Suid-Afrika se kuslyn strek meer as 2500 kilometer en dit is dus geen wonder dat ons waters oor die jare heen ’n grafkelder vir honderde skepe geword het nie. Daar is iets aan die verlatenheid van ’n skeepswrak wat tot ’n mens se siel spreek ─ wat jou herinner hoe verganklik die mensdom eintlik is.

Tog is nie al die wrakke deur die see teruggeëis nie en is daar ’n hele paar wat jy op droë grond kan besoek. Kenners beweer dat meer as 37 nasies se skepe al deur ons branders te pletter geslaan is en aan ons kus uitgespoel het. Dié wrakke is ’n ongelooflike historiese aanwins en hieronder wys ons jou watter skeepswrakke jy op land kan besigtig.

JACARANDA

MORGANSBAAI IN DIE OOS-KAAP

Die storie

Die Jacaranda was ’n Griekse 2000 ton-kusboot wat op 18 September 1971 in die nag skipbreuk gely het. Dié kusboot se motor het gaan staan terwyl die kaptein die winderige, stormagtige see bevaar het en die boot het uiteindelik naby die Qolora-riviermonding te gronde gegaan. 

Hoe kom ek daar?

’n Mens mag nie nader as een kilometer van die kuslyn af ry nie, maar parkeer sommer by Trennerys Hotel en stap van daar af na die wrak toe. Die hotel is ook die perfekte plek om te bly as jy ’n naweek van jou skeepswrak-ekspedisie wil maak. Permitte word vereis, maar is verniet en kan verkry word deur ’n paar weke voor jy gaan ’n e-pos na Edwina Oates by edwina.oates@deaet.ecape.gov.za te stuur of 043 707 4068 te skakel.

GPS-koördinate: 32°37’10.2″S 28°28’09.6″E

____________________________________________

MEISHO MARU 38

L’AGULHAS IN DIE WES-KAAP

Die storie

Die Meisho Maru 38 is ’n Japanese skip wat in 1982 hiér by die Atlantiese en Indiese Oseaan se ontmoetingsplek skipbreuk gely het. Dié wrak is ’n klipgooi van die Kaap Agulhas-vuurtoring af wat in 1848 opgerig is, so jy kan sommer twee van die Kaap van Storms se besienswaardighede op een slag besoek!

Hoe kom ek daar?

Dis maklik om by die Meish Maru-wrak uit te kom en net omtrent een en ‘n half kilometer se stap van die bord af wat die mees suidelike punt van Afrika aandui. Daar is ook ’n grondpad (in ’n goeie toestand) uit L’Agulhas wat al langs die kus afloop en by Suiderstrand eindig. Jy kan op die grondpaadjie ry of langs dit stap om by die wrak uit te kom.

Jy kan ook ’n Kaap Agulhas-skeepswrakstaproete reël deur ’n e-pos te stuur na info@awoltours.co.za of 083 2346 428 te skakel.

GPS-koördinate: 34°49’46.8″S 19°59’01.8″E

____________________________________________

THOMAS T. TUCKER

KAAPPUNT NATUURRESERVAAT in die WES-KAAP

A photo posted by Jemma King (@mineisyum) on

Die storie

Die Thomas T. Tucker was ’n Amerikaanse skip wat tydens haar eerste vaart op 27 November 1942 by Olifantsbos die rotse getref het. Die skip het probeer om Duitse duikbote te ontwyk, maar weens die swaar mis het die kaptein haar te na aan die kus gebring. Die kaptein was ook onder die indruk dat hulle naby Robbeneiland was, maar dit was natuurlik nie die geval nie. Nadat die skip op die strand geloop het, is daar bevind dat die kompas met 37 grade uit was.

Hoe kom ek daar?

Daar is drie skeepswrakke wat in die Kaappunt Natuurreservaat op die Cape Point Shipwreck Trails besoek kan word. Al die staproetes begin by die Olifantsbos-parkeerplek.

Dis heel maklik om te vind. Sodra jy by die Kaappunt Natuurreservaat inry, hou jy net ’n ogie oop vir die Olifantsbos-afdraai aan die regterkant. Dit sal jou deur die reservaat neem en af tot by ’n parkeerterrein naby die strand. Kyk dan uit vir die Thomas T. Tucker-bord aan jou linkerkant ─ dis waar al die skeepswrak-staproetes begin.

Die roete na die Thomas T. Tucker-wrak is drie kilometer lank en dit behoort jou nie meer as een en ’n half uur te neem nie.

Hou in gedagte dat ’n mens die Kaappunt Natuurreservaat se ingangsfooi moet betaal om by die wrak uit te kom. Kliek hiér vir meer details.

GPS-koördinate: 34°15’31.8″S 18°22’56.0″E

____________________________________________

SS PIRATINY

KLEINZEE in die NOORD-KAAP

A photo posted by Melissa (@meliwatkins) on

A photo posted by ijonty (@ijonty) on

Die storie

Op ’n stormagtige winterdag in 1943 het die wind dié 5000-ton Brasiliaanse stoomskip teen die rotse kom vaswaai. Die legende lui dat die skip deur ’n duikboot se torpedo getref is, maar niemand kan dit bewys nie. Dié skip was op pad na Kaapstad se hawe met ’n vrag skoene, klere, materiaal en sardientjies toe die skip se enjin opgepak het. Gelukkig het almal oorleef en is hulle kort daarna deur die diamantpolisie, wat die kus patrolleer, na Hondeklipbaai geneem.

Hoe kom ek daar?

Die SS Piratiny se wrak kan op die 4×4 Skeepswrakroete tussen Koingnaas en Kleinzee gesien word. Omtrent sewe wrakke word op die toer bespreek en ’n handjievol, onder meer die SS Piratiny, kan ook besigtig word. Dit is ’n begeleide 4×4-roete (moeilikheidsgraad 2 tot 3) wat ses tot sewe uur neem om te voltooi en ’n mens benodig natuurlik ’n viertrekvoertuig. Dié toer moet vooraf bespreek word deur Dudley Wessels op 083 305 2569 te skakel of ’n e-pos te stuur na peebs@kingsley.co.za. 

GPS-koördinate: 30°11’16.1″S 17°16’48.8″E

SS KAKAPO

NOORDHOEK in die WES-KAAP

A photo posted by hails l (@ms_lochhead) on

A photo posted by Lasse Røed (@lasseroed) on

Die storie

Die SS Kakapo was ’n 665 ton-stoomskip wat vanaf Engeland op pad was na Sydney in Australië, maar toe in Mei 1900 op Noordhoek se strand skipbreuk gely het. Die kaptein het Chapman’s Peak gesien, dit verwar met Kaappunt en die bevel gegee om volspoed na bakboord te draai. Die skip het met mag en mening op die strand afgestuur en dit is waar die SS Kakapo se geraamte steeds lê.

Hoe kom ek daar?

Begin by die parkeerterrein aan Chapman’s Peak se kant van die strand en loop in Kommetjie se rigting op die strand. Dit sal jou omtrent 40 minute neem om by die wrak uit te kom, maar dis ’n pragtige ent om te stap ─ boonop kan jy jou brakkie saambring en geen permit word benodig nie!

Bespreek ‘n blyplek in Noordhoek of bespreek by Blue Whale Way in Kommetjie as jy die wrak van die ander kant af wil benader.

GPS-koördinate: 34°07’24.8″S 18°20’55.9″E

____________________________________________

ARISTEA

HONDEKLIPBAAI in die NOORD-KAAP

Die storie

Aristea was ’n treilvisser vir I&J, maar tydens die Tweede Wêreldoorlog is sy in diens gestel as ’n mynveër. Op 4 Julie 1945 was die Aristea op pad na Port Nolloth, maar het sy net suid van Hondeklipbaai op die rotse geloop. ’n Gerug doen die ronde dat die kaptein te dronk was om die skip te stuur.

Hoe kom ek daar?

Bespreek jou plekkie by Honnehokke Resort en maak sommer ’n vakansie van jou besoek aan die skeepswrak. Jou gasheer by Honnehokke dra baie kennis van die wrak en kan jou meer oor die geskiedenis daarvan vertel. Die Aristea is so vyf kilometer suid van die dorp geleë, so dis ’n stywe entjie se stap of jy kan daarheen ry en sommer die braaiplek by die wrak benut.

GPS-koördinate: 30°19’09.6″S 17°16’39.6″E

____________________________________________

MV BOS 400

tussen HOUTBAAI en LLANDUDNO in die WES-KAAP

A photo posted by Emmah (@broadwaydiaries) on

A photo posted by JB (@jbdodane) on

Die storie

Dié Franse vragskuit het op 26 Junie 1994 tussen Llandudno en Houtbaai op die rotse geloop. Die Russiese sleepboot, Tigr, was besig om BOS 400 vanaf Pointe-Noire in die DRK na Kaapstad te sleep, maar die sleeptou het in ’n storm gebreek en gevolglik het BOS 400 op die klippe beland. BOS 400 was op daardie stadium die grootste pontonkraan in Afrika en daar was vele probeerslae om haar te red, maar die skade was te erg.

Wat ook interessant is, is dat die BOS 400-wrak sommer bo-op die wrak van die SS Oakburn geleë is wat in 1906 hier ten gronde gegaan het.

Hoe kom ek daar?

Dis ’n behoorlike dag-uitstappie om die BOS 400-wrak te besoek en dis net vir gesoute stappers bestem. Jy parkeer by Sandy Bay en stap van daar af vir twee uur of meer deur ruig fynbos, oor massiewe granietklippe en by steil kranse af totdat die BOS 400 voor jou opdoem.

GPS-koördinate: 34°02’13.8″S 18°18’32.1″E

____________________________________________

DRYFDOK

GLENTANA in die WES-KAAP

A photo posted by Emma Rorke (@elrorke) on

A photo posted by Britta (@iam_britta) on

Die storie

Dié skeepswrak naby Glentana is nie noodwendig dié van ’n skip nie, maar eerder ’n 4500 ton-dryfdok wat hier op die strand uitgespoel het. Op 1 November 1902 is die dryfdok deur die SS Baralong vanaf Durban na Kaapstad gesleep, maar die sleeptou het gebreek en dis hoe die dryfdok se laaste vaart toe hiér tot ’n einde gekom het.

Hoe kom ek daar?

Dis belangrik om die staptog tydens laagwater aan te durf. ’n Mens parkeer by Glentana se hoofstrand en begin dan in ’n oostelike rigting (na die rotse se kant toe) stap. Jy het nie ’n permit nodig nie, dis ’n maklike roete en jy behoort na sowat vier kilometer of 45 minute se stap by die wrak uit te kom.

GPS-koördinate: 34°03’05.4″S 22°20’03.6″E

____________________________________________

HALLELUJAH-20 

KENTON-ON-SEA in die OOS-KAAP

A photo posted by Claudz (@claudz.b) on

Die storie

Cannon Rocks naby Kenton-on-Sea is vernoem na die kanonne en anker wat hiér op die heuwel pryk. Daar word beweer dat dit die Sáo Joáo Baptista, wat vermoedelik hiér die onderspit gedelf het, se kanonne en anker is. Dié Portugese skip is deur twee Nederlandse skepe naby L’Agulhas aangeval en is só erg beskadig dat dit uiteindelik op 29 September 1622 hier by Cannon Rocks in die Oos-Kaap uitgespoel het. Lees hiér meer oor die Sáo Joáo Baptista se geskiedenis.

Tog is dit duidelik nie die enigste skip wat by Cannon Rocks skipbreuk gely het nie. Die wrak wat jy op die strand kan besoek is dié van Halleluja-20 wat in die neëntigerjare hier in die sand gebyt het.

Hoe kom ek daar?

As jy van Port Alfred af op die R72 in die rigting van Port Elizabeth ry, draai jy net na Kenton-On-Sea links in die rigting van Cannon Rocks en Boknesstrand. Kyk uit vir die Diaz Cross-tekens, ry deur die plaashek (maak dit asseblief weer agter jou toe) en hou aan ry op die rowwe grondpad tot by die einde van die pad.

Hiér begin jy stap deur die melkhoutbome tot jy tussen die duine opeindig. In die verte sal jy Vasco Da Gama se “merker” sien ─ dis ’n lekker stappie na die kanonne toe wat ook vir kinders geskik is. Maar as jy nie na die kanonne en anker (én ongelooflike uitsigte) wil gaan kyk nie, kan jy direk na die strand mik waar jy die skeepswrak sal vind.

GPS-koördinate: 33°44’40.7″S 26°33’41.4″E

____________________________________________

Watter van dié skeepswrakke het jy al in lewende lywe gesien? Weet jy dalk van nog ’n paar wrakke wat ’n besoek werd is? Laat weet ons in die kommentaarblok hieronder.

Hooffoto: Adam Heunis, Flickr