Dis net sand wat spat en ’n stert wat swaai,
want Wagter hardloop na hartelus.
Hy sny ’n lyn reguit na die baai.
O, dis lekke vir ’n hond aan die Weskus!

Sien jy altyd op na die hartseer afskeid wanneer jy met vakansie gaan en jou hondekinders by die huis moet los? Dis glad nie nodig nie! LekkeSlaap het 10 lekker, troeteldiervriendelike blyplekke langs die Weskus uitgesnuffel waar jou vierpoot-kroos ook welkom is.  

West Coast Luxury Tents

Troeteldiervriendelike plekke aan die Weskus

Op ’n privaat Weskusplaas agter ’n sandduin net ’n entjie vanaf die see, skuil glanskampverblyf vir diegene wat op soek is na ’n unieke en naby-na-natuur-ervaring vir jou en jou troeteldier! Elke tent het ’n privaat braai-area waar julle saans om die vuur kan kuier en daar is ook eindelose strande vir jou en Brakanjan se plesier.

Troeteldiere is teen ’n ekstra koste welkom indien dit vooraf gereël word.

Waar: Tussen Elandsbaai en Dwarskersbos

Verblyf: Drie luukse en suite-tente wat elkeen slaapplek vir twee tot vier gaste. het

Onthou: Daar is ’n grondpad wat na die tente lei en met ’n 4×4-voertuig bereik kanword. Daar is ook ’n 400 m lange privaat landingstrook op die plaas waar klein vliegtuie kan land indien dit vooraf gereël word.

Buffalo Drift – Captains Cabin

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Is jy op soek na ’n see-wegbreek vir ’n groot, gesellige groep? Dan is Buffalo Drift – Captains Cabin die een wat jou naam roep! Met slaapplek vir 26 gaste en toegang tot ’n privaat strand, is dié rustieke selfsorghuis die ideale plek om te beland. Nooi sommer die hele familie en laai ook vir Ore in. Só ’n wegbreek is mos vir jóú beskore!

Troeteldiere word teen R50 per nag toegelaat, indien dit vooraf gereël word.

Waar: Yzerfontein

Verblyf: Selfsorghuis met slaapplek vir 26 gaste in sewe slaapkamers.

Hocus Pocus Cottage

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Paternoster se afgewitte vissershuisies langs die kus lyk darem al te fraai! Hocus Pocus Cottage is net één van hulle en die see is net om die draai. Dié semi-losstaande selfsorgkothuis is luuks ingerig en die balkon is die ideale plek vanwaar jy die pragtige uitsig kan geniet. Daar is slaapplek vir vier gaste, so bring die gesin – en Vlekkie bly verniet!

Goedgemanierde, gesosialiseerde troeteldiere is welkom indien dit vooraf met die eienaar gereël word. Bring asseblief jou hond se bedjie, beddegoed en kosbakkies saam en onthou om te alle tye toesig oor Vlekkie te hou, sodat hy nie op die meubels klim of hare in die huis mors nie.

Waar: Paternoster

Verblyf: Selfsorgkothuis met slaapplek vir vier gaste in twee slaapkamers.

Swept Away Guesthouse

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Gooi die venster oop en laat die vars seelug in. Swept Away Guesthouse in Yzerfontein is die ideale plek om jou kragte te herwin! Van selfsorg-eenhede tot romantiese gastekamers vir twee, dié gastehuis bied iets vir elkeen én ’n fantastiese uitsig oor die see. Daar is ook slaapplek vir jou geliefde hondekind, so kom deel jou vakansielus met jou stertswaai-hart-se-punt.   

Goedgemanierde, gesosialiseerde troeteldiere is teen ’n ekstra koste van R150 in kontant welkom.  

Waar: Yzerfontein

Verblyf: Vier gastekamers met slaapplek vir twee en twee selfsorg-eenhede met slaapplek vir twee.

Onthou: Van die eenhede word met trappe bereik.

Sugar Shack

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Kan jy die vars seebries ruik? Dan is dit mos vakansietyd! Kom span uit in die hangmat en gooi ’n lekker vars snoek oor die kole! Sugar Shack is nét die plek om weer ’n lus vir die lewe te ontdek. Klink dit perfek? Laai dan vir Lucky in die bakkie en pak af Paternoster toe!

Troeteldiere is welkom indien dit vooraf met die eienaar gereël word.

Waar: Paternoster

Verblyf: Selfsorghuis met slaapplek vir ses gaste in drie slaapkamers.

Gonana Guesthouse

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Gonana Guesthouse in die gewilde vissersdorpie, Paternoster, verwelkom beide twee- en viervoetige gaste met ope arms. Hierdie bekoorlike gastehuis op Bekbaaistrand spog met ’n onbelemmerde uitsig oor die see. Die rustige omgewing en maklike toegang tot Bekbaai se strande waarborg ’n stertswaaiende lekker tyd!

Die Aloe and Acacia House is twee selfsorghuise wat apart van die gastehuis bespreek kan word, maar bied steeds toegang tot sommige van die gastehuis se geriewe, soos die swembad. Dié huise is net 100 meter van die gastehuis af en ’n entjie se stap vanaf die strand.

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Troeteldiere is teen ’n addisionele fooi van R200 per troeteldier in die Studio, die Twin Pool-kamer en beide die Acacia- en Aloe-huise welkom.

Waar: Paternoster

Verblyf: Dubbelkamers en tripelkamers met slaapplek vir tussen twee en drie gaste elk. Die Studio en Twin Pool-kamer is alleenstaande eenhede en die Aloe- en Acacia-huise kan apart bespreek word. 

Jacobsbaai Self-catering

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Jy en Wagter kan net ’n 200 meter-stappie na die strand geniet as julle hierdie ruim selfsorgvakansiehuis bespreek. Boonop kan jy en ál jou vriende lekker in die vele binnebraai-areas, in die lapa, of in die swembad met ’n see-uitsig kuier terwyl die sonsondergang sy beste voetjie voorsit. Die groot grasperk sal ook ’n treffer onder die jongspan en troeteldiere wees. 

Die huis is troeteldiervriendelik indien dit vooraf gereël word.

Waar: Jacobsbaai

Verblyf: Slaapplek vir maksimum agt volwassenes en vier kinders in vier slaapkamers. 

114 On Main Beach House

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

114 On Main Beach House is net ’n hanetreetjie van die ongerepte strand af en bied die perfekte balans tussen gerief en rustigheid. Die huis bied ’n gesellige toevlugsoord vir jou en jou vierbeen-metgeselle en die privaat omgewing skep ’n veilige ruimte vir jou troeteldiere om te baljaar. Die huis se uitstekende ligging bied ook maklike toegang tot die strand vir eindelose avonture. 

Troeteldiere word toegelaat, maar gaste moet hulle eie beddegoed saambring, die diere se gemors skoonmaak en hulle nie alleen in die eenheid toesluit nie. 

Waar: Langebaan

Verblyf: Agt selfsorg-gastesuites met een of twee slaapkamers wat vir tussen twee en ses gaste geskik is.

Dwarslêbos

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Kom lê ’n bietjie dwars in hierdie dubbelverdieping-gesinshuis! Hier is ’n balkon met ’n see-uitsig, ’n stoep met ’n binnebraai en ’n tuin wat jou met die perfekte Weskus-wonderland omsingel. Die strand is net 75 meter van die voordeur af en die tuin is ommuur om troeteldiere en kinders veilig te hou. 

Goedgemanierde en opgeleide honde is welkom indien dit vooraf gereël word. 

Waar: Dwarskersbos

Verblyf: Twee slaapkamers met slaapplek vir vier gaste. 

Hartsplek

Troeteldiervriendelike blyplekke aan die Weskus

Hierdie troeteldiervriendelike eenheid in St. Helenabaai spog met kragopwekkers wat die WiFi, beligting en die TV tydens beurtkrag aan die gang hou. Die perseel is volledig omhein wat beteken jou viervoetige metgeselle kan na hartelus speel! Na ’n opwindende dag van visvang, walviskyk, snorkel, duik en gholf in die omgewing, kan julle in die swembad afkoel en die uitsig oor die see en op die Piket- en Sederberge in die verte bewonder. 

Maksimum twee goedgemanierde mediumgrootte-honde is welkom indien dit vooraf gereël word.

Waar: St. Helenabaai

Verblyf:  ’n Privaat selfsorg-eenheid met twee slaapkamers vir vier gaste op die eienaar se perseel. 

* * *

Moeg vir stres en werk? Wel, ná hierdie blog is jy oor die hond se stert! Kies, kliek en bespreek ’n lekker vakansie vir jou en Vlekkie. Aan watter deel van ons mooi kuslyn soek jy en Brakanjan ’n plekkie? Laat weet ons!

Hooffoto: Unsplash
Hierdie blog is oorspronklik deur Adriëtte le Roux geskryf


Lees ook:

Troeteldiervriendelike verblyf naby Johannesburg

Troeteldiervriendelike verblyf vir groepe aan die Wildekus

Troeteldiervriendelike kampplekke in die Wes-Kaap