“Magie vol, ogies toe” is nie verniet ’n bekende Afrikaanse gesegde nie. Ná ’n behoorlike maaltyd wil almal tog ’n bietjie skuinslê. Dis dié dat LekkeSlaap gedink het dis ’n goeie idee om pragtige blyplekke naby Suid-Afrika se top-restaurante te vind.

Culintro private dinner for sous chefs, quince by Jennifer Yin (Flickr)

Indien jy gereeld wonder watter restaurant julle volgende Vrydagaand moet beproef, of as jy gereeld met jou vriende stry oor watter eetplek die beste burger bedien, is EatOut definitief ’n plekkie om by jou verwysingslys te voeg.

EatOut is ’n groep koskenners wat elke jaar ’n uitstekende tydskrif saamstel waarin die 500 beste restaurante in Suid-Afrika gelys word. Hulle hou ook elke jaar ’n toekenningseremonie waartydens die top-10 restaurante van daardie jaar aangewys word. Vanjaar se wenners maak die Wes-Kaap behoorlik trots ─ 9 van die wen-restaurante is in Kaapstad, Franschhoek, Stellenbosch en Somerset-Wes.

Hier is die 10 wenners van die 2016 EatOut Mercedes-Benz Restaurant-toekennings, en ’n paar pragtige blyplekke daar naby!

The Test Kitchen, Woodstock

The Test Kitchen (EatOut)

The Test Kitchen is vir die vyfde agtereenvolgende jaar as restaurant van die jaar aangewys. Dié restaurant, by die Old Biscuit Mill in Woodstock, bedien fynproewerdisse aan ’n uitgesoekte gehoor. Hul hemelse gourmet-tiengangmaaltyd en wynparing sal jou so R2250 uit die sak jaag, sonder wyn kos dit R1600. Dis moeilik om te sê of The Test Kitchen se geregte mooier lyk as wat dit proe of andersom, maar dis maklik om te sien hoekom dié restaurant al vir die vyfde jaar in ’n ry koning kraai.

Luke Dale-Roberts, die sjef, is lief vir Asiese en Suid-Afrikaanse geure. Sy unieke treffer is die kerrie-geglasuurde koningklipvis, geïnspireer deur die klassieke Kaaps-Maleise dis, met ’n lieflik romerige wortel-en-kasjoeneut-puree om dit af te rond.

Loer hieronder vir hul besonderhede as jy ook Dale-Roberts se unieke kookkuns op die proef wil stel.

021 447 2337 | reservations@thetestkitchen.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: Metropolis Apartment in De Waterkant (links), C9 Soho on Strand (regs bo) en 905 Quayside (regs onder)

Na tien uitmuntende geregte by The Test Kitchen, kan jy jou koppie gaan neerlê in een van die talle spoggerige blyplekke op LekkeSlaap se boeke. De Waterkant naby Woodstock spog met stylvolle slaapplek wat enige gas tevrede sal stel. Kliek op enige van dié blyplekke en bespreek sommer nou!

90 Waterkant Street | Harbouredge Suites by Totalstay | Metropolis Apartment in De Waterkant | 905 Quayside | C9 Soho on Strand

La Colombe, Constantia

La Colombe (Foto's verskaf, fotograaf: Micky Hoyle)

Twintig-sestien was definitief dié jaar vir La Colombe in Constantia. Hierdie pragtige eetplek het nie net vanjaar ’n plekkie op die top-100 restaurante ter wêreld en EatOut se top-10 losgeslaan nie, hul uitmuntende diens het ook verseker dat hulle vanjaar weggestap het met die 2016 EatOut Nespresso Service Excellence-toekenning.

La Colombe se disse is heilsaam en interessant en ’n gemiddelde hoofmaaltyd kos ongeveer R1300. Hulle bied ook lieflike gourmet-aandetes en wynparings aan. ’n Veertiengang-ete met wyn sal jou so R1650 uit die sak jaag, so dit is dalk net geskik vir baie spesiale geleenthede. Loer ’n bietjie hieronder na hul besonderhede as jy jou wederhelfte bietjie wil bederf.

021 794 2390 | reservations@lacolombe.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: Willow Way (links en regs bo) en Tallara Suites (regs onder)

Na ’n veertiengang-aandete wil niemand ver ry nie, so laat LekkeSlaap jou verder bederf met ’n keuse van blyplekke minder as 10 km van La Colombe af!

Willow Way | Dongola Guest House | Tallara Suites | Constantia Klein | Constantia Garden Suites

 

The Restaurant at Waterkloof (foto's verskaf)

The Restaurant at Waterkloof in Somerset-Wes het nie verniet die derde posisie in die top-10 lys verower nie. Hulle spog met ’n ware meester-sjef, Gregory Czarnecki, wat vanjaar tydens die seremonie ook die EatOut S.Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die Jaar-toekenning gekry het.

Hierdie elegante restaurant se kunstige ontwerpe, wat ewe lekker proe, en die rustige atmosfeer maak ’n besoek aan dié restaurant baie spesiaal. Hulle is ook effens meer bekostigbaar as die eerste twee op die lys: ’n Tweegangete kos R370 en ’n driegangmaaltyd kos R480. As jy ook wil sien hoe Gregory Czarnecki met kos toor, kyk hieronder vir hul besonderhede.

021 858 1491 | restaurant@waterkloofwines.co.za

De Merindol Luxury Apartments, Strand (LekkeSlaap)

Al is dié restaurant tegnies gelys in Somerset-Wes, is dit langs Sir Lowryspas geleë en dus nader aan die Strand, waar daar talle stylvolle blyplekke is vir diegene wat nie ver wil ry ná ’n pragtige ete nie.

Strand Beach Lodge | Hibernian Towers 2001 | Loddey’s Beachfront Apartment 1 | Luukse Vakansiehuis in Strand | De Merindol Luxury Apartments

The Tasting Room at Le Quartier Francais

The Tasting Room at Le Quartier Francais (foto verskaf)

Margot Janse is die kaptein van die Tasting Room-skip en is al vir meer as 20 jaar in die bedryf. Haar agtgang-Afrika-verrassingspyskaart verander gereeld en sy gebruik net vars, plaaslike bestanddele. Dié restaurant is in Franschhoek, Suid-Afrika se fynproewershoofstad, geleë en is natuurlik ’n absolute treffer onder toeriste. Maar dit beteken nie dat ons locals nie ook daar kan aanklop vir ’n bederf-ete nie.

Janse se kos is trots Suid-Afrikaans. Elke maaltyd skop af met ’n mieliebroodjie wat in ’n Lucky Star-sardientjieblik gebak is en bedien word met bruin botter. Ander hoogtepunte op die spyskaart is die potjie met suikermielievla en krakerige koolrabi wat gepekel word in hibiskuswater. Hier in die hartjie van Franschhoek kan jy ook dié disse en ander op die proef stel. Die Afrika-verrassingspyskaart kos R940 (R1495 saam met wyn).

021 876 2151 | restaurant@lqf.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: La Clé des Montagnes (links) en Los Olivos at the Yard (regs bo en regs onder)

Die beste kenmerk van Franschhoek is natuurlik dat alles vreeslik naby mekaar is. Dit beteken dat meeste van LekkeSlaap se lekke plekke sommer stapafstand vanaf The Tasting Room is!

Grande Plaisir Protea Unit | Petit Plaisir Cottage | Los Olivos at the Yard | Centre-Ville Guest House | La Clé des Montagnes

Restaurant Mosaic at the Orient, Pretoria

Restaurant Mosaic at the Orient (foto's verskaf, fotograaf: Dylan Swart)

Restaurant Mosaic at the Orient is die enigste restaurant op die top-10 lys wat nie in die Wes-Kaap is nie. Die restaurant in Elandsfontein naby Pretoria is klassiek en elegant en spog met ’n groot verskeidenheid geregte. ’n Gemiddelde hoofmaaltyd sal jou so R175 terugsit, maar hulle spesialiseer eintlik in dekadente, vooraf bepaalde proeporsie-spyskaarte wat wissel van R850 tot R1250 per persoon.

Sjef Chantel Dartnall speel met temperatuur en tekstuur in haar disse en dit is sowaar iets om te beleef! Die treffer-dis van die restaurant is ’n Ierse kammossel wat bedien word met ’n delikate dog intense seekos-sop en gepekelde radyse. Die seekos-sop word skouspelagtig by die tafel oor die kammossel gedrup saam met sitroengras en seewier. Dié proses vul die kamer met die vars reuk van die oseaan en is werklik iets om oor huis toe te skryf.

012 371 2902 | reservations@restaurantmosaic.com

Chateau la Mer Exclusive Guesthouse, Hartbeespoort (LekkeSlaap)

Aangesien Restaurant Mosaic at the Orient in die Francolin-bewarea in die Krokodilriviervallei in Elandsfontein geleë is, is dit eintlik nader aan Hartbeespoortdam as aan Pretoria. So LekkeSlaap het gedink ’n restaurantganger sal eerder in ’n stylvolle plekkie in Hartbeespoortdam wil bly as in die besige strate van Pretoria. Kliek op enige van ons pragtige plekke hieronder om nou jou slaapplek te bespreek.

La Dolce Vita Guest House | Stirling Manor Boutique Guest House | Chateau la Mer Exclusive Guesthouse | Three Oaks and an Aloe | Kosmos Manor

Overture (EatOut)

Overture Restaurant is op die Annandale-pad geleë, baie naby die immergroen Stellenbosch. Dié restaurant is gemaklik en gesinsvriendelik. Die feit dat dit baie bekostigbaar is vir só ’n deftige plek, maak dit noodsaaklik om jou tafeltjie lank voor die tyd te bespreek. Middag- of aandete is hier, in die bekwame hande van Bertus Basson, ’n absolute wenner.

Die driegang-maaltyd sal jou net R435 uit die sak jaag. Of jy kan bietjie uithaal en wys vir die proeporsie-spyskaart wat bestaan uit 6 gange en komplimentêre stil- of vonkelwater, teen R645. Die driegang-aandete begin met ’n bros broodjie en vier klein voorgereggies, wat olyfbotter, gedroogde swartolywe en gerookte kool met knolseldery en miso insluit. Vir die hoofgereg is daar ’n Chalmar-sirloin met kortribbetjie, geroosterde blomkool en gremolata, of ’n lamsrib met niertjie, knolseldery en bros uie. Die nagereg word ingelei met ’n fluweelagtige sjokolade-mousse gevolg deur ’n koejawel, vla, grenadella, tapioka en kokosneut-sorbet ─ enigeen se mond sal sommer begin water! Bespreek sommer nou!

021 880 2721 | info@dineoverture.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: Batavia Boutique Hotel (links bo), 107 Dorpstraat Boutique Hotel (links onder) en Lanzerac Hotel & Spa (regs)

Wie kan nou nee sê vir ’n naweek in Stellenbosch? En mens kan nie ’n fout maak as jy by een van LekkeSlaap se stylvolle blyplekke bespreek nie. Kliek op enige van dié plekkies en bederf die spesiale persoon in jou lewe!

Lanzerac Hotel & Spa | The Residence at Haskell Vineyards | Fijndraai Cottages | 107 Dorpstraat Boutique Hotel | Batavia Boutique Hotel

Greenhouse Restaurant (foto's verskaf, fotograaf: Bruce Tuck)

Greenhouse is in Constantia in Kaapstad geleë en hulle bedien stylvolle kos in ’n stylvolle omgewing. Peter Tempelhoff, die bekroonde sjef, is hier aan die stuur en sy skeppings is absoluut pragtig en tog nie só kunstig dat jy voel jy wil dit nie eet nie. Hier kan jy ’n allerheerlike vyfgang-proespyskaart bestel teen R750 per persoon. ’n Gemiddelde maaltyd hier sal jou so R1050 kos. Daar is ook ’n wonderlike Africa Origins-spyskaart wat bestaan uit 7 gange met ’n wynparing teen R1450 per persoon.

Die Kaaps-Maleise koningklipvis met ’n seekos-bisque, blomkool, gebraaide uie en sultanas is die sjef se kroondis. Tog kom die geroosterde inkvis en gepekelde seekat, wat bedien word met swart ravioli gevul met calamari, olywe, steranys en gemmer, nie sleg tweede nie.

LekkeSlaap-blyplekke: Tanderra Cottage (links) en Wedgewood (regs bo en regs onder)

021 795 6226 | reservations@greenhouserestaurant.co.za

Constantia is natuurlik ’n absolute spogbuurt en hier kan jy in weelde gaan slaap na ’n koninklike maal by Greenhouse. Kliek hieronder vir pragtige blyplek in Constantia.

Wedgewood | Dendron of Constantia | The Cottage at Constantia Mist | Tanderra Cottage | LeBonheur Guest House

The Kitchen at Maison (foto verskaf)

The Kitchen at Maison bied wonderlike, stylvolle disse in ’n klassieke dog moderne ruimte net ’n entjie buite Franschhoek. Kinders is ook welkom by hierdie restaurant ─ die groot grasperk bied speelplek terwyl die ouers aan wenner-disse smul.

’n Viergang-maaltyd kos R400 en dit is definitief ongewoon en interessant! Die idee hier is dat almal aan tafel verskillende disse bestel en dan oor-en-weer proe. Die ongewone kos sluit ’n eendborsie in, wat omskep is in prosciutto en met appelliefies, sprietuie en sriracha (’n chillie-sous van die kus van Thailand) voorgesit word. Nagereg is ook heel uniek en bestaan uit ’n donkersjokolade-mousse met drie verskillende tipes lemoen en heerlike bros, diepgebraaide quinoa-sade. Besoek gerus hierdie restaurant as jy lus is vir iets besonders!

021 876 2116 | http://www.maisonestate.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: 21 Roux Street Guesthouse (links en regs onder) en L'Ermitage Franschhoek Chateau & Villas (regs bo)

Aangesien The Kitchen at Maison nie in die hartjie van Franschhoek geleë is nie, is dit natuurlik die perfekte geleentheid om gebruik te maak van dié statige, pragtige blyplekke rondom Franschhoek.

La Galiniere Guest Cottages | 21 Roux Street Guesthouse | L’Ermitage Franschhoek Chateau & Villas | Mont Martre Chalets | Basse Provence Country House

Foliage (foto verskaf)

Foliage het nesgeskop in Franschhoek en diep wortel geskiet met die kombuispersoneel se interessante gewoonte om bestanddele in die omgewing te soek, sommer so in die natuur. Mens sien gereeld hoe hulle Moeder Natuur se gawes in die heuwels rondom Franschhoek versamel.

Die spyskaart verander dikwels, soms daagliks, maar die geroosterde springbok met dekadente beenmurg, rivierkruid, sampioene en klawersuring is meestal deel van die aanbod, so ook die caramelia delice, hul teffer-nagereg, wat bestaan uit gesoute grondbootjiebotter, geweekte aarbeie en ’n knoets heuningkoek. ’n Gemiddelde hoofmaal sal jou slegs R180 kos, so hoekom bespreek jy nie sommer nou nie?

021 876 2328 | restaurant@foliage.co.za

LekkeSlaap-blyplekke: La Petite Dauphine (links) en The Corner House Guest House (regs bo en regs onder)

Franschhoek het die gewoonte om die toeris in ons wakker te maak. Foliage is so diep in die hartjie van dié bekoorlike dorpie toegewikkel, dat mens behoorlik toeris-toeris kan speel en sommer kan stap na die eerste, beste, mees stylvolle blyplek. Kliek hieronder vir verblyf, stapafstand vanaf Foliage!

Sorbonne Luxury Apartments | La Petite Dauphine | The Corner House Guest House | Maison Chablis | Mont d’Or Franschhoek

Camphors at Vergelegen (foto's verskaf, fotograaf: Gabrielle Holmes)

Nommer 10 op die lys is Camphors at Vergelegen op die Lourensfordpad in Somerset-Wes. Camphors is bekostigbaar en modern en hier sal sjef Michael Cooke jou bederf met kos wat voorberei is met bestanddele wat hoofsaaklik op die plaas verbou word. Die disse is speels en interessant en daar is ietsie wat in elkeen se smaak sal val. Die hoogtepunt vir ons locals is natuurlik die mini-braaibroodjies wat gevolg word deur ’n kaas-en-wyn-bord.

Michael Cooke se disse, soos die tekstuurryke groen sonneblomsaad-en-aardartisjok risotto, sal jy nêrens anders vind nie. ’n Hele sonneblom word in dié verbeeldingryke dis gebruik. Die aardartisjok-puree en die vars smaak van ’n kweper helder die geure wonderbaarlik op. Interessante disse teen die bekostigbare prys van R325 vir ’n tweegangmaaltyd of R395 vir ’n driegangmaaltyd, is mos genoeg rede om Camphors te besoek!

021 847 2131 | camphors@vergelegen.co.za

Spanish Farm Guest Lodge, Somerset-Wes (LekkeSlaap)

Die prag van die buitewyke van Somerset-Wes nooi jou om oor te slaap ná ’n smaaklike en interessante maaltyd by Camphors. Kliek op enige van die onderstaande LekkeSlaap-blyplekke in en om Somerset-Wes vir ’n pragtige plekkie om jou kop neer te lê.

Spanish Farm Guest Lodge | Erinvale Gholf Paradys | Erinvale Estate Hotel & Spa | The Boathouse | A Smart Stay Self-catering Apartments

Elderberry Wine by Artizone (Flickr)

So nou weet jy ook watter restaurante EatOut se top-10 lys in 2016 gemaak het. Laat weet ons gerus by watter van dié restaurante jy al gaan eet het, en wat jy daarvan gedink het! En onthou, lekke eet gaan saam met lekke slaap soos ’n goeie rooiwyn saam met ’n sappige stukkie lamsboud.

Hooffoto: Greenhouse at the Cellars-Hohenort, Constantia (EatOut)