Die skouspelagtige blomseisoen is weer om die draai en as jy jou hierdie jaar tussen die blommeprag wil bevind, is dit van kardinale belang om vooruit te beplan (én te bespreek) om teleurstelling te voorkom.

Blommeland wag op jou, en onthou, dit is nie nét Namakwaland se blomme wat roep nie! Soos Marné Lloyd van Namakwa Toere sê: “Plante ken nie perke nie. Die blomme is nie beperk tot ’n sekere dorp nie en ken nie mensgemaakte grense nie.” Groot dele van die Wes-Kaap en Noord-Kaap, Namakwaland én sy omliggende blomstreke, kan jou vanjaar met kleurvolle herinneringe bederf!

“Plante ken nie perke nie. Die blomme is nie beperk tot ’n sekere dorp nie en ken nie mensgemaakte grense nie.”

Marné Lloyd van Namakwa Toere

As jy onseker is van hoe jy die blommepad moet vat, begin jou blombeplanning by hierdie blog! LekkeSlaap se blommekykgids vir beginners gee jou ’n goeie oorsig van ons wêreldbekende blomseisoen en die antwoorde op jou grootste vrae.

Wanneer kan ek blommekyk?

Oor die algemeen begin die blomseisoen laat Julie en duur gewoonlik tot einde September ─ op goeie jare kan die skouspel selfs tot in Oktober duur! Hoe die blompatroon lyk en wanneer dit te voorskyn kom sal egter afhang van ’n paar dinge soos watter tyd jy kies om te gaan blommekyk, waar jy blommekyk en die unieke samewerking van die weer, sonskyn, wind en insekte wat die regte toestande vir die blomme teweegbring.

Laagliggende areas raak vinniger warm ná die winter en kry dus eerste hulle blomkombers waar hoogliggende areas en dié streke lang die kus later sal blom. Let dat as jy vroeg in die seisoen gaan blommekyk en later na dieselfde plek terugkeer, jy gans ander blomgesiggies sal sien soos wat die helder eenjarige blomme plek maak vir meerjariges, soos bolplante. Jy sal dus jaar ná jaar nooit verveeld wees nie!

Die laagliggende areas rondom Vanrhynsdorp, Vredendal en Klawer is gewoonlik eerste in blom. Daarna volg areas rondom Garies, Bitterfontein, Nuwerus en die Olifantsriviervallei, oftewel die Cederberg. Omdat die Weskus later sy lentehitte kry, volg hierdie streek se blomme eers ’n bietjie later en jy moenie vir Gifberg, die Knersvlakte en Springbok miskyk nie, want dié streke kry ook, mits dit goed gereën het, ’n kans om te blom! Afhangende van die jaar se weerpatrone is dit rondom die derde week in Augustus tyd vir die Bokkeveld se blomme, en as jy eers ’n bietjie later by die werk kan wegkom, is dit wys om te mik na die hoogliggende dele op die berge vanaf Garies na Namakwaland se klipkoppe óf na die suidelike Weskus en Darling om die beste kans op blomme te hê. In uitsonderlike jare spog die Hantam- en Tankwa-Karoo ook met hul eie bekoringe.

Hoe laat moet ek tussen die blomme wees?

Die meeste veldblomme maak eers oop wanneer die son skyn en dit so 16°C is, dus is daar geen rede om al douvoordag uit die vere te wees nie. Die ideale tyd vir blommekyk is dus so vanaf 11:00 tot rondom 16:00. Dit bied ’n gulde geleentheid vir ’n laat ontbyt waar jy bly!

Die meeste blomme maak eers oop wanneer die son skyn en die dag warmer geraak het, dus kan jy ’n rustige oggend hê voor jy tussen die blomme aankom. | Foto: Verskaf deur Namaqua Lodge

Wat is die ideale weer vir blommekyk?

Omdat die meeste blomme eers oopmaak wanneer die son skyn, sal ’n bewolkte dag nie lekker werk nie. As dit egter te vinnig warm word, verwelk die blomme ook vinnig. ’n Matige sonskyndag is dus die ideaal, maar onthou die blomseisoen is ook Namakwaland se reënseisoen. Dit beteken gaste moenie al hulle wense op een dag plaas nie, maar eerder drie of meer nagte by ’n sentrale punt bespreek en dan in verskillende rigtings uitry afhangend van die weer.

Waar kyk ’n mens blomme?

Die meeste mense sal “Namakwaland!” sê en dié streek in die Noord-Kaap is beslis die bekendste van al die blomstreke, maar die Weskus, Tankwa-Karoo en Sederberg-streke in die Wes-Kaap en die omliggende blomstreke (soos hieronder op die kaart) het elk hul eie bekoring. Kom ons kyk ’n bietjie meer in diepte na ’n paar uiteenlopende blomstreke. 

Dié kaart verteenwoordig die Namakwalandse blomstreke asook die streke wat spog met hul eie, unieke blommeprag rondom die blomseisoentyd. | Foto: Namakwa Toere

Namakwaland, Noord-Kaap

Die heel bekendste blommestreek, Namakwaland, strek vanaf die Oranjerivier in die noorde tot by Garies in die suide, en van die Noord-Kaap se kuslyn tot by die Alexanderbaai en Port Nolloth in die weste. Daar is selfs ’n paar blomme in die Richtersveld, maar hierdie area is slegs toeganklik met ’n 4×4-voertuig. Bekende blomdorpe sluit Springbok, Okiep en Kamieskroon in. Alhoewel Nieuwoudtville en Loeriesfontein tegnies op die Bokkeveldplato en Hantam-Karoo suid van Namakwaland lê, is hulle ook baie bekende blomdorpe en kan saam met dié streek besoek word, veral omdat dit spesiale blommekykgeleenthede soos die kokerboomwoud buite Loeriesfontein en verskeie privaat blomparke bied.

Nieuwoudtville se pragtige standsteenkerk omring deur veldblomme | Foto: Verskaf deur Namakwa Toere

Wanneer is die blomme in Namakwaland op hul mooiste?

Die blommeskouspel vir dié jaar lyk belowend, maar hang op die ou end af van wanneer die reën kom en hoe dit val. Hou dus hierdie blog dop, want sodra die reën val, sal ons julle hiér daarvan laat weet!

Namakwalandse natuurreservate om van te kies (van noord tot suid):

  • Richtersveld Nasionale Park – noordweste van die Noord-Kaap
  • Goegap Natuurreservaat en sy Hester Malan Veldblomtuin – buite Springbok
  • Namakwa Nasionale Park – buite Kamieskroon
  • Skilpad Veldblomreservaat – nou ingesluit by die Namakwa Nasionale Park, noordwes van Garies 
  • Hantam Nasionale Botaniese Tuin – buite Nieuwoudtville 
  • Nieuwoudtville Blomreservaat – buite Nieuwoudtville
  • Kokerboomwoud – Veertig kilometer oos van Loeriesfontein op die R357

Wat kan jy nóg in Namakwaland sien terwyl jy daar is?

Buiten die meer as 3500 blomspesies, waarvan sowat 60% nêrens anders op aarde voorkom nie, spog die Namakwa Nasionale Park ook met die kleinste skilpadjie, die Namakwa padlopertjie, wat nooit groter as jou wysvinger sal word nie en lustig aan die vygies en blomme weglê. Dit is baie spesiaal om só ’n skilpadjie raak te sien, maar hulle kamoefleer baie goed met hulle omgewing en is moeilik om uit te ken. Los dus jou kar by die kamp en gaan eerder op ’n staptoer, en onthou om by die spoedlimiet te hou om dié skilpadjies te help beskerm.

’n Namakwa padlopertjie, die kleinste skilpadjie, lê weg aan ‘n gousblom. | Foto: Namaqua Flower Skilpad Camp

Bekende Namakwalandse roetes:

  • Caracal Eko-roete: ’n 200 km lange 4×4-roete in die Namakwa Nasionale Park
  • Skilpad-staproete: ’n maklike 5 km-roete in die Skilpad Veldblomreservaat
  • Goegap-roete: ’n maklike, kindervriendelike 4 km-roete in die Goegap Natuurreservaat
  • Oorlogskloof Natuurreservaat se roetes: Daar is ’n vyfdag- en ’n sewedag-staproete waaruit ervare stappers kan kies.

Weskus, Wes-Kaap

Die Weskus beslaan ’n 400 kilometer-lange strook langs die Wes-Kaap se westelike kuslyn en strek ook gedeeltelik die binneland in. Dit sluit die Kaap in, maar begin eintlik by Darling en Yzerfontein in die suide en strek noordwaarts tot anderkant Strandfontein en Papendorp. Binnelandse dorpe soos Vredendal en Vanrhynsdorp is, te danke aan hulle warmer klimaat, dié dorpe wat eerste plate margrietjies kry en is ’n goeie, sentrale punt om te gebruik om as basis vir besoeke aan die Wes-Kaapse en Noord-Kaapse blommevelde te gebruik. Van hier kan jy gemaklik 100 kilometer in enige rigting ry en ’n buitengewone blom-ervaring geniet.

Bekende dorpe aan die Weskus sluit Saldanha, Paternoster, Vredenburg, Velddrif, Langebaan, Hopefield, Darling en Yzerfontein in. Hierdie dorpe is propvol kultuur, wynkelders en aktiwiteite wat, buiten die blomme, ’n lekker vakansie vir die hele gesin sal besorg.

Die Maskamberg naby Vredendal is jaarliks vol veldblomme! | Foto: Verskaf deur Namakwa Toere

Wanneer is die Weskusblomme op hul mooiste?

Middel Augustus tot einde September en soms tot in Oktober. Die weer is natuurlik weereens ’n bepalende faktor aangesien reënval en hitte ’n groot impak het.

Weskus-natuurreservate om van te kies:

  • Weskus Nasionale Park – naby Saldanha
  • Columbine Natuurreservaat – buite Paternoster

Wat kan jy nóg aan die Weskus sien terwyl jy daar is?

Die Weskus is besonders ontwikkel vir toeriste, dus is daar baie te sien en te doen. Dink byvoorbeeld aan pragtige strande soos Yzerfontein se Sestien Myl Strand, die bekende Langebaan-strandmeer, die Cape Columbine-vuurtoring, Lambertsbaai se Voëleiland, toffies, wyn, bier, orgideë en Evita se Perron in Darling, en fynproewer-seekos in Paternoster en by Muisbosskerm. Die Weskus het iets van alles! 

Die Darling Veldblomskou word jaarliks op die derde naweek van September gehou en is altyd die moeite werd vir enige blom-entoesias.

Die vuurtoring by Cape Columbine buite Paternoster | Foto: Bigstock

Bekende Weskus-roetes:

  • Postberg-staproete: ’n 30 km-staproete in die Weskus Nasionale Park se Postberg-gedeelte wat jaarliks nét tussen Augustus en September oop is. Stappers kamp tussen die blomme op hierdie tweedag-roete. Die roete moet vooraf bespreek word by die Geelbek-kantoor en besprekings maak in Junie oop.
  • Steenbok-staproete: ’n 14 km-staproete in die Weskus Nasionale Park wat saam met die Postbergroete val. Hierdie roete moet vooraf bespreek word by die Geelbek-kantoor en besprekings maak in Junie oop.

Tankwa-Karoo, Wes-Kaap

Die Tankwa-Karoo lê op ’n skynbaar nimmereindigende vlakte vol Karoo-koppies tussen die Roggeveldberge in die ooste, die Sederberge in die weste, die Kouebokkeveld se berge in die noorde en die Koedoesberge in die suide. Die naaste dorpe is Ceres, Calvinia en Sutherland. Omdat die Tankwa deur al hierdie berge omring is, word die meeste wolke afgekeer en ontvang die streek jaarliks minder as ’n honderd millimeter reën – deesdae selfs minder as dit! Daarom – mits daar genoeg winterreën op ’n baie bepaalde tyd geval het – is die fuchsia-pers, geel en wit vygies en kleiner blommetjies wat hier deur die aardkors beur, werklik merkwaardig, hoewel nie só kleurvol soos Namakwaland se plate nie. André Vermeulen van Sadawa Game Lodge verduidelik dat dié streek, wat ekologies as Sukkulente Karoo bekend staan, darem sover baie goeie somerreën gekry het, wat die vooruitsig vir mooier blomme hoopvol maak aangesien meer bossies oorleef tot wanneer die winterreën dalk opdaag. Hy noem egter dat dit baie moeilik is om die Tankwa se veldvooruitsigte te skat oor die blomme uiteindelik deur goeie reën in die winter en in Augustus bepaal word.

Die Tankwa is veral bekend vir sy fuschia-pers blomme. | Foto: Snyderskloof Karoo Cottage

Wanneer is die Tankwa se blomme op hul mooiste?

Die laaste twee weke van Augustus tot selfs Oktober toe, mits dit in die winter voldoende gereën het. Hou hierdie blog dop vir opgedateerde inligting rakende die reënval in die Tankwa wat hierdie jaar se blomme sal bepaal.

Tankwa-natuurreservate om van te kies:

  • Tankwa Karoo Nasionale Park – naby niks, maar die naaste dorp is Sutherland

Wat kan jy nóg in die Tankwa sien terwyl jy daar is?

Ry die langste grondpad sonder dorp of vulstasie, die R355, tussen Ceres en Sutherland deur die Tankwa-Karoo en stop sowat halfpad by die eklektiese Tankwa Padstal. 

Die Tankwa Karoo Nasionale Park lê op die R355 en jy sou hier kon gaan blommekyk. | Foto: Bigstock

Bekende Tankwa-roetes:

  • Alhoewel daar enduro-staproetes saam met groepe deur die Tankwa is, val hierdie roetes nie altyd met die blommetyd saam nie en dit moet liefs nie op jou eie aangepak word nie. Die Tankwa is mooi, maar ongenaakbaar.
  • Leeuberg 4×4 Eko-roete en die Watervlei 4×4-roete: Hierdie roetes in die Tankwa Nasionale Park is geskik vir ervare 4×4-entoesiaste.

Sederberge, Wes-Kaap

Die Sederberg word aan sy interessante rotsformasies wat soms rooi vertoon, sy sanderige grond en rooibosplantasies geken, maar as bolplante en margrietjies jou fassineer, moet jy ook hierdie streek tydens die blomseisoen besoek. Die streek lê aan die binnelandse kant van die Weskus, net ’n uur se ry van Kaapstad af. Die Sederberg sluit dorpe soos Wuppertal, Clanwilliam en Citrusdal, asook die Biedouwvallei in. Groot dele van die streek is vir boerdery ontwikkel, maar as jy plaaslike ooptes, kleiner reservate en blomtuine besoek, sal jy wel veldblomme sien.

Volgens die plaaslike toergids, Destination Cederberg, hoop hulle op ’n goeie blommejaar, soos te sien in die hoë damvlakke in die area en die feit dat die grond dié jaar sover goed nat was. Die blomme sal egter grootliks afhang van hoe die weer in Maart tot April lyk.

Plate blomme wag op jou in versteekte dele van die Sederberg. | Foto: Bushmans Kloof Wilderness Reserve

Wanneer is die Sederberg se blomme op hul mooiste?

Reg deur Augustus en, met die regte toestande, tot in September.

Sederberg-natuurreservate om van te kies:

  • Ramskop Natuurreservaat in Clanwilliam se natuurtuin dien as ’n replika van al die blomme in die Sederberg. 
  • Die Biedouw-vallei, Agter-Pakhuisvallei, Dwarsrivier en Kromrivier is almal goeie blom-areas en hier is ook verblyf soos De Pakhuys, Biedouw Vallei Wegbreek en Kagga Kamma waar jy vir die aand sou kon rus. Let net dat die paaie in die omgewing dikwels grondpaaie is en uitdagend mag wees.

Wat kan jy nóg in die Sederberg sien terwyl jy daar is?

Lê besoek af by die Velskoendraai Padstal in Clanwilliam waar jy ’n rooibostee-proe kan doen en baie meer kan leer oor hierdie spesiale tee. Die toerkantoor, Destination Cederberg, is by dié padstal, so jy kan sommer vinnig meer raad oor blommetoere en ander aktiwiteite in die area kry. Besoek ook die Bella-Louise restaurant of bespreek hier ’n ‘Taste of the Region’-proesessie vir ’n besonderse ervaring. Koop vir jou ’n paar outentieke, eg Suid-Afrikaanse vellies by die oudste skoenfabriek in Suid-Afrika, Strassberger Shoes, en vat jou vellies uit vir ’n stappie. As jy ’n rotsklimmer is, sal jy ook in die sewende hemel wees met hierdie streek se rotsklim- en vryklimgeleenthede. Die Blomkerk in Clanwilliam, waar daar jaarliks ’n blomuitstalling gehou word, is ook ’n groot trekpleister.

Die Sederberg is bekend vir sy staproetes, rotsklimplekke en grotte. | Foto: De Pakhuys

Bekende Sederberg-roetes:

  • Sevilla Rotskunsroete: ’n 4 km-staproete waartydens nege rotskunsplekke besoek word.
  • Wolfberggrot-roete: ’n Drie tot agt uur lange staproete tot by rooi grotte. 

Algemene wenke vir blommekyk

  • Dit wat jy in die begin van die seisoen gaan sien en aan die einde gaan baie verskil. Of die streek hoër of laer sit gaan ook bepaal wat jy sien. Daarom is Namakwaland en die omliggende blomstreke jaar ná jaar ’n goeie vakansie, want dit is nooit dieselfde nie.
  • Spring vroeg! Blomkyktoere, -staproetes en verblyf in die streke raak elke jaar baie vinnig vol.
  • Hê die vrymoedigheid om plaaslike toerismekantore te bel om te hoor wat die streek se blomvooruitsigte vir die jaar is. 
  • Die sukses van die blommeskouspel hang grootliks van genoegsame reën af. As daar nie baie reën was nie, gaan daar minder blomme wees, veral in droë streke soos die Hantam- en Tankwa-Karoo, maar dit vat net ’n paar druppels om die towerkuns van díe semi-woestyn aan te wakker.
  • Betaal daai ekstra paar rand en maak seker ’n plantkenner of geregistreerde toergids gaan saam. Sodoende sal julle baie meer uit die ervaring leer as wat jy sou as jy net na die mooi blommetjies kyk.
  • Onthou dat die blomme altyd na die son kyk. Dit beteken die beste plek om te wees is met jou rug na die son sodat die blomme ook na jou en jou kamera kyk. Wanneer jy uitry vir die dag, ry na die verste punt en kyk stelselmatig blomme op pad terug na jou verblyf.
  • Luister na die weerberig voordat jy vertrek aangesien die blomme net oopgaan wanneer die son skyn. 
  • As jy enigsins kan, slaap vir ’n paar nagte in die blommestreek oor. Die blomme se vertoning hang van die weer af, so as die weer nie goed is nie, gee ’n langer blomkykvakansie jou die geleentheid om na mooiweersgebiede te ry of die volgende dag weer te probeer.
Daar is talle opsies vir verblyf tussen die blomme op LekkeSlaap.co.za! | Foto: Môreson Gastehuis
  • Klim uit die motor en stap versigtig tussen die blomme deur eerder as om deur ’n groot area te jaag.
  • Vra die gasteplaas, lodge of hotel waar jy bly of hulle nie spesiale aktiwiteite soos staproetes, perdry-uitstappies, dagtoere of fietsroetes het wat jou die blommeprag van nader kan laat aanskou nie.
  • Terselfdertyd mag jy in sekere parke glad nie uit die voertuig klim nie, behalwe by russtoppe. Dus is dit beter om vooraf navraag te doen oor parkaktiwiteite.
  • As jy nie reeds ’n blomboek het nie, kry vir jou ’n uitgedrukte blomgids. Hierdie pamflette is by verskeie toerismekantore teen ’n baie billike prys te koop. 
  • Onthou om insekweerder, antihistamien, ’n sonbril, toe stapskoene, sonbrandroom, ’n sonhoed en ’n piekniekmandjie saam te vat. Onthou jy deel die veld met die son, verskeie insekte wat ’n belangrike rol in die blomme se oorlewing speel, en met slange.
  • Moet asseblief nie die blomme pluk nie ─ neem eerder ’n foto! Van die blomme in Namakwaland is op die rooidatalys en die natuur se saadbank het beslis daai sade meer nodig as wat jy ’n mooi blommetjie benodig wat vinnig verwelk.
  • Fotograwe moet asseblief nie klippe of takke skuif om ’n beter foto te neem nie. Klippe en bosse speel ’n baie belangrike rol in die oorlewing van meerjarige plante deur hulle in die uitmergelende somermaande te help oorleef.
  • Respekteer die plaaslike inwoners en hulle grense. Moet nooit oor drade klim of hekke oopmaak wat toe is nie. Ry eerder na die naaste opstal en vra of julle mag rondkyk. Almal soek nie noodwendig toeriste op hulle privaat grond nie.
  • Baie winkels en kwekerye in die blomstreke verkoop sade en plante van die wat in die veld voorkom. Ondersteun hulle en koop eerder ’n plantjie as om een uit die natuur te neem. Dieselfde geld vir mooi klippe.

____________________________

Het jy enige ander blommekyk-wenke om met ons te deel, ’n staproete wat ons móét probeer of ’n privaat park waar die blomme besonder mooi is? Praat dan lekker saam in die kommentaar hieronder. 

Hooffoto: Namaqua Flower Skilpad Camp

Hierdie artikel is oorspronklik deur Adriëtte le Roux geskryf en is tot die nuutste weergawe verwerk.