Is jy ’n kranige voetslaner wat ons land se vernaamste staproetes een vir een afmerk? Het jy al Suid-Afrika se hoogste pieke aangedruf, of meer spesifiek, dié wat meer as 2000 meter bo seespieël pronk? LekkeSlaap het 9 bergpieke opgespoor wat jy móét uitklim, en ons kombineer dit graag met ’n versameling bobaas-lêplekke waar moeë stappers die bergstof kan afwas en goed kan uitrus.

Drakensberge

Al die hoogste kruine in Suid-Afrika lê op die groot draak se rug en nêrens anders haal pieke die 3000 meter merk nie. Die hoogste drie is inderwaarheid nie in Suid-Afrika nie, maar in Lesotho en die hoogste piek in Lesotho, Thabana Ntlenyana (3482 meter), is die hoogste in Afrika suid van Kilimanjaro!

Wees gewis: jy moet beslis gewapen wees wanneer jy die Drakensberg-hoogtes aanpak ─ kan jy jou die ysige temperatuur tussen die wolke voorstel? Bring dus lekker dik handskoene en ’n wolmus saam. As jy ’n oorslaaproete aanpak, onthou ook ’n slaapsak wat temperatuur onder 10 grade kan weerstaan.

Hier is enkele beroemde pieke in die Drakensberge wat enige bergklimmer by sy portefeulje moet voeg:

Mafadi-piek

 

A post shared by Angeliz Venter (@angeliz_venter) on

Mafadi-piek (3451 m)  is die hoogste piek in Suid-Afrika, en om daar te kom sal jou ten minste vier dae neem. Jy begin by Injusithi Wildernis, slaap die eerste aand in Centennial Hut en die tweede aand in Upper Injusithi-grot. Die volgende oggend se sonsopkoms by hierdie punt is na bewering iets om te aanskou en sal jou behoorlik inspireer om op die derde dag die laaste stukkie volstoom via Judges-pas na die kruin aan te pak. Op die vierde dag keer julle weer veilig en verlig terug na Injusithi.

Moenie bekommerd wees as jy nie die Drakensberge goed ken nie – daar is pakette wat ervare gidse en professionele bergtente insluit!

Cathkin-piek, Monk’s Cowl en Champagne Castle

Die pragtige Champagne-vallei is ’n gewilde toevlugsoord onder moeë stadsjapies, en die voetslaan-geleenthede is legio. Drie van die bekendste pieke in die Drakensberge is hier geleë.

Cathkin-piek (3181 m) het ikoon-status verwerf omdat die kenmerkende plat bokant altyd so mooi uitstaan op foto’s van die Drakensberge. Die Zoeloe-naam, Mdedelelo, getuig van sy intimiderende reputasie en dui daarop dat ander berge opsy moet skuif om vir hom plek te maak! Boonop doen die staproete die naam gestand ─ Cathkin-piek en Monk’s Cowl (3229 m) verg albei rotsklimvernuf om die kruin te bereik.

As jy ooit oorweeg om hier te kom voetslaan, beveel ons die Grayspas-roete aan. Dit lei stappers deur die Mhlwazinivallei met ’n ongelooflike uitsig oor al drie pieke. Boaan die pas kan jy in Nkosazanagrot oornag. Van daar af is dit net drie kilometer tot by die derde hoogste piek in die Drakensberge ─ Champagne Castle (3377 m). Min stappers is fiks genoeg om hierdie reus in ’n dag kaf te draf, so vat maar jou slaapsak saam.

Cathedral-piek

 

A post shared by Andrew Skinn (@andrewskinn) on

Cathedral-piek is ’n alleenstaande berg in die Drakensberge en herinner aan ’n katedraal in die middel van ’n stad. Al is die roete nie so uitdagend soos die voriges nie, behels dit wel ’n bietjie klouterwerk teen rotse uit en oor skerp rante vir die laaste entjie tot by die kruin, en soms is daar ’n leertjie en toue om te help. Die tog neem so 8 tot 10 uur en jy kan weer teen teetyd terug wees.

Verblyf naby Cathedral-piek

Ons stel voor dat jy Cathedral Peak Hotel jou basis maak aangesien die hotel daagliks begeleide toere na die kruin bied.

Ander verblyf in die Drakensberge

Kloksgewys: Champagne Haven | Dragon Peaks Mountain Resort | Cathedral Peak Hotel | Drakensberg House | Ikhayalamafu Mountain Reserve | Pumula Central Drakensberg | Berghouse and Cottages

Kompasberg

Kompasberg (2502 m) is ’n prominente alleenstaande berg in die Karoo naby Nieu-Bethesda, en is die hoogste piek buite die Drakensberge. Die 360 grade uitsig oor die Karoovlaktes maak dié piek beslis besonders. Daar is verskeie roetes, maar die gewildste begin op die plaas, Kompasberg, en neem sowat 8 uur heen en weer.

Verblyf naby Kompasberg

Zonnenstrahl Caravan Park | Doornberg Guest Farm

Die Swartberge

Die Swartberge skei die Klein– en Groot-Karoo in die Wes-Kaap en bestaan uit twee dele – die Klein- en Groot-Swartberge. Die grootste deel van die Klein-Swartberge is hoër as 2000 meter bo seespieël en dis ook waar die twee hoogste pieke, Seweweekspoort en Towerkop, bo die grond verrys. Die bergreeks word geklassifiseer as ’n plooiingsberg wat beteken dis ’n rimpeling in die boonste laag van die aardkors. In dié kategorie word die Swartberge deur geoloë as van die mees indrukwekkende in die wêreld beskou! Aangesien die temperatuur in die somer tot bo 40 grade Celcius styg, en in die winter tot onder vriespunt daal, is herfs en lente dalk ’n beter tyd om hier te kom voetslaan.

Seweweekspoortpiek

 

A post shared by Amy Murray (@amymurray6) on

Naas Kompasberg is Seweweekspoort (2325 m) die hoogste piek buite die Drakensberge, én dis ook die hoogste in die Wes-Kaap. Jy kan ’n oornagroete hiervan maak deur in die grot wat 2000 meter bo seespieël is, te oornag.

Verblyf naby Seweweekspoort

Aristata Seweweekspoort | Seweweekspoort Op-Die-Plaas Kamp

Towerkop

 

A post shared by Frans Fourie (@thefransiman) on

Hoewel Towerkop (2189 m) nie so hoog soos Seweweekspoort is nie, is dit bekender weens sy kenmerkende koepelvormige kruin met ’n spleet in die middel – die legende lui dat ’n heks ’n vloek daaroor uitgespreek het en dit in twee gekloof het omdat dit immer in haar pad was tydens haar besemvlugte. Die spleet is tot 30 meter breed aan die bokant, en dis waarom jy dit so duidelik kan sien wanneer jy op Roete 62 by Ladismith verbyry. As jy fiks is, kan jy op die eerste dag al tot by Nes se Grot stap om die eerste aand daar te oornag, of jy kan net ’n kort entjie tot by die Skaapwagterhut aflê.

Blyplekke met uitsigte op Towerkop

Bo: Towerkraaltjie

Onder: Koedoeskloof Country LodgeSipreslaan Selfsorg Gastehuis

Matroosberg

A post shared by Jan Rabie (@janrabie) on

Die ander hoë kop bo 2249 meter in die Wes-Kaap, en uiters gewild onder stappers, is Matroosberg in die Heksrivierberge buite Ceres. Dié berg is dalk jou beste kans om sneeu in die winter te sien ─ iets waarvoor die omgewing juis bekend is. En, glo dit of nie, jy kan blykbaar met ’n 4×4 tot heel bo ry!

Verblyf naby Matroosberg

Klondyke Cherry Farm naby Matroosberg is 1200 meter bo seespieël, maar gelukkig is daar ’n knus kaggel vir die koue winters!

So, hoeveel van dié pieke het jy al oorwin?

*Let daarop dat die roetes na Kompasberg, Seweweekspoort en Towerkop op privaat plase begin en dat jy die boer se toestemming benodig.

Hooffoto: Pumula Central Drakensberg (LekkeSlaap.co.za)