Huise het dikwels name ─ ongewone, beskrywende, pittige, komiese, of sommer net lawwe name, en as jy die dag bietjie deur LekkeSlaap se blyplekkies blaai, sal jy heelwat juweeltjies ontdek. Ons het so ’n paar eienaardiges gaan uitsnuffel en in die proses op ’n hele paar interessante staaltjies afgekom.

Die eienaar van Lekke Ekke het beaam dat dit inderdaad die tuiste van vriendelike, vrolike, gasvrye mense is. Plekke waar jy lekker kan kuier en lekker kan slaap is altyd hoog in aanvraag, so Lekkerrrr Kuier en Lekkirr Slaap Guest House dra die boodskap duidelik oor. En as leeglê hoog op jou prioriteitslys is, is LekkerLouf Seafront in Hibberdene vir jou beskore. Heppie-Nes is ’n toonbeeld van Gouritsmond se saligheid. Dan is daar ook ’n spitsdakhuis in Nature’s Valley waar jy sommer weet dit altyd Punt in die Wind gaan.

Sommige naamkeuses is vreemd genoeg om ’n mens behoorlik te laat kopkrap. Hoekom sou iemand byvoorbeeld hul plek Aftrekorder doop? Die verklaring is toe heel eenvoudig: Die eienaars was maar in die knyp toe die strandhuis skaars klaar gebou is, en aftrekorder was hul voorland!

Die ou volkswysie sal in jou kop bly vassteek nog so paar dae nadat jy by Hessie Se Witperd vertoef het. Dié selfsorgplekkie is oorkant die Afri-Dome in Parys, na bewering die grootste onderdak-perdeskougrond in Afrika. Toe die eienaar na die plekkie gaan kyk het, het sy dogter gevra: “Gaan ons Tant Hessie se Witperd koop?” Dit het hom herinner aan die dae van volkspele toe hy en ’n nooi langarm op die maat van dié liedjie gedans het. Sedertdien gallop Hessie se Witperd onverpoosd voort.

Weens die naam sou jy dalk effe katvoet wees om Die Heks se Huis te betree, en gaste wou inderdaad al by die eienaar weet: “Is jy die Heks van die Heks se Huis?” Maar hierdie “heks” het inderwaarheid ’n onversadigde lewens- en avontuurlus. Ná sowat ’n dekade van oorsee rondrits, waartydens sy onder andere medebestuurder van gasteverblyf in Costa Rica was, het sy die oudste pastorie op Sutherland aangeskaf. Dié tong-in-die-kies naam was, om soos sy sê, ’n bietjie “magick” (met ’n “k”) in die dorpie te sit. Daar hang selfs drie besems teen die muur om die verbeelding behoorlik aan te wakker!

Jy sal twee keer moet kyk wanneer jy op ’n dag verby Glipsie by die See in Pearly Beach ry, so dis goed jy lees dié blog sodat jy nie verder hoef te wonder nie. Alles het begin toe eienaars Pieter en Miems vir die aardigheid deur dié kusdorpie gery het en toe inderhaas ’n badkamer moes opspoor. Dié vind hulle toe in ’n pasgeboude huis wat steeds onbewoon was. Deur ’n sameloop van omstandighede vind hul toe by die eienaar van die huis langsaan uit dat hy sý huis sommer net so, met alles ingesluit, wil verkoop. ’n Paar maande later was Pieter en Miems die nuwe eienaars. Die aankoop van die huis was bloot ’n vloekskoot, vandaar die naam “Glipsie by die See”!

Gesoute reisigers kan uit ervaring getuig dat mens eers behoorlik kan tuis voel en ontspan sodra jy die aroma van ’n stomende koppie koffie inadem. Die naam Skinkikofi Manor is egter bedoel om veel meer as net hierdie verkwikking oor te dra. Dié herehuis in die Paarl se logo is ryk aan simboliese betekenis:

Die koppie verteenwoordig die gastehuis, die koffie die gaste, en die koffiekannetjie is simbolies vir die seëninge van bo wat die koppie telkens aanvul. Die lepel bokant die koppie verteenwoordig die personeel wat die koffie moet roer ─ simbolies van die diens wat hulle verskaf. As die koffie bitter, is word daar maar net meer suiker bygegooi en geroer totdat die koffie soet genoeg is! Soms loop die koppie oor en die koffie wat in die piering opgevang word kan ander koppies vul.

Dit is nie ongewoon om jou tuiste na ’n geliefde familielid te vernoem nie. Wanneer jy in Oom Org tuis gaan, sal dié skilderagtige plaas buite Dullstroom jou aanvanklik sprakeloos laat. Navraag oor die naam werp die lig op die huisie se oorsprong: “Oom Org” het in die laat 40’s daar gebly om skape op te pas en toe die huisie op die bouvalle van ’n ou hartbeeshuisie gebou. 90% van die 2 slaapkamers se mure bestaan uit die ou klipmurasie se gekapte klip.

Kattekwaad Accommodation het ook familiebetekenis, dog wel ander soort familie. Kaapsehoop ontvang nou wel gereeld besoek van blouapies wat kattekwaad aanvang, maar die naam is eintlik ter herdenking aan die eienaars se wyle drie katte, Nana, Nina en Nonna, na wie die drie kamers vernoem is. Die katbeeldjies, katkussings en kathanddoekies getuig van hul liefde vir dié diertjies. Nederlanders bespreek graag daar omdat hulle die woord “kattekwaad” herken.

Name soos hierbo laat jou wonder oor die verhaal daaragter, terwyl ander verblyfplekkies se name vanself spreek. Rooiels is so ’n rustige toevlugsoord langs die see dat die huis genaamd Spierverslapper net op een ding kan dui: Dis ’n plekkie waarheen mens gaan om al jou spiere (fisies en geestelik) te laat ontspan. Die feit dat Dut Hut in Heroldsbaai ’n plek is vir luilekker slaap, word verder beklemtoon deur sy ligging in Slaapplekstraat. En wat doen ‘n mens by Sit-en-kyk? Wel, sy stoep bied ’n 180°-uitsig oor Walkerbaai in Hermanus!

Al die huise in Eersterivierstrand het besondere uitsigte, maar as jy een vind wat reg voor op die strand is, weet jy dis Net Hier waar jy moet bly en nêrens ander nie. Die eienaar se oupa was een van die eerste gelukkige persone wat ’n erf by Eersterivierstrand gekoop het, toe nog deel van ’n plaas. Toe hy daar aankom het hy blykbaar gesê hy wil sy huis “net hier” bou!

By Keurboomstrand kan jy LekkerusbydiKus, dié wat Morgansbaai toe gaan Willie Weggie en as jy Bloemfontein as halfwegstasie tussen Gauteng en die Kaap gebruik, vind jy dalk Net die Bed. Goedkoopslaap PTA lyk sommer baie aanloklik as jy die Jakarandastad op ’n knap begroting besoek. As jy die dag op Beaufort-Wes egter bereid is om bietjie meer uit te haal, sal Appirklaas Selfsorg Woonstelle jou dalk welgeval, maar Die Kussinkie is voldoende vir iemand wat bloot ’n plekkie soek om sy kop neer te lê.

Is daar verblyfname wat jou nuuskierigheid prikkel? Bespreek sommer nou en gaan hoor watter storie agter die naam skuil!

Hooffoto: Bietjie Moeg B&B (LekkeSlaap)