Met ’n nuwe jaar is daar hope nuwe geleenthede vir wegbreke en opwindende plekke om te verken. Ons land spog met ’n diverse landskap en bekoorlike dorpies wat iets vir elkeen bied. LekkeSlaap het na van die gewildste bestemmings vir 2021 gaan kyk en ’n lys van dorpe wat julle in 2022 móét besoek saamgestel. 

Clarens, Vrystaat

Foto: Bigstock

Clarens is nie verniet een van Gautengers se gunstelingwegbreekplekke nie. Dié kunstenaarsdorpie is lekker naby Johannesburg en Pretoria vir ’n vinnige naweekkuier en bied ongelooflike natuurskoon en ’n hele rits buitelugaktiwiteite tussen die berge sodat julle nie vir ’n oomblik verveeld hoef te wees nie. Daar is ook nie ’n tekort aan restaurante, bierbrouerye, koffiewinkels, kunsgalerye en kuriowinkels in die boomryke strate van die middedorp nie. Julle kan ook die Golden Gate Highlands Nasionale Park net buite die dorp verken en ’n lieflike voetslaanroete geniet of die Cathedral-grot besoek. 


Paternoster, Wes-Kaap

Foto: Bigstock

Paternoster is ’n skat aan die Weskus en dié vissersdorpie sal jou onmiddellik bekoor. Die witgekalkte huisies teen die helderblou see skep ’n pragtige prentjie regdeur die jaar en gedurende die blomseisoen word die omgewing deur in ’n kleurvolle blomkombers bedek. Dis ’n gewilde naweekbestemming vir Kapenaars wat nie te ver wil ry nie en daar is hope vermaak in en om die dorp! Julle kan aan heerlike, vars seekos by een van die talle restaurante in die dorp smul, die oulike winkeltjies en kunsgalerye besoek, of op die lang, wit strand baljaar. 


Hartbeespoort, Noordwes

Foto: Bigstock

Hope gesinspret, ongelooflike natuurskoon en ’n ontspannende wegbreek uit die stad — dis Harties, oftewel Hartbeespoort! Dié gewilde vakansiebestemming is net sowat 45 minute se ry vanaf Johannesburg en Pretoria en ons kan verstaan waarom besoekers en inwoners mal is daaroor. Die omgewing word deur die pragtige Magaliesberge omring en die dam bied uitstekende geleenthede vir watersport en ontspanning. Julle kan ook die bloed ’n bietjie vinniger laat pomp en die omgewing van bo verken met opwindende warmlugballonvlugte en die Harties Aerial Cableway. Julle sal ook nie honger of dors gelaat word nie, want die omgewing spog met lieflike eetplekke, bierbrouerye, koffiewinkels en die gewilde Van Gaalen-kaasplaas. 


Dullstroom, Mpumalanga

Foto: Spring Valley (LekkeSlaap)

Dullstroom is nog ’n gewilde naweekbestemming vir Gautengers en ons kan verstaan waarom! Dié dorp is sowat twee en ’n half uur se ry vanaf Gauteng en vorm deel van die Highlands Meander in Mpumalanga. Dit spog met van die beste forelhengelbestemmings in die land en ongeëwenaarde natuurtonele! Buiten die uitstekende visvanggeleenthede is daar ook ander buitelugaktiwiteite vir die hele gesin, ’n bekende whiskey-kroeg, ’n bierbrouery, lieflike restaurante en, natuurlik, kunsgalerye. 


Prins Albert, Wes-Kaap

Foto: The Olive House (LekkeSlaap)

’n Wegbreek in die Karoo doen ’n mens altyd goed en Prins Albert is ’n dorpie wat beslis ’n merk op jou sal laat. Dié bekoorlike kunstenaarsdorpie skuil aan die voet van die Swartbergpas en spog met pragtige Victoriaanse, Karoo- en Kaaps-Hollandse geboue wat goed onderhou is. Die dorp is die tuiste van tientalle kunsgalerye as gevolg van die groot aantal kunstenaars wat hierheen verhuis het, en dis maklik om te sien hoe die dorp se vriendelike mense en die ongelooflike landskap ’n inspirasie vir kunstenaars en besoekers is. Verder is daar ook fantastiese restaurante, ’n Saterdagmark met vars produkte van die omgewing, die bekende Gay’s Guernsey Dairy, olyfplase en interessante winkels om te besoek. Julle kan ook die natuur verken met voetslaan- en bergfietsroetes en, natuurlik, die vreesaanjaende Swartbergpas. 


St. Lucia, KwaZulu-Natal

Foto: 17 Manzini Chalets (LekkeSlaap)

St. Lucia is ’n toeristedorpie wat as die ingang na die wêreldbekende iSimangaliso-vleilandpark dien en dit hoort beslis op elkeen se reislysie. As gevolg van die dorpie se ligging naby die vleilandpark spog dit met van die mooiste natuurskoon in die wêreld en geriewe vir diegene wat die meer verlate dele van die Olifantkus gaan verken. Daar is dus genoeg restaurante en winkels om van te kies. Aangesien die dorpie sy bestaan aan die vleilandpark te danke het, is dit ’n móét om te besoek. Dis die derde grootste park in Suid-Afrika en strek oor sowat 280 kilometer se kuslyn. Dis die tuiste van meer dierspesies as die Krugerwildtuin en daar is ’n riviermond, eilande, kuswoude, vleilande, pragtige strande, koraalriwwe en moerasse om te verken. 


Haenertsburg, Limpopo

Foto: Sequoia Garden Retreat (LekkeSlaap)

As julle nog nooit ’n woudwegbreek geniet het nie, moet julle definitief vanjaar Haenertsburg besoek! Dié dorpie skuil aan die hange van die Wolk- en Drakensberge tussen Polokwane en Tzaneen. Die omgewing is bekend vir mis wat tussen die golwende, groen heuwels hang, inheemse woude hoog bo seespieël en lowerryke plantegroei as gevolg van die hoë reënval. Die dorpie is nie baie groot nie, maar daar is heelwat restaurante om van te kies, oulike winkeltjies en selfs die Zwakala Brewery. Daar is baie geleenthede vir avontuursport tussen die berge, soos boomtoptoere, rotsklim, abseil en “kloofing”, en julle kan die bekende Magoebaskloofpas, een van die hoogste bergpasse in Suid-Afrika, tot by Tzaneen volg vir ongelooflike uitsigte. 


Montagu, Wes-Kaap

Foto: Daniëlle Terblanche

As julle nog nie in Montagu op Roete 62 gaan kuier het nie, moet julle hierdie jaar ’n plan maak! Dié dorpie staan as die bergmekka van die Kaap bekend en word deur die Langeberge omring waar julle kan rotsklim en voetslaan. Dit is ook ’n bekende vrugteproduserende dorp, die tuiste van natuurlike warmwaterbronne tussen die berge en die strate is met pragtige Kaaps-Hollandse geboue en 22 nasionale monumente bespikkel. Klop by die Montagu Country Hotel aan en bespreek ’n opwindende fietstoer deur die dorp doen om meer oor die geskiedenis en “ongenooide gaste” (die spookinwoners) te leer. Verder is daar talle restaurante, koffiewinkels en padstalle om te besoek en vriendelike inwoners om te leer ken. 


Nieu-Bethesda, Oos-Kaap

Foto: Adriëtte le Roux

As iemand van Nieu-Bethesda praat, dink die meeste mense dadelik aan Helen Martins se immergewilde Uilhuis. Maar dié Karoodorpie aan die voet van die Sneeuberge bied soveel meer as net dit! Dis ’n lushof vir kunstenaars wat uit die stad wil ontsnap en ’n eenvoudige leefstyl wil geniet en daar is gevolglik baie kunsgalerye, kunsvlytwinkels en kreatiewe tuine wat julle te voet kan verken. Die semi-woestyngebied is ook ’n paradys vir natuurliefhebbers met die grootste verskeidenheid vetplante in die wêreld, ’n ryk voëllewe, onbesoedelde lug vir sterrekyk en uitdagende voetslaan- en bergfietsroetes. 


Fouriesburg, Vrystaat

Foto: Bigstock

Dié Vrystaatse dorpie word aan sy golwende heuwels en oop vlaktes gekenmerk en skuil tussen sandsteenberge naby Lesotho se grens. Die bergagtige omgewing maak dit ’n gewilde bestemming vir avontuursport soos voetslaan en bergfietsry, maar dis ook ’n rustige wegbreeplek vir diegene wat uit die stad wil ontsnap. Die dorpie is die tuiste van ’n historiese sandsteenkerk en pragtige geboue uit ’n vervloë era. Dis ook naby Clarens en die Golden Gate Highlands Nasionale Park vir verdere verkenning en aktiwiteite. 


Is daar ’n paar van hierdie dorpies wat jy nog nie besoek het nie? Of is daar een of twee waarin jy sommer weer vanjaar ’n draai wil maak? Laat ons weet watter dorpie jy by jou 2022-reislys gevoeg het! 

Hooffoto: Bigstock