Is jy dalk lus vir ’n avontuur naby die huis? Dan is dit nóú jou kans, want LekkeSlaap het gaan ondersoek instel en ’n rits bestemmings naby Gauteng gaan soek waar jy ’n behoorlike naweek van jou bergfiets-uitstappies kan maak. So, stof jou baaisiekel af, laai hom in die kattebak en kom trap saam met ons.

Die eerste bestemming is Newcastle in die Noordelike Drakensberge, net meer as 3 uur se ry vanuit Gauteng, en dié plek sal jou sommer gou laat vergeet van die stad se gejaag.

Ligging: Vulintaba Country Estate MTB Trail, Newcastle
Roetes: Groenroete (14 km), Blouroete (17 km) en die Swartroete (24 km).
Moeilikheidsgraad: Intermediêr tot moeilik.
Terrein: Grasvelde, rotsagtige Drakensberge, enkelspoor.
Uitsigte: Drakensberge, groen heuwels, waterval.
Blyplek: Ons top-keuse vir verblyf is die Vulintaba Country Hotel waar jy kunsvlieghengel, baarshengel en voëlkyk kan geniet as jou bene ’n bietjie moeg getrap is. Boonop spog dié wegbreekplek ook met ’n pragtige gholfbaan met 9 putjies!

Hiér is nog ’n paar van ons top-keuses vir verblyf 25 km van die Vulintaba Country Estate MTB Trail af:

De Witte Loft | Avalon Guest Manor | Tramonto Boutique Hotel

Bojanala is sowat 2 uur buite Gauteng in die hartjie van die Magaliesberge geleë. Dié streek is ’n bergfietsmekka en die perfekte wegbreekplek vir natuurliefhebbers. Daar is baie besienswaardighede soos die Buffelspoortdam, voetslaanpaaie en wildkyk in die omgewing.

Ligging: Mamagalie Mountain Lodge, Mooinooi, Bojanala
Roetes: Roetes op die plaas is ongeveer 8 km lank. Daar is verskeie ander roetes (nie op die plaas nie) wat gewoonlik vir die FNB Magalies Monster MTB Classic gebruik word, en dit is oop vir alle gaste.
Moeilikheidsgraad: Intermediêr tot moeilik.
Terrein: Rotsagtig, tegniese uitdagings.
Uitsigte: Magaliesberge, Buffelspoortvallei, bos.
Doendinge: Daar is baie doendinge op die plaas en die wandelpaaie is nogal gewild. Maak jouself reg vir ’n avontuurlustige naweek in die Magaliesberge.
Blyplek: Mamagalie Lodge is die perfekte blyplek as jy die roetes op die plaas wil aanpak en lus is vir ’n vinnige naweekwegbreek uit Gauteng. Hiér kan gaste privaatheid in die natuur verwag. Daar is 6 eenhede om van te kies en elkeen het ’n ander verblyfstyl. Een van die verblyf-opsies is die pragtige Tranquility Lodge tussen die vye- en moepelbome waar gaste uitsigte oor die Buffelspoortdam kan geniet.

LekkeSlaap bied baie ander verblyf-opsies minder as 65 km van Mamagalie Mountain Lodge af:

Thirsty Falls Guest Farm | Rustenberg Hills | Nyala Inn Guest Farm

Clarens is sowat 3 uur buite Gauteng in die Oos-Vrystaat geleë en is ideaal vir ’n vinnige wegbreek. Boonop is daar talle bergfietsroetes om van te kies. Met die natuurskoon van Clarens en die Malutiberge kan die streek se roetes nie anders as om asemrowend te wees nie.

Ligging: Bokpoort Cowboy Ranch, Clarens
Roetes: Tegniese roete (12 km), A-loop (10 km), B-loop (14 km), C-loop (18 km) en die D-loop (30 km).
Moeilikheidsgraad: Moeilik.
Terrein: Rotsagtig, polgras, enkelspoor.
Uitsigte: Malutiberge, wild, sneeu in die winter.
Doendinge: Wanneer jy nie besig is om fiets te ry nie, stel ons voor jy pak ’n paar 4×4-roetes aan, vang vis in die damme en stroompies en geniet die interessante dorpies, eetplekke en winkels.
Blyplek: Ons top-keuse vir verblyf in Clarens is Golden View Luxury Self Catering. Verblyf word aangebied in ’n huis, kothuis en ateljeewoonstel. Dit is minder as 10 km van Bokpoort Plaas af en al die eenhede bied asemrowende uitsigte op die berge. Dit is sentraal geleë, so al die lekker doendinge in Clarens is stapafstand van die eenhede af.

Clarens is ’n baie gewilde vakansiebestemming en met sulke puik verblyf-opsies is dit maklik om te sien waarom dié dorp so ’n trekpleister is:

Arundel Studios | Lola’s Luxury Self-Catering Accommodation | Thaba Lapeng Mountain Escape

Vir diegene wat ’n bietjie verder wil reis, is daar verskeie bergfietsroetes in Mpumalanga. Mankele Mountain Biking in Witrivier is sowat 400 km van Gauteng af.

Ligging: Mankele Mountain Biking, Witrivier
Roetes: Daar is 7 verskillende bergfietsroetes en hulle afstande wissel van 1,8 km tot sowat 55 km. Daar is verskeie roetes en terreinopsies vir die hele gesin.
Moeilikheidsgraad: Gematig tot baie tegnies.
Terrein: Subtropiese woude, grasvelde, bergagtig, heuwelagtige pad, bruggies en hindernisse.
Uitsigte: Sudwalagrotte, Houtboslooprivier.
Doendinge: Doen jouself ’n guns en verken die omgewing. Daar is fantastiese fotogeleenthede by Blyderivierspoort, Drie Rondawels, God’s Window, Sabierivier en die Panoramaroete, so neem jou kamera saam.
Blyplek: As jy die roetes by Mankele Mountain Biking aanpak, is Oliver’s Restaurant and Lodge nét die plek vir jou! Dit is op die White River Country Estate in Witrivier, ongeveer 55 km van die Mankele Bergfietspark af, geleë. Dié lodge het ’n lekker swembad en spa vir ’n bietjie bederf. Wanneer jy nie fietsry nie, kan jy gholf speel by die kampioenskapgholfbaan of gebruik maak van die tennis- en muurbalbane.

LekkeSlaap bied verskeie ander verblyf-opsies 50 km vanaf Mankele Mountain Biking:

Sophia’s Cottage | Stille Woning Boutique Hotel | Hannah’s Log Cabins

As die magiese atmosfeer van Magoebaskloof in Limpopo jou naam roep, dan is Magoebaskloof Adventures ’n puik opsie.

Ligging: Magoebaskloof Adventures, Magoebaskloof
Roetes: Tegniese roete (3 km) en sirkelroete (10 km). Fietsryers het permitte nodig vir die bergfietsroetes in Magoebaskloof wat by Cheerio Gardens, Cheerio Trout Lodge, Sequoia, Bramasole en die Magoebaskloof Hotel gekoop kan word. Die permitte sal jou R20 per dag beloop en kinders onder 12 jaar ry gratis.
Moeilikheidsgraad: Moeilik.
Terrein: Bebos, rivierkruisings. In dié tipe terrein is dit ’n goeie idee om eerder nie alleen fiets te ry nie en in afgebakende areas te bly.
Uitsigte: Letaba-kloof, watervalle, woude en grasvelde.
Doendinge: As jy nie meer wil trap nie, is daar baie ander doendinge wat die bloed ’n bietjie vinniger sal laat pomp. Dit sluit Magoebaskloof Canopy Tours, abseil, vierwielmotorfietsry, verfbal, muurklim en vele meer in.
Blyplek: The Stables and Loft @ Glenogle Farm is ’n pragtige blyplek as jy in die Magoebaskloof-omgewing fietsry. Hier kan jy kies tussen 2 selfsorghuise tussen die stalle en weikamp op Glenogle Plaas in Magoebaskloof. Die plaas is ongeveer 30 km van Magoebaskloof Adventures af en as jy klaar getrap is vir die dag kan jy tussen die denneboom-plantasies ontspan en visvang by die dam.

Hiér is nog ’n paar top-keuses vir verblyf minder as 30 km van Magoebaskloof Adventures af:

Bramasole | Ferny Farm Gastehuis & Kothuis | Turaco Farm Cottage

Voor jy té vinnig in die motor spring ─ hier is ’n nuttige onthoulysie vir jou bergfietsnaweek: 

  • Fiets
  • Reparasiestel
  • Waterbottels
  • Fietsryklere
  • Fietsryskoene/tekkies
  • Sokkies
  • Aksiekamera
  • Valhelm
  • ICE-bandjie
  • Warm klere
  • Sonskerm
  • Sonbril

Hooffoto: Voorsien deur Mankele Mountain Biking