“Mense van die bome” ─ dís wat Hessequa in Khoi beteken, en dis ’n gepaste naam, want dié lowerryke, Wes-Kaapse kusstreek wat dorpies soos Stilbaai, Riversdal, Witsand en Albertinia insluit, is ’n plek waar die wêreld nog om gasvrye hartsmense en die natuur draai, met pragtige landskappe in oorvloed. Hier sal moeë stadsiele en avontuurlustiges die meer ongerepte deel van die Tuinroete vind, en keer op keer terugkeer om sonder die skares te herlaai. So, voor jy weereens die N2 aanpak en reguit deursnel Knysna of Plett toe, lees ’n bietjie wat jy alles in Hessequa, die stiller deel van die Tuinroete, kan doen.   

Voor jy weereens die N2 aanpak en reguit deursnel Knysna of Plett toe, lees ’n bietjie wat jy alles in Hessequa, die stiller deel van die Tuinroete, kan doen.   

Waar is dit?

Dié Wes-Kaapse munisipaliteit vorm die westelike deel van die Tuinroete en strek van die Breederivier in die weste tot by die Gouritsrivier in die ooste, en van die Langeberge wat agter Riversdal uitstrek tot by die Indiese Oseaan. 

Witsand, Heidelberg, Riversdal, Albertinia, Stilbaai and Gouritsmond, asook die vier kleindorpe Slangrivier, Vermaaklikheid, Melkhoutfontein en Jongensfontein val onder hierdie streek. 

Die prentjiemooi Langeberge vorm Hessequa se grens aan die binneland. | Foto: Bigstock

Hoekom soontoe gaan?

Buiten die oorvloed aktiwiteite en besienswaardighede wat ons hieronder noem, is Hessequa se grootste trekkrag hoeveel rustiger dit as ander dele van die Tuinroete is. Ja, Stilbaai en Jongensfontein is die meeste somervakansies tjok-en-blok, maar oor die algemeen is die dorpe in die Hessequa-streek stiller en is dit makliker om werklik net op jou eie saam met jou geliefdes te ontspan. 

Hier seevier handgemaakte kuns en produkte, plattelandse gasvryheid en natuurervarings waar jy moontlik die enigste persoon in sig sal wees. 

“Hier seevier […] natuurervarings waar jy moontlik die enigste persoon in sig sal wees.” | Foto: Strawberry Hill Farm

Spys en drank

Hessequa sal jou nooit laat honger ly nie, want hier is ’n oorvloed uitsonderlike proe-ervarings en restaurante met stewige, heilsame porsies.  

Proe olywe by Oudewerfskloof, Kransfontein en Kleinbergskloof, wyn by Jakkalsvlei, Baleia en Aan’t Vette, en ’n hele verskeidenheid kase by Kasselshoop wat al vir twintig jaar in die bedryf is. Inverroche, die gin-distilleerdery in Stilbaai het al gin gestook voordat dit so gewild geraak het en is die eerste distilleerdery ter wêreld wat fynbos as ’n smaakmiddel in hul gin gebruik het. 

Proe van Baleia se wyne of van hulle olyfolie terwyl jy in die area kuier. | Foto: Jacques Marais verskaf deur Hessequa Toerisme

As jy so ’n bietjie meer as proe wil doen, is daar ook verskeie opsies te kus en te kou. Om maar ’n paar uit te sonder: Ikigai Coffee in Riversdal is dié stopplek vir koffiesnobs en Oudemeul langsaan is ’n wenner vir heerlike gebak. As jy verkies om ’n bietjie rond te stap terwyl daar vir jou ’n ontbyt of middagete voorberei word, is Die Ou Tronk in Riversdal met sy kamers (eintlik ou tronkselle!) vol antiekeware die plek om te stop. Drie Pikkewyne in Jongensfontein is reg op die see en bedien alles van roomys vir jou strandstappie, tot ontbyt en stewige etes, en The Anchorage in Witsand of On the Rocks in Stilbaai is die beste plekke vir seekos. 

By Drie Pikkewyne kan jy ’n heerlike maaltyd of sommer net ’n roomys koop. | Foto: Schalk Schreuder

Natuurplesier

Hessequa se biodiversiteit en die feit dat dit só ongerep is sal sorg dat buitelug-entoesiaste, natuurliefhebbers en adrenalienvrate nie vir ’n oomblik verveeld is nie. 

Vir buitelugmense is die Sleeping Beauty-dagstap (14 km) tot by die Sleeping Beauty-berg se piek, die kuslangse Noorkapper-staproete (11,2 km) tussen Jongensfontein en Stilbaai, of verskeie roetes vir stap en bergfietsry in die Grootvadersbosch Natuurreservaat net buite Heidelberg goeie opsies. 

Daar is verskeie opsies vir stap en fietsry in dié skouspelagtige streek. | Foto: Verskaf deur Hessequa Toerisme

So gepraat van reservate, die inheemse woude van Grootvadersbosch en die groter Boosmansbos Wildernisarea waarin dit geleë is, het al sedert 2004 Wêrelderfenisstatus en is ook die enigste plek waar die koninginskoenlapper (Emperor Butterfly) en die uiterse skaars spookpadda voorkom ─ so gaan verken hierdie reservaat en hou jou oë vir hierdie eens-in-’n-leeftyd-diertjies oop.

Die Grootvadersboch Natuurreservaat is die tuiste van twee spesies wat nét hier aangetref word. | Foto: Verskaf deur Hessequa Toerisme

Die Gourikwa Natuurreservaat is weer ’n privaat reservaat teen die kus en hier kan jy sommer oorslaap en op jou tyd die reservaat se natuurprag verken. Die reservaat is veral gewild onder voëlkykers en die bedreigde swarttobie is hier te sien.  

Die swarttobie is ’n skaars voëlspesie wat jy aan hierdie kus kan sien. | Foto: Breede River Views

By die Garden Route Game Lodge net buite Albertinia kan jy die Groot Vyf op ’n daguitstappie sien, maar daar is ook verblyf by hierdie spog-lodge wat jou en jou geliefdes se vakansiedrome sal laat waar word.

Kom kyk die Groot Vyf by die Garden Route Game Lodge. | Foto: Garden Route Game Lodge

Die Tuin-Op-Die-Brak in Stilbaai is ’n fynbostuin met verskeie skaars fynbosspesies, ’n kwekery, sonhorlosie en ’n klein labirint. Dis die perfekte oggend- of laatmiddag-uitstappie vir plantliefhebbers wat iets wil leer terwyl hulle bene rek.

Aan die adrenalien-kant van die spektrum sal die Ostrich 4×4-ekoroete naby Witsand jou deur 13 kilometer se draaie en klowe neem wat tegelyk skouspelagtig en uitdagend is. Die Eden Park 4×4 Sandroete in Jongensfontein is sowat 6 kilometer lank en sal jou (én jou voertuig) se vermoëns op ’n uitdagende sandterrein toets. 

Daar is 4×4-roetes van verskillende moeilikheidsgrade in Hessequa. Hierdie een is by die Gourits River Guest Farm. | Foto: Gourits River Guest Farm

Water-avonture

Van walviskyk en watersport tot hengel en stranddae saam met die kinders, Hessequa bied talle opsies vir waterpret. 

Die Korentepoortdam buite Riversdal is ’n waterliefhebber se droom. Hier kan julle in rustieke huisies op die damoewer bly en op die dam ski, kano- of bootvaar, of baarshengel. 

As jy see se kant toe kyk, bied beide Witsand en Stilbaai die geleentheid vir watersport. Witsand se baai en strandmeer is ’n beskutte paradys vir sweefski’ers en staanroeiers. Stilbaai se oper water is weer perfek vir branderplankry, kano- of rubberbootvaar. Albei hierdie kusdorpe het ook riwwe waar besoekers die seelewe met ’n snorkel kan verken en daar kan groot kabeljou asook verskeie ander visspesies uit die water getrek word. Hou gerus tyd opsy vir stranddae saam met die gesin, want beide Witsand en Stilbaai spog met Blouvlagstrande!

Kom kajak, staanroei, hengel, sweefski of swem by die Blouvlagstrande in Stilbaai of Witsand. | Foto: Verskaf deur Hessequa Toerisme

Hessequa wemel ook tussen Julie en November van die walvisse! Witsand is bekend as die walviskwekery van Suid-Afrika aangesien St. Sebastiaanbaai jaarliks met die grootste konsentrasie suidelike noorkappers in die land spog! Daar is só baie van hulle wat só naby die land verbyswem dat walvisboottoere nie beskikbaar is nie. Talle uitkykpunte gee jou gulde geleentheid om gratis en verniet hierdie pragtige diere te sien en ’n foto of twee te neem. 

Net ’n gewone, salige dag op Witsand se strand. | Foto: Verskaf deur Hessequa Toerisme

Leersame lekkerte

As jy die kinders ’n leersame vakansie wil gee of self leergierig is, bied Hessequa die kans om tussendeur die vakansiepret slimmer te word. 

By die Blombos Museum van Argeologie in Stilbaai kan jy artefakte van oor die 75 000 jaar wat by die Blombosgrotte uitgegrawe is bekyk en uitvind hoe die eerste mense in dié area met behulp van die inheemse plantegroei oorleef het. Hier is ook mak palings in ’n spesiale dammetjie by die museum wat jy of die kroos op ’n bepaalde tyd van die dag kan voer. Dis fassinered om dié lang visse met hulle stokstarende oë van onder hul klipskuilings te sien uitpyl op soek na ’n stukkie kos. 

Die Blombos Museum is in ’n historiese afgewitte gebou in Stilbaai. | Foto: Schalk Schreuder

Terwyl jy in Stilbaai draai, gaan ook vir ’n stappie na die eeue-oue visvywers by Skulpiesbaai. Hierdie handgemaakte klipkraalmure in die vlakwater is nie net pragtig om te sien nie, maar hulle slim en eenvoudige ontwerp wys hoe ewolusionêr gevorderd die baai se inwoners van duisende jare gelede was.

Die visvywers by Skulpiesbaai is nie net leersaam nie, maar ook pragtig om te aanskou. | Foto: Sand Dollar Gastehuis

Ry jy net so 40 kilometer verder moet jy sommer op die N2 buite Albertinia by Alcare Aloe se fabriek en winkel stilhou. Hier is ’n speelarea vir die kinders, ’n inheemse tuin, koffiewinkel, aalwynkwekery en talle van dié gerekende gesondheid- en skoonheidshandelsmerk se produkte te koop. Jy kan ook, as jy jou tydsberekening reg het, ’n demonstrasie meemaak van hoe die aalwyne op tradisionele wyse afgetap word. 

Aalwyne is ’n bekende gesig in dié streek en by Alcare Aloe in Albertinia leer jy meer oor hierdie merkwaardighede plant se gebruikswaarde. | Foto: Gourits River Guest Farm

Kuns en kopies

Is jy een van daai wonderlike mense wat nie sonder ’n ou aandenkinkie huiswaarts kan keer nie? Dan sal Hessequa nie teleurstel nie! Daar is talle oulike kan-nie-net-verbyloop-nie-winkels met allerhande kosbaarhede waarvan heelparty deur plaaslike inwoners vervaardig word. 

Jy sal nie net verby Bali Trading en al die winkels rondom dié kompleks net buite Riversdal kan snel nie. Hier sal jy ’n uur (of drie) moet verwyl. Met Stilbaai se kunsvlytroete kan jy verseker wees van talle galerye en geskenkwinkels met alles van skulpiekuns tot ’n geskenkie vir daai vriendin wie se verjaarsdag om die draai is. Heidelberg het ook verskeie kunsgalerye en by Inspired Creations and Artisan Shop kan jy kunssinnige aandenkings vir jou huis koop terwyl jy aan goeie koffie teug. 

Loer in by verskeie winkels met kunstige, plaaslike produkte. | Foto: Verskaf deur Hessequa Toerisme

Hou jy van meer klassieke kuns, moet jy die Pierneefs, Maggie Laubschers en Irma Sterns by die Julius Gordon Africana-sentrum in Riversdal besoek. Toegang is gratis, so jy’t geen verskoning nie! 

Verblyf vir elke tipe vakansie

LekkeSlaap.co.za het ’n verblyfopsie vir elke sak en Hessequa het allerhande tipes verblyf wat aan enige reisiger se smaak en behoeftes sal voldoen.

Draai na Riversdal toe af vir ’n rustige nagrus in of net buite die dorp. Daar is talle gerieflike gesinsvakansiehuise (selfs óp die duine) in Witsand en jy kan jou eie hoekie van Stilbaai vir ’n naweek of langer hê of selfs op ’n olyflandgoed hier bly!

“Daar is talle gerieflike gesinsvakansiehuise (selfs óp die duine)!” | Foto: Die Opstalletjie

As jy dit verkies om te kampeer, wat van ’n idilliese staanplek langs die Gouritsrivier of ’n versteekte plekkie langs die Duiwenhoksrivier in Vermaaklikheid?

Thorn & Feather bied bekostigbare verblyf vir ’n groep reg langs die Duiwenhoksrivier in Vermaaklikheid. | Foto: Thorn & Feather

Dan is daar ook verblyf in een van Hessequa se natuurreservate waar jy nader aan die natuur kan verkeer en moenie die indrukwekkende verblyf by die Garden Route Game Lodge misloop nie! 

Dink net jy sluit jou kuier in Hessequa af deur weg te sink in hierdie luukse buitebad. | Foto: Garden Route Game Lodge

_______________________________________________

Of jy op soek is na ’n rustige naweekwegbreek in die natuur, ’n somervakansieplan of ’n plek om te stop langs die N2, Hessequa sal jou verwelkom, en ons kan jou verseker jy sal volgende keer weer in hierdie pragtige deel van die Tuinroete wil kom rus. 

Spesiale dank aan Hessequa Toerisme vir hulle hulp en foto’s.

Hooffoto: Korentepoortdam (verskaf deur Hessequa Toerisme)