Wanneer die koue aan jou voordeur kom klop en die sneeu soos ’n winterkombers ons land bedek, wag ’n hele nuwe wêreld van avontuur en opwinding tydens winter. Aktiwiteite soos voetslaan, bergfietsry en ander avontuurroetes bly gewild reg deur die jaar, maar daar is sommige buitelugaktiwiteite wat die bloed ’n bietjie warmer deur jou are laat bruis. In hierdie blog wys ons jou ’n paar aktiwiteite en bestemmings waar jy die yskoue, vars winterluggie kan inasem.

Wildritte 

Wildkyk in die winter_Nasionale Krugerwildtuin
Hoto: Nkambeni Safari Camp (LekkeSlaap)

Wildritte en Suid-Afrika gaan hand aan hand, aangesien die natuurlewe wat vrylik oraloor ons uitgestrekte landskappe wei een van ons land se grootste toeristebesienswaardighede is. ’n Wildrit laat jou toe om ongelooflike diere in hul natuurlike habitatte te aanskou en Suid-Afrika is die tuiste van talle wêreldbekende wildparke wat safari-ervarings bied. Die algemeenste wildrit is waar gaste saam met ’n toergids in ’n oop voertuig die bosveld en sy skatte verken. Stapsafari’s bied ’n meer intieme ervaring en sommige reservate bied selfs bootsafari’s in riviere en waterweë wat jou die geleentheid bied om die natuurlewe vanaf ’n ander perspektief te bewonder.

Die Krugerwildtuin is in die noordoostelike deel van Suid-Afrika geleë en is een van die grootste wildreservate in Afrika. In die wintermaande bied wildrit-ervarings verskeie voordele wat dit ’n ideale tyd maak om die park te besoek. Soos die reënval verminder en droër toestande veroorsaak, word dit makliker om wild raak te sien terwyl hulle rondom watergate, riviere en damme saamdrom, op soek na water. Nog ’n merkwaardige bestemming is Addo-olifantpark, wat die tuiste van ons Groot Sagmoedige Reuse is. In die winter verkeer olifante om watergate saam en skep hulle ’n betowerende skouspel vir besoekers terwyl hulle in die modder baljaar. Hluhluwe-iMfolozi Park in KwaZulu-Natal is weer bekend vir sy suksesvolle renosterbewaringspogings en die Pilansberg Nasionale Park en Madikwe Wildreservaat is gewilde keuses vir ’n malariavrye safari-ervaring.

Lees dié blog as jy op soek is na verblyf vir jou volgende wildkykwegbreek: Wonderlike Wildkykplekke op LekkeSlaap

Wynproe

Wynproe_unieke buitelugaktiwiteite in die winter
Foto: Dominique Fuchs

Winter bring ’n unieke bekoring na die wêreld van wynproe en is ’n uitsonderlike aktiwiteit om in hierdie seisoen te geniet. Wanneer jy in die winter gaan wynproe, sal jy dalk nog die laaste kleurvolle herfsblare aan die bome sien hang, of, as jy gelukkig is, ‘n lagie sneeu op die berge in die agtergrond sien glinster. Die beeldskone wynplase bied die perfekte agtergrond vir wanneer jy en jou geliefdes die wêreldberoemde wynroetes verken. Tydens winter skep die wynproelokale ’n knus en snoesige atmosfeer teenoor die koue weer buite en daar kan selfs ’n vuurtjie in die kaggel knetter terwyl jy aan daardie rooiwyntjie teug. Gewilde feeste soos die Stellenbosch Wynfees, Elgin Railway Wynfees en die Knysna Oesterfees vind gedurende die winter plaas. Die Wes-Kaap kraai hiér koning en spog met ’n verskeidenheid bekroonde bestemmings. Een so ’n bestemming is die hartjie van die Kaapse Wynlande, Stellenbosch. Hiér kan besoekers deur skilderagtige wingerde wandel, bekroonde wyne proe en aan keurige lekkernye smul. Sy buur-streek, Franschhoek, is in ’n vallei van skoonheid en groenigheid geleë. Hierdie area is die tuiste van wêreldklaswynkelders en bied selfs ’n merkwaardige Wine Tram-ekskursie – ’n opklim-afklim-ervaring wat besoekers op ’n skilderagtige reis deur die pragtige wingerd en golwende heuwels van die vallei neem. Die Hemel-en-Aarde Vallei in die Overberg-streek is weer vir sy koelklimaatvariëteite, soos Chardonnay en Pinot Noir, bekend. 

Lees ook: Kom proe wyn en slaap oor

Sneeukyk

Buitelugaktiwiteite in die winter_Sneeukyk
Foto: Zwartmodder (LekkeSlaap)

Ons land is met matige sneeu-omstandighede geseën en boonop bied sneeubestemmings genot vir die hele gesin – wie hou nou nié daarvan om te kyk wie die grootste sneeuman kan bou en daarna voor die kaggel op te krul en bordspeletjies te speel nie? Om die omgewing met ’n sneeukombers te ervaar is nie ’n alledaagse verskynsel nie en gaste moet dus op hul hoede wees om nie só ’n ervaring mis te loop nie. Hoewel ’n mens op gewilde streke soos Ceres, Sutherland, Clarens en Hogsback kan staatmaak om jaarliks in ’n wintersprokiesland te verander, verskyn dele van die Drakensberge, Oudtshoorn en Natalse Middellande ook gereeld op die radar. 

Sterrekyk

Sterrekyk_Buitelugaktiwiteite in die winter
Foto: Snyderskloof Karoo Cottage (LekkeSlaap)

’n Natuurverskynsel wat met die verblindende wit sneeu kontrasteer is die buitengewone sterrenag wat ook tydens die winterseisoen spog. Gedurende die winter ervaar Suid-Afrika minder humiditeit en dus is daar nie ’n duinsterigheid wat in die lug bly hang nie. Dít is wat tot helder en skoon nagte lei. Die sterre vertoon ook duideliker, omdat die aarde vanuit ’n ander hoek na die ruimte gedraai is. Die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop in Sutherland bied toere met monitors wat ’n gedetailleerde beeld van al die witdwerge, rooireuse, sterreswerms en planete weerspieël. As jy egter deur ’n werklike teleskoop wil kyk, kan jy ’n sterrekyk-ervaring by Sterland Boerdery bespreek en op hul perseel in een van hul bekoorlike huise bly. 

Branderplankry

Branderplankry_buitelugaktiwiteite in die winter
Foto: Unsplash

Diegene wat ’n aanhanger van hierdie sport is, het geen oortuiging nodig om die branders aan te durf nie, maar die gedagte van koue water en groot branders tydens winter laat van ons se lippe ’n bietjie bewe. Met Suid-Afrika se pragtige kuslyn en wêreldklas-golwe, spog die land met verskeie gewilde branderplankrybestemmings wat branderplankryers van regoor die wêreld lok. Jeffreysbaai is veral bekend vir sy gunstige omstandighede en spog elke winter as die gasheer van een van die grootste branderplankrykompetisies te wêreld, die Corona Open J-Bay. Die Weskus spog ook tydens winter met groter en sterker branders as enige ander seisoen aangesien die koue front vanaf die diepsee na vore stoot. Wie sê ’n mens kan nie ’n seewegbreek tydens winter geniet nie!

Walviskyk

Walviskyk_buitelugaktiwiteite in die winter
Foto: 7 on Marine (LekkeSlaap)

Diegene wat al ’n walvis van nader gesien het, sal saamstem dat dié waterreus werklik die koning van die see is. Walviskykseisoen begin reeds in Mei, maar die spitseisoen is tussen Julie en September. Dít is wanneer die meerderheid van die suidelike noorkappers uit die koue Antarktiktiese water vlug en noordwaarts al langs die oostelike kus van Suider-Afrika migreer terwyl hulle op soek is na warmer waters om te kalf. Hermanus is die walvishoofstad van ons land en word jaarliks deur talle entoesiastiese toeskouers, wat hoop om dié reuse in die water te sien baljaar, besoek. Verder sorg die walvisse ook vir vermaak in Plettenbergbaai, die Wildekus en selfs aan die KwaZulu-Natalse kus.

Hierdie blog het ’n paar lekker verblyfopsies in en om die walviskyk-gebiede: Hiér kan jy in Suid-Afrika walviskyk

So, gryp jou warmste toerusting, pak jou avontuurlustige gesindheid in, en kom verken al die juwele wat winter inhou!

Hooffoto: Sensiri Myst (LekkeSlaap)