Die Oos-Kaap is ’n provinsie van uiterstes: van droë, warm somers in die Karoo tot sneeubedekte winters in die Hooglande, en van digte inheemse woude in die Tsitsikamma tot die groot, oop vlaktes van Camdeboo Nasionale Park. Somersdae langs die Sonskynkus word met ’n nagwildrit in die Kariega Wildreservaat afgesluit, terwyl die Wildekus se dramatiese en intimiderende kranse en rotse plek maak vir heerlike swemstrande en bobaas-visvangplekke. 

Met sy diversiteit in temperatuur, landskap, fauna en flora, sou jy nie verwag dat dié provinsie maar net die tweede grootste in die land is nie. Alhoewel Gqeberha (Port Elizabeth) en die res van die pragtige Nelson Mandelabaai heerlike wegbreekplekke aan besoekers bied en die res van die Oos-Kaap dikwels oorgesien word ten gunste van ’n vakansie in die Baai, is die Oos-Kaap in sy geheel ’n wonderlike plek van ontdekking met nóg meer om te sien en doen. LekkeSlaap wil dié reis saam met jou meemaak. Hiér is die streke, aktiwiteite en besienswaardighede wat jou sal oortuig dat die Oos-Kaap Suid-Afrika se grootste versteekte juweel is. 

Oos-Kaapse Hooglande

Foto: Tenahead Mountain Lodge op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: herfs en winter

Besienswaardighede: Suidelike Drakensberge, Rhodes, Ben Macdhui-pas

Aktiwiteite: voëlkyk, sneeukyk, visvang

Dorpies: Lady Grey, Barkly-Oos, Ugie, Elliot, Maclear

Die minder bekende Oos-Kaapse Hooglande is dalk moeilik om op ’n kaart te vind, maar dié streek spog met ongerepte natuurskoon eie aan die Suidelike Drakensberge. 

Die ouwêreldse, Victoriaanse dorpie Rhodes is in 1891 gestig. Alhoewel dié dorpie nie ’n enkele teerstraat of vulstasie het nie, is daar hope om te sien en leer. Rhodes Hotel is ’n middelpunt vanwaar gaste die res van die dorpie te voet kan verken, terwyl Swallows Nest Chalet net buite die dorp op Grace Hill Plaas geleë is en met die mooiste uitsig oor die Bellriviervallei spog. 

Ná ’n besoek aan Rhodes is dit tyd vir ’n avontuur in die berge. Wanneer jy Rhodes in Tiffindell se rigting verlaat, is die Carlisle-pas beslis iets om te aanskou, maar wag maar net tot jy die indrukwekkende Ben Macdhui-piek, een van die hoogste pieke in die Drakensberge, in sy volle glorie aanskou.

Tenahead Mountain Lodge is ’n 5-ster-lodge wat deur die Drakensberge, Witteberge en Malutiberge omring word. | Foto: LekkeSlaap.co.za.

Die Suidelike Drakensberge spog natuurlik met nóg bergpasse wat die adrenalien behoorlik aanwakker. Behalwe vir die Ben Macdhui-pas wat selfs hoër as die Sanipas is, is daar ook die Jouberts-, Otto du Plessis- en die Bastervoetslaanpadpas. Die Naudesnekpas is sowat 2590 meter hoog en verbind Rhodes met Maclear. Dié pas neem jou ook na Tenahead Mountain Lodge, ’n 5-ster-lodge wat deur die Drakensberge, Witteberge en Malutiberge omring word. Hiér kan jy luukse verblyf met ’n kaggel en uitmuntende uitsig vanaf elke kamer verwag. 

Lees ook: Durf die Onbekende Oos-Kaapse Hooglande aan

Sonskynkus

Foto: Sandcastle Luxury Villa op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: Somervakansies is heerlik langs die kus, maar dié streek se wildkykgeleenthede nooi besoekers om heel jaar te besoek. 

Besienswaardighede: Boesmans– en Kariegariviermondings, Kariega Wildreservaat, Emlanjeni Privaat Wildreservaat

Aktiwiteite: watersport, kanovaart, voetslaan, wildkyk, perdry, voëlkyk

Dorpies: Kenton-On-Sea, Jeffreysbaai, Kaap St. Francis, Port Alfred, Oesterbaai

Die Sonskynkus strek van Gqeberha (Port Elizabeth) tot Oos-Londen en doen sy naam gestand met lang sonskyndae, ’n kuslyn wat skynbaar vir swem en watersportgeleenthede gemaak is, en bekoorlike dorpies met plattelandse karakter. 

Behalwe vir luilekker swemstrande, spog die streek ook met heerlike warm water, eko-wandelings, rotspoele en natuurreservate. Kenton-on-Sea, die streek se hoofseun, is tussen die Boesmans- en Kariegariviermondings geleë en bied ’n breë sandstrook met drie swemstrande waarvan een, Kariegastrand, Blouvlag-status en lewensredders regdeur die somer het. 

Sibuya Game Reserve & Lodge bied luukse verblyf in tentkamers en gaste kan kies of hulle in die woud wil skuil, op die Kariegarivieroewer wil uitspan of totale privaatheid in die Boskamp wil geniet. | Foto: Lekkeslaap.co.za.

Die Sonskynkus bederf besoekers nie net met ’n seevakansie nie, maar ook die geleentheid om wild te kyk. Vanaf Kenton-on-Sea kan jy Sibuya Wildreservaat, Kariega Wildreservaat en Emlanjeni Wildreservaat met ’n boot bereik! Dié reservate verskaf ook verblyfopsies wat elke sak pas. Sibuya Game Reserve & Lodge bied luukse verblyf in tentkamers en gaste kan kies of hulle in die woud wil skuil, op die Kariegarivieroewer wil uitspan of totale privaatheid in die Boskamp wil geniet. Kariega Wildreservaat bied blyplekke in verskillende gedeeltes van die reservaat. By die Main Lodge is verblyf in chalets beskikbaar, terwyl Ukhozi Lodge met tien luukse suites spog en die River Lodge gaste met sy ligging langs die Boesmansrivier bekoor. 

Lees ook: Kenton-on-Sea: Diere, Riviere en Strand-Avonture

Tsitsikamma

Foto: Misty Mountain Reserve op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: heel jaar 

Besienswaardighede: Tsitsikammawoud, Bloukransbrug, Otter-roete

Aktiwiteite: voetslaan, reksprong, woudtoere

Dorpies: Stormsrivier, Joubertina, Krakeelriver, Twee Riviere

Tsitsikamma word as die “tuin” van die Tuinroete beskryf, maar dié streek is eerder ’n sprokieswêreld waar die magiese met die antieke meng. Die Tsitsikamma skuil tussen die Tsitsikammaberge, met die see wat vanaf die Bloukransrivier in die weste tot by die Eersterivier in die ooste strek. Hiér sal jy inheemse woude met geelhout-, stinkhout- en ysterhoutbome, sowel as inwoners soos die skaam Knysnaloerie, aantref.

Die Bloukransbrug is 216 meter bo die Bloukransrivier en spog met ’n uitsig wat baie min mense braaf genoeg is om te gewaar. | Foto: BigStock

Die Tsitsikammawoud is ’n groot bewarea met ’n diverse ekosisteem en eeu-oue reusebome. Dié bome is nie net mooi om na te kyk nie, maar bied ook geleenthede vir pret: van Zipline-avonture vir diegene wat hul hoogtevrees wil hokslaan, tot bergfietsry en begeleide wandel- en segway-toere. 

As jy eers deur die woud se hoë bome rondgeswaai het, is dit tyd om jou innerlike adrenalienvraat wakker te maak. Maak by die Bloukransbrug, die hoogste kommersiële reksprongbrug ter wêreld (ja, jy het reg gelees), ’n draai! Dié brug is 216 meter bo die Bloukransrivier en spog met ’n uitsig wat baie min mense braaf genoeg is om te gewaar. 

Die Otter-roete neem ’n indrukwekkende vyf dae om te voltooi en skop by die Stormsriviermond af. | Foto: BigStock

Wanneer jy terug is op stewige grond, moenie op die gewilde Otter-roete uitmis nie. Dié Tuinroete-stapelstap neem ’n indrukwekkende vyf dae om te voltooi en skop by die Stormsriviermond af. Van hier neem dit jou al langs die kus tot by Nature’s Valley in die Tsitsikamma Nasionale Park. Ná 42,5 rotsagtige kilometer het jy vir seker een van die mooiste staproetes wat Suid-Afrika bied voltooi. Goeie voorbereiding is nodig vir dié avontuur en ’n bespreking deur SANParke is ’n móét. 

Lees ook: Berge, bome, rotse, strome: Stormsrivier van hoek tot kant

Addo

Addo
Foto: Hitgeheim Country Lodge op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: heel jaar 

Besienswaardighede: Addo-olifantpark, Sondagsriviermonding

Aktiwiteite: wildkyk, 4×4, Bedrogfonteinpas

Dorpies: Addo, Colchester, Kirkwood

Alhoewel Dalene Matthee oor die grootvoete in die Knysnawoud geskryf het, is die Addo-olifantpark eintlik dié plek om hierdie indrukwekkende diere in lewende lywe te sien. Dié nasionale park beslaan die grootste gedeelte van die Addo-streek wat vanaf Darlingtondam in die noorde tot by Colchester langs die kus strek. Die indrukwekkende Sondagsriviervallei is ook hier te sien. 

Die Addo-olifantpark is die perfekte plek om hierdie indrukwekkende diere in lewende lywe te sien. | Foto: Gorah Elephant Camp op Lekkeslaap.co.za.

Addo-olifantpark is die derde grootste Nasionale Park in Suid-Afrika en, buiten die Groot Vyf, kan jy selfs volstruise, pikkewyne en dolfyne sien! Die park bied verskeie selfry-roetes en oornagverblyf wat jou oorgenoeg tyd gee om olifante en ander fauna en flora te sien. As jy die park vanaf die Matyholweni-hek binnekom, is die SANParks Addo Matyholweni Rest Camp sommer op jou pad en kan jy inklok voordat jy die pad verder vat. Dié kamp skuil teen die Sondagsriviermond en jy kan koedoes, bosbokke, rooikatte en bosvarke ook hier gewaar. Verder is daar ook die SANParks Addo Rest Camp wat die park se gewildste hoofkamp is en verblyf in tente, chalets, hutte of rondawels bied. Ná ’n heerlike dag van wildkyk, kan jy die aand by die watergat-uitkykpunt sien hoe die diere ook hulle dag afsluit. 

As jy die park vanaf die Matyholweni-hek binnekom, is die SANParks Addo Matyholweni Rest Camp sommer op jou pad en kan jy inklok voordat jy die pad verder vat. | Foto: Lekkeslaap.co.za.

Na jou besoek aan die Addo-olifantpark kan jy Bedrogfontein se 4×4-roete aanpak. Dié roete, wat vanaf Kabouga tot by Darlington strek, is vol berge en dale en ’n voertuig met ’n hoë grondvryhoogte is nodig. Die roete beloof uitstekende uitsigte en jy kan die geskiedenis van dié omgewing ook verken. Anglo-Boereoorlog-grafte en bome waarop soldate boodskappe uitgekerf het, is langs die pad te sien. 

Lees ook: Allerlei Avontuur op ’n Selfry-rit in die Addo-olifant Nasionale Park

Karoo

Foto: Rietjiesbos op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: In die lente voor die somerreënval of in herfs voor die koue toesak. 

Besienswaardighede: Vallei van Verlatenheid, Uilhuis, Camdeboo Nasionale Park, Baviaanskloof

Aktiwiteite: 4×4, voetslaan

Dorpies: Steytlerville, Willowmore, Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Cradock, Aberdeen

Die Oos-Kaapse Karoo word liefdevol na verwys as die “droë hart” van Suid-Afrika. Dié area met sy rooi stof, doringagtige akasiabome, aalwyne, windpompe, skape en Angorabokke hou maar nog altyd ’n bekoring vir  kunstenaars, toeriste en plaaslike reisigers in, en alhoewel die wind en weer hiér ongenaakbaar kan wees, is daar iets poëties aan die dor, afgeleë landskap. Oulike dorpies, outentieke plaasverblyf en vriendelike inwoners is volop, maar die area spog ook met die dramatiese Vallei van Verlatenheid, Nieu-Bethesda se bekende Uilhuis en die Camdeboo Nasionale Park. 

Vallei van Verlatenheid. | Foto: BigStock

Die Vallei van Verlatenheid is ’n unieke landskap en ekosisteem wat die dorpie Graaff-Reinet omring. Die vertikale kranse en kolomme van dolomiet het 100 miljoen jaar geneem om te vorm en balanseer nou 120 meter bo die vallei se vloer. Dié nasionale besienswaardigheid betower besoekers al vir jare en moet op enigeen se Suid-Afrikaanse emmerskoplys wees. 

Dié eko-vriendelike huisies vorm deel van die natuurlike landskap met ’n minimale omgewingsvoetspoor, maar bied steeds moderne geriewe soos WiFi, ’n houtvuurwarmbad en privaat boma en vuurput. | Foto: Mount Camdeboo Pods op Lekkeslaap.co.za.

Die Camdeboo Nasionale Park is 740 tot 1 480 meter bo seevlak en rus aan die voet van die Sneeuberge. Besoekers aan dié park kan daarna uitsien om ’n diverse spektrum van Suid-Afrikaanse wild, insluitend die bakoorjakkals en meerkatte, te gewaar. As jy op soek is na ’n unieke verblyfervaring op die Kamdeboovlakte is die Mount Camdeboo Pods ideaal. Dié eko-vriendelike huisies vorm deel van die natuurlike landskap met ’n minimale omgewingsvoetspoor, maar bied steeds moderne geriewe soos WiFi, ’n houtvuurwarmbad en privaat boma en vuurput.

Die Baviaanskloof strek sowat 200 kilometer tussen die Baviaanskloofberge in die noorde en die Kougaberge in die suide. | Foto: Uitspan Baviaanskloof op Lekkeslaap.co.za.

As die Kamdeboovlakte vir jou net té afgesonder is, is daar ook bekoorlike verblyfopsies in dorpies soos Willowmore en Steytlerville. Die dorpies is in die gewilde Baviaanskloof-omgewing wat op sy eie ook ’n wonderlike avontuur bied. Die kloof strek sowat 200 kilometer tussen die Baviaanskloofberge in die noorde en die Kougaberge in die suide. ’n Enkele grondpad verbind die twee punte, maar daar is verskeie bergpasse wat daardeur kronkel en dit is hiér waar die avontuur begin. 4×4-entoesiaste kan hulself uitdaag met 42 rivierkruisings en die vreesaanjaende steiltes van die bergpasse wat deur Thomas Bain gebou is. Langs die pad is daar ook interessante besienswaardighede soos die Baviaanskloof Sleutel, die Sewe Dwergies en Vensterklip. 

Lees ook: Kom verken die Baviaanskloof

Lees ook: Die storie van die Uilhuis op Nieu-Bethesda

Lees ook: ’n Salige Saterdag in Steytlerville

Lees ook: Willowmore: die Karoo-dorp vol engele

Wildekus

Foto: Adriëtte le Roux

Wanneer om te besoek: In die winter tussen Julie en September.

Besienswaardighede: Hole in the Wall, Magwa-waterval, Sardienloop

Aktiwiteite: hengel, avontuursport, 4×4

Dorpies: Keimond, Cintsa, Haga-Haga, Morganbaai, Mthatha, Koffiebaai, Port St. Johns 

Die Wildekus se naam loop hom vooruit, maar ons kan belowe dat dié streek se berugte paaie na ’n natuurskoon soos nêrens ander lei. Soos mede-blogger Adriëtte le Roux skryf: “Golwende heuwels word hier met helder grasdakrondawels verfraai, grondpaaie kronkel deur tropiese plantegroei tot by ongerepte strande waar ’n koei of ses heel moontlik lê en sonbaai, pers en turkoois seelewe wink jou vanuit warm rotspoele nader en plek-plek tuimel ’n waterval met oorgawe die see in.”

Die Wildekus se mees bekende landmerk is natuurlik Hole in the Wall. Dié enorme krans het ’n holte groot genoeg vir die Mpakorivier geskep om deur te vloei en wys net hoe wonderlik die natuur saamwerk. Dié tipe ongereptheid kan jy al langs die kus verwag met dramatiese rotsformasies en seekranse wat al menigde skepe spoorloos laat verdwyn het. Daar is egter twee wat ’n permanente rusplek tussen die rotse gevind het. Die Jacaranda en Idiomene is twee van dié skepe wat nog by die Qolora- en Qora-riviermondings sigbaar is.

Die Wildekus se mees bekende landmerk is natuurlik Hole in the Wall. | Foto: Adriëtte le Roux

Die Wildekus verwelkom elke jaar ook ’n ander tipe besoeker en die Sardienloop is die perfekte geleentheid om walvisse, dolfyne, robbe en malgasse te sien wanneer dié diere die skole visse jaag. Indien jy wil deelneem aan die pret, bied die Wildekus ook fantasiese visvanggeleenthede. Jou vangs sal natuurlik groter as ’n sardien wees en jy kan uitsien na galjoen, buinhottentot, koninginvis, makriel en mosselkraker wat moontlik kan byt. Jy kan Mazeppa Bay besoek vir ’n geleentheid om vis vanaf ’n eiland te vang, maar daar is ook volop versteekte visvangplekke. Wees egter gewaarsku, dié plekke vereis dikwels ’n 4×4. 

Die Wildekus is nie nét wild nie. Jy kan heerlik op verskeie swemstrande uitspan en dié by Morganbaai en Koffiebaai is selfs gesinsvriendelik. Branderplankryers, dié kus bied ook avontuur soos min en ons stel voor jy maak ’n draai by Cintsa en Yellow Sands. 

Jy kan heerlik op verskeie swemstrande uitspan en dié by Morganbaai en Koffiebaai is selfs gesinsvriendelik.| Foto: Ocean View Hotel op Lekkeslaap.co.za.

Die Wildekus bied meestal hotel- en B&B-verblyf, maar daar is ook selfsorghuise, -chalets en -woonstelle, en selfs plaasverblyfopsies. Vir diegene wat die volle Wildekuservaring wil geniet en die plaaslike leefwyse wil leer ken, is daar ook informele verblyf in boskampe en rugsakreisigerslosies. 

Lees ook: Wenke om die wonderlike Wildekus te tem

Amathole-Distrik

Foto: Katberg Mountain Resort & Hotel op Lekkeslaap.co.za.

Wanneer om te besoek: heel jaar

Besienswaardighede: Katbergpas, verskeie watervalle, Auckland Natuurreservaat

Aktiwiteite: voetslaan, perdry, voëlkyk, abseil

Dorpies: Cathcart, Glengariff, Gonubie, Haga-Haga, Hogsback, Keimond, King Williams Town, Morganbaai, Stutterheim

Die Amathole-bergreek strek vanaf Makhanda (Grahamstad) in die noorde tot by Stutterheim in die Weste. Besoekers aan die Amathole-distrik kan uitsien na digte woude van witstinkhout, geelhoutbome en pragtige Kaapse kastaiings wat dié berge se hange bedek. Sekere pieke is in die winter ook met sneeu bedek en is meer as 2000 meter hoog. Die bergreeks bied dus wonderlike woudroetes en ’n ryk voëllewe. Die groot trekpleister is egter die watervalle — die bergreeks spog met meer watervalle per vierkante meter as enige ander plek op aarde. Maak beslis ’n draai by Swallowtail-, Kettlesprout-, Madonna and Child- en 39 Steps-valle. 

Vir natuurliefhebbers is die Amathole-distrik ’n oase van ontdekking en die Auckland Natuurreservaat is veral bekend vir sy status as een van slegs twee eerstegraadse, inheemse woude in Suid-Afrika.. Hiér kan jy verwag om skaars spesies soos die grootpapegaai, Knysnaloerie en samango-apie te sien (maar slegs as jy mooi en hard geneog soek!). 

Keimond is ’n oord-dorp op die oewer van die Groot-Keirivier. | Foto: Seabreeze op Lekkeslaap.co.za.

Dié distrik is natuurlik ook bekend vir sy prominente plek in Suid-Afrikaanse geskiedenis en die belangrike rol wat dit gespeel het in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing. Maak seker jy het genoeg tyd om King Williams Town, Grahamstad, Cathcart, Keimond en Hogsback te besoek, want dié dorpe en stede is so bekoorlik soos wat hul geskiedenis interessant is. 


Soos enige ander provinsie in Suid-Afrika is daar sonder twyfel meer juwele om te ontdek as slegs die bogenoemde, maar dit is natuurlik die opwindendste gedeelte van reis! Die Oos-Kaap is ’n smeltkroes van ongelooflike plekke om te sien, mense om te ontmoet en avonture om te geniet, en ons stel voor dié provinsie land binnekort in jou soektabel op die LekkeSlaap-webtuiste. 

Hooffoto: Shamrock Cottage op Lekkeslaap.co.za.