Wat is daardie ding wat jou alter ego lankal sou doen, maar jy nog te bang was om te probeer? Daar is altyd iets wat nie in jou gemaksone pas nie, tog dagdroom jy daaroor wanneer die lewe net té eentonig raak …

2019 is die jaar: Skud jou vrese af en roep jou gemaksone vaarwel saam met LekkeSlaap se inhoudspan! Vanjaar gaan ons elkeen ’n persoonlike reis- of avontuur-uitdaging die hoof bied ─ van spokejag tot branderplankry, valskermsweef tot ’n sege op ’n fiets en alles tussenin.

Daar is groot en klein uitdagings om te oorwin, so laat ons begin …

 

Adriëtte le Roux: Jaag nagmerries in die Noord-Kaap

Jare lank stoei ek al met ’n herhalende angsdroom. Ek staan alleen in ’n enorme voorportaal met donkerhout trappe wat teen die mure uitklim en skelrooi muurpapier wat die vertrek soos ’n hart laat klop. Soos die drukking in my kop bou, dink ek beangs: Waar is ek en waar is my mense? Die ligging van dié droom, ’n vertrek wat ek met soveel detail onthou, het my ontwyk tot ’n jaar of wat gelede toe ek op ’n foto van die McGregor Museum in Kimberley se voorportaal afkom en besef dís die plek. 

Nou het ek my ma opgekommandeer om saam met my die Noord-Kaap se vlaktes in te vaar om die rofies op my nagmerries oop te krap. Ek is ’n bietjie huiwerig, nie net oor die nagmerrie nie, maar ook omdat my ma Veelvuldige Sklerose (MS) het en ek nog nooit alleen saam met haar getoer het nie. Sy het egter óók drome van haar kinderdae in die Noord-Kaap wat sy wil gaan spoorsny. Buitendien kan ek nie aan ’n beter reismaat dink nie. As kind het sy die figure in my nagmerries weggejaag en ek is seker dat sy, twintig jaar later, nog net so behendig is met dié tipe beswering.  

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Chrismari (@xmaryv) on

 

Altus Booysen: Per fiets na wie-weet-waar

Verhoogde brandstofpryse het ’n snaakse uitwerking op ’n mens en soms word jy genoodsaak om alternatiewe vervoermiddels te gebruik. Sommige mense gebruik  saamryklubs en ander verkies om trein of selfs taxi te ry. Die feit bly staan, ons is menslike wesens wat gedurig op pad is na ’n bestemming en ongelukkig het die samelewing maniere gevind om geld daaruit te maak. Ek wil 2019 ’n jaar van reis maak. Ek wil nuwe plekke ontdek en die enigste manier om koste-effektief te werk te gaan om hierdie voorneme te vervolmaak is om my fiets af te stof. Nee, eerder ’n fiets in die hande kry en die pad na wie weet waar aan te durf. Ek het ’n reuse-fiets vir myself opgesaal en daarom gaan ek nou ’n bietjie minder skryf en ’n bietjie meer moet oefen. Swellendam lê wyd van Stellenbosch af en ek het nie genoeg verlof om weke te ry nie.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Visu. (@visukkk) on

 

Chanté van Schalkwyk: Koud maar nog nie oud

Dis lekker om ’n huisie by die see te hê, maar aan die Weskus raak jou tone rooi van die koue nog voordat jy die water betree. Hulle sê ’n duikpak bied weerstand, maar ek moes uit ervaring leer “hulle” lei my om die bos. Tog het ek besluit, dis nou genoeg, 2019 is mý jaar. Ná ’n dekade van wil-wil leer, gaan ek dit uiteindelik aanpak ─ ek gaan leer branderplankry. Ek weet my wankelrige balans laat veel te wense oor en sportief is nét ’n byvoeglike naamwoord in my woordeskat, so ek hoop die skare langs die strand is dun gesaai om my verleentheid te aanskou.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Big Bay Surf (@bigbaysurf) on

Daniëlle Terblanche: Gallop in die golwe

Ek is een van min mense wat nog nooit op ’n perd was nie. Ja, ek weet, dis skokkend! Daarom wil ek hierdie jaar vir die eerste keer op ’n perd op die strand gaan ry. Dis ’n immergewilde doending vir plaaslike inwoners en besoekers aan kusdorpe soos Noordhoek, Hermanus, Gansbaai, Jeffreysbaai en die ongerepte Wildekus. Ek is op my gelukkigste op ’n strand of in die water, so hierdie avontuur gaan goed gepaard met my liefde vir die sand en see. Ek is so opgewonde soos ’n dogtertjie wat gestewel en gespoor vir haar eerste perdryles gaan en sien uit daarna om dié mooi prentjie vanuit ’n ander oogpunt te sien!

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by @csillajanocsik on

Gerriline Fouché: Akwafobie by die see

Wanneer dit by nat raak kom, was ek maar nog altyd iemand wat ’n warm bad bo enige ander watermassa verkies. Die blote gedagte aan ’n liggaam agter ’n reusagtige brander of in ’n getypoel wat nie sy bodem verklap nie, stuur ’n koue rilling langs my ruggraat af. Ek en die see het al vantevore kennis gemaak, maar ek dink nie Poseidon sal my herken as hy my nou sien nie ─ tensy my enkels baie uitgestaan het toe ek laas ’n toon in sy tuiste gedruk het. Ek dink dis hoogtyd om myself weer te gaan voorstel en daarom gaan ek in die see swem. Sal ek kop bo water hou? Daar is net een manier om uit te vind!

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Alex Bowley (@lexxylou1) on

Hennely Nel: Kamp op die vlaktes soos in die ou dae

Dit was ’n jaarlikse tradisie dat my familie op Papendorp gaan kamp ─ ’n plekkie aan die Weskus reg langs Strandfontein wat nie juis ’n dorpie genoem kan word nie. Papendorp is piepklein en die woord “kampgeriewe” is heeltemal onbekend hier. Elke Desember, nog voor ek regtig ’n volgroeide mens was, het ek saamgepiekel om lekker op die sandduine rond te rol, in die yskoue see te baljaar en behoorlik te kamp (en soms sonsteek te kry). Met “behoorlik kamp” bedoel ek jy het basies net jou tent, jou braairooster en ’n potjie om te braai of potjiekos te maak om die kampvuur, jou skotteltjie, ’n flits en ’n graaf vir die noodgevalle … Dié tradisie het meer as ’n dekade gelede uitgesterf ─ ons lewe mos darem al in die een-en-twintigste eeu, of hoe?

In 2019 wil ek dié tradisie ’n bietjie herleef. Ek is nou nie juis een wat in die pikdonkernag in die middel van nêrens langs ’n kampvuur wil sit nie, of douvoordag op te staan en vroeg te gaan slaap nie, om nie eens te praat van swem in die yskoue Weskuswater en geen badkamergeriewe nie! Maar dié jaar wil ek myself ’n bietjie uitdaag om Moeder Natuur in haar mees ongerepte vorm te beleef met net my tent, flits, skotteltjie, graaf en gunstelingboek.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Warren Witte (@warren_witte) on

Hestè Nortier: Grille en gill by Hotel Glencairn

Bang, banger, bangste ─ wie hou die langste? Die onbekende is een ding, maar die onverstaanbare is iets heeltemal anders. Soos C.J. Langenhoven self gesê het: “Bedags glo ek nie in spoke nie, maar in die aand is ek ’n bietjie meer oopkop”. Om in beheer te wees verseker (meestal) gemak, begrip en veral veiligheid. Ek poog om ten alle tye in beheer te wees van my omgewing en die situasies waarin ek myself plaas. As kind het ek myself verloor in C.J. Langenhoven se spookstories en die onbekende het my gelyktydig bevrees en opgewonde gemaak. Die donker nag speel truuks met jou verbeelding en hiér by die see is daar mos maar altyd só ’n koel briesie wat jou hare laat rys, of hoe?

Die wanpersepsie dat mens 100 kilometer moet reis om jou gemaksone te verlaat is onwaar en in hierdie geval is dit vir my net oorkant die pad by die Hotel Glencairn. Ek het besluit om iets aan te pak waaroor ek hopelik nie later sal spyt wees nie. Die koue vrou op die trap en haar klein seuntjie wat in dié hotel met sy bal speel het my verbeelding vasgevang en ek gaan ’n nag hiér deurbring om hulle hopelik (nie) te ontmoet. Hie’ gat ek!

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Kill Time Podcast (@killtimepodcast) on

Jana Barnard: Laat die witwyn vloei

Ek het in die laaste jaar dit nogal begin geniet om met die kospotte te woeker en dink voortdurend watter dis ek volgende kan aanpak. In dié deel van die land is seekos altyd op die spyskaart en daar kry ek ook heelwat idees. Ek het al mossels by verskeie eetplekke probeer en ’n mosselpot in ’n witwynroomsous was nog altyd ’n wenner. As dit net nie so duur was nie het ek dit meer gereeld geëet. As ek strand toe gaan en die dermiljoene mossels op die rotse sien, besef ek dat ek dit mos self kan maak! So, my plan is om my ma se Weskus-resepteboek te raadpleeg, die gepaste permit aan te skaf, by die rotse te gaan werskaf om dié skulpdier te ontgin, en dan my sjefhoedjie op te sit. Daar moet net genoeg bykosse wees om die maaltyd substansieel genoeg te maak vir ’n behoorlike samesyn met familie en vriende.  

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Den Anker (@den_anker) on

Jeanne Carstens: Beproef alle dinge, maar behou die goeie

Adrenalien-gedrewe aktiwiteite is alles behalwe my idee van ’n lekker tyd. Dis nie dat ek heeltemal daarteen gekant is nie, dis net nie my eerste keuse vir ’n genotvolle Saterdag nie. Ek sal eerder binne-in die vliegtuig sit op pad Europa toe as om by dit uit te val, en eerder na die mooie berg kyk as om by dit af te sweef. Tog moet ’n mens alles beproef en die goeie behou, korrek? Daar is nou al menige maal vir my gesê dat diegene wat die meerderheid van ons tyd in ’n kantoor deurbring, ’n bietjie buite moet kom en die lewe by die horings moet aanvat. Dus het ek besluit om Grabouw se kant toe te keer en so ’n bietjie (baie hoog) deur die Hottentos-Holland Natuurreservaat saam met Cape Canopy Tour te gaan kerjakker.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Canopy Tours South Africa (@canopytoursa) on

Karli Durr: Sweef soos 'n arend

 

“Liewer bang Jan as dooie Jan,” sê my ma altyd en ek stem volkome saam. Ek skud gewoonlik net my kop as iemand aan ’n rek by ’n brug afspring, die oseaan se roofvisse in ’n hok aandurf of die langpad op ’n ysterperd vat. ’n Krieketwedstryd wat in die laaste boulbeurt beslis word, ’n speurverhaal of ’n rock-konsert is veel eerder geneig om die bloed deur my are te laat bruis. Dinge buite my gemaksone sal nie sommer my emmerskoplysie haal nie, maar ek het helaas besluit 2019 is die jaar waarin ek my vlerke gaan sprei ─ tandem-valskermsweef! Ek hoop Sir Lowryspas weet wat wag, want ek het nie die vaagste benul nie …

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Chelsea Brown (@the.captain.brown) on

 

Lisa Slippers: op 'n drafstap

My longe klap hande vir ’n blaaskans selfs al loop ek net om die blok. Dis daarom vir my ondenkbaar om tien kilometer te draf. Aangesien dié blog ons uit ons gemaksone moet druk, druk ek myself in ’n oefenbroekie en oefen om hopelik ’n tien kilometer-parkrun te kan doen!

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Motivational Running Account (@infinitejoggers) on

Nanje Lourens: Soutspore in Simonstad

Ek onthou die dag soos gister ─ ek was sewe jaar oud, Stilbaai se branders het my onkant betrap en toe ek weer sien stroom sand en soutwater oral uit. Dit was eintlik glad nie so erg nie, maar sewe jaar oue Nanje wou nie gou weer die see in nie. Nou is dit 17 jaar later en ek is nog steeds nie mal oor die diepwaters nie. Al waaraan ek dink is daai brander én al die gediertes daar onder wat my vir aandete wil hê. So, ek kan met sekerheid sê dat enigiets wat die see betref, behalwe die vlak brandertjies, my hart sommer drie keer so vinnig laat klop. Daarom het ek besluit om ’n aktiwiteit in die see aan te pak en gelukkig spog my tuisdorp, Simonstad, met ’n hele paar opwindende wateraktiwiteite, soos kajakvaar, staanroei en waterfietsry. Dieperige see, hier kom ek!

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Surfshack_paddleboard_centre (@surfshacksup) on

Willemien Engelbrecht: Kriewelende Kreature by die akwarium

 

Kyk, ek gaan nou nie myself met ’n diepsee-avontuur opsaal nie ─ ons almal weet dit gaan nie gebeur nie. Selfs kniehoogte in die branders is vir my te veel, om nie eens te praat van as iets dan onder die water aan my been raak nie … So die volgende, beste ding wat ek gaan aandurf is om by die akwarium aan ’n Ocean Experience deel te neem. Nie net om die seeskilpaaie, pylsterte, poenskoppe en reuse-sandkruipers beter te leer ken nie, maar ook om meer te leer en my deel vir die navorsings- en bewaringsprojekte te doen. In 2019 gaan ek myself in ’n duikpak druk (kan julle glo!), ’n duikbril oor my kop glip en hoop die diertjies wil my ontmoet.

 

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Two Oceans Aquarium 🐟Cape Town (@2oceansaquarium) on

 

Wat gaan jy hierdie jaar doen om uit jou boksie te breek? Laat weet ons gerus!

 

Hooffoto: Bigstock