Sukkel jy alewig om ’n blyplek te kry waar jou vierpotige kind óók welkom is? Het jy al ’n blyplek vir jou en jou troeteldier bespreek wat toe nie heeltemal troeteldiervriendelik was nie? LekkeSlaap weet hoe belangrik ons gaste se troeteldiere vir hulle is en ons help hulle graag om die beste troeteldiervriendelike blyplekke met behulp van ons nuttige filter op te spoor. Dis altyd die beste om die waarheid uit die perd se bek te hoor en die mees beproefde wyse om te weet jou troeteldier sal welkom wees, is om te kyk wat gaste in hul resensies oor ’n plek se troeteldiervriendelikheid sê. Daarom het ons ’n lysie gemaak van ons blyplekke wat die beste troeteldiervriendelike resensies het!

Little Oak Cottage, Greyton

Dié huisie in een van die Overberg se gewildste dorpies se naam en vooraansig skep die indruk dat dit taamlik klein is, maar sodra jy oor die voordeurdrumpel tree besef jy gou hoe ruim dié huis eintlik is. Dis die ideale blyplek vir ’n paartjie wat saam met hulle hond wil wegbreek ─ die erf is heeltemal omhein en die eienaar voorsien selfs hondebeskuitjies vir vierpotige gaste!

Volgens inwoners is Greyton ’n paradys vir honde omdat die dorp omring is deur groot ooptes en natuurreservate met talle roetes en paadjies om te verken, daar ’n rivier is om in te swem én daar baie ander honde is om mee te sosialiseer. Saterdagoggend kan jou woef saam met jou dorp toe stap om die Greyton-markie te besoek voor julle verder die omgewing gaan verken!

Resensie:

Pragtige kothuis – perfekte wegbreekplek en troeteldiervriendelik!

Ons het ’n ongelooflike tyd gehad by Little Oak Cottage. Ons twee Golden Retrievers het hulself vreeslik geniet in die groot tuin. Bonus was dat eiendom omhein is, en daarom kon ons honde tuis los indien ons Greyton wou verken. Absoluut perfekte wegbreekplekkie – veral as jy honde het wat saamkom! Charmane was fantasties en het aan elke moontlike gerief gedink wat ons kon nodig hê.

– Analene E

Perlman House, Sutherland


Perlman House is ’n 140-jaar oue huis met twee kothuise in een van die land se koudste maar tog bekoorlike dorpe, Sutherland. Die huis het nog oorspronklike Oregon-dennehoutvloere en vensterrame. Die dik klipmure hou die huis koel gedurende die somermaande en in die winter kan jy voor een van die kaggels kuier om warm te bly.

Die erf het ’n lekker hoë heining en muur met ’n elektriese hek en volgens die eienaars bring gaste gereeld honde, katte en selfs hasies saam. Hulle vra net dat jy jou eie kosbakke en beddegoed vir die troeteldiere saambring en dat die diere goedgemanierd sal wees.

Resensie:

Lieflik vir troeteldiere!

’n Wonderlike plek met ’n volledig omheinde tuin vir troeteldiere om lekker rond te hardloop. Gemaklike beddens en fantastiese geriewe. Die gasvryheid is topklas en ons het lekker raad gekry oor dinge om te doen en plekke om by te eet in die area.

– Joanne W

Erin Farmhouse, Middelburg

Dié Karooplaas is in Middelburg in die Oos-Kaap geleë en het ’n pragtige uitsig op die Renosterberge. Daar is ’n paar losstaande eenhede met plek vir ’n gesin, plaasdoendinge om die hele kroos besig te hou en selfs ’n restaurant wat smullekker Karoomaaltye bedien. Elke troeteldiervriendelike eenheid het ’n 1,4 meter hoë heining sodat jou hond veilig naby jou kan rondspeel. Die eienaars vra net dat gaste wat honde saambring hulle stil hou  ter wille van ander gaste en dat hulle op leibande bly wanneer gaste met hulle gaan wandel.

Resensie:

Aangenaam verras.

Erin is die eerste dierevriendelike verblyf wat ’n omheinde erfie het waar my honde los kon rondhardloop. Ons almal kon dus heerlik ontspan op die plaas met die nodige geriewe om die hele gesin tevrede te stel. 

– Santonet V

Stay at Emily in Paternoster, Paternoster

Stay at Emily is ’n wit gekalkte Weskushuis in Paternoster wat ideaal is vir ’n gesin of paartjies wat saam aan die Weskus wil ontspan. Elke klein eenheid het ’n ommuurde stoep en die onderste eenheid se houtluik na die tuin toe het ’n deurtjie vir ’n hondjie. Die eienaars is mal oor diere en aangesien hulle weet hoe lekker dit is om saam met jou troeteldiere vakansie te hou, laat hulle met liefde troeteldiere toe. Hulle het onlangs gaste gehad wat twee weke lank saam met hulle honde en katte in die hoofeenheid vakansie gehou het en daar het al selfs ’n Great Dane by hulle kom kuier!

Resensie:

Pragtigste plekkie!

Ek en my man en 2 honde het ons vakansie in Paternoster vreeslik baie geniet. Stay at Emily (downstairs) was perfek vir ons. Alles was pragtig en skoon en netjies. Stay at Emily is toegerus met alles wat mens benodig. Ons het die stoepie met braai-area baie geniet! Stay at Emily is skaars 50 m se stap van ’n pragtige strand af en ons hondekinders kon oral saam met ons gaan, Paternoster is so troeteldier-vriendelik! Dankie aan Amanda vir die hartlike ontvangs en vriendelikheid, alles het bygedra tot ’n heerlike wegbreek-vakansie. Ons kan nie wag om terug te kom en die hele familie saam te bring nie!

– Jessica V

Fleckvieh Guestfarm @ Grootvadersbosch Landgoed, Swellendam

Fleckvieh Guestfarm @ Grootvadersbosch Landgoed bied snoesige selfsorg-eenhede op ’n privaat plaas in die Langeberge se voorheuwels net buite Swellendam. Fleckvieh is perfek as jy op soek is na gerieflike plaasverblyf ver van die stadsgedruis met oorgenoeg plek vir Wagter om na hartelus rond te speel. Die plaas self het ’n heining en verskillende afskortings ─ diere kan dus nie baie ver gaan nie, maar hulle kan steeds saam met jou gaan swem in die dam en stap in die berg. Die eienaars gee nie om as hulle op die banke of beddens slaap nie!

Resensie:

Pure plaas en sielerus.

Ligging van kampterrein is pragtig, op die rant van die groot plaasdam, met kwetterende voëllewe! Staanplekke is gerieflik groot met pragtige grasbedekking. Ons en ons hond is baie tuis laat voel en kon die vryheid van die plaaslewe ten volle geniet. Personeel was uiters vriendelik en behulpsaam. Die plaaslike plaasmelk is heerlik!

– Jakkie D

Van de Poll Huis en Skye High Huis, Dullstroom

Van de Poll Huis en Skye High Huis in Dullstroom is albei selfsorg-eenhede met slaapplek vir agt en tien gaste. Die een eenheid het ’n gesellige groot toegeboude stoep en albei is loopafstand van die winkels en eetplekke af. Boonop is dit naby ’n lekker staproete tot by die Dullstroom-damme waar baie mense ook met hulle diere kan stap.

Dullstroom is oor die algemeen ’n baie dier- en kindervriendelike dorp en volgens Van de Poll Huis se eienaars het die permanente inwoners almal troeteldiere wat perde, katte, honde, voëls en visse insluit! Daarom het hulle besluit om hul verblyf troeteldiervriendelik te maak. Van de Poll Huis en Skye High Huis is langs mekaar en albei het gerieflike groot tuine wat behoorlik omhein is sodat diere veilig op die erf kan rondbeweeg.

Resensie:

Pragtige ou huis ideaal vir ’n goeie rus.

Ons was bitter baie beïndruk met die pragtige huis en al die beskikbare geriewe. Die badkamers was fantasties en die kombuis was baie goed uitgerus. Die ogiesdraad rondom was ideaal sodat ons ons honde kon saamvat en hulle het dit baie geniet.

– Wilco B

’n Lekker warm verblyf in ’n huislike omgewing.

Puik verblyf met al die nodige fasiliteite. Ruim kamers met baie moderne badkamers. Groot bonus is dat die huis dierevriendelik is. Die huis is baie sentraal en is loopafstand van al die winkels en besienswaardighede. Baie dankie aan die eienaar van die huis vir haar vriendelikheid en goeie diens.

– Wessel V

Sabie Star Chalets, Sabie

Sabie Star bied bekoorlike selfsorg- of B&B-verblyf in ’n versteekte vallei aan die oewer van ’n bergstroompie wat deur woude omring word in Sabie. Jy kan die dag luilekker om die swembad deurbring, deur die luisterryke tuin wandel, die voëllewe bewonder of die prentjiemooi staproetes op die plaas aanpak.

Aangesien die verblyf op ’n plaas geleë is, is daar baie spasie vir troeteldiere om rond te hardloop en hulself sommer lekker uit te put. Gaste wat onlangs daar gebly het vertel dat hulle twee Yorkies dit vreeslik baie geniet het en dat die eienaars se vriendelike honde op die perseel dit sommer soveel meer die moeite werd gemaak het. Hulle beveel dit graag vir vriende met troeteldiere aan, so dan behoort jou gesin en hondekind dit nét so baie te geniet!

Resensie:

Op die hande gedra deur die eienaars en die ontbyt is persoonlik voorgesit deur die eienaars en voorbereid. Awesome.

Ek sal die plekkie beslis aanbeveel, met aankoms is ons hartlik verwelkom, die eenheid waar ons gebly het was baie netjies, meer as genoeg hout vir aandvuurtjie. Hulle is ook hondvriendelik wat dit soveel meer die moeite werd maak. Ons het gebruik gemaak van hulle buffet ontbyt en wat ’n fees. Die eienaar het self ons ontbyt voorberei en sy vrou het deurentyd toegesien dat als netjies is en dat die kaggel gereeld nuwe hout kry. Ek sal hulle beslis aanbeveel en ons gaan beslis ook weer daar oorslaap.

– Garth S

Raptor Rise, Tulbagh

Raptor Rise is ’n olyf- en beesplaas van 37 hektaar met verskeie verblyfopsies wat in Tulbagh se Vallei van Oorvloed geleë is. Buiten ’n skouspelagtige ligging in dié vallei bied die plaas vanuit alle uithoeke panoramiese uitsigte op die omliggende bergreekse ─ jy en Wagter kan soggens tot saans heerlik op die stoep sit en die uitsig bewonder. Alhoewel die eenhede nie omhein is nie, is hulle almal lekker privaat sodat jy jou troeteldiere kan saambring, ongeag of hulle met ander troeteldiere oor die weg kom of nie. Die eienaars is baie tegemoetkomend as dit by troeteldiere kom en hulle vra net dat jy hulle vooraf laat weet as jy jou vierpotige vriende gaan saambring.

Resensie:

Rustig en gemaklik.

Ons het ons naweek by Raptor Rise baie geniet. Die klein woonstel was gemaklik en goed ingerig vir my en my man, sowel as ons seuntjie. Ons het ons twee klein hondjies saamgeneem en die eienaars was baie tegemoetkomend. Baie oulike plek in ’n pragtige ligging!

– Elzanne N

Ons Huisie, Elandsbaai

Ons Huisie lê in die vissersdorpie Elandsbaai aan die Kaapse Weskus naby besienswaardighede soos Verlorenvlei, Bird Island Reservaat, Elandsbaai-strand en die Kaapse Weskus Biosfeerreservaat. Dié gesellige kuierhuisie het slaapplek vir ses en ’n toegeboude stoep met ’n braaiplek en glasdeure reg rondom waarvoor honde glo baie lief is omdat hulle terselfdertyd kan sien wat in die huis aangaan, maar ook wat alles in die straat verbykom. Daar is ʼn muur reg rondom die perseel, maar dis plek-plek nie baie hoog nie, so neem dit net in ag as jou hond maklik oor ’n muur spring. Die eienaars vertel dat gaste wat met hul honde reis dit altyd geniet om hulle “hondekinders” saam te bring en dat dit help om hulle vir ’n stappie strand toe te vat:

“Ons eie Retriever hou ons nie op die perseel vas nie. Dus gaan hy graag op sy eie stap as Oubaas en Ounooi nie vinnig genoeg afgaan strand toe nie. Dan vat hy homself vir ʼn swem, en kom dikwels sopnat en vol sand met ʼn groot “hondeglimlag” tuis. Daarmee wil hy net sê: ‘Elandsbaai is net die beste, baie beter as die stad waarin julle my normaalweg laat woon.’”

Resensie:

Ongelooflik lekker gewees! Wens ons kon langer bly.

Ek sal Ons Huisie met graagte aanbeveel. Die week wat ons daar gebly met ons drie Scotty hondekinders was heerlik gewees. Goed toegerus, veilig en vriendelike ontvangs. Ons het geboer op die stoep en meeste van die tyd na die see gesit en kyk. Die glasdeure op die stoep wat oopgemaak kan word gee ’n nog meer wonderlike atmosfeer. Elandsbaai is ’n juweel. Die rustigheid daal neer op ’n mens. Elke dag op die strand gaan stap met die honde.

– Johannes D

Heerlike, rustige plekkie vir ’n lang wegbreek.

Ek en my man het ’n heerlike wegbreek gehad by Ons Huisie. Alhoewel daar nie veel te doen is op die dorp nie is dit perfek vir besige stadsmense om bietjie weg te kom van al die geraas van die stad. Ons het ons 3 honde saamgeneem en Ons Huisie is perfek ingerig vir mense wat saam met hul diere wil vakansie hou. Ons Huisie is ook goed ingerig vir groter groepe mense of paartjies met kinders. Ons sal definitief weer kom!

– Celeste V

Waterval Farm-Stay, Graaff-Reinet

Waterval Farm-Stay buite Graaff-Reinet verwelkom hulle mens- en troeteldiergaste ewe vriendelik! Daar is drie huisies wat 100% geskik is vir troeteldiere. Gryshuisie is ’n hele entjie van die hoofhuis af waar die eienaars met hulle eie honde woon ─ troeteldiere kan na hartelus op Gryshuisie se stoep en groot grasperk speel en hardloop. Herdershuisie is ook baie troeteldiervriendelik en die huisie se groot werf is boonop omhein sodat troeteldiere met die grootste gemak veilig daar kan rondhardloop.

Waterval se éíntlike troeteldier-paradys is egter Paddadam, ’n wegbreekhuis in die veld waar daar geen ander huis, mense of troeteldiere sigbaar óf naby is nie. Daar is wel ’n paar hase, bobbejane en selfs koedoes wat soms tot groot vermaak van die gaste en hulle dierekinders hulle verskyning maak. Al die huisies is op die pad in die rigting van die plaas se staproetes ─ daar is ’n korter pad tot by die waterval waar die diere heerlik in die watergat kan swem, en dan ook ’n langer staproete berg uit wat die diere net soveel as die mense geniet.

Die eienaars sê dis ook nie net honde wat al hier kom kuier het nie ─ katte, papegaaie en krimpvarkies het al saam met gaste hier kom bly!

Resensie:

Dit is ’n lieflike, rustige plaasatmosfeer waar mens weer kan moed en asem skep.

Ons is hartlik ontvang in ’n lieflike omgewing. Die huisie was knus en daar is als wat jy nodig het. Ons het ook na God se venster gestap, wat ’n mooie uitsig is en oral was goeie aanduidings. Ons het troeteldiere saam gehad en hulle was ewe welkom en veilig. Ons sal definitief weer daar gaan kuier.

– Santa R

Reis met Troeteldiere: Wenke en Voordele

Volgens die DogBlog se 2016-opname gaan stap net 26,2% van Suid-Afrikaanse honde-eienaars minstens een keer ’n dag met hulle. Nou ja, dis seker nie so nodig vir die kleiner rasse nie, maar die groter honde moet definitief gereeld oefening inkry! En hoe gemaak as die hondeherberg tjokvol is gedurende vakansies? Honde in sulke herberge kry gewoonlik net die minimum oefening en moet soms hul aktiewe lyfies vir ure aaneen in ’n klein hokkie rustig hou. So, wat is die oplossing dan? Moet ’n mens kies tussen ’n hond of ’n jaarlikse vakansie? Gelukkig nie! Volg dié wenke om jou troeteldiervriendelike reis te vergemaklik:

  • Maak die agtersitplek gemaklik sodat hy/sy jou nie pla nie.
  • Neem jou hond se geaardheid in ag.
  • Onthou ’n ID-bandjie vir jou hond.
  • Pak jou hond se eie beddegoed, kos en speelgoed in.
  • Bad en skrop jou hond voor julle vertrek.
  • Hou teenmiddels vir bosluise en vlooie byderhand.
  • Neem ’n leiband saam.
  • Maak skoon agter jou hond as julle gaan wandel.
  • Vind uit waar die naaste veearts is.
  • Doen jou huiswerk oor troeteldiervriendelike geriewe in die omgewing.

* As jy en Wagter julle weer in Pretoria, Johannesburg of Durban bevind, kliek op die stede se name om ons lysies van troeteldiervriendelike restaurante in dié stede te sien!

Voordele:

  • Jy sal veiliger voel om saam met jou hond te reis.
  • Dis sagter op jou beursie.
  • Jy weet jou hond is in goeie hande.

Kliek hier vir meer!

Sit jou beste voetjie (of pootjie) neer en bespreek een van dié beproefde blyplekke vir jou volgende vakansie saam met jou troeteldier!

Hooffoto: Van de Poll Huis (LekkeSlaap)