Van fynbos, die wêreld se mees diverse blommeryk, tot Namakwaland se knalhelder blomkombers, en van suikerbekkies wat rondom die aalwyn se vlamblomme tango tot die onopvallende vygie wat skielik, ná genoeg reën, vol satynagtige neonblommetjies ontplof ─ Suid-Afrika het baie om op trots te wees as dit by ons blommeprag kom!

So, sit jou blombrille aan, want hier is LekkeSlaap se beginnerlysie met pragtige, interessante spesies waarvoor jy tydens jou volgende reis op die uitkyk moet wees!

_______________________________

Bergbruidjie

Wetenskaplike naam: Serruria florida
Ook bekend as die trots van Franschhoek en “blushing bride”

Foto: Wikimedia Commons

Hierdie lid van die protea-familie is ’n baie gewilde troublom. Sy volksnaam kom van die ou gebruik dat ’n jong heer vir ’n dame só ’n blom sou gee om te vra of sy wil trou, of dat hy ’n bergbruidjie in sy lapel sou dra wanneer hy haar dié groot vraag vra. Hoe donkerder (pienker) die blom, hoe dringender was sy liefde blykbaar, wat onskuldige jong dames natuurlik sou laat bloos ─ vandaar die Engelse blushing bride

Miere dra dié blom se saadjies na hulle neste waar dit vir twee jaar moet lê voor dit reg is om deur vuur tot ontkieming oor te skakel, maar té gereelde brande woes ondergrondse saadbanke en mierkolonies uit voordat die saadjies gereed is om te ontkiem. Met die gans té gereelde brande in die Wes-Kaap is die bruidjie dus baie bedreig. Gelukkig, as gewilde ruikerblom, word bergbruidjies vir die mark verbou, maar as jy ’n bos in die natuur sien, kan jy maar weet jy is baie gelukkig ─ en dat dit miskien tyd is om jou geliefde te vra om te trou …

Hoe ken jy hom uit? Bergbruidjies groei tot 1,5 meter hoog en het naaldagtige blare al langs hul stamme met een tot agt blomme aan die bopunt. Die blomme kom in skakerings van wit en pienk voor en daar is ’n wollerige klossie in die middel van elke blom. 
Bewaringstatus? Kritiek bedreig
Wanneer blom hy? Julie tot Oktober
Waar? Aan Franschhoek se kant van die Hottentots-Holland Natuurreservaat, andersins teen berghellings in sandsteenagtige grond soos op Tafelberg.

________________________

Impalalelie

Wetenskaplike naam: Adenium multiflorum
Ook bekend as die woestynroos, koedoelelie of “sabi star”

Foto: Wikimedia Commons

Dié pienkrandjie-blom is ’n fees vir die oog wanneer dit in die wintermaande die andersins vaal Laeveld-landskap verfraai. Dit is ook in heelparty van die Krugerwildtuin se kampe geplant waar dit die terrein so ’n bietjie opkikker en ’n soet geur vrystel. 

Dié lelie-agtige blom groei in ’n trosvorm aan die punte van sy sukkulente-bossie of -boompie wat tot drie meter hoog kan raak. Die struik herinner aan ’n klein kremetartboom en die giftige melksap wat ’n mens daaruit kan tap word saam met ander plantsappe gemeng en as gif op pylpunte gebruik of as ’n dwelmmiddel om visse bewusteloos te maak.  

Hoe ken jy hom uit? Die boompie se stam is blinkgrys tot bruin en stel ’n waterige melksap vry wanneer dit gekneus word. Die struik se blare is blinkgroen, sowat tien sentimeter lank en verskyn en verdwyn aan die punte van die stingels voordat die blomme begin bot. Die plant kan die maklikste aan sy lelie-agtige wit blomme met helder pienk of karmynrooi randjies uitgeken word. 
Bewaringstatus? Omdat dit in Suid-Afrika meestal in die Krugerwildtuin groei, is dit gelukkig nie hier bedreig nie, maar wel in ander dele van Afrika waar dit vir medisinale doeleindes oorgebruik word en dikwels deur bobbejane ontwortel word.
Wanneer blom hy? Mei tot September
Waar? Die plant kom in groot dele van Sentraal- en Oos-Afrika voor. In Suid-Afrika kom dit in die Laeveld van Limpopo, Mpumalanga en selfs in die noordelike dele van KwaZulu-Natal voor.

_______________________

Bergaalwyn

Wetenskaplike naam: Aloe Ferox
Ook bekend as bitteraalwyn

Foto: Pabala Private Nature Reserve

Die laaste keer dat iemand wat weet getel het, was daar net so onder die seshonderd aalwynspesies en -hibriede reg oor die wêreld, waarvan sowat 155 spesies in Suid-Afrika voorkom. Van al ons variëteite is die bergaalwyn ons troefkaart omdat dit wyd vir sy medisinale, beskermende en genesende eienskappe aangewend word. Jy kan sommer baie by Alcare, die Aloe Ferox-winkel buite Albertinia, van die bergaalwyn se aanwendings leer, maar weet maar net dat hierdie aalwyn al sedert die 16de eeu v.C. gebruik is om brandwonde, beserings en maagkwale te behandel en om die vel teen die elemente te beskerm.

Bergaalwyne kom verspreid oor Suid-Afrika voor, maar is veral in die Oos-Kaap opvallend waar sy vlamagtige trosse rooi-oranje blomme in die wintertyd die oog vang. Omdat dit ’n vetplant is, is die aalwyn uitstekend by droogtetoestande aangepas en kan dit maklik van die vlesige blare voortgeplant word deur ’n uitgedroogte blaar in die grond te steek. Dit beteken ook dat die gereelde vertrapping van dié plante deur olifante en ander herbivore eintlik tot die plant se voortbestaan bydra omdat die vertrapte blare nuwe plante kan vorm.

Hoe ken jy hom uit? Dit is ’n boomagtige aalwynspesie wat tot drie meter hoog op ’n enkelstam uittroon. Van die middel tot aan die stam se bopunt is daar ’n roset bootvormige, vlesige blare met tandjies aan die rante en in die middel ’n vertakte blomstam met klein rooi-oranje pypievormige blomme wat in groot trosse saam gegroepeer is. 
Bewaringstatus? Nie bedreig nie
Wanneer blom hy? Wintermaande
Waar? Aalwyne kom wyd oor Suid-Afrika voor, maar veral in die Oos-Kaap se Cacadu-distrik en in die Wes-Kaap. Dit hou daarvan om op klipperige heuwels en in vlaktes te groei, veral in renosterveld.

_______________________

Vygies

Wetenskaplike naam: Mesembryanthemums, maar ander lede van die Aizoaceae-familie word ook soms vygies genoem.
Daar is verskeie volksname vir die individuele spesies. Vygie is ’n baie breë, algemene benaming.

Foto: Potjiesrivier Selfsorg Akkommodasie

Wanneer die heerlike lente sy opwagting maak, maak duisende vrolike vygieblomgesiggies al langs die kus tot in die dorre Karoo en noordwaarts tot in Namakwaland ook hul verskyning! Hierdie vetplantjies kom in skynbaar ontelbare vleesige vorms voor: van die blokkiesblare van die corpuscularia lehmannii, of die plat of silindriese blaartjies van vygie-grondbedekkers, tot die piepklein blaarboudjies van die lithops met ’n blommetjie wat tussen die blaarknoppies te voorskyn kom. Al is die verskeidenheid so groot, kan jy maar weet, as jy ’n vygieblaar tussen jou duim en wysvinger knak, is die binnekant vol waterige sap wat die plantjie in staat stel om in droë toestande te oorleef.

Die ander oorhoofse kenmerk is die vygie se neonkleurige blommetjies wat ’n satynagtige glans het en saam met die son oop- en toemaak, maar vygies is baie slim en sal hulle blomtyd oorslaan as dit nie genoeg gereën het nie. Die naam “vygie” verwys letterlik na die vy-vormige vrugkapsule agter die blom en sommige vygies, soos die suurvygie, se vrugkapsule is eetbaar en kan tot ’n suur konfyt verwerk word of as garnering in gin en tonic gebruik word.

Hoe ken jy hom uit? Verskillende vygies word aan verskillende eienskappe uitgeken. Oorhoofse eienskappe sluit vlesige blaartjies met ’n waterige sap aan die binnekant en helder, satynagtige lenteblomme van verskillende groottes in. Die blom kom in allerhande kleure, van wit tot neonpienk, geel, oranje, pers en rooi voor. 
Bewaringstatus? Dit hang van die tipe vygie af.
Wanneer blom hy? Meestal tussen Augustus en Oktober
Waar? Langs die Wes-Kaap en Noord-Kaap se kus, dwarsdeur die Karoo, veral in die Tankwa-Karoo, en in Namakwaland.

__________________________

Kandelaarblom

Wetenskaplike naam: Brunsvigia 
Ook bekend as die koningskandelaarlelie, seeroogblom, lantanter, Maartblom, marsblom, perdespookbossie, rolbossie, en tanteletant 

Foto: Wikimedia Commons

Maartmaand, wanneer daar min ander kleurvolle plante ná die lang somer te bespeur is, sal die kandelaarblom se ondergrondse bolle met ’n hele jaar se opgeboude krag ewe skielik ’n vlesige stam die lug instoot en kort daarna ontpop die stam se bopunt in ’n groot, kandelaaragtige sfeer van twintig tot tagtig lelieblomme in skakerings van pienk en rooi. 

Wanneer die blomme verdwyn, los dit saadkapsules agter. Die droë, sferiese geraamte waaraan die blomme vas was, breek naderhand af en rol oor die vlaktes weg ─ hierdie vreemde rollende geraamte wat saadjies spat, kan ’n perd die skrik op die lyf jaag en vandaar die naam perdespookbossie. Rondom Mei vorm die plant blare om genoeg kos op te bou vir die volgende jaar se blommeskouspel en teen Oktober is dit net die bol wat onder die grond wag tot die somer verby is. 

Die kandelaarblom het ’n magdom bygelowe en gebruike aan gekoppel. Een so ’n tradisionele gebruik is dat die plant se bol in afkooksels gebruik word om die akkuraatheid van plaaslike waarsêers se dolosse te verbeter.

Hoe ken jy hom uit? In Maart is die kandelaarblom maklik uit te ken aan sy sferiese blomkop vol pienk, wit of rooi lelies wat op ’n enkelstam uitstaan. Die blomkop kan tot sestig sentimeter breed wees. Wanneer die blomme wegvrek kan hy aan sy sferiese saadkop uitgeken word en ná die saadkop afbreek, sal jy hom moontlik aan sy ses groot, tongagtige lelieblare wat grondlangs groei, kan uitken.
Bewaringstatus? Bedreig deur menslike uitbreiding in sekere groeistreke.
Wanneer blom hy? Februarie tot Maart
Waar? In sanderige, laagliggende kusgebiede van Namakwaland af tot op die Kaapse Skiereiland en in Plettenbergbaai. Die Noord-Kaap se lelies is gewoonlik pienk en die kuslangse lelies is dikwels rooi.

__________________________

Rooi disa

Wetenskaplike naam: Disa uniflora bergius
Ook bekend as die trots van Tafelberg, die rooi bakkiesblom

Foto: Crassula

Die rooi disa haal ons lysie, nie net omdat dit op die WP-rugbyspan se truie pronk, dit ’n trots Suid-Afrikaanse orgidee is, of omdat dit ’n pragtige rooi blom is nie, maar ook omdat die teenwoordigheid van hierdie blom ’n goeie aanduiding is dat jy jou op ’n besonderse plek bevind! Die rooi disa is daarvoor bekend dat dit op onbereikbare plekke soos aan die rant van kranse of hoog teen watervalle groei ─ ’n perfekte rooi brandwag. Omdat hierdie spesiale blom op sulke onmoontlike plekke groei, is dit ook al sedert 1891 die Bergklub van Suid-Afrika se simbool. So hou altyd jou oog daarvoor oop wanneer jy op kranse of naby watervalle in die Kaap is. 

Só gesog is hierdie blom, dat dit ’n sentrale rol in die legendariese verhaal van die Heks van Hexrivier speel. Die verhaal lui dat ’n beeldskone, hoogmoedige meisie uit ’n gesiene gesin haar rits lastige vryers probeer ontmoedig het deur te sê hulle moet éérs vir haar die vallei se rooi bakkiesblom bring vóór sy sou oorweeg om te trou. Sy’t natuurlik geweet hulle sou van hul trouplanne afsien in die aangesig van só ’n gevaarlike taak. Maar een man vir wie sy wél lief was het die kans gevat, teen die krans opgeklim en na benede getuimel. In haar gevolglike waansin het die jong meisie ook die kans uitgeklim, die blom gepluk en toe by die krans afgeval. Sedertdien, so lui die storie, kan die ongelukkig meisie se geween en gehuil op maanverligte nagte in die Hexriviervallei gehoor word. 

Hoe ken jy hom uit? Die rooi disa is maklik om uit te ken aan sy rooi, geel of pienk bakkiesblom. Die blom bestaan uit drie blomblare: twee rooies wat na onder wys en een pienk blomblaar met rooi are wat na bo wys. Wanneer hy nie blom nie, kan die disa aan sy horisontale groeiwortels en dun blare wat tot 25 sentimeter lank raak uitgeken word. 
Bewaringstatus? Omdat dit net in baie spesifieke toestande groei en slegs die Meneris tulbaghia skoenlapper dit kan bevrug, is dié disa baie bedreig.
Wanneer blom hy? Desember tot Maart
Waar? Die blom groei meestal in sandsteenberge in die suidwestelike Kaapland, wes van Hermanus tot by Tafelberg en noordwaarts tot in die Sederberg. Dit groei naby watervalle, stroompies en teen kranse.

__________________________

Gousblom

Wetenskaplike naam: Gazania krebsiana
Ook bekend die botterblom en rooi gazania

Foto: Rietrylaagte Accommodation and 4×4

Gousblomme met hul geel, oranje, roesoranje en rooi gesiggies is van Namakwaland se bekendste en treffendste blomme. As jy van nader kyk, sal jy sien dat gousblomme as’t ware ’n klompie digte blommetjies rondom die blombodem het. Dit is ’n dus ’n klomp blommetjies binne-in ’n groter blom!

Gousblomme maak nie, soos baie ander veldblomme, saam met die son oop nie. Hulle wag geduldig totdat die temperatuur rondom 20°C is. Wanneer hulle dan oopmaak lok hierdie swierige blom bye, skoenlappers, miere en kewertjies ─ koudbloedige insekte wat in elk geval eers later uitkom ─ wat almal hul kant bring om die plant te bevrug. Wanneer dit kouer raak, sal die gousblom redelik vinnig toemaak, dikwels met ’n kewertjie binne-in. So raak dit ’n onmiddellike insekhotel en wanneer die temperatuur die volgende dag styg en die blomblare weer hul gesiggies na die son draai, is dit uitkloktyd en kan die kewer die volgende gousblom besoek. 

Hoe ken jy hom uit? Hulle is maklik aan hulle rooibruin, oranje, roesoranje of geel blomme wat baie aan magrietjies herinner uitkenbaar. Elke blomblaar het ’n donker strepie waar hy aan die blombodem vas is, soos oogomlyner vir die blom, en daar is ’n kringetjie piepklein blommetjies rondom die blombodem gerangskik. 
Bewaringstatus? Nie bedreig nie
Wanneer blom hy? Laat Augustus tot Januarie met die meeste blomme tussen Oktober en November.
Waar? Namakwaland

__________________________

Kosmos

Wetenskaplike naam: Cosmos bipinnatus
Ook bekend nooientjie-in-die-gras, duiwel-in-die-bos

Foto: Bigstock

Hierdie lid van die Meksikaanse asterfamilie is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar is só met ons geskiedenis verweef dat dit beslis ’n plekkie op ons lys verdien. Die pienk, pers en wit kosmosvelde wat jaarliks rondom Lesotho blom, is die gevolg van voer wat tydens die Suid-Afrikaanse oorlog vanuit Argentinië ingevoer is om die Britse magte se perde te voer. Dié voer het kosmossaadjies in gehad en natuurlik só met die perde se trekpatroon langs in die grond beland en ontkiem.

So het ’n bloedige oorlog die jaarlikse blommetroos van treffende kosmosvelde tot gevolg gehad, presies soos wat die troepe beweeg het. Die velde is ’n moet-sien vir enige fotografie-entoesias en is sommer maklik bereikbaar waar dit plek plek langs die pad groei. So, laai die gesin in die motor en maak ’n road trip van die kosmosstreek.

Hoe ken jy hom uit? Kosmos kan tot 1,2 meter hoog groei. Dit het ’n sagte loof met fyn blaartjies wat al langs die dun, buigbare stamme vertak. Die plant word die maklikste aan sy pienk, pers en wit blomme van tot agt sentimeter in deursnee uitgeken.
Bewaringstatus? Nie bedreig nie
Wanneer blom hy? In Maart en weer in November
Waar? Rondom Lesotho, in die suidwestelike deel van Mpumalanga, die Wieg van die Mensdom en die Oos-Vrystaatse Hooglande.

__________________________

Protea

Wetenskaplike naam: Proteaceae

Foto: Silvermist

’n Suid-Afrikaanse blommelys sal darem nie volledig wees sonder die pragtige protea nie! Suid-Afrika se trots is natuurlik die Koningprotea, ons nasionale blom, wat op Suid-Afrikaanse geboortesertifikate, paspoorte, vyfrandmunte en ons nasionale krieketspan se logo verskyn. 

Proteas word as een van die oudste blomfamilies geag en het sowat driehonderd miljoen jaar gelede ontstaan. Dié blomfamilie het ook sy naam by die vader van taksonomie, die botanis Carl Linnaeus gekry en is ’n verwysing na die Griekse god, Proteus, wat van vorm kon verander, net soos wat proteas in soveel verskillende vorme voorkom. Daar is meer as 1500 spesies waarvan meer as 330 spesies in Suid-Afrika gesien kan word. 

Dit is geen wonder dat hierdie blomfamilie een van die oudstes is nie ─ proteas is uitstekend aangepas om in selfs die mees uitdagende toestande te oorleef. Dormante wortelknoppies oorleef onder die grond wanneer brande alles in sig verwoes en loop later weer uit, dikwels sterker as voor die brand, waar ander tipes proteas deur vuur gestimuleer word om hul sade te versprei. Die protea se uitgebreide wortelsisteem help dit ook om in arm, sanderige grond te oorleef en die blom se harde skutblare beskerm dit teen die elemente. 

Hoe ken jy hom uit? Proteabosse is groot struike met houtagtige stamme en lang blare wat in ’n geronde punt eindig. Die blomme kom in skakerings van wit en ’n diep pienk voor en het skildagtige, diamantvormige skutblare en ’n verskeidenheid koniese saadsamestellings in die middel van die blom. Soms is die sade fluweelagtig en soms is dit wollerig. Daar is ook soms wolletjies aan die skutblare se punte.
Bewaringstatus? Dit hang van die spesie af.
Wanneer blom hy? Laat Augustus tot Januarie. Die meeste blomme verskyn tussen Oktober en November.
Waar? In die Wes-Kaap en gedeeltes van die Oos-Kaap. Daar is een variëteit, die Blyderivierprotea wat in Mpumalanga se Blyderivierpoort voorkom.

__________________________

Die blomvelde wag op jou! So besoek LekkeSlaap.co.za en bespreek sommer nou daardie blommekyk-wegbreek.

Weet jy van nóg pragtige, Suid-Afrikaanse blomme wat op ons lysie hoort? Vertel vir ons meer in die kommentaarboksie hieronder.

Hooffoto: Crassula op LekkeSlaap.co.za