys: Ons is altyd ernstig en fokus om nie snaakse foute te maak nie, hehe. Hulle het my eenkeer net ná my ongeluk in Witbank op die verhoog vergeet ná die vertoning en solank gaan “tee” drink. Die gehoor het my aangestaar terwyl ek hulle bel om my asb. te kom aftel.

Danie: Daar was al baie snaakse insidente – te veel om op te noem. Om die waarheid te sê, ons lag voor of ná elke vertoning, of soms sommer op die verhoog tydens vertonings en ons het baie pret tydens elke toer. Ons is ook beste vriende en ná 21 jaar ken ons mekaar so goed, ’n toer is net pret!

Kevin: Daar is te veel om te noem, byvoorbeeld ek en Mathys wat sonder ons hemde vir Danie as agtergrond sangers en dansers opgetree het (nie ons mees vleiende verskyning nie).

LS: Watter beroep sou jy volg as jy nie ’n musikant geword het nie?

Mathys: Motorsport ─ rally jaag. Sarel van der Merwe is my sport-hero (seker maar net droom). Voor musiek alles oorgeneem het, het ek mikrobiologie gedoen. En dan wou ek ook altyd ’n wildlife-fotograaf wees, hehe.

Danie: ’n Argeoloog of ’n geoloog.

Kevin: Ek sou my graag in chirurgie wou bekwaam.

LS: Wat is jou gunstelingliedjie om te sing as Drie van die bestes en waarom?

Mathys: Al ons a capella-liedjies. Die manier hoe ons die klank aanvoel en saam sing sal altyd spesiaal bly.

Danie: My way, want dit vertel presies ons drie se storie en ons eindig ook die vertoning daarmee en sing: “We did it our way”.

Kevin: Elke keer as ons saam sing is dit vir my lekker, maak nie saak watter liedjies ons sing nie.

LS: Voltooi die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …?

Mathys:  … saam met vriende iewers mooi te kan sit en lag. Daardie lag wat as jy jare later ’n foto sien en dit onthou en van voor af lag.

Danie: … op ’n berg te staan en die natuurskoon om jou te waardeer.

Kevin: … te ontspan en die wêreld te kan sien.

Die drie se persoonlikhede verskil dalk soos dag en nag, maar saam is hul stemme soos melk en heuning. Toer saam met ons kombi en kom luister self!

Hierdie maand se program

Jo Black | 27 Augustus | PretoriaBespreek hiér

Elvis Blue | 28 Augustus | Welkom | Bespreek hiér

Jo Black | 29 Augustus 2019 | Krugersdorp | Bespreek hiér

Elvis Blue | 29 Augustus | Bloemfontein | Bespreek hiér

Jo Black | 30 Augustus 2019 | Kempton Park | Bespreek hiér

Elvis Blue | 30 Augustus | Kimberley | Bespreek hiér

Elvis Blue | 31 Augustus | Upington | Bespreek hiér

Jo Black | 31 Augustus 2019 | Hoedspruit | Bespreek hiér

Laurika Rauch | 4 September | Oudtshoorn| Bespreek hiér

Laurika Rauch | 6 September | Durbanville | Bespreek hiér

Moedertaal: Sandra Prinsloo | 6 September | Pretoria | Bespreek hiér

Moedertaal: Sandra Prinsloo | 7 September | Krugersdorp | Bespreek hiér

Laurika Rauch | 14 September | Port Elizabeth | Bespreek hiér

O, My Folk! | 29 September | Clarens | Bespreek hiér

O, My Folk!| 30 September | Pretoria | Bespreek hiér

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop vir ons volgende OPTOG!-onderhoud met die Radio Kalahari Orkes!

Hooffoto: Verskaf