In die sowat 531 jaar nadat Bartlomeus Dias die Kaap as “Die Kaap van Storms” gedoop het, het dié ongenaakbare kuslyn van tientalle skepe metaalspoke gemaak. Sommige van die ongelukkige wrakke is deur die see geëis en is so te sê vergete, maar, sommiges kan, ten minste gedeeltelik, van die land af gesien word. So, Kaptein, span die seile vir ’n wyle, en kom kyk na dié 7 stukke geskiedenis wat ons kuslyn stip.

Kaapstad

 Die Commodore II

Milnerton, Kaapstad

Commodore II: ©Lesa la Grange: SAHRA, 2019

Dit is min dat ’n skeepswrak ná sowat 100 jaar vanuit sy watergraf na ’n grondgraf verskuif word, maar die Commodore II is geen gewone skeepswrak nie. Dié Amerikaanse skip is in 1919 gebou en het in die 1935-fliek Mutiny on the Bounty saam met Clark Gable verskyn. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het President Paul Kruger se seun haar gekoop en haar seile gespan om steenkool na Suid-Amerika en hout na Suid-Afrika te vervoer.

Mutiny on The Bounty 1935

Sy het tydens een van haar ekspedisies na Argentinië skade opgedoen en gedurende die 40 dae lange herstelproses het sy ook een keer aan die brand geslaan. Op pad terug na die Kaap het ’n storm haar getref en haar mas en seile só erg beskadig dat sy uiteindelik in die strandmeer aan die brand gesteek en toegelaat is om te sink ─ haar eienaar het geglo dis ’n eerbare manier om van haar afskeid te neem.

In 2008 het ’n storm die Kaap getref en haar wrak het sy verskyning gemaak. Vir jare het die wrak op en af in die Milnerton-strandmeer beweeg tot inwoners in 2016 ’n beroep op Stad Kaapstad gedoen het om die wrak weens veiligheidsredes te verwyder. Die 21 ton-wrak is met ’n massiewe hyskraan uit die strandmeer gehaal en na ’n stuk grond net buite die Lagoon Beach Hotel in Milnerton verskuif.

Hoe kom jy daar?

Die wrak lê op ’n oop stuk grond langs die Lagoon Beach Hotel en kan vanaf die pad gesien en bereik word.

GPS-koördinate: -33.890808, 18.484891

 Die T.T. Tucker

     Kaappunt, Kaapstad

Thomas T. Tucker: ©Lesa la Grange: SAHRA, 2018

Thomas T. Tucker: ©Lesa la Grange: SAHRA, 2018

Die Amerikaanse skip, Thomas T. Tucker, het gedurende haar debuutvaart op 27 November 1942 by Olifantsbos met die rotse kennis gemaak. As gevolg van die swaar mis was die kaptein oortuig hulle is naby Robbeneiland en in ’n poging om Duitse duikbote te ontduik het hy haar te naby aan die kus gebring. Daar is later bevind dat haar kompas met 37 grade uit was.

Hoe kom jy daar?

Die Kaappunt Natuurreservaat het ’n skeepswrakroete waarop dié wrak, asook die wrak van die Nolloth, gesien kan word. Al die staproetes begin by die Olifantsbos-parkeerarea.

Ry by die Kaappunt Natuurreservaat in en kyk uit vir die Olifantsbos-afdraai aan die regterkant. Ry deur die reservaat tot by die parkeerarea en soek die Thomas T. Tucker-bord aan die linkerkant waar die staproetes begin.

Die roete na die wrak is sowat 3 kilometer lank en sal jou ’n uur en ’n half neem om te voltooi.

Onthou dat die Kaappunt Natuurreservaat ’n ingangsfooi van R76 hef.

Padkaart-koördinate: 34°15’31.8″S 18°22’56.0″E

  SS Kakapo

    Noordhoek, Wes-Kaap

SS Kakapo: ©Lesa la Grange: SAHRA, 2017

Van bakboord na stuurboord, maak seker van jou rigting en gaan dán eers volstoom voort! In Mei 1900 het dié 665 ton-stoomskip se kaptein hom liederlik misgis toe hy Chapmanspiek met Kaappunt verwar het en die skip in Noordhoek laat strand het. Die skip het met mening op die strand afgepyl en haar geraamte lê steeds hiér.

Hoe kom jy daar?

Parkeer aan Chapmanspiek se kant van die strand en stap ongeveer 40 minute strandlangs in Kommetjie se rigting tot by die wrak. Bring jou viervoetige vriend saam ─ dis ’n troeteldiervriendelike strand!

Padkaart-koördinate: 34°07’24.8″S 18°20’55.9″E

Die SS Clan Stuart

     Glencairn, Simonstad

S.S. Clan Stuart: ©Tristan Wainman

Plaaslike inwoners noem die suidoostewind die “Kaapse dokter” omdat dit die besoedeling en pestilensies weg waai, maar menigte skepe het egter oor die jare in dié “dokter” se pad beland, een van hulle die Engelse SS Clan Stewart wat in 1900 gebou is.

Daar is verskeie weergawes van die storie, maar wat wel vir seker is, is dat sy op 21 November 1914 die Simonstad-hawe binnegevaar het. Die Suidooster het opgesteek, haar onkant gevang en sy is terug see toe gesleep met haar anker tevergeefs agterna, totdat sy uiteindelik op die rotse naby die Glencairn-strand te lande gekom het. Sy is later na die hawe gesleep, maar die hawemeester het haar geweier uit vrees dat sy sou sink en die ingang na die hawe sou versper.

Haar kaptein moes haar toe op Mackerel Beach strand waar sy met 2 kabels aan die oewer vasgemeer is sodat sy nie sink nie. Haar kajuite is later uitgehaal en agter die Glencairn Hotel as ekstra kamers ingespan. Dié kajuite is intussen verwyder, maar die hotel huisves steeds ’n magdom geskiedenis en geheime…

Hoe kom jy daar?

Parkeer voor die Didovallei-begraafplaas, stap oor die straat en klim oor die lae baksteenmuurtjie. Jy sal die treinspoor moet oorsteek, so wees asseblief versigtig! Stap dan met die groot sementtrappies af strand toe waar jy die wrak voor jou sal sien.

Padkaart-koördinate: S34°10.303’ E018°25.842’

Bly Hier:

Hotel Glencairn is slegs 1,2 kilometer vanaf die Clan Stuart-wrak en is die ideale plek om te bly as jy die res van Kaapstad se wrakke ook wil verken. Die hotel se geskiedenis sal beslis tot die onheilspellende gevoel van dié wrak-roete bydra.

 Namakwaland

 The Border

Koiingnaas, Namakwaland

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Barbara (@barbaranewtonsmith) on


Op 1 April (ja, rêrig) 1947 het swaar mis en ’n hoë gety veroorsaak dat die Britse skip, The Border, haar skroef beskadig en nie die reis vanaf Port Nolloth na die Kaap kon voltooi nie. Dis geen gekkedag-grap nie! Sy bevind haar nou by Naas Punt, net suid van Kleinzee.

Hoe kom jy daar?

Die Border vorm deel van die Diamond Coast Shipwreck Trail en gaste kan in Noup, sowat 100 km vanaf Springbok, bly vanwaar die roete verken kan word. Begeleide toere word aangebied en kan by info@namaquacoastal.com of op 076 642 0868 bespreek word.

 SS Piratiny

Kleinzee, Namakwaland

SS Piratiny: Flickr

In 1943 het ’n stormagtige winterdag voorwaar die wind uit dié Brasiliaanse stoomskip van 5000 ton se seile geslaan. Die SS Piratiny was na Kaapstad se hawe onderweg toe hy glo deur ’n Duitse torpedo getref is. Die bemanning het almal oorleef en hulle is deur die diamantpolisie na Hondeklipbaai vergesel. Alhoewel baie van die vrag teruggewin is, was die nabygeleë strande steeds met vragitems en veral rokmateriaal oortrek. Die plaaslike fluisteringe sê byna die hele dorp se vrouens het daardie volgende Sondag splinternuwe uitrustings na die nagmaaldiens gedra!

Hoe kom jy daar?

Die SS Piratiny se wrak is ook op die Diamond Coast Shipwreck Trail te sien.

Padkaart-koördinate: 30°11’16.1″S 17°16’48.8″E

Bly Hier:

Noup lê tussen Kleinzee en Koingnaas en is dus die perfekte uitspanplek vir dié wat beide wrakke wil besoek. Die Diamond Coast Shipwreck Trail begin hiér in Noup en begeleide toere word aangebied. Stuur ’n e-pos na info@namaquacoastal.com of skakel 076 642 0868 om ’n bespreking te maak.

 Weskus

 Die Langebaan-lagoon Legende

Langebaan, Weskus

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Lowri (@lowrisian) on


Raai, raai riepa! Dié wrak se naam is steeds na baie navorsing onbekend, daarom doop ons hom sommer as die Langebaan-lagoon Legende. Daar is baie min inligting oor hierdie wrak, maar daar is bespiegelinge dat dit ’n skip was wat óf water, óf skulpe na en vanaf die mosselfabriek vervoer het wat destyds op die oewer van die strandmeer was. Die wrak lê reg langs die bekende Langebaan Seiljagklub en kan van die oewer af gesien word.

Bly hier:

Jy sal maar jou verbeelding moet inspan oor wie en wat presies hierdie metaalspook is. Kom kuier op een van Kraalbaai Luxury Houseboats se luukse huisbote, terwyl jy droom oor die storie agter dié wrak.

Stille waters, diepe grond, daar waar die rotse is maal die branders rond en baie skepe koop per ongeluk grond. Op die sand of in die see, of agter die Hotel Glencairn geleë, jou dag is jou dag – elke skip weet dít!

Besoek ook gerus hierdie skeepsvaart/wrak-museums:

***

Baie dankie aan Lesa la Grange van die South African Heritage Resources Agency vir foto’s en nuttige feite.

Hooffoto: Bigstock

Hierdie blog is gebaseer op Besoek dié Skeepswrakke sonder ’n snorkel – ’n blog deur Frances Strooh.

Lees gerus ook: