Niemand kan kla dat daar ’n tekort aan doendinge in Suid-Afrika is nie! Ons beeldskone land spog met 9 wonderlike provinsies met ’n hele rits doendinge en besienswaardighede vir elke gier. Toeriste kom van regoor die wêreld om self te kom kyk wat dié unieke land van ons bied. Speel ’n slag toeris in jou eie land en kom verken saam met ons dié lekker naweek-doendinge in elke provinsie – daar is só baie avonture wat op jou wag!

KwaZulu-Natal is ’n voëlkykparadys met honderde spesies wat voëlkykentoesiaste ure se genot sal bied. Die noorde van KwaZulu-Natal, of Maputaland, bied veral ’n legio voëlkykgeleenthede te danke aan die talle wildreservate en ongerepte natuurskoon in dié streek. Die subtropiese klimaat dra ook by tot die verskeidenheid voëlspesies wat hier te siene is en die kenmerkende graslande, vlak varswatermere, woude en beboste areas bied ook ’n diverse habitat vir verskeie voëlspesies. Buiten die voëls is die natuurskoon self ook iets skouspelagtig om te aanskou.

Die Zoeloeland-voëlkykroete is ’n inisiatief wat die bewaring van voëls verseker en voëlkyk in Suid-Afrika bevorder. Een van die bestemmings op dié roete is die Olifantkus.

In die noordoostelike deel van KwaZulu-Natal lê die wêreldbekende iSimangaliso Vleilandpark, ’n Wêrelderfenisterrein van  332 000 hektaar. Dié park is bekend vir die diverse groep dierspesies wat daar woonagtig is en spog met meer as 500 voëlspesies. Die vleiland is een van die belangrikste broeiplekke vir watervoëls in Suid-Afrika en bied besoekers die geleentheid om dié spesies in hulle natuurlike habitat te besigtig. Die uMkhuze-deel van die park huisves sowat 420 verskillende voëlspesies en is veral ’n móét vir voëlliefhebbers. Besoekers kan begeleide toere in dié deel van die park doen.

Visarend in iSimangaliso. Foto: nick.birds (Instagram) Landskap in iSimangaliso. Foto: yumnaf (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in KwaZulu-Natal.

Maywood Farm Cottage | Umlilo Lodge | Manzini Chalets

Haenertsburg in die Magoebaskloof-area is ’n prentjiemooi dorpie aan die voet van die Wolkberg en Drakensberge in Limpopo. Die dorp word omring deur luisterryke plantegroei en miswolke wat bydra tot die unieke karakter en dit sal jou terugneem in tyd met die ou geboue en rustige atmosfeer wat in die dorp heers. Die bekoorlike Rissikstraat is gevul met handelstasie-huisies, heerlike eetplekke, antiekwinkels, ’n museum en ’n tweedehandseboekwinkel. Maak ’n draai by die gewilde The Iron Crown Pub & Bistro in Rissikstraat vir ’n heerlike steak.

As jy ’n natuurliefhebber is sal dié provinsie jou ook nie teleurstel nie, daar is ’n spul doendinge in die natuur. Die bergstroompies en riviere bied puik visvanggeleenthede en die Louis Changuion-voetslaanroete is beslis iets om te beleef ─ dit neem jou deur die grasvelde en selfs verby die dorp se begraafplaas en bied die mees asemrowende uitsigte al langs die pad. Daar is talle bergfietsroetes vir die hele gesin, so onthou om jou fiets saam te neem. Jy kan ook gaan piekniek hou by die Debegeni-watervalle en in die kristalhelder rotspoele swem. Haenertsburg is die perfekte bestemming vir ’n rustige natuurwegbreek saam met die hele familie!

Gebou in Haenertsburg. Foto: dr_angus_hay (Instagram) Landskap in Haenertsburg. Foto: jean.mortlock (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in Limpopo.

Bramasole | Woodmere Lodge | Turaco Farm Cottage

Gauteng spog met talle naweekmarkies wat enigiets van vars vrugte en groente tot interessante kos en kuns verkoop. Die meeste van die markies is kinder- en troeteldiervriendelik, so dis die perfekte aktiwiteit om die hele gesin besig te hou.

Die immergewilde Neighbourgoods Market is in Braamfontein in die hartjie van die Goudstad. Hier kan jy die kultuur van die stad ervaar met interessante mense, kunswerke en kos onder een dak. Die markie vind elke Saterdag van 09:00 tot 15:00 plaas en bied heerlike boetiekbier, kos, seisoenale groente en vrugte, klere en juweliersware.

Market on Main vind elke Sondag van 10:00 tot 15:00 plaas by Arts on Main in Johannesburg. Dié mark word in ’n omskepte pakhuis gehou en speel ’n groot rol in die herlewing van die Maboneng-distrik in Johannesburg. Die stadsatmosfeer is byna tasbaar by dié mark en dit is ’n gewoel van Gauteng se kos- en ontwerp-entoesiaste. Besoekers kan in die markie se binnehof ontspan en die heerlike kos, koffie en drankies geniet terwyl musikante in die agtergrond musiek speel.

Die Hazel Food Market vind elke Saterdag van 08:00 tot 14:00 in Menlopark in Pretoria plaas. Die hele gesin kan die dag hier deurbring aangesien daar lekker speelplek vir kinders is terwyl ma en pa die stalletjies met vars vrugte en groente, vleis, lekkernye, vars gebakte brode, heerlike kos en blomme deursoek.

Kos by Neighbourgoods Market. Foto: neighbourgoods_market (Instagram) Neighbourgoods Market. Foto: ashleymariesummers (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in Gauteng.

Bamboo Cottage | Faircity Mapungubwe Hotel | Osborne House

Die Vrystaat spog met van die mooiste landskappe ─ van oop vlaktes tot majestueuse berge. Golden Gate Nasionale Park is die provinsie se natuurmekka aan die voet van die Malotiberge in die noord-oostelike Vrystaat. Dié 11 600 hektaar huisves ’n groot verskeidenheid diere en bied boonop ’n hele rits doendinge. Daar is verskeie voetslaanroetes, wildkyk, begeleide uitstappies, grotte met rotstekeninge en nagritte in die park. Die asemrowende natuurskoon bied pragtige fotogeleenthede met die ikoniese goue sandsteenkranse en -klipbanke en grasvelde in die agtergrond. Die 2 dae lange Rhebok-voetslaanroete bied meer avontuurlustige besoekers die kans om ’n nag in die wildernis te slaap. Maak net seker dat jy die nodige toerusting by jou het voor jy dit aanpak. Besoekers kan ook die gewilde grotte gaan besoek waar San-jagters en -versamelaars voorheen gewoon het.

As jy klaar die park verken het, kan jy die pragtige, nabygeleë Clarens besoek. Daar is eetplekke, kroeë, galerye en interessante winkels om elke hoek en draai. Bespreek ’n winterwegbreek daar en jy sal dalk selfs sneeu kan sien!

Golden Gate Nasionale Park. Foto: scheltie (Instagram) Golden Gate Nasionale Park. Foto: rhodeso (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in die Vrystaat.

Mama Fourie’s Guest Cottages | Upper House | The French Cottage

Die sprokiesagtige atmosfeer van die Knysnawoud in die Wes-Kaap lok talle voetslaners, en met goeie rede. Digte plantegroei, watervalle, hoë bome en pragtige plant- en dierspesies omvou jou as jy in dié lowergroen woud gaan wandel. As jy ’n natuurliefhebber is, is dit beslis iets om te doen. Daar is verskeie voetslaanroetes om van te kies en hulle almal wissel in afstand en moeilikheidsgraad.

Die magiese Kringe in ’n Bos-roete in die Tuinroete Nasionale Park is ’n huldeblyk aan die skrywer Dalene Matthee. Daar is twee sirkelroetes wat albei by die Krisjan-se-Nek-piekniekplek begin. Die roetes is 3,1 km en 9 km lank: Die eerste roete is ’n maklike wandeling op ’n enkelspoorpad en neem sowat 1,5 uur en die effe moeiliker roete duur sowat 3 uur. Albei roetes bied pragtige fotogeleenthede met verskillende tipes bosse en bome, kleurvolle swamme en bospoele. Onthou om ’n piekniekmandjie in te pak as jy aan die einde van die roete ’n blaaskans wil vat langs die reusagtige Outeniekwa-geelhoutboom, Dalene Matthee se Groot Boom.

As jy belangstel in geskiedenis en veral myne is die Millwood Mines-roete nét die roete vir jou! Dié 5,6 km-sirkelroete neem jou na ’n ou en verlate myndorpie en begraafplaas in die Knysnawoud en duur sowat 2,5 uur. Die dorpie op die roete was net vir 5 jaar aktief tot dit in 1892 verlaat is as gevolg van ’n tekort aan goud. Een van die oorspronklike geboue, myne en myngereedskap wat in die 1800’s gebruik is, is steeds hier te siene, so voetslaners het die geleentheid om ’n unieke deel van Suid-Afrika se geskiedenis hier te ervaar. Om dit alles te kroon is daar ook beeldskone uitsigte op die Outeniekwaberge en die inheemse woud.

Knysnawoud. Foto: schoemanr (Instagram) Millwood Mines. Foto: devographic (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in die Wes-Kaap.

Forest Edge | Homtini Guest Farm | Blackwaters River Lodge

Mpumalanga spog met asemrowende natuurskoon oral waar jy kyk. Die Hoogland Kronkeling is in die hoër dele van die platorand geleë en strek van Belfast tot by Dullstroom, met heelwat sien- en doendinge tussenin. Dit is ook ’n kunsvlieghengel-mekka en dit word nie verniet die foreldriehoek genoem nie.

Die Machado Flyfishing Club is in Glenshee, sowat 6 km van Machadodorp af. Dié klub het twee baarsdamme en hul eie forelkwekery wat reënboogforel en goue forel produseer. Besoekers kan ook by die Highland Giants Estate in Dullstroom gaan visvang. Dié landgoed het 9 damme en 5 keerdamme in die rivier. Al die damme is goed bevoorraad met forel en beloof om ure se pret te verskaf.

As jy nie lief is vir hengel nie, is daar talle ander buitelugdoendinge soos voetslaanroetes, rotsklim, sterrekyk en voëlkyk in dié geweste. Mpumalanga spog ook met die asemrowende Panorama-roete. Dit is al beskryf as een van die mooiste roetes in die wêreld en is beslis die besoek werd.

Hoogland Kronkeling. Foto: mpumalangatourism (Instagram) Kunsvlieghengel. Foto: mpumalangatourism (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in Mpumalanga.

Blue Crane Farm | Klipfontein Bushcamp | Schaefers’ Halt

Die Baviaanskloof in die Oos-Kaap is sinoniem met avontuur in Suid-Afrika. Dié pragtige Wêrelderfenisgebied is die grootste wildernisarea in Suid-Afrika en word omring deur die Baviaanskloofberge en die Kougaberge. Die Baviaanskloof-wildernisgebied beslaan 200 km ongerepte bergagtige oppervlaktes wat baie speelplek vir mens en dier bied. Die ryk plantegroei is asemrowend as gevolg van die hoë reënval in die streek en wat dit veral besonders maak is dat sewe van Suid-Afrika se agt biome hier voorkom.

Die beste manier om die kloof te verken is per 4×4. Dit is enige 4×4-entoesias se droom! Die terrein is baie rotsagtig en daar is baie rivierkruisings wat lekker uitdagings bied. Van die paaie neem jou deur droë rivierbeddings en oor asemrowende bergpasse. Moet egter nie net in jou voertuig bly nie ─ daar is ook baie geleenthede vir voetslaan, voëlkyk, bergklim en swem.

Baviaanskloof. Foto: flyingmtb (Instagram) 4x4 Baviaanskloof. Foto: bobnmarydoafrica (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in die Oos-Kaap.

Baviaanskloof Adventure Camp | Mount Africa | Ripple Hill Hotel

Die Magaliesberge is ’n gewilde bestemming vir toeriste en inwoners van Noordwes en Gauteng. Dit is naby Johannesburg, maar steeds ver genoeg om te vergeet van die stad se gejaag. Dié prentjiemooi area spog met skilderagtige natuurskoon en een van die beste maniere om dit te bewonder, is vanuit ’n warmlugballon. Stel jou net voor hoeveel meer skouspelagtig ’n sonopkoms lyk terwyl jy in ’n kleurvolle lugballon bo die bome sweef! Dié opwindende aktiwiteit is beslis ’n ervaring wat jy nooit sal vergeet nie ─ jy sal die mooiste foto’s kan neem en miskien selfs ’n dier of twee gewaar.

Kliek hiér vir nóg redes waarom jy Noordwes moet besoek.

Besoek Bill Harrop’s Original Balloon Safaris se webtuiste vir meer inligting.

Warmlugballon. Foto: harrops_balloon (Instagram) Uitsig uit warmlugballon. Foto: robjepopje (Instagram)

 

Kliek hiér vir verblyfopsies in Noordwes.

Magaliespark | B’sorah Luxury Tented Camp | Damascus Bush And Mountain View Lodge Cyclist Retreat

Namakwaland is meestal bekend vir sy pragtige veldblomme en oop vlaktes, maar daar is ’n meer beskeie kant van Namakwaland wat dikwels onderskat en misgekyk word. Die klein Weskusdorpe van die Noord-Kaap, naamlik Port Nolloth, McDougallsbaai en Hondeklipbaai, se eenvoud en prag sal jou nét so bekoor en is die perfekte bestemmings as jy op soek is na rus en vrede by die see, te danke aan hul effens afgeleë liggings. As jy nie kans sien vir die bibberkoue seewater nie, is daar gelukkig baie ander dinge om te sien en doen.

Port Nolloth is ’n rustige vissersdorpie naby die grens van Namibië in Namakwaland. Die rustige Weskus-atmosfeer wat daar heers, laat dit sommer voel of tyd stadiger verbygaan. Die dorp was destyds bekend vir diamantmynbou, maar spesialiseer nou net in kleinskaalse diamantdelwery en die kreefindustrie. Jy kan rustig op die pragtige strande wandel en die ongerepte natuurskoon bewonder.

Die nabygeleë McDougallsbaai se skoon strande en kalm water bied puik visvanggeleenthede en is ’n idilliese vakansiebestemming. Niks kan beter wees as ’n vissie op die kole en ’n Weskus-sonsondergang nie!

Hondeklipbaai is eiesoortig en die ideale bestemming as jy die Weskus op sy beste wil ervaar. Die inwoners is baie gasvry en vriendelik en dra by tot reisigers se ervaring van dié onopgesmukte kusdorpie. Die dorp is nie so besig soos sommige Weskusdorpe nie, so jy kan heerlik ontspan en jou verlustig in die rustige atmosfeer. Die kuslyn bied skouspelagtige uitsigte en die Aristea-skeepswrak ’n entjie buite die dorp is die perfekte agtergrond vir onvergeetlike sonsondergange.

As jy nuuskierig is oor nóg meer doendinge in die Noord-Kaap, kliek hiér.

Hondeklipbaai se strand. Foto: photo_guide_demi (Instagram) Vissersboot in Hondeklipbaai. Foto: _barefootboy (Instagram)

Kliek hiér vir verblyfopsies in die Noord-Kaap.

Dis Al! Akkommodasie | The Beach House and Cottage | Honne-Pondokkies

Danksy al hierdie eiesoortige bestemmings kan jy beslis nie kla dat jy verveeld is oor naweke nie ─ ongeag in watter provinsie jy kuier! Elke provinsie spog met diverse doendinge én puik verblyfopsies, so bespreek sommer vandag nog jou volgende avontuur of naweek weg.

Hooffoto: Daniëlle Terblanche