As jou hart na die langpad verlang en jy van die oop vlaktes, reën op jou voorruit, stowwerige grondpaaie en koffie in ’n fles droom, maar nie seker is waar om te begin beplan nie, is hierdie nét die leesstof vir jou! LekkeSlaap deel met jou ’n paar wenke sodat jy ontspanne en vol selfvertroue die pad kan vat sonder om oor lastige kleinighede hoef te bekommer. As daar nou een vakansie is wat werklik oor die reis gaan en nie die bestemming nie, is dit jou sloertoer-styl roetereis!

Kies ’n roete

In ’n land soos Suid-Afrika is daar ’n groot verskeidenheid asemrowende roetes met sprokiesagtige uitsigte wat jou eerder langs die pad sal wil laat stilhou sodat jy alles kan bewonder. Of jy kuier-kuier al langs die kus wil toer, of tussen bobaas bergreekse wil slaap, jy kan! ’n Paar opsies om te oorweeg is die alombekende Tuinroete met sy unieke woudagtige bekoring, die Kaapse Roete 62 waarheen jy gaan om egte Klein-Karoo-gasvryheid te ervaar, die pragtige Panoramaroete langs die skouspelagtige noordoostelike Drakensberge, die Midlands Meander wat tussen die berge en die kuslyn pronk en die Walvisroete aan die oostelike kuslyn in die Wes-Kaap. Jy kan ook jou eie roetereis rondom jou eie spesifieke belangstellings beplan — van gholf tot tee

As jy steeds onseker is oor watter roete die regte een vir jou is, loer gerus hier as jy ’n bietjie meer oor van die heel beste roetes in Suid-Afrika wil lees.

Kies oornagverblyf

Elke kar het brandstof nodig, net soos wat elke goeie bestuurder vars peuselgoed, ’n goeie nagrus en ’n smaaklike ontbyt benodig. Dit is dus belangrik om vooraf te beplan waar, en hoe gereeld, jy wil stilhou. Aangesien hierdie vakansie oor al die besienswaardighede op en langs die pad is, is veelvoudige stilhouplekke ’n moét — hier is ’n paar voorstelle:

Oornag op die Tuinroete

African Oceans Manor on the Beach

Mosselbaai, Wes-Kaap

Kies ’n plek soos African Oceans Manor on the Beach waar jy ’n lieflike blaaskans kan benut terwyl jy op ’n sonstoel sit en die see-uitsig vanaf ’n houtdek reg voor die strand bewonder. Verblyf is in verskeie gerieflike kamers, elk met lugversorging en gemaklike beddens, beskikbaar. Hierdie gastehuis is die ideale oornagverblyf vir dié wat ’n luukse nag langs die see soek. 

Farm Dexie

George, Wes-Kaap

Vir ’n rustige plaaservaring met ’n uitsig op die Outeniekwaberge in die verte is Farm Dexie die perfekte plek. Dié kothuis sowat 20 kilometer vanaf die dorp bied slaapplek aan vier gaste en maak van sonkrag gebruik. Julle kan sommer ook vars eiers en plaasprodukte op die plaas koop.

Brenton on Sea Cottages

Knysna, Wes-Kaap

Maak die meeste van julle tyd deur op die Tuinroete-kuslyn tussen die Indiese Oseaan en die Knysna-riviermonding in een van die chalets by Brenton on Sea Cottages te bly. Met geriewe soos ingeboude braaigeriewe, ’n gemeenskaplike swembad en wasgoedgeriewe is daar niks wat julle hier sal kortkom nie. 

Oornag op Roete 62

The Vineyard Country House

Montagu, Wes-Kaap

’n Beter toevlugsoord is daar eenvoudig nie. The Vineyard Country House spog met ’n swembad in die wingerd en elke kamer het ’n Nespresso-koffiemasjien. Hier kan julle van al jul bekommernisse vergeet en een van die staproetes na die warmwaterbronne neem — idillies! 

Matjiesvlei Cottages

Calitzdorp, Wes-Kaap

Maak jou reg vir ’n manjifieke tyd by Matjiesvlei Cottages aan die voorheuwels van die Swartberge. Hier wag pragtige uitsigte, ’n dam, ’n rivier en ’n rustige ervaring in een van die drie kothuise, elk met ’n volledig toegeruste kombuis, gratis WiFi en binnebraaigeriewe. Daar is ook ’n afgesonderde piekniekplek waar julle heerlik agteroor kan sit.

Oornag op die Panoramaroete

Misty Mountain

Sabie, Mpumalanga

Maak ’n draai by dié Suid-Afrikaanse Natuurerfenisgebied in die bergagtige platteland op die Long Tom-pas. By Misty Mountain kan julle die uitsigte oor die platorand en die Laeveld inneem, verskeie besienswaardighede vanaf die verblyf verken en met ’n heerlike ontbyt wat by die tarief ingesluit is afsluit voordat julle weer in die pad val. 

Rissington Inn

Hazyview, Mpumalanga

Rissington Inn is die perfekte gesinsvriendelike rusplek in die hartjie van die Laeveld en spog met fantastiese uitsigte. Die kamers word deur 20 hektaar kleurvolle tuine omring en hier kan julle bene rek en die meeste van julle tyd in die natuur maak deur ’n staproete aan te pak of te swem. 

Oornag op die Midlands Meander

Brambleberry

Nottingham Road, KwaZulu-Natal

’n Draai by Brambleberry in die hartjie van die KwaZulu-Natalse Middellande beloof ’n onvergeetlike wegbreek. Verblyf is in drie houthuisies in ’n rustige natuurryke omgewing beskikbaar en na ’n goeie nagrus sal julle die res van jul reis uitgerus kan aanpak. 

Sugarbird Cottage

Howick, KwaZulu-Natal

Hierdie selfsorgkothuis in die hartjie van die Midlands Meander op die oewer van ’n baarsdam en spog met ingeboude braaigeriewe en ’n kaggel. Verder is troeteldiere ook welkom by Sugarbird Cottage — so bring ou Bennie saam!

Oornag op die Walvisroete

River Song

Pringlebaai, Wes-Kaap

Botter jou brood aan albei kante by dié huis wat aan die Buffelsrivier grens en slegs 320 meter vanaf die strand is! River Song het genoeg slaapplek vir die hele gesin en spog met geriewe soos ’n kaggel, ’n dek en ’n buitestort. Dis juis hier waar julle dalk nog ’n paar aande langer sal wil talm. 

Honeyrock Cottages

Kleinmond, Wes-Kaap

Hierdie kothuise aan die voet van die Kogelberg-biosfeer het ’n voetslaanroete wat deur die fynbos kronkel. Elke kothuis het ’n stoep met braaigeriewe en troeteldiere is ook welkom by Honeyrock Cottages — geen gesinslid hoef tuis te bly nie. 

Kies die beste tyd

Noudat julle weet watter roete julle vir die volgende roetereis wil aanpak, asook waar julle wil stilhou en oorslaap, moet julle besluit watter tyd van die jaar julle die beste pas. Hierdie Suid-Afrikaanse roetes is almal dwarsdeur die jaar die moeite werd om te besoek, maar afhangend van wat julle graag wil sien of watter weer julle verkies sal sommige tye beter vir julle doeleindes as ander werk. 

Tuinroete

Foto: Martijn Vermeltfoort op Unsplash

Gedurende die feesseisoen, van Desember tot Maart, is die Tuinroete ideaal vir dié wat graag goeie weer najaag sodat hulle tyd op die strand kan deurbring. Vanaf September tot November kan julle die hoogtepunt van die walvisseisoen geniet. Alhoewel die weer gedurende die wintermaande heelwat afkoel bly hierdie roete steeds iets om te aanskou. 

Roete 62

Foto: Christoph Friske op Unsplash

Die temperatuur op Roete 62 is dwarsdeur die jaar matig in vergelyking met ander roetes alhoewel meer nattigheid en reën by tye te wagte kan wees. Die aanbevole tydperk om hierdie roete te besoek is van Maart tot begin-Junie. 

Panoramaroete

Foto: Bernd Dittrich op Unsplash

Hiér is dit gedurende die somer, van November tot Februarie, so warm dat die kraaie gaap, veral in die Kruger-area en die Laeveld. Ons stel dus voor dat julle  die Panoramaroete ‘n winter-reis maak — April tot Julie het matige weer met koeler nagte.

Midlands Meander

Foto: Tristan Joubert op Unsplash

Die Midlands Meander is die ideale roete om gedurende lente te verken aangesien die dae warm en sonnig en die nagte koel is. Die winter kan egter meer uitdagend wees vir die koulike lot aangesien die matige dae in yskoue nagte eindig. September tot Mei is dus die beter tyd as jy en die koue nie om dieselfde vuur sit nie. 

Walvisroete

Foto: Rudi De Meyer op Unsplash

Die hele doel van die Walvisroete is natuurlik om walvisse te sien — hopelik. Die beste kans hiervoor is tydens die walvisseisoen, tussen Junie en November. Die grootste dorp op hierdie roete, Hermanus, is juis bekend vir walviskyk en daarom moet dit beslis een van julle stilhou- of oornagplekke wees.

Beplanning was nog nie so maklik nie! Met al hierdie inligting en LekkeSlaap se groot verskeidenheid opsies in elke dorpie op enige roete wat julle wil aanpak moet julle beslis al ’n hele paar idees vir die volgende roetereis hê. 

Hooffoto: Nabeel Laher op Unsplash

Alle ander foto’s, tensy anders vermeld: LekkeSlaap


Lees ook:

Toevlugsoorde vir 2 op die Tuinroete

Die Robertson-wynroete

Verken die Oos-Kaapse kusroete