Ai, maar die Karoo is darem maar ’n wonderlike wiegeliedjie van ’n streek. Van sy rooskleurige sonsondergange tot sy uitgestrekte horison en skaam diere ─ dis te verstane dat daar ’n hele produksie kan wees wat hierdie streek se stories, mense en natuurprag besing. En dis presies wat skrywer, Deon Meyer, en liedjieman, Coenie de Villiers, gedoen het vir hulle multimedia-produksie, Karoo Suite, wat vandeesmaand saam met OPTOG! deur Oos-Londen, Port Elizabeth en George toer.

Maar die OPTOG!-bussies reis ook na Tzaneen en Nelspruit saam met Laurika Rauch en na Ermelo, Welkom, Pretoria en Sasolburg saam met die puik toneelstuk, Nêrens, Noord-Kaap, waarin die talentvolle De Klerk Oelofse, Albert Pretorius en Geon Nel kragte saamspan. So, as jy ’n voorliefde vir musikale of dramatiese vermaak het, rol gerus af en bespreek jou volgende vertoning en sommer ook jou verblyf. 

Indien jy egter ’n Karoo-kind ter harte is, waarom nie hierdie streek met sy gasvrye mense, lekkerste lamstjoppies en afgeleë verblyfopsies vir ’n slag besoek nie? Lees dan ook Deon Meyer se antwoorde op ’n handjievol van ons vrae oor sy en Coenie de Villiers se ode aan die Karoo, vind uit wat hierdie wêreldklasskrywer tans lees en waar in die grote Karoo sy hart begrawe lê.

Karoo-prag by Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse

Ons vrae aan Deon Meyer

LS: Jy’s miskien bekend as een van die wêreld se top-spanningsverhaalskrywers, maar vir Karoo Suite skryf jy lirieke of teks om die legendariese Coenie de Villiers se musiek te vergesel. Dis iets héél anders! Hoe was hierdie liedjieskryf-ervaring vir jou? Het dit daartoe gelei dat jy nou meer lirieke of gedigte wil skryf?

Die aard van Karoo Suite is iewers tussen kortprosa en lirieke met musiek — ek en Coenie is nie seker wat om dit te noem nie. Dus is ek steeds geen liedjieskrywer nie, maar ek het die ervaring baie geniet. Om enigiets met die legendariese Coenie te doen, is ’n avontuur. En intimiderend, natuurlik.

LS: Aangesien die Karoo die grootste streek in Suid-Afrika is, is dit miskien ’n moeilike vraag, maar wat is jou gunsteling-Karoodorp?

Dit is ’n maklike vraag: Loxton.

Jakhalsdans, 'n drieslaapkamerhuis in Loxton het eens aan Deon Meyer behoort.
Jakhalsdans, ‘n drieslaapkamerhuis in Loxton het eens aan Deon Meyer behoort.

LS: Die somervakansie is om die draai en ons is seker ons lesers wil weet, buiten jou eie jongste spanningsverhaal, Prooi (2018), wat op hulle leeslysie hoort. Watter boek lê tans op jou bedkassie?

Daar is ’n horde boeke op my bedkassie — Michael Connelly se Dark Sacred Night, Jarred Diamond se Upheaval, The Diary of a Bookseller van Shaun Bythell, om net enkeles te noem …

LS: Het jy ’n spesifieke plek waar jy jou boeke skryf? As jy het, waar is dit?

Ek het. In my kantoor, by die huis in Stellenbosch.

LS: Het jy die lirieke vir Karoo Suite op dieselfde plek geskryf? Of het die proses ’n bietjie anders gewerk?

Ek het maar geskryf waar ek kon. By die huis in Stellenbosch, op Loxton in die Karoo, in my kop wanneer ons reis …

LS: Jy neem die pragtigste foto’s waarvan heelparty as beeldmateriaal in Karoo Suite gebruik word. Dit is ook jou eie foto wat op Prooi se voorblad pronk. Wat is jou topwenk vir amateurfotograwe wat die prag van die Karoo-landskap wil vasvang?

Laatmiddag se goue uur is meestal die beste tyd vir Karoo-foto’s. En wag tot daar wolke in die lug is!

LS: In ’n onderhoud oor Karoo Suite vir KykNet sê jy: “Jy het die liefde vir die Karoo of jy het dit nie.” Vir diegene wat nié die Karoo kan waardeer nie, waar in ons land sou jy hulle stuur vir ’n lekker wegbreek?

Daar is so baie lieflike plekke. Die Tuinroete, die Sederberge, die KwaZulu-Suidkus, die Laeveld. Die lys is eindeloos.

LS: Wat is tot dusver die gehoor en julle aanhangers se reaksie op Karoo Suite?

Ons is bevoorreg om tot nou toe baie positiewe reaksie van gehore te ontvang.

LS: Voltooi asb. die sin: Dit is die lekke’ste lekke om …

… saam met my vrou, Marianne, iewers in die natuur met ons bergfietse te ry.

'n Karootoneel by Snyderskloof Karoo Cottage naby Matjiesfontein.

Daar het jy dit nou. Bespreek sommer vandag nog jou kaartjie vir Karoo Suite en daarmee saam ’n wegbreek na ons land se grootste streek, die Karoo, vir ’n volmaakte ruskans.  

Hierdie maand se program

Laurika Rauch | 15 Oktober | Tzaneen | Bespreek hiér

Coach House Hotel and Spa

Karoo Suite | 23 Oktober | Oos-Londen | Bespreek hiér

St Andrews Manor

Aristocats Gastehuis

Karoo Suite | 24 Oktober | Port Elizabeth | Bespreek hiér

Karoo Suite | 25 Oktober | George | Bespreek hiér

Vierkleurhof B&B

Nêrens, Noord-Kaap | 25 Oktober | Sasolburg | Bespreek hiér

9 on Kromellenboog Guesthouse

Nêrens, Noord-Kaap | 27 Oktober | Pretoria | Bespreek hiér

LilyRose Guesthouse

Alpine Attitude Boutique Hotel

Hou ons LekkeSlaap-blogblad dop vir ons volgende OPTOG!-onderhoud.

Hooffoto: Verskaf
Alle ander foto’s: LekkeSlaap