Huis, paleis, glanskamp reg oor die land! Knyp ’n bietjie tyd af en kies koers na ’n plek sonder WiFi en daardie alewige Zoom-vergaderings ─ daar waar niks en niemand jou gaan kan pla nie. Hier by LekkeSlaap het ons net die antwoord op jou moeë stadsiel ─ ’n bekostigbare glanskamp-ervaring in die natuur waar jy nie gerief hoef prys te gee nie.

Lancewood TiPi Lodge, Robertson

Lancewood TiPi Lodge is op ’n plaas aan die voet van die Langeberge geleë en word omring deur die landerye. Verblyf word in drie tipi-kampe aangebied: Paws TiPi het twee tipi-tente wat saam slaapplek vir nege gaste het, Magic TiPi het slaapplek vir vyf gaste en Noy Noy TiPi is ideaal vir ’n romantiese wegbreek vir twee. Elke TiPi-kamp het ’n privaat badkamer, kombuis, braai-area, LED-ligte en ’n vuurmaakplek, en word eksklusief aan een groep verhuur.

Breede River Glamping and Camping, Malgas

Dié prentjiemooi plaas langs die Breederivier is perfek vir jou as jy ’n bietjie van die stadsgejaag wil ontsnap. Daar is gemeenskaplike ablusiegeriewe en vier tente wat elkeen slaapplek vir vier gaste op enkelbeddens het, sowel as ’n yskas-vrieskas, gasstoof en ’n ketel, en ’n USB-koppelpunt om jou selfoon te laai. Sit saans op jou privaat dek met ’n glasie wyn in die hand en tuur oor die rivier, of kuier gesellig om die vuurput terwyl die skaaptjoppie se vet tssss tussen die kole val. Daar is ook ’n kroeg en restaurant op die plaas vir dié wat nie elke aand vir hulself wil sorg nie.

B’sorah Luxury Tented Camp, Hartbeespoortdam

B’sorah Luxury Tented Camp naby die Hartbeespoortdam is minder as ’n uur se ry van Johannesburg en Pretoria af, maar hiér bevind jy jou in ’n ander wêreld waar jy Afrika op haar beste kan ervaar. Elke eko-vriendelike tent skuil tussen die bosse, het sy eie badkamer en braai-area, en is ideaal vir ’n  romantiese selfsorgwegbreek vir paartjies. Sit agteroor op jou privaat dek en hou jou oë oop vir die wild op die plaas ─ daar’s koedoes, njalas, waterbokke, rooibokke, blesbokke, vlakvarke, bobbejane, hiënas én jakkalse!

Nguni Moon Teepee Camp, Underberg

As jy ’n avontuurlustige siel is wat hou van nuwe mense ontmoet, is dié plek vir jou! Dié Indiaanse tipi-kamp bied ’n uiters unieke ervaring buite Underberg in die Suidelike Drakensberge. Daar is drie groot tente wat elkeen slaapplek vir twee volwassenes het en genoeg ruimte vir twee kinders op matrasse. Die vierde tipi is kleiner en het net slaapplek vir twee. Daar is ook ’n dam op die perseel waar jy kan afkoel, en die kamp is lekker naby die Umzimkulu-rivier wat ideaal is vir swem- en piekniekuitstappies. Wenk: As jy nie mal is oor geriewe met vreemdelinge deel nie, kan jy die hele kamp bespreek en dié ervaring met jou vriende deel!

Bosrand Glamping, Ventersburg

’n Glanskamp-wegbreek op ’n wildsplaas buite Ventersburg in die Vrystaat wag op jou! Verblyf word in drie permatente aangebied en elke tent het slaapplek vir twee, ’n en suite-badkamer, yskassie, koffie- en teemaakgeriewe en ’n stoep met ’n uitsig oor die plaas. Gaste wat graag wild wil sien kan ’n bekostigbare wildrit en ’n piekniekmandjie bespreek en dié wat graag om die gemeenskaplike boma langs die vuur wil kuier, kan ’n heerlike braaipak bestel en van die gemeenskaplike, ten volle toegeruste kombuis gebruik maak.

Sunset Teepee Retreat, Mosselbaai

Maak jou tuis in ’n tipi-tent in Mosselbaai! Dié tipi-oord is ver van die gewone kampnaweek en bied die perfekte wegbreek vir avontuurlustige reisigers. Daar is ses tipi-tente wat elkeen slaapplek vir twee, gemaklike beddens, ’n en suite-badkamer, toegeruste kombuisie en braaigeriewe het. Die tipi’s het nie elektrisiteit nie, maar elkeen word deur sonkrag, kerse en lanterns belig. Maak seker jy kyk uit vir die uitstekende sonsondergange en sterrekykgeleenthede.

Tented Adventures Pilanesberg, Pilanesberg Nasionale Park

Kom ervaar ’n egte tentsafari-ervaring in die wêreldbekende Pilanesberg Nasionale Park! Hiér kan jy net agteroor sit ─  ’n volledige Engelse en kontinentale ontbyt en ’n braai-buffet vir aandete is by die tarief ingesluit. Daar is agt safari-tente wat elkeen slaapplek vir twee het, sowel as elektrisiteit, elektriese komberse, ’n klein stoep, gemaklike beddens en ’n waaier vir die warm somersaande. Alle gaste maak egter van gemeenskaplike ablusiegeriewe gebruik. Ander geriewe op die perseel sluit ’n swembad, kroeg, restaurant en snuisterywinkel in, én wildritte is beskikbaar sodat jy die Groot Vyf kan raaksien.

Golden Valley Glamping Villages, Citrusdal

As jy graag ’n glanskamp-ervaring met jou groep vriende of familie wil deel, is Golden Valley Glamping Villages op die Olifantsrivieroewer ideaal! Die Glamping Villa het slaapplek vir agt in koepeltente onder ’n Bedouin-tent en nog ’n Bedouin-tent met ’n sitarea, etenstafel en ’n toegeruste kombuis, en braaigeriewe. Die Deluxe Village bestaan uit ’n groot Bedouin-tent bo-oor drie koepeltente wat elkeen slaapplek vir twee het, sowel as ’n etenstafel, sitarea,  toegeruste kombuis en braaigeriewe. Elkeen van dié glanskampe het hulle eie badkamer.

Bulrivier Safaris, Jansenville

Bulrivier Safaris bied ’n glanskamp-ervaring op ’n plaas in die Karoo. Die Zebra-tent het slaapplek vir twee en die Kudu-tent het slaapplek vir vier. Elke tent het ’n badkamer, etenstafel op die dek en ’n vuurput met braaigeriewe. Onthou om die vuur aan te steek voor jy gaan stort ─ niemand hou van koud stort nie! Doendinge op die plaas sluit wildritte, piekniek, stap en bergfietsry in en jy hoef nie die kinders by die huis te los nie ─ hulle kan die plaasdiere voer, teikenskiet en op die plaas perdry.

Motsomi Lodge & Tent Camp, Thabazimbi

Motsomi Lodge & Tent Camp is in die hartjie van die Afrika-bosveld buite Thabazimbi geleë. Hiér staan die safari-tente op verhewe houtdekke met en suite-badkamers, gemaklike beddens, waaiers en koffie- en teemaakgeriewe. Daar is ’n gemeenskaplike toegeruste kombuis, verhitte swembad, en ’n braai-area waarvan jy gerus gebruik kan maak. ’n Hele klomp wildspesies, insluitend luiperds en jagluiperds, skuil in die bos by Motsomi en gaste kan dié outjies te voet, gedurende wildritte en vanaf uitkykplekke soek.

Forest Harmony, Knysna

Dié ongekunstelde verblyf in die buitewyke van die Knysnawoud is ’n natuurliefhebber se droom en met dié interessante verblyfopsies sal jy omtrent voel asof jy in ’n sprokieswêreld beland het ─ twee tipi-tente, ’n koepeltent en ’n Hobbit-huis. Die tipi-tente het elkeen slaapplek vir twee, koffie- en teemaakgeriewe en ’n gasstoof. Die koepeltent het slaapplek vir twee, ’n kaggel, rusbank, etenstafel en ’n kombuisie. Die Hobbit-huis vir twee is met sandsakke gebou en laat jou voel asof jy in ’n grot bly. Alle gaste deel die kompostoilette, ’n stort wat met sonkrag werk en ’n buitebad wat met ’n vuur verhit word. Ontbyt, aandete en piekniekmandjies is teen ekstra koste beskikbaar.

Otium Oasis Glamping and Camping, Tesselaarsdal

Otium Oasis Glamping and Camping in Tesselaarsdal is omring deur die majestueuse Overberge en hiér sal jy behoorlik kan ontspan terwyl die kinders rondbaljaar. Elke tent-chalet spog met ’n panoramiese uitsig op die berge, ’n en suite-badkamer, kombuisie wat volledig toegerus is, ’n sitarea, dek en braaigeriewe. Daar is ook ’n plonspoel, klimraam, trampolien en ’n troetelplaas met die alpakka-broers, Chaos en Thumper, en ook drie springbokkies wat vrylik rondloop en graag tussen die tente wei ─ so daar’s meer as genoeg om die kleingoed te vermaak!

Luxury Tented Village @ Urban Glamping, St. Lucia

Dié glanskamp-ervaring is ideaal vir diegene wat daarvan hou om nuwe mense te leer ken. Die permatente by Luxury Tented Village @ Urban Glamping in St. Lucia is almal om die gemeenskaplike swembad opgerig en alle gaste maak van die groot toegeruste kombuis gebruik. Elke tent staan op ’n dek met ’n sitarea en het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, slaapbank, klerekas en ’n yskas. Span langs die swembad uit, gooi ’n vleisie oor die kole by die gemeenskaplike braai-area, of vat die pad strand toe ─ dis net 2,5 kilometer ver!

So, watter een lyk vir jou lekke? Laat ons weet waarheen jy jou voertuig se neus mik.