Hier by LekkeSlaap glo ons in familie, maar ons besef ook dat dit soms moeilik is om ’n plek met genoeg doendinge vir die hele gesin op te spoor. Ons het ’n paar lekke plekke in elke provinsie gaan soek wat spesiaal ingerig is om elkeen in jou gesin gelukkig te hou!

Die fokus is juis op plekke wat genoeg doendinge vir die jongspan bied, terwyl ma en pa kan ontspan. En dié plekke kom boonop teen sakpaspryse. Met dié dat daar ’n rusoord in elke provinsie is, hoef jy nie te ver te ry of met ’n lang vakansie te gaan nie. Laai die kinders ─ en sommer vir oupa en ouma ─ in die kar vir ’n naweek-wegbreek.

Kliek op die foto’s om meer oor die plekke te lees.

Mpumalanga

Wandersheim
Breek weg na Wandersheim, ’n plaas tussen Wakkerstroom en Paulpietersburg in Lüneberg, Mpumalanga. Hulle bied drie kothuise waar families heerlik saam kan kuier. Beplan ’n lekke braai, swem in die rotsswembad of besoek die nabygeleë waterval.
Panorama Chalets
Panorama Chalets bied nie net ongelooflike uitsigte oor die vallei, berge, woud, watervalle, rivier en grasveld nie, maar daar is ook hope doendinge in die omgewing, soos abseil, rivervlotvaart, perdry en die groot swaai. Daar is ook ’n syplaas, ’n koffieplaas en grotte om te verken.
Merry Pebbles
Merry Pebbles is aan die oewer van die Sabierivier geleë, en dis ideaal vir gaste wat ook die Krugerwildtuin wil besoek. Kom kamp of bly in een van dié chalets met heelwat doendinge op die perseel. Daar is warm en koue swembaddens, waterglybane, tennisbane, mini-gholf, groot skaakborde buite, speelplek met trampoliens en ook talle stap- en fietsryroetes. Die rivier is perfek vir visvang, swem of kanovaart.
Blaauwbosch Trout Inn
Blaauwbosch Trout Inn is net buite Waterval Boven geleë, op die randjie van die Hoëveldse platorand met volop wild waaronder bosbokke, ribbokke, duikers, blouape, voëls en vele meer. Ontdek antieke ruïnes in die heuwels, vang forel en gaan ry fiets. Daar is ook ’n verhitte swembad en speletjieskamer vir die jongspan.

Wes-Kaap

Gecko Rock Private Nature Reserve
Gecko Rock is in die Nougaspoortvallei, 25 km vanaf Touwsrivier, geleë en bied ’n eko-vriendelike wegbreek met verskeie doendinge. Ontspan in die skaduwee met ’n goeie boek of ’n lekker drankie, gaan vir ’n 4×4-les, klim rots, ry bergfiets, gaan op ’n blom- en vetplanttoer, of verkyk jou aan die voëls en sterre. Daar is sowaar iets vir elkeen in die gesin.
Kambati River Resort
Kambati, 20 km buite Swellendam, word oorkruis deur die Sonderend- en Breederivier. Daar is 4×4-roetes en jy kan ’n kano huur en paintball speel. Daar is ook ’n wonderlike waterwurm wat 60 m lank kronkel en die jongspan heeldag aan die gang sal hou.
Harkerville Forest Lodge
Harkerville Forest Lodge op die Tuinroete is binne Sanparke se grense geleë. Daar is ook ’n swembad, vlugbalbaan, foefieslaaid en ’n pooltafel. Jy kan verskeie wandelpaaie van hier af aanpak of die pragtige bosbokke en Knysnaloeries bekyk. Of braai in die woud terwyl die son ondergaan.

 noord-Kaap

Orange River Rafting Lodge
Die jongspan kan heerlik op die rivier roei, visvang en swem terwyl pa en ma die rustige atmosfeer en asemrowende uitsigte oor die rivier en die Richtersveld se berge geniet. Die sonsondergange is ook iets om te aanskou. Daar is heerlike kampgeriewe, maar vir diegene wat nie self hul huis wil opslaan nie is daar ook lieflike houthutte.
Kalahari River & Safari Co
Kalahari River & Safari Co is ’n prettige, pragtige en ideale wegbreekplek in die Noord-Kaap. Die perfekte bestemming vir ’n gesinsvakansie wat riviervlotvaart, roei, kunsvlieghengel en visvang, witwatervlotvaart, kleiduifskiet, voëlkyk en lang staproetes bied. Jy kan ook die omgewing verken deur die warmwaterbron en Augrabies-watervalle te besoek.

Noordwes

Bokkraal Waterfall Valley
Bokkraal Waterfall Valley is na aan Zeerust in die Noordwes geleë en bied beeldskone staproetes en buitelug-aktiwiteite. Elkeen van die eenhede is volledig toegerus om die ideale wegbreekplek vir voetslaan- en kunsvlieghengel-entoesiaste te bied of net daardie nodige tydjie ver van die stad se gedruis af saam met jou gesin te geniet.
River Cottages
River Cottages is net buite Parys in die Vrystaat geleë. Die Vaalrivier loop sowat 1 km deur dié eiendom, en die oewer word belyn met treurwilgers en riete. Jy kan visvang, roei en met kano’s vaar op die rivier. Verder is daar ook heerlike voetslaan- en 4×4-roetes in en om die dorp, sowel as kunsgalerye, antiek- en koffiewinkels en restaurante.

Limpopo

Bambelela Lodge
Breek weg saam met jou gesin na dié unieke gasteplaas. Die plaas is ook ’n selfbefondsde en nie-winsgewende onderneming wat vir Blouaap-wesies sorg. Beleef die verskeie wildsoorte op die plaas self of gaan op ’n wildrit om die diere van nader te leer ken. Jou verblyf help ook om die weeshuis vir die baba apies aan die gang te hou.
Grootgeluk Bush Camp
Dié lodge is digby Naboomspruit geleë en bied jou die kans om wilde diere, soos sebras, kameelperde, rooibokke, vlakvarke, bosvarke, waterbokke, rietbokke, bosbokke, njalas, rooikatte, jakkalse, hiënas, nagapies, ystervarke, muishonde en blouape in hul natuurlike habitat te sien. Voëlkykers kan ’n verskeidenheid voëlspesies dophou vanuit die Kingfisher- en Kolobe-uitkykpunte langs die pragtige damme op die terrein. Of neem jou gesin op een van die vele, vele staproetes.

Vrystaat

Hoekfontein Oxwagon Camp
Hoekfontein Ossewa Kamp is in ’n sandsteenvallei buite Ficksburg in die Oos-Vrystaat geleë. Daar is verskeie doendinge vir die hele gesin: voetslaan, swem, vlugbal, Boesmantekeninge kyk en kettieskiet. Jy kan ook tromme speel, abseil, mekaar uitdaag tot ‘n “paintball” of wawielrol-kompetisie en die aand in ’n ossewa deurbring!
Gariep, a Forever Resort
Dié oord digby die Gariepdam bied ’n heerlike verskeidenheid doendinge. Swem, speel mini-gholf én bootritte staan jou hier te wagte. Die beeldskone area sal verseker dat jy die stad se stres van jou skouers af skud, terwyl die kleinspan veilig baljaar.

Oos-Kaap

Siloam Village
Siloam Village is in die Oos-Kaap buite Oviston geleë. Daar is minigholf, vierwielmotorfietse, bergfietse, swemplekke, visvangplekke, bootvaarte, wildkyk, stap, voëlkyk, kanovaart, kajakvaart, sterrekyk, vlugbal en soveel meer. Daar is voorwaar iets om elkeen besig te hou!
Green Fountain Farm Resort
Dié plaas net buite Port Alfred in die Oos-Kaap is ideaal vir ’n familienaweek. Hulle bied verskillende opsies vir verblyf, sowel as ’n kampterrein. Daar is ook ’n swembad, trampolien, speelarea vir die kinders en ‘n braai lapa. Dis ook naby genoeg om die menigte strande en doendinge van die Sonskynkus te verken.

KwaZulu-Natal

Bergview
Besoek die Drakensberge en klop gerus aan by Bergview wat spog met verskeie doendinge vir die hele gesin. Daar is wandelpaaie en bergfietsroetes, forelhengel- en visvangplekke. Hulle het ook ’n swembad, klimraam, sandput en trampolien om die kinders in die buitelug besig te hou ─ en jy kan selfs vir Wagter saambring. (Reël dit net vooraf.)
Wellvale Resort
Wellvale Resort grens aan die Mvotirivier en spog met asemrowende uitsigte oor die Nsikeniberg. Dis ideaal vir gesinne wat smag na die rustigheid van ’n oord, terwyl die gewilde Dolfynkus naby genoeg is om deur die dag te verken. Swem en braai saam met die familie, terwyl jy die stilte geniet.

Gauteng

Tussen-I-Bome Guest Farm
Besoek dié unieke plek in Gauteng, waar jy kan terugreis na die verlede en in ’n ossewa kan oorslaap. Daar is 2 swembaddens en een van die rotspoele teen die hang van ’n koppie bied ’n beeldskone uitsig oor die omgewing. Hier sal jy ook paaie kruis met rooibokke en sebras as jy die staproetes aanpak.
Magaliesberg Mountain Lodge
Magaliesberg Mountain Lodge is die ideale plek vir ’n naweek in Gauteng. Dis perfek vir ’n groot gesin en het ’n swembad, lapa, ’n tafeltennis- en pooltafel, veerpyltjiebord én ’n Jacuzzi waar die grootmense lekker kan ontspan as die jongspan eers kooi toe is. Bespreek sommer nou ’n heerlike naweek in die natuur, met wild wat vrylik rondloop, of stap na Castle Gorge en swem onder die watervalle en in rotspoele.

Moenie op jou laat wag nie! Bespreek sommer nou een van hierdie lekke plekke – hetsy in die bos of by die see, in die woud of die wildernis. Ons het iets vir elkeen.

Hooffoto: Elbé van Heerden
Al die ander foto’s kom van die plekkies se eie profiele op LekkeSlaap.co.za.