Alhoewel die somertyd altyd lekker in Suid-Afrika is, bring die winterseisoen sy eie bekoring. Van sneeubedekte bergpieke wat onder die flou sonstrale glinster, tot kusdorpe waar besoekers toegedraai in serpe met rooi wange op verlate strande aan ’n wegneemkoppiekoffie teug — Suid-Afrika bied ’n hele rits winterbestemmings wat beslis ’n besoek werd is. Of jy nou op soek is na opwindende aktiwiteite in die berge, knus verblyf in ’n kothuis waar die sneeu soms val, of ’n rustige wegbreek by die see waar die seebriesie byt, hierdie diverse land beloof ’n onvergeetlike winterwegbreek, én in dié blog vertel ons jou van ons gunsteling-winterbestemmings.

Karoo

Die Karoo word as ’n natuurlike wonder van onbeperkte vlaktes en fassinerende rotsformasies beskou en is dalk een van die wêreld se mees diverse en unieke droë gebiede. Die Karoo is ’n rariteit wat toeriste, navorsers en wetenskaplikes van oraloor lok. Dié geweste se yl plantegroei skep ’n treffende kontras teen die uitgestrekte vlaktes en ruwe berge en die koue nagte bied die perfekte geleentheid om die Karoo se sterre-skouspel te bewonder, waartydens die Melkweg die hemel met ’n ongeëwenaarde glans verlig. Gesellige gastehuise en knus plaasverblyf bied hartlike gasvryheid en die perfekte plek om jou kop neer te lê nadat jy ’n smullekker maaltyd en plaaslike wyn geniet het. Of jy nou sommer net rondry om die mooi te sien, wildkyk, of bloot op soek is na alleentyd in die kale Karoo, hierdie winterbestemming bied ’n unieke ervaring wat jou siel sal verkwik.

Dié gesig is eie aan die Karoo. Foto: Rietjiesbos

Graaff-Reinet staan as die “Juweel van die Karoo” bekend en is ’n historiese dorp vol pragtig bewaarde Kaaps-Hollandse argitektuur. Die droë klimaat en helder sterrehemel maak dit ’n fantastiese bestemming vir sterrekyk en om die nabygeleë Vallei van Verlatenheid te besoek. 

Die skilderagtige Prins Albert is aan die voet van die Swartberge versteek en ideaal vir ’n rustige stappie in die oulike straatjies, om plaaslike kunsgalerye te besoek en om aan die dorp se watertand kookkuns te smul. 

Nieu-Bethesda is vir die Uilhuis bekend en bied ’n heerlike winterwegbreek met stil strate en vriendelike inwoners, en stapgeleenthede in die nabygeleë Sneeuberge. 

Die “Volstruishoofstad van die Wêreld”, Oudtshoorn, is tegnies in die Klein-Karoo geleë, maar bied ’n unieke winterervaring met ’n rits volstruisplaastoere, ’n besoek aan die Kangogrotte, en die geleentheid om die pragtige Swartbergpas te verken.

Drakensberge

Die Drakensberge is die hoogste bergreeks in die land en strek oor verskeie provinsies, met die grootste deel wat in KwaZulu-Natal val. Gedurende die wintermaande word dié majestueuse bergreeks in ’n winterwonderland met sneeubedekte bergpieke omgetower en lok dit avonturiers van heinde en verre. Die skerp berglug sal jou siel verkwik terwyl jy opwindende bergstaproetes aandurf en die ongerepte wildernis verken. Die streek se talle grotte en rotskunsterreine gee ’n blik op die ryk kulturele erfenis van die inheemse mense wat destyds hierdie berge hul tuiste genoem het. Die knus, luukse lodges tussen die voorheuwels bied ’n warm toevlugsoord ná ’n dag van verken en nooi jou om voor die knetterende kaggels met ’n glasie wyn op te krul terwyl jy die ongelooflike uitsig bewonder. Of jy nou avontuur op uitdagende roetes soek, jouself in die natuurskoon wil verdiep, of bloot na die berge wil ontsnap, die Drakensberge in die winter is ’n boeiende bestemming wat ’n blywende indruk laat.

’n Ongelooflike uitsig op die Drakensberge. Foto: Bushman’s Nek

Champagne Valley is in die sentrale Drakensberge geleë en is ’n uitstekende basis vanwaar jy die streek kan verken. Dit bied maklike toegang tot staproetes, rotsklimplekke en die pragtige Champagne Castle en Cathkinpiek. 

Underberg is ’n skilderagtige dorpie wat deur golwende heuwels en groen weivelde in die Suidelike Drakensberge omring word. Dit dien as ’n poort na Sani-pas, ’n bekende bergpas wat na Lesotho lei. Hiér kan jy voetslaan, kunsvlieghengel en perdry. 

Himeville is vir sy historiese bekoring en nabyheid aan die Wêrelderfenisgebied, die uKhahlamba-Drakensberg Park, bekend. Dit is ’n ideale basis vanwaar jy die Giants Castle Natuurreservaat kan besoek, waar daar fassinerende rotskuns en diverse wildspesies te sien is. 

Bergville dien as die spilpunt in die Noordelike Drakensberge en bied maklike toegang tot die Royal Natal Nasionale Park, waar die Amfiteater en Tugela-waterval besoek kan word en jy kan voetslaan, visvang en perdry.

Weskus

Op soek na rus en vrede, of buitelugavonture, of wil jy bloot net die natuurskoon bewonder? Winter aan die Weskus bring ’n ander tipe onweerstaanbare bekoring. Hierdie kusstreek teen die Atlantiese Oseaan spog met kleurvolle vissersdorpies al langs die kuslyn en ’n skilderagtige landskap, waar ruwe kranse en ongerepte strande ontmoet. Gedurende die wintermaande word die Weskus ’n toevlugsoord vir natuurentoesiaste en voëlkykers, aangesien dit ’n ongelooflike verskeidenheid trekvoëlspesies huisves, insluitend flaminke en pelikane. Seekos is dan ook volop en gee jou die geleentheid om voor ’n knus kaggel aan ’n dis by een van die plaaslike seekosrestaurante te smul.

By die strandmeer in Langebaan. Foto: Water’s Edge

Die bekoorlike Paternoster is vir vars seekos en afgewitte kothuise wat aan Griekeland herinner bekend en bly altyd ’n gunstelingbestemming aan die Weskus. Hiér nooi die koue seeluggie jou om langs die verlate kus te wandel en die asemrowende sonsondergange te kom bewonder.

As ’n mens aan Langebaan dink, dink jy aan die skares langs die turkoois strandmeer, maar met minder mense in die winter kan jy rustig op die strand stap, voëlkyk en in die wind seilplankry of sweefski. Gedurende die winter is die nabygeleë Weskus Nasionale Park ook minder besig en as jy op ’n sonnige wintersdag in Augustus ’n draai hiér ry, mag jy dalk ’n veldblom of twee raaksien. 

Yzerfontein is vinnig besig om een van die gewildste Weskusdorpies te word en met dié dat dit nog met ’n ongerepte strand en ’n rustige atmosfeer spog, én net sowat ’n uur se ry uit Kaapstad is, is dit ideaal vir ’n vinnige naweekwegbreek.

Magoebaskloof

Die Magoebaskloof-streek is ’n welige area wat deur golwende heuwels, digte woude en skilderagtige watervalle gekenmerk word en met ’n magiese bekoring spog wanneer die temperatuur hiér daal en ’n dik miskombers soggens die kloof bedek. Avonturiers kan verkwikkende staptogte al langs skilderagtige roetes wat deur oeroue woude kronkel, aandurf en versteekte uitkykpunte ontdek wat asemrowende uitsigte oor die kloof bied. Die knus verblyf in die vallei dien as ’n gerieflike, knus basis ná ’n dag in die natuur en verwelkom jou met knetterende kaggels en hartlike, plaaslike kookkuns wat tot die omgewing se betowering bydra. Of jy nou die streek se skilderagtige watervalle verken, of sommer net in die rustigheid van die natuur jou batterye kom herlaai, Magoebaskloof in die winter is ’n betowerende, sprokiesagtige bestemming wat elke reisiger moet ervaar.

 ’n Inheemse dennewoud langs die Haenertsburg-foreldam. Foto: Pavetta Country House

Haenertsburg word deur golwende heuwels en skilderagtige landskappe in die hartjie van Magoebaskloof omring. Dit bied knus verblyf, oulike winkeltjies en heerlike eetplekke. Besoekers kan die Ebenezerdam besoek, staproetes deur die inheemse woude aandurf, of die pragtige Debengeni-waterval gaan soek. 

Modjadjiskloof is ’n klein dorpie wat vir sy subtropiese klimaat en vrugteboorde aan die voet van die Magoebaskloofberge bekend is. Besoekers kan die Modjadji Broodboom-reservaat besoek, wat die tuiste van die skaars en antieke Modjadji-palm is, of skilderagtige ritte deur die omliggende platteland geniet.

Sederberge

Wintertyd in die Sederberge is ideaal vir avonturiers en natuurliefhebbers wat troos in die grootsheid van die berge kom soek. Die Sederberge is in die Wes-Kaap, ongeveer 200 kilometer noord van Kaapstad geleë, en is bekend vir ruige oranjekleurige, antieke rotsformasies en ongerepte wildernis waaroor avonturiers van oraloor so mal is. Soos temperature daal, verander hierdie bergreeks in ’n spesiale sprokiesland met pieke wat met sneeu besaai is en ’n asemrowende agtergrond teen die helder blou lug skep. Winter in die Sederberge spog met matige dae en yskoue nagte, maar bied ’n magdom opwindende staptogte, versteekte watervalle en ongelooflike rotsformasies om te bewonder. En wanneer die temperature weer begin draai, sal julle dalk ook veldblomme begin sien wanneer die area met klein sarsies kleur begin spog. Hiér kan julle in bekoorlike, knus lodges saamkuier, of onder die sterrehemel kampeer en langs die braaivleisvuur gesels.

Net een van vele oranjekleurige rotsformasies. Foto: Mount Ceder

As die hoofdorp in die Sederberg-streek bied Clanwilliam ’n gerieflike basis vanwaar julle die area kan verken. Die dorp bied verskeie verblyfopsies, restaurante en winkels, asook die Clanwilliam-museum en bekende Clanwilliamdam.

Wupperthal is ’n klein Morawiese sendingdorpie in ’n afgeleë vallei van die Sederberge. Dit bied ’n kykie na die ryk kulturele erfenis van die streek en spog met historiese grasdakgeboue en tradisionele handwerkwinkels. Hiér kan julle rustig deur die dorp stap, die sendingkerk besoek en aan tuisgemaakte lekkernye by die plaaslike bakkery smul. 

Krugerwildtuin

Die Krugerwildtuin is in die noordoostelike deel van Suid-Afrika geleë, strek hoofsaaklik oor Mpumalanga en Limpopo, en is een van die grootste wildreservate in Afrika. Dit is maklik bereikbaar vanaf groot stede soos Johannesburg en Pretoria, met verskeie ingange en ruskampe wat deur die park versprei is. Die diverse ekosisteme in die Krugerwildtuin bied ’n toevlugsoord vir ’n oorvloed wildspesies, insluitend die Groot Vyf. Die wintermaande bied verskeie voordele wat dit ’n ideale tyd maak om die park te besoek. Die streek ervaar minder reënval en droër toestande lei tot verminderde plantegroei, wat dit makliker maak om wild raak te sien terwyl hulle rondom watergate, riviere en damme vergader, op soek na water. Wintertyd bring meer uithoudbare temperature in vergelyking met die versengende hitte van die somermaande en die dae is lekker warm, voor die wêreld saans behoorlik afkoel. Dit is ook ’n uitstekende tyd vir voëlkykers omdat baie trekvoëlspesies uit Europa en Noord-Afrika gedurende hierdie tyd na die park vlug.

Die buffels vergader by die watergat. Foto: Manor House At Safari Tintswalo

Hazyview is naby die suidelike deel van die park geleë en ’n gewilde toegangsdorp omdat dit net 10 kilometer vanaf die Phabeni-hek geleë is. Dit bied ’n verskeidenheid verblyfopsies, restaurante en avontuuraktiwiteite. Die Panoramaroete daar naby spog ook met besienswaardighede soos die Blyderivierspoort en God’s Window

Phalaborwa is naby die park se noordelike hoof-ingang geleë – so naby, dit sal jou skaars vyf minute neem om daarheen te ry. En het jy geweet Phalaborwa het ook ’n Groot Gat? Ja, dit is een van die grootste kopermyne ter wêreld, amper twee kilometer breed en sigbaar vanuit die ruimte!

Komatipoort is ’n grensdorpie naby Mosambiek en net agt kilometer vanaf die Krokodilbrughek, wat een van die Krugerwiltuin se oostelike ingange is. Hiér is ’n verskeidenheid verblyfopsies op die Krokodilrivieroewer waar voëlkykgeleenthede volop is.

***

Dié is maar net ’n handjievol bestemmings waarheen talle mense vlug wanneer die temperature daal. Waarheen kies jy graag tydens die winter koers? Laat ons weet!

Hooffoto: Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse op LekkeSlaap.co.za