Min dinge is so lekker soos ’n sterk koppie boeretroos! Jy teug graag daaraan terwyl jy jou gunstelingboek lees, saam met vriende of familie kuier, of as jy in ’n oulike koffiewinkel sit en kyk hoe vreemdelinge verby stap. Dikwels is dit ook nét wat jy nodig het om daardie besige dag op kantoor mee te begin …

As jy een van dié is wat jou neus vir kitskoffie optrek, is daar baie goeie nuus: Tientalle sjiek koffiewinkels, wat hul eie koffiebone rooster en smaaklike koffie vervaardig, het die afgelope dekade regoor Suid-Afrika oopgemaak!

LekkeSlaap het ’n klompie koffiewinkels in drie van ons land se grootste stede uitgesnuffel waar besige stadsjapies of dagbesoekers ’n heerlike koppie boeretroos kan geniet.

Johannesburg


Craft Coffee

Newtown

A post shared by Wanda (@wandavphotography) on

As ’n koffiewinkel 50 jaar lank al hul eie bone rooster, kan hulle nie anders as om van die lekkerste koffie in die land te produseer nie! Dié koffiewinkel skuil in die hartjie van Newtown, ’n kleurvolle Johannesburgse voorstad. Craft Coffee is in ’n gebou wat in 1913 opgerig is naby die welbekende duikweg vol interessante graffiti ─ ’n verfrissende kombinasie tussen oud en nuut in dié besige voorstad. Of jy op ’n drafstap op pad werk toe is, ’n kunstenaar is wat in ’n inspirerende omgewing wil werk, of ’n toeris is, dié Indiese koffiebone met ’n sitrus-ondertoon uit Gautemala en Brasilië sal jou beslis opkikker!

Bly híér in/naby Newtown:

The Franklin Loft Apartment 1512 | The Franklin Loft Apartment 1513 | Once in Joburg | QSL On 44 Boutique Hotel


Bean There Coffee Company

Milpark

A post shared by Andy Anderson (@manmakecoffee) on


Bean There is een van die oorspronklike koffiewinkels in die stad wat hul eie bone rooster. Dié koffiebone het ’n soet kersie-geur en word in verskeie Afrika-lande gekweek. Vir diegene wat effens haastig is, is daar wegneem-koffie in 100% herwinbare papierglase te koop. As jy egter in dié sjiek koffiewinkel wil ontspan, probeer gerus die twee verskillende metodes van koffie-roostery wat op hul spyskaart beskikbaar is ─ jy sal nie sommer dieselfde kombinasie tussen Chemex- en AeroPress-koffie elders in die Goudstad teëkom nie!                 

Geniet ’n naweek in dié area terwyl jy heerlike koffiewinkels besoek:

Ginnegaap Guest House | Life on 3rd | Bamboo Cottage | On Escombe


Father Coffee

Rosebank


Dié koffiewinkel was eers net ’n stokperdjie vir die eienaars, maar dis vandag een van Johannesburg se gewildste koffieplekke. Father Coffee spog met indrukwekkende, moderne dekor en heerlike koffie wat behoorlik die tonge laat klap. Die koffiewinkel is ook ’n espresso-kroeg en bedien koffie waarvan die bone vanaf Sentraal-Amerika en Afrika ingevoer en op die perseel gerooster word. Probeer gerus ook hul smaaklike amandel-croissants wat volgens gereelde besoekers van die beste in die stad is!

Verken Johannesburg, nie net die sjiek koffieplekke nie:

Dovetown House | African Gypsey Cottage | Remote Corner | Studio on Walton

Durban


Bean Green Coffee Roastery

Glenwood

A post shared by Melissa Pienaar (@mel_19xx) on


Dié eksentrieke plekkie behoort aan Peter Winters en sy bekroonde barista-dogter, Mel. Die organiese Ethiopiese koffiebone word in klein hoeveelhede op die perseel gerooster. Bean Green Coffee Roastery bied van die beste flat white in die stad en jy kan salig daaraan teug terwyl jy na treffers uit vervloë dae op die platespeler luister. Geniet ook ’n smaaklike tripelsjokolade-brownie of appeltert saam met jou flat white ─ ’n kombinasie wat jou definitief sal oorreed om terug te keer na dié oulike plekkie as die unieke atmosfeer dit nie klaar gedoen het nie!

Bly híér in Durban terwyl jy die stad se beste koffieplekke uitsnuffel:

Sparkling Star Bed and Breakfast | Mackaya Bella Gastehuis | The Courtyard Room | Roseland House


Colombo Coffee & Tea

Durban Noord

A post shared by 5AIBORG (@5aiborg) on

Dié koffiewinkel produseer een van KwaZulu-Natal se gunstelingkoffies wat in verskeie restaurante regoor Durban gevind kan word. Colombo Coffee & Tea se koffiebone kom uit Afrika en Suid- en Sentraal-Amerika en as jy ’n ware koffie-entoesias is, móét jy by die kafee in Adelaide Tambo-rylaan kom inloer! Colombo Coffee & Tea sal nie net al jou koffiedrome bewaarheid nie, maar hulle ondersteun ook plaaslike fynproewers-verskaffers wat in watertand-lekker quiche, toebroodjies, worsrolletjies, en soet- en sout-muffins spesialiseer ─ elk met ’n unieke geur. Boonop bied die kafee heerlike disse wat van Karma Free verkry word en dit sluit eksotiese Meksikaanse wraps, ontbyt-muffins en Chia-poeding in. Dit is dus nie ’n slegte idee om op ’n leë maag te gaan kyk wat jy alles híér kan kry nie!

Bly naby Colombo Coffee & Tea om Durban ook sommer te verken:

Ocean View Apartment | Sandals Guest House | Forest Manor Boutique Guest House | Carter’s Lodge 


Fortune Coffee Forever

Morningside


Dié koffiewinkel is in die pragtige Con Amore-dekorwinkel en bied koffie van uitstaande gehalte met bone wat vanaf Coffee Merchant en Costa Rica ingevoer word. Fotune Coffee Forever bied ook smaaklike smoothies, ontbyt, Mediterreense slaaie, middagetes,
wraps en pitta-broodjies. As jy dalk op soek is na nuwe meubels of dekor vir jou huis, kan jy sommer Con Amore besoek en terselfdertyd van die heerlikste koffie en happies in Durban geniet ─ ’n opwindende kombinasie van plig en plesier!

Bly híér in Morningside, Durban:

McAllisters on 8th | Kusane Durban | Lembali Lodge | Davaar Guesthouse

Kaapstad


Haas Collective

Middestad

A post shared by Talya Goldberg (@talyagoldberg) on

Dié stylvol versierde koffiewinkel in Buitenkantstraat produseer koffiebone wat deur die Haas-span as “kuns” beskryf word. Dié koffie-kenners voer die beste koffiebone van oraloor die wêreld in wat koffie met ’n oorsprong uit Brasilië en Indonesië insluit. Probeer gerus hulle komplekse Ethïopiese, Guatamalaanse en Colombiaanse Haas-koffie, of die eksotiese Jamaican Blue Mountain wat met koffiebone gemaak word wat teen Jamaika se berghange groei. Vir die dapper en egte koffie-entoesiaste bedien Haas die wêreld se sterkste koffie genaamd Death Wish wat oorspronklik van New York-staat afkomstig is. Wees net versigtig, dié koffie het 200% meer kafeïen as ’n gewone koffie!

Bly in die moederstad terwyl jy lekker koffieplekke ontdek:

House Fritz | Vredehoek Rooftop Apartment | Glory Guesthouse | Anat’s Cottage 


Flatmountain Coffee Roasters 

Woodstock

Flatmountain Coffee bied topgehalte-koffiebone uit Ethiopië en Malawi wat met groot sorg gerooster word. Die baristas is deur die outentieke oorsprong van koffie geïnspireer en fokus daarop om Kaapstad se erfenis en kunsvlyt-kultuur te vier. Dié modieuse plekkie sal enige koffieliefhebber se hart vinniger laat klomp met ’n koffielys wat soortegelyk is aan ’n wynlys ─ dit sluit selfs proe-notas oor elke koffie-kombinasie in! Probeer gerus een van hul gunstelinge genaamd Heritage Blend, ’n kombinasie van twee Suid-Amerikaanse koffies en ’n tikkie Afrika wat sorg vir ’n romerige, komplekse smaak.

Bly híér in Woodstock:

Angel Cottage | Woodstock Cottage | Cape Red Door Cottage | Durhan Square 602


Truth Coffee Roasting

Middestad

A post shared by TRUTH. Coffee HQ (@truthcoffee) on

Dié hiper-moderne koffiewinkel het ’n steampunk-tema en spesialiseer daarin om die wêreld se beste koffiebone te rooster wat dan uitstekende, eksklusiewe koffie oplewer. The Daily Telegraph het Truth Coffee Roasting as die wêreld se beste koffiewinkel vir twee opeenvolgende jare aangewys! Hulle verskaf ook koffie aan verskeie tophotelle in Suid-Afrika. Die koffiebone word in ’n antieke gietyster-drom gerooster om koffie van uitstaande gehalte te produseer en dié masjiene dra by tot die winkeltjie se unieke steampunk-dekor. Die heerlike flat white is die gewildste koffie op hul spyskaart, maar die Truth-span beveel die Sunrise Espresso aan, ’n dubbel-espresso met ’n tikkie lemoensap ─ ’n vreemde kombinasie wat blykbaar wondere vir die smaakorgane verrig! Truth Coffee Roasting sorg beslis vir ’n opwindende ervaring wat koffieliefhebbers se tone sal laat krul van plesier.

Die middestad bied tientalle pragtige blyplekke:

Four Seasons Woonstel | Modern Designer Apartment | 315 The Studios | 906 St Martini Gardens 


Suid-Afrika se stede is propvol oulike koffiewinkels wat hul eie koffiebone rooster en koffie maak wat enige koffieliefhebber se mond sal laat water. Begin jou dag op die regte manier en vind uit waar jy die land se lekkerste koppie boeretroos kan kry terwyl jy sommer ook ons pragtige stede verken!

Hooffoto: Bigstock