Daar is net íéts omtrent ’n vuur wat gestook word om jou swembadjie te verhit en Suid-Afrikaners is gaande oor hierdie gier! Houtvuurwarmbaddens skep ’n gesellige kuierplek en atmosfeer in die winter én somer en dis juis daarom dat dit so gewild is by talle wegbreekplekke. LekkeSlaap het ’n paar sulke plekke met pragtige houtvuurwarmbaddens bymekaar gemaak, so beplan solank jou volgende wegbreek as jy ook wil sien waaroor die boehaai gaan!


Buff and Fellow Eco Cabins, George

Hierdie droombestemming op ’n buffelstoetplaas naby George hoef nie net ’n droom te bly nie! Buff and Fellow Eco Cabins bied eko-vriendelike verblyf op die plaasdamoewer met ’n uitsig op die Outeniekwaberge. Die vier eenhede is luuks ingerig met alles wat jy nodig het vir gerieflike verblyf en elke eenheid het ’n houtvuurwarmbad op die stoep. Die eko-pods is ideaal vir ’n romantiese wegbreek en die eko-hutte is geskik vir gesinne of vriende wat saam wegbreek. Daar is heelwat wild wat vrylik op die plaas rondloop en julle kan fietsry, visvang en voëlkyk. Vir iets anders, kan julle ook saam met die eienaars op die perseel wynproe.


Tierkloof Mountain Cottages, Breederiviervallei

Hier in die platteland naby Ceres wag ’n rustige toevlugsoord op jou! Tierkloof Mountain Cottages skuil op ’n plaas teen die hellings van die Swartruggensberge en jy het net die vlaktes as jou uitsig. Daar is drie losstaande kothuise van verskillende groottes en elkeen is lieflik ingerig. Die kothuise maak van sonkrag gebruik en het elkeen ’n swembad en ’n lekker kuierstoep. Die Dragon Rock-eenheid het ’n houtvuurwarmbad én ’n gewone swembad op die dek ─ julle kan dus vir ure daar ontspan en die skouspelagtige uitsig oor die veld geniet!


Blue Crane Farm Lodge, Botrivier

Dié lodge aan die hange van die Houwhoekberge is die ideale wegbreekplek naby die Kaap! Daar is twee losstaande selfsorgkothuise met slaapplek vir vier gaste elk. Elke kothuis is gerieflik ingerig en het ’n houtvuurwarmbad op die stoep. Daar is ook braaigeriewe en stoepmeubels, en hout en die nodige braaiprodukte word voorsien. Gaste ontvang ook elke oggend vars brood en plaasmelk. As julle lus is vir iets anders, is daar ook verskeie bekroonde wynplase in die omgewing wat beslis ’n besoek werd is.


Wolwehoek Private Reserve, Montagu

Wolwehoek Private Reserve bied ’n romantiese wegbreek soos min! Dié eksklusiewe tent-eenheid skuil diep in die berge in ’n afgesonderde vallei naby Montagu. Jy en jou geliefde sal behoorlik van die stad kan vergeet en ’n spesiale tyd in die natuur geniet. Die luukse tent het ’n hemelbed, sitarea, kombuis en ’n pootjiesbad met die mooiste uitsig oor die vallei. Julle kan die wandelpaaie volg om by die afgeleë houtvuurwarmbad tussen die bosse uit te kom en verder is daar ook ’n buitesitkamer met ’n braai en ’n pizza-oond ─ al die bestanddele vir ’n onvergeetlike naweek!


Black Eagle Lodges – The Villa, Caledon

Black Eagle Lodges – The Villa is ’n vierster-villa op ’n plaas naby Caledon. Dié ekovriendelike klipvilla bied slaapplek aan ses gaste, so dis perfek vir ’n gesinswegbreek of ’n groep vriende. ’n Hoogtepunt is beslis die plonspoel bedags en die houtvuurwarmbad snags. Julle kan vir ure daar kuier en die uitsig oor die dam en die plaas aanskou. Die stoep en die oopplan-leefarea is lekker kuierareas en daar is ’n klipkaggel in die sitkamer vir koeler aande. 


Camissa Cottage, Stellenbosch

’n Wegbreek in die Wynlande is altyd ’n goeie idee en hierdie pragtige houtkothuis in Stellenbosch se berge lyk soos iets uit ’n droom! Die kothuis is langs ’n dam waarin die skouspelagtige berg reflekteer en jy kan heeldag na dié uitsig vanaf die hangstoele op die dek staar. Die houtvuurwarmbad in die tuin is nog ’n plek vanwaar jy die natuurskoon kan bewonder. Die moderne kothuis het drie smaakvol versierde slaapkamers met slaapplek vir ses gaste en ’n oopplan-leefarea met ’n kaggel.


De Hoop Victorian Farm House and Cottage, Greyton

As jy nog nie in Greyton was nie, is dit hoogtyd dat jy dié bekoorlike Overbergse dorpie besoek! De Hoop Victorian Farm House and Cottage bied ’n Victoriaanse plaashuis met slaapplek vir tien gaste en ’n kothuis met slaapplek vir vier gaste naby die middedorp. Albei eenhede is pragtig ingerig en het hul eie houtvuurwarmbad. Hout is op versoek beskikbaar. Braaigeriewe is op die stoep beskikbaar, so julle kan alte lekker buite kuier en die vars lug inasem.


Opstal Stay, Rawsonville

In die skilderagtige Slanghoekvallei wag daar ’n skat op jou! Opstal Stay bied moderne selfsorg-eenhede van verskillende groottes op ’n wynplaas omring deur fynbos en berge. Die eenhede is luuks ingerig en die klein detail skep ’n huislike atmosfeer. Elke eenheid het ’n kaggel, braai-area en natuurlik ’n houtvuurwarmbad met ’n uitsig op die ikoniese Bolandse berge. Hout word voorsien. Dié wynplaas is ook die tuiste van ’n restaurant wat heerlike pizza, wyn en ander maaltye bedien.


Goedvertrou Guest Farm, Stanford

Tussen Gansbaai en Stanford lê daar ’n ou Kaap-Hollandse huis op ’n melkplaas tussen fynbosberge. Dié grasdakhuis met slaapplek vir ses gaste bied ’n rustige plaaswegbreek aan ’n gesin of vriendegroep. Julle kan in die houtvuurwarmbad ontspan en die uitsig oor die veld geniet of in die plaasdam afkoel. Sonsondergang-uitstappies, selfry-toere en besoeke aan die melkery is teen ’n ekstra koste op die perseel beskikbaar.


So kry solank jou baaibroek en swemhanddoek gereed sodat jy onmiddellik ná die inperking een van hierdie fantastiese bestemmings kan besoek!

Hooffoto: Opstal Stay (LekkeSlaap)