Het jy al mooi gaan sit en dink oor watter geriewe jou wittebrood spesiaal sal maak? Is dit dalk ’n bad met kerse, ’n uitsig oor die see of bosveld, of vonkelwyn en sjokolade saam met roosblare op ’n hemelbed gerangskik?

LekkeSlaap wil graag jou wittebrood-droom bewaarheid, en daarom het ons 10 besonderse wittebroodsuites regoor die land gaan uitsoek. En moenie bekommer nie ─ ons het seker gemaak die pryse is nié buitensporig nie!

Morning Glory Cottages ─ Groot-Karoo

’n Wittebrood op ’n Karoo-plaas klink dalk onkonvensioneel, maar jy sal verbaas wees hoe romanties dit kan wees! Kom beleef dit self hier naby Venterstad op dié perdeplaas in die Oos-Kaapse Karoo.

Wittebroodsuite: Dié ruim rondawel is pragtig versier en uiters privaat!
Doendinge op die plaas: Egte Karoo-geregte, sterrekyk en interaksie met plaasdiere. Die Gariepdam en ’n wildreservaat is ook naby. 

Arabella Gasteplaas ─ George, Tuinroete

Hier het julle ’n grasdak-kothuis net vir julleself op ’n plaas in ’n sprokiesagtige omgewing omring deur die natuurlike bos waar die bosbokkies julle geselskap sal kom hou!

Assegaai Wittebroodsuite: Victoriaanse bad, bottel vonkelwyn en kerslig.
Doendinge op die plaas: Staproetes, bergfietsry, piekniek en visvang. Julle kan ook na nabygeleë strande op die Tuinroete ry.

Thulamela Bed and Breakfast ─ Hazyview, Mpumalanga

Dis nie aldag dat jy die bosveld vanuit jou eie Jacuzzi kan sit en bewonder nie. Kom kruip weg in dié houthuisie in die bos waar die wild vrylik rondwei en voëlsang volop is!

Kothuis: Privaat Jacuzzi op ’n dek.
Doendinge: Panoramaroete, Krugerwildtuin, wildkyk en voëlkyk.

Lazy Leopard Forest Retreat ─ Knysna, Tuinroete

As ’n mens op die Tuinroete vakansie hou, wil ’n mens jou darem behoorlik in die woud kan inleef! Die Outeniekwaberge vorm die agtergrond van dié perseel, wat ook ’n uitsig oor die Knysnawoud bied.

Forest Moon Romantiese Kothuis: Braaiplek met woud- en berg-uitsig, glasbadkamer met uitsig, bad op die dek en ’n hangmat.
Doendinge: Stap in die woud, roei in die rivier en besoek die pragtige dorp Knysna.

African Violet ─ Noordhoek, Kaapstad

Die berg- en see-uitsig by dié suite sal julle nog lank bybly en die strand is net 10 minute se ry hiervandaan. Hier beleef jy die natuur op sy beste naby al die geriewe van die stad!

Wittebroodsuite: See-uitsig vanuit elke vertrek en dek, Jacuzzi, kaggel en ’n randvloeiswembad.
Doendinge: Restaurante en winkeltjies by Noordhoek Farm Village, Noordhoek-strand, Chapman’s Peak, Houtbaai en voetslaanroetes.

Mariner Guesthouse ─ Simonstad, Kaapstad

Daar is soveel avonture wat vir jou voorlê in hierdie sonderlinge voorstad. Hoe lekker om dit boonop met so ’n romantiese blyplek te kombineer!

Wittebroodsuite: Ruim kamer, kristalkandelare, ekstra groot bad en ’n balkon met ’n see-uitsig.
Doendinge: Pikkewynkolonie by Boulders Beach, Kaappunt Natuurreservaat en voetslaan.

Vindoux Guest Farm & Spa ─ Tulbagh, Wes-Kaap

Droom jy van ’n wittebrood in die wynlande? Wyk weg van die bekender Paarl en Stellenbosch, en kom verken liewer Tulbagh!

Honeymoon Tree House: Groot spa-bad, balkon met ’n uitsig oor die wild, berge en boorde.
Doendinge: Historiese dorpie Tulbagh, piekniek in die tuin, wildkyk, fietsry op die plaas en spa-behandelings vir paartjies.

Ngama Tented Safari Lodge ─ Hoedspruit, Limpopo

Julle hoef nie gerief prys te gee vir ’n ware bosveld kamp-ervaring nie! Ngama Tented Safari Lodge is aan die voet van die Klein Drakensberge en julle kan sommer elke nag in die boma onder die sterre kuier.

Tented Chalet: Buitestort, bosvelddek en ’n Victoriaanse bad.
Doendinge: Groot 5-wildkyk, wildritte, voëlkyk en begeleide staptoere.

Bleshoener ─ Sedgefield, Tuinroete

Besoekers aan die Tuinroete ry maklik hierdie dorpie mis. ’n Mens móét eenvoudig hier afdraai om al sy skatte te ontdek!

Lakeview Deluxe: Balkon met ’n uitsig oor die meer.
Doendinge: Kanovaart, swem, voetslaan, uiteet, strand en daguitstappies na besienswaardighede op die Tuinroete.

The Springbok Lodge ─ Nambiti Privaat Wildreservaat, KwaZulu-Natal

Al ooit wild gekyk vanuit ’n bederfbad? Hier by The Springbok Lodge naby Ladysmith kan jy dit sommer elke dag doen!

Luukse Tent: Dek en bad met uitsig oor bosveld.
Doendinge: Groot 5-wildritte, boma-etes, bos-ontbyte, Zoeloe-danse, masseerterapie, swembad en ’n restaurant op die perseel.

The Walden House ─ Tamboerskloof, Kaapstad

’n Wittebrood in die hartjie van Kaapstad kan romanties én opvoedkundig wees! Dié ouwêreldse Victoriaanse huis is in 1900 gebou en spog met Kaapstad se bekendste landmerk, Tafelberg, in die agtergrond.

Wittebroodsuite: Balkon met ’n uitsig op Tafelberg, Victoriaanse bad en ’n kaggel.
Doendinge: Tafelberg, Seinheuwel, Waterfront, Groenpunt-stadion, markte en historiese besienswaardighede in die middestad.

The Cavern Drakensberg Resort & Spa ─ Drakensberge, KwaZulu-Natal

Daar is darem net iets romanties aan ’n toevlugsoord in die berge, veral as dit in ’n afgesonderde vallei onder die massiewe sandsteenhange van die Noordelike Drakensberge is! As jy ’n natuurliefhebber is, is dít die plek vir jou.

Wittebroodsuite: Uitsig op die berge, privaat patio om die natuur te ervaar en ’n kaggel.
Doendinge: Boesmantekeninge, voëlkyk, voetslaan, bergfietsry, perdry, etes by die restaurant en spa-behandelings.

En dis die lot! As die suites hierbo jou oë laat blink, is al wat oorbly om by jou ander helfte te skimp sodat julle jul wittebrood-droom ’n werklikheid kan maak!

Hooffoto: Mariner Guesthouse (LekkeSlaap)